Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regime in Iran is dodelik roekeloos en onbevoeg

Die neerskiet van ’n Oekraïense vliegtuig buite Teheran het net weer gedui op die Irannese regime se roekeloosheid en onbevoegdheid, skryf Aurel Brown.

Slagoffers van die vliegramp is by ’n nagwaak in Teheran gedenk. Foto: Getty Images

Die neerstort van Ukraine International Airlines se vlug PS752 in Iran met die verlies van die lewens van al 176 passasiers, wat 15 kinders en 57 Kanadese ingesluit het, was ’n afgryslike tragedie.

Dit het ook die kollig laat val op verskeie belangrike kwessies rondom Iran.

Vlug PS752 het neergestort kort nadat dit opgestyg het van Teheran se lughawe, enkele ure nadat Iran ongeveer 15 ballistiese missiele op twee groot basisse in Irak wat Amerikaanse en geallieerde soldate huisves, afgevuur het in weerwraak vir die hommeltuig-aanval waarin Kassem Soleimani dood is.

Die toeval van die vliegtuigongeluk en Iran se weerwraak het tot bespiegeling en agterdog gelei. Die Irannese regime het onmiddellik gewys op die onwaarskynlike oorsaak van meganiese probleme. Sterk bewyse het daarop gedui dat die vliegtuig deur Irannese missiele afgeskiet is, maar die hoof van dié land se burgerlike lugvaartowerheid, Ali Abedzadeh, het dié moontlikheid heftig ontken.

En toe het die storie weer verander: Iran het uiteindelik erken dat die vliegtuig afgeskiet is “sonder dat hy dit bedoel” het en die tragedie op ’n “menslike fout” blameer.

Geen wapens van massavernietiging

Betogers laat naby die Amir Kabir-Universiteit in Teheran hul stemme hoor oor die neerskiet van die Oekraïense vliegtuig buite dié stad waarin 176 mense dood is. Foto: AP

Aanvanklike aansprake deur Westerse intelligensiedienste dat die vliegtuig deur Irannese missiele afgeskiet is, het beslis om noukeurige ondersoek gevra. Bewerings “gegrond op inligtingsverslae” van George W. Bush en Dick Cheney dat daar wapens van massavernietiging in Irak was, was immers geheel en al onwaar.

Dit het nietemin na ’n redelike gevolgtrekking gelyk toe uiters versigtige leiers soos die Kanadese eerste minister, Justin Trudeau, op grond van goeie bewyse wat onder meer dié van Kanadese intelligensiedienste insluit, beweer dat daar ’n goeie kans is dat die vliegtuig wel deur Irannese missiele neergeskiet is.

Hy is hierin gesteun deur Boris Johnson, premier van Brittanje.

Dit alles het die indruk versterk dat die Irannese regime die oorsaak van die ongeluk probeer verdoesel het.

Daar was ook videomateriaal, wat deur die New York Times geverifieer is, waarop dit lyk asof ’n Irannese missiel ’n vliegtuig naby Teheran se lughawe tref en ’n soortgelyke video wat opslae op Iran se sosiale media gemaak het.

Daar was ook berigte dat Iran ’n stootskraper op die toneel van die ongeluk ingespan het, dat die toneel nie afgesper is soos deur protokol vereis word nie, dat heelwat van die bewysstukke op die grond weg was en dat Teheran weier om die vliegtuig se stemopnemers te oorhandig soos wat die gewone prosedure is.

Dit alles het die indruk versterk dat die Irannese regime die oorsaak van die ongeluk probeer verdoesel het.

Groter prentjie van die Irannese regime

’n Betoger in Teheran hou ’n foto omhoog van ’n pas getroude egpaar wat dood is in die onlangse vliegramp buite dié stad. Foto: Reuters

Maar wat waarskynlik meer ontstellend sal wees vir die mense van Iran, is die groter prentjie van die Irannese regime se optrede en die langtermynimplikasies daarvan.

Dié teokratiese regime het alle binnelandse teenstand doeltreffend en gewelddadig onderdruk en versigtig dog brutaal ’n beeld geskep dat hy binnelands en in die streek onoorwinbaar is.

Hy het genadeloos opgetree om ’n Sjiitiese boog te skep wat van Iran tot die Middellandse See strek en deur Teheran beheer word. Daar was ’n aura van onkwetsbaarheid rondom Soleimani, leier van die Koerds-magte wat aan die voorpunt is van Iran se imperiale streeksambisies, binnelandse onderdrukking en internasionale steun vir terrorisme.

Die Irannese reaksie was nie net glad nie kenmerkend nie, maar het ook die vrees weerspieël vir ’n volskaalse konfrontasie.

Dit het gelyk asof Soleimani onaantasbaar was en tog het die Amerikaners by hom uitgekom en hom doodgemaak.

Die regime in Iran, wat “harde wraak” vir dié aanval gesweer het, het berus by ’n simboliese en futlose gebaar om sy aansien te red.

Sommige van sy ballistiese missiele was foutief en ander, óf omdat dit so bedoel is óf as gevolg van weloorwoë verdedigingsmaatreëls van die geallieerdes, het nie enige slagoffers geëis toe dit op basisse van die VSA in Irak afgevuur is nie.

Die reaksie het iets meer as net futloosheid onthul. Die Iranese regime het by herhaling sy doeltreffendheid gedemonstreer wanneer dit kom by die onderdrukking van enige binnelandse teenstand, maar dit het verdwyn toe hy te staan kom teen ’n onvoorspelbare, narsistiese en wraaksugtige teenstander soos die Amerikaanse president, Donald Trump, wat verkies om die spel nie volgens die ou reëls te speel nie.

Die Irannese reaksie was nie net glad nie kenmerkend nie, maar het ook die vrees weerspieël vir ’n volskaalse konfrontasie.

Roekeloos en onbevoeg

Mense kom by die hek van Amir Kabir-Universiteit in Teheran bymekaar vir ’n nagwaak om slagoffers van die vliegramp te gedenk. Foto: Getty Images

Die erkenning deur Iran dat sy missiele die vliegtuig neergeskiet het, is meer as net ’n verskriklike tragedie.

Dit het ook die dodelike kombinasie van die regime se asembenemende roekeloosheid en monumentale onbevoegdheid blootgelê.

Die feit dat die Irannese regime nie lugverkeer verbied het terwyl hy missiele na basisse in Irak afgevuur het nie, soos enige gewone prosedure vereis, was niks anders as growwe nalatigheid nie.

Die dood van so baie burgerlikes, meestal Iraniërs, bewys die regime se swakheid, onbevoegdheid en gewetenlose verontagsaming van sy burgers se veiligheid.

Die regime kan dalk in die toekoms by asimmetriese oorlogvoering betrokke raak. Irannese militêre leiers raak allerhande niksseggendhede kwyt en maak ook aaklige dreigemente teen die VSA en die Weste, maar die beeld van die regime se onkwetsbaarheid is vir ewig geskend deur sy korrupsie tesame met sy onverskilligheid en onbevoegdheid.

Die mense van Iran kan dalk begin om die regime nou meer openlik te blameer en dapperder word in hul teenstand.

Tans pas die VSA sanksies teen Iran toe wat bykomend is tot die bestaande vernietigende sanksies en Soleimani is nie meer daar nie.

Baie mense van Iran het vir maande betoog en dit duidelik gemaak dat hulle nie wil doodgaan terwyl hulle in Irak, Sirië of Libanon veg nie en dat hulle nie wil hê skaars hulpbronne moet elders gebruik word nie omdat dit uiters noodsaaklik in hul eie land is.

Hulle kan dalk begin om die regime nou meer openlik te blameer en dapperder word in hul teenstand.

Miskien kan die tragedie van vlug PS752 uiteindelik die Irannese teokratiese diktatorskap oortuig dat dit tyd geword het om halt te roep met sy gevaarlike buitelandse avonture.

* Braun is professor in internasionale verhoudinge en politieke wetenskap aan die Universiteit van Toronto. Dié artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn. 

Meer oor:  Kassem Soleimani  |  Donald Trump  |  Justin Trudeau  |  Ali Abedzadeh  |  Iran  |  Kanada  |  Amerika  |  Oekraïne  |  Irak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.