Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regering laat kleure van reënboognasie verdof

Vertroue in die regering is steeds ’n struikelblok op die pad na demokratiese stabiliteit en ekonomiese groei in Suid-Afrika, skryf Pieter Labuschagne.

Die dalende vertroue in die regering, laat pres. Cyril Ramaphosa se nuwe daeraad vervaag. Foto: Argief

Die ekonome, Yann Algan en Pierre Cahuc, skryf in die gesaghebbende American Economic Review dat Afrikalande hul bruto binnelandse produk (BBP) byna vyfvoudig kan verbeter as hulle dieselfde vertroue en sosiale kapitaal in hul politieke kultuur ontwikkel as wat die geval in Swede is.

In Suid-Afrika is die afwesigheid van vertroue en sosiale kapitaal een van die kernredes vir die ekonomiese inkrimping.

Pres. Cyril Rampahosa het voor en ná sy ampsaanvaarding groot gewag gemaak van die “nuwe daeraad” wat vir Suid-Afrika sou aanbreek.

Die tekens ná die verkiesing is egter onrusbarend, indien nie skrikwekkend is nie.

Suid-Afrika se BBP het met meer as 2% ingekrimp, die ekonomiese groeikoers huiwer rondom 1% en faksiegevegte in die regerende ANC verlam die regering. Ramaphosa self word by bewerings van korrupsie betrek oor die R500 000 wat hy glo gekry het vir sy veldtog om as ANC-president verkies te word.

Vertroue versterk die ekonomie

Kiesers staan tou by ’n stembus in Mangaung tydens die verkiesing van 2014. Vanjaar was kiesers minder opgewonde oor die algemene verkiesing. Foto: Argief

In elke handelstransaksie wat plaasvind, vorm vertroue en die aanwesigheid van sosiale kapitaal ’n beduidende of selfs ’n substantiewe komponent.

Dié waardes kan in ’n breër verband direk aan ekonomiese ontwikkeling en uiteindelik aan ’n hoër ekonomiese groeikoers en verhoogde BBP gekoppel word. Hierdie waardes is kritiek belangrik vir ’n stabiele demokrasie en ekonomiese vooruitgang.

Unesco het in 2002 kultuur en politieke kultuur omskryf as die onderskeidende geestelike, materiële, intellektuele, en emosionele eienskappe in ’n samelewing. Hierdie sosiale gom bestaan uit waardestelsels, betekenisse en kollektiewe verwagtinge.

Indien die politieke kultuur in ’n land sterk op gemeenskaplike waardes gebou is, bestaan daar ’n algemene vertroue tussen die samelewing en die politieke ampsdraers.

In die breër verband is politieke kultuur die oorkoepelende patroon van vertroue, houdings en waardes in die samelewing teenoor die regering.

Indien die politieke kultuur in ’n land sterk op gemeenskaplike waardes gebou is, bestaan daar ’n algemene vertroue tussen die samelewing en die politieke ampsdraers. In dié konteks sal algemene vertroue en sosiale ingesteldheid sterker ontwikkel tot voordeel van politieke en ekonomiese ontwikkeling.

Die anderkant van die munt is dat ’n gebrek aan vertroue in die regering die ontwikkeling van sosiale vertroue en kohesie ernstig benadeel. Die negatiewe aspekte spoel oor na politieke disassosiasie en strem entrepreneurskap en ekonomiese ontwikkeling.

Die een aspek wat vertroue die sterkste ondermyn, is sistemiese korrupsie wat ’n verlammende politieke en ekonomiese impak op ontwikkeling het. Die persepsie dat “niemand” meer vertrou kan word nie ondermyn die sosiale kapitaal in ’n land.

Pravin Gordhan: “ . . . nog steeds niemand in oranje oorpakke nie.” Foto: Argief

In die geval van Suid-Afrika is dit nie net die voorkoms van korrupsie wat die sosiale vertroue skend nie. Die impak word verhoog deur die persepsie dat diegene wat korrup was en geld uit korrupte transaksies gemaak het nie aan die pen ry nie.

Dit is nou meer as ’n dekade sedert die eerste gevalle van korrupsie oopgevlek is en dit het geleidelik ’n uitgerekte katalogus geword met byna daaglikse toevoegings – maar soos Pravin Gordhan opgemerk het, “sien ons nog steeds niemand in oranje oorpakke nie.”

Selfs senior ampsdraers soos Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, word direk by grootskaalse korrupsie betrek, met geen waarneembare gevolge nie.

’n Indeks wat ontwikkel is om die verband tussen sosiale vertroue en die BBP van lande voor te stel, dui die verband tussen sosiale vertroue en ekonomiese impak duidelik aan.

Hoe hoër ’n land se persentasie op die indeks is, hoe sterker is die positiewe samehang van sosiale vertroue en ekonomiese voordele (verhoging van die BBP). Dit is nie ’n verrassing dat die Skandinawiese lande, soos Noorweë, Swede en Denemarke almal bo die kerf van 75% geplaas word nie.

Terselfdertyd is dit nie ’n verrassing dat Afrikalande, soos Suid-Afrika met ongeveer 25% en Zimbabwe met 8%, hulself aan die onderkant van indeks bevind nie.

Politieke kultuur, vertroue en ’n stabiele demokrasie

Die vertroue in oudpres. Jacob Zuma was volgens een peiling tydens sy latere bewindsjare so laag as 28%. Foto: Argief

Verskeie sosioloë en politieke wetenskaplikes het ondersoek gedoen na die omskrywing van politieke kultuur en hoe dit ’n liberale demokrasie sal steun, versterk en konsolideer.

In 1963 het Gabriel Almond en Sidney Verba bevind dat ’n passiewe minderheid, aktiewe groepe wat deel is van die burgerlike samelewing en ’n derde groep wat hom aan die gesag van die regering onderwerp, ideaal is vir ’n burgerlike kultuur wat sal lei tot ’n stabiele demokrasie wat ekonomiese groei en ontwikkeling sal bevorder.

In die 1980’s was dit duidelik dat daar ’n beduidende afname in die algemene vertroue in regerings was. Dit het gepaardgegaan met die erodering van sosiale kapitaal in die meeste lande.

Almond en Verba het bevind die afname in sosiale vertroue nie ’n afname in vertroue aan die beginsels of teoretiese werking van die demokrasie is nie.

Die afname in vertroue was in die funksionering van die demokratiese instellings en direk in die ampsdraers of rolbekleërs wat demokratiese funksies namens die samelewing moes uitoefen.

As die vertroue in die regering daal, beteken dit dat die samelewing minder glo wat ampsdraers sê, die eerbaarheid van hul optredes betwyfel, minder bereid is om te stem, en minder gewillig is om belasting te betaal ('Ons geld word in elk geval gesteel of vermors.')

Die afname van die sosiale gom in die samelewing en die vertroue in regerings is ’n wêreldwye verskynsel – veral teenoor die parlement, die staatsdiens en die gewapende magte, soos die polisie en die weermag.

Die daling van vertroue was egter minder drasties in die ekonomie, wat groot ondernemings en die korporatiewe sektor insluit.

In Amerika was die verlies aan vertroue in die regering die grootste. In 1964 het 75% van Amerikaners nog aangedui dat hulle die federale regering vertrou, om die regte ding te doen. In 1994 het dié vertroue tot 25% gedaal en ná die 9/11-terreuraanvalle het die vertroue tydelik tot vlakke bo 50% gestyg.

In die laaste dekade het die sosiale vertroue egter geleidelik weer tot onder 40% gedaal.

Waarom was daar wêreldwyd ’n afname in vertroue in verkose regeringsamptenare en verteenwoordigers?

Politieke waarnemers meen dat dit gevolg het op ’n afname van sosiale kapitaal, die erodering van vertroue en die deflasie van die bestaande politieke kultuur. Die verswakking van die politieke kultuur is basies die verlies van vertroue in die regering en die vermoë van die politieke stelsel om gedeelde doeleindes te stel en te bereik.

As die vertroue in die regering daal, beteken dit dat die samelewing minder glo wat ampsdraers sê, die eerbaarheid van hul optredes betwyfel, minder bereid is om te stem, en minder gewillig is om belasting te betaal (“Ons geld word in elk geval gesteel of vermors.”)

Die teenkant is ewe interessant in lande met sterk sosiale kapitaal en vertroue in die regering. In dié lande is dit die sterk aanwesigheid van sosiale kapitaal (sosiale gom) en vertroue wat die groter masjinerie in die samelewing olie, kollektiewe optrede en entrepreneurskap aanmoedig en sakevertroue versterk.

Suid-Afrika, sosiale kapitaal en onderlinge vertroue

Oudpres. Nelson Mandela stem in die verkiesing van 1994. Die vertroue in die regering tydens sy bewindsjare was relatief hoog. Foto: Argief

Die afname in sosiale kapitaal en vertroue in die regering is ’n groot faktor in Suid-Afrika.

Die sosiale gom was ná die instelling van demokrasie in 1994 die sterkste en die land het op die kruin van die golf as funksionerende demokrasie gery, wat weer ekonomiese groei bevorder het.

Die vertroue in die bewindsjare van oudpres. Nelson Mandela, en selfs dié van oudpres. Thabo Mbeki, was relatief hoog. In die bewindstydperk van oudpres. Jacob Zuma het aggressiewe erodering begin plaasvind en die kleure van die reënboognasie het begin verdof.

Die openlike plundering van die land se bates en bronne en staatskaping het die politieke regime na ’n rowerstaat laat lyk.

Die vertroue in Zuma as president was volgens Afrobarometer so laag as 28% in die latere jare van sy bewind.

Dit is nie net geld wat “gesteel” is nie. Vertroue en sosiale kapitaal is ook “gesteel”.

Die vertroue in Zuma as president was volgens Afrobarometer so laag as 28% in die latere jare van sy bewind.

In Suid-Afrika was die impak van korrupsie en die plundering van staatsbates die groot euwels wat sosiale kapitaal en vertroue vernietig het. Die Edelman Trust Barometer het in 2018 aangedui dat slegs 14% van die Suid-Afrikaanse samelewing die regering vertrou.

Dit is net meer as een uit elke tien mense.

Pieter Labuschagne

Die Trust het na vier entiteite gekyk, regering (ampsdraers op alle regeringsvlakke), die sakesektor, die media en nieregeringsorganisasies.

Ondanks die feit dat korrupsie ook ’n impak op die vertroue in die sakesektor het, is vertrouensvlakke in die korporatiewe sektor volgens die Edelman Trust 45% en veel hoër as die 14% in die geval van die regering.

In ’n opname deur News24 onder ’n verteenwoordigende groep van 200 respondente, is bevind dat 86% nie die regering vertrou nie. Die ISS Crime Hub het bevind dat 66% van die samelewing die polisie “net ’n bietjie of glad nie vertrou nie”.

Dié peiling het ook gewys dat 65% van die respondente die parlement en die plaaslike regering “net ’n bietjie of glad nie vertrou nie”.

In verdere navorsing is bevind dat amper 50% van die polisie op die een of ander wyse by korrupsie betrokke is, wat wissel van die neem van omkoopgeld tot direkte betrokkenheid.

Die hartseer werklikheid is dat die “nuwe daeraad” wat Ramaphosa Suid-Afrikaners belowe het, besig is om weg te kwyn. Die onweerswolke pak op die horison saam met ’n diep verdeelde regering wat in faksiegevegte vasgevang is en aantygings van korrupsie op alle vlakke.

Die vertroue en hoop wat in Ramaphosa gestel is, kwyn vinnig en daarmee saam die sosiale kapitaal in die land.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Cyril Ramaphosa  |  Thabo Mbeki  |  Jacob Zuma  |  Demokrasie  |  Ekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.