Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regstaal en volkstaal

Taal behoort aan mense, nie aan die regswêreld nie, skryf regter Johann van der Westhuizen.

Regstaal. Grafika: Hanlie Malan

Verlede maand het ek geskrywe dat diere regtens nie regte het nie, maar dat dit goed is om van “diereregte” te praat, om mense sensitief te maak oor pyn, wreedheid en warmte – teenoor diere en medemense.

Regstaal is nie altyd die taal van die volksmond nie. Dit is deftig en formeel met gedefinieerde betekenisse. Gewone mense skrik daarvoor.

Natuurlik moet regstaal duidelik en akkuraat wees. Die oppergesag van die reg vereis dit. As die reg nie duidelik spreek nie, kan dit nie heers nie. ’n Mens moet weet wat van jou verwag word. Betekenislose reg is nie grondwetlik geldig nie.

My geleerde vriend?

Tog maak wette, hoftaal en prokureursbriewe oor eenvoudige dinge mense deurmekaar.

As kind het ek gewonder waarom advokate na mekaar as “my geleerde vriend” verwys. Is hulle vriende? Moet ’n mens jou opponent se geleerdheid besing as jy dieselfde kwalifikasies het? Of is dit snydende sarkasme wat van “slim” advokate verwag word?

Skryf en praat regsgeleerdes ingewikkeld omdat hul so geleerd is; of lomp met taal is; of omdat hulle mense intimideer om te glo dat die reg moeilik is, dat hulle nie hul eie sake kan behartig nie en dus groot geld vir kundigheid moet betaal? Boelie hulle hul kliënte met hul mag? Maar doen my loodgieter en motorwerktuigkundige nie dieselfde nie?

Het Zuma gesteel?

Die meerderheid regters in die Grondwethof het teen die ANC beslis, maar om verskillende redes.

Aan die vooraand van die vorige verkiesing het die DA aan duisende ge-SMS dat die openbare beskermer se Nkandla-verslag “wys hoe Zuma jou geld gesteel het”.

Die ANC het hof toe gegaan op grond van die Verkiesingswet, wat die publikasie van “vals inligting” verbied het. Was hierdie “inligting”? En was dit “vals”?

Die meerderheid regters in die Grondwethof het teen die ANC beslis, maar om verskillende redes. My uitspraak, ondersteun deur regter Mbuyiseli Madlanga, se uitgangspunt was dat die onderliggende rede vir die Verkiesingswet die Grondwet se waarborg van vry en regverdige verkiesings was. Vir vry verkiesings is spraakvryheid nodig. Regverdige verkiesings vereis dat “vals inligting” – soos byvoorbeeld dat stembusse in Gauteng nie sou oopmaak nie – nie versprei word nie.

Die DA het geredeneer dié woorde “wys hoe” hul stelling ’n opinie gegrond op die verslag maak, sodat die verslag se spesifieke woorde onbelangrik is. ’n Opinie kan volgens die lasterreg nie “inligting” wees nie. Maar hierdie was nie ’n lastersaak nie. ’n Stelling soos “ons spesialis dink die president het een maand oor om te lewe” is ’n opinie, maar kan ’n verkiesing onregverdig beïnvloed.

Die regsdefinisie van diefstal is die wederregtelike, opsetlike toe-eiening van ’n roerende liggaamlike saak wat aan iemand anders behoort. Maar ons gebruik die woord simbolies: Iemand steel die kollig, of my eggenoot se liefde.

Ook praat ons van die diefstal van grond, wat onroerend is, of ’n gedig, wat nie liggaamlik is nie. Serena Williams het die skeidsregter ’n dief genoem toe hy op die tennisbaan ’n spel van haar telling afgetrek het.

Zuma is nie aan diefstal skuldig bevind nie. Die verslag sê nêrens dat hy gesteel het nie. Maar in die lig van die bevindings in die verslag is dit nie “vals” om in ’n verkiesingsveldtog te sê dat hy “gesteel” het nie. Opposisiepartye hoef nie regstaal te praat nie.

Amnestie het sy rekord uitgewis, maar nie gewone mense se spraakvryheid ingeperk nie.

Robert McBride-geval

Robert McBride het mense doodgemaak met ’n bom in ’n kroeg in Durban. Hy is aan moord skuldig bevind, ter dood veroordeel en het jare in die dodesel gewag om gehang te word.

Toe die nuwe bedeling aanbreek, kry hy ingevolge die Waarheid-en-versoeningswet amnestie. Dit beteken dat alle verwysings na sy skuldigbevinding van die rekord verwyder is.

As hy om werk aansoek doen, mag hy op die vraag of hy ooit aan ’n misdaad skuldig bevind is, eerlik “nee” antwoord.

Jare later noem ’n koerant hom ’n “moordenaar”. Hy dagvaar vir laster. Is hy steeds ’n moordenaar, sonder ’n moordveroordeling op sy rekord?

In ’n omstrede meerderheidsbeslissing bevind die Grondwethof teen hom. Amnestie het sy rekord uitgewis, maar nie gewone mense se spraakvryheid ingeperk nie.

Dit lyk reg. Sou ’n mens die ma van een van die vroue wat in die ontploffing dood is vir laster aanspreeklik hou as sy by ’n reünie aan ou skoolvriende vertel dat haar dogter 20 jaar gelede deur McBride vermoor is?

Johann van der Westhuizen

Emosie van volkstaal

Die emosie van volkstaal kan regstaal beïnvloed.

Verkragting is die wederregtelike opsetlike geslagsverkeer van ’n man met ’n vrou sonder haar toestemming. Onlangs het howe die presiese aard van die geslagsverkeer uitgebrei om optrede teenoor ’n jong meisie in te sluit, wat vroeër ernstige onsedelike aanranding was.

Waarom wil ons iets verkragting noem, selfs as dieselfde swaar straf vir die aanranding opgelê kan word? Dalk wil ons die gemeenskap se afgryse vasvang – nie net in die vonnis nie, maar ook in die etiket.

Waarom nie verder uitbrei om die gruwel van man-op-man-seks sonder toestemming in tronke in te sluit nie? Of wil ons die erns van die term vir die lot van vroue bewaar?

Taal behoort aan mense, nie aan die regswêreld nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.