Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regstellende aksie: Is daar hoop vir minderhede?

Die Menseregtekommissie het bevind die huidige implementering van regstellende aksie mag op “rigiede kwotas” en “absolute hindernisse” neerkom. Dit is die eerste keer dat ’n hoofstuk-nege-instelling sulke kritiese bevindings oor regstellende aksie maak, skryf Theuns Eloff.

Ter illustrasie. Grafika: Morné Schaap, Grafika24

Die Menseregtekommissie (MRK) het onlangs die jongste verslag oor gelykheid gepubliseer en in die parlement voorgelê. Dit het (onder meer weens prosesse rondom onteiening sonder vergoeding en die Zondo-kommissie) nie veel aandag getrek nie.

Een uitsondering was Solidariteit, wat aangekondig het dat die verslag beteken dat die land se regstellende aksie-wetgewing onwettig is, en nie aan internasionale vereistes voldoen nie.

Solidariteit gaan die hof nader om ’n verklarende bevel te kry sodat hy sekerheid kan kry oor hoe werkgewers en die departement van arbeid die situasie moet hanteer totdat die wet (soos deur die MRK voorgestel) verander is.

Die MRK aanvaar dus die politieke beleid van die ANC-regering onkrities en probeer dit versterk deur dit ’n menseregte-basis te gee.

Die subtitel van die verslag is insiggewend: “Achieving substantive economic equality through rights-based radical socio-economic transformation in South Africa”.

Die MRK aanvaar dus die politieke beleid van die ANC-regering onkrities en probeer dit versterk deur dit ’n menseregte-basis te gee. ’n Paar keer kom die verslag tot die gevolgtrekking dat, omdat so min vordering met groter gelykheid in Suid-Afrika gemaak is, radikale sosio-ekonomiese transformasie noodsaaklik is.

Die vraag oor hoekom so min gebeur het (byvoorbeeld dat die onderwysstelsel klaaglik misluk het) word nooit gevra of beantwoord nie.

Die gelykheidsklousule in die Grondwet is art 9. Subartikel 1 stel dat elkeen gelyk is voor die reg, terwyl 2 dit stel dat gelykheid die volle en gelyke genieting van alle regte en vryhede insluit.

“Ten einde die bereiking van gelykheid te bevorder, kan wetgewende en ander maatreëls getref word wat ontwerp is vir die beskerming of ontwikkeling van persone, of kategorieë persone, wat deur onbillike diskriminasie benadeel is.”

Die Wet op Billike Indiensneming en regstellende aksie is op hierdie klousule gegrond. Artikel 9(3) verbied die staat om “regstreeks of onregstreeks onbillik teen iemand te diskrimineer op een of meer gronde . . . met inbegrip van ras, geslagtelikheid, geslag, swangerskap, huwelikstaat, etniese of sosiale herkoms, kleur, seksuele oriëntasie, ouderdom, gestremdheid, godsdiens, gewete, oortuiging, kultuur, taal en geboorte.”

Subartikel 5 stel dat “diskriminasie op een of meer van die gronde in subartikel 3 vermeld,” onbillik is, “tensy vasgestel word dat die diskriminasie billik is”.

Dirk Hermann, bestuurshoof van SolidariteitFoto: Nico Gous

Rigiede kwotas

Die konstitusionele hof het in die sogenaamde Van Heerden-saak bevind dat enige toepassing van art 9(2) – dit wil sê spesiale maatreëls om gelykheid te bevorder – outomaties billik is en nie aan die toetse van subartikels (3) en (5) onderwerp hoef te word nie. Deur hierdie uitspraak moet alle regstellende aksie sonder enige toets oor die billikheid daarvan, as billik beskou word.

Die enigste beperking is dat ’n maatreël nie mag neerkom op magsmisbruik nie en dat dit nie wesenlike en onbedoelde skade mag berokken sodat die land se langtermyn- grondwetlike doel van ’n nierassige en nieseksistiese samelewing bedreig word nie.

Hierdie interpretasie het ernstige negatiewe gevolge vir minderhede en het selfs tot benadeling van dié groepe gelei.

’n Bevoorregte swart persoon (wat in Sandton grootgeword het, na ’n privaatskool gegaan en aan ’n goeie universiteit gestudeer het) sal bó ’n bruin of wit persoon wat arm is, aangestel word.

Waarop Solidariteit met reg wys, is dat die MRK bevind dat die wet nie aan die vereistes van die Verenigde Nasies se Internasionale Konvensie oor die Uitskakeling van Alle Vorme van Rassediskriminasie (ICERD) en die Grondwet van Suid-Afrika voldoen nie. Dit is omdat die wet slegs ras in ag neem en nie sosio-ekonomiese behoefte (of benadeling) nie.

Dit is iets wat al meermale in die praktyk gesien is: ’n Bevoorregte swart persoon (wat in Sandton grootgeword het, na ’n privaatskool gegaan en aan ’n goeie universiteit gestudeer het) sal bó ’n bruin of wit persoon wat arm is, aangestel word. Hy word aangestel net omdat hy swart is.

Die MRK se bevinding is spesifiek dat die wet se definisie van “aangewese groepe” en die afbreek van die staat se data in raskategorieë (Afrikaan, bruin, wit en Indiër en wit) nie voldoen aan grondwetlike of internasionale regsverpligtinge nie. Hierdie groepe moet meer genuanseerd bepaal word deur na sosio-ekonomiese behoeftes te kyk.

Verder bevind die MRK dat die huidige implementering van regstellende aksie mag op “rigiede kwotas” en “absolute hindernisse” neerkom. Dit mag daarom aanleiding gee tot “nuwe ekonomiese wanbalanse en patrone van uitsluiting wat juis op ras, etnisiteit, geslag en gestremdheid sal neerkom”.

Theuns EloffFoto: Verskaf

Hoe lank moet regstellende aksie nog geld?

Hierdie bevindinge van die MRK (wat dieselfde gesag as dié van die openbare beskermer het) is baie belangrik. Dit is die eerste keer dat ’n hoofstuk-nege-instelling sulke kritiese en ingrypende bevindinge maak oor regstellende aksie en hoe dit toegepas word.

Dit vra ook die vraag hoe lank regstellende maatreëls nog behoort te geld en kom tot die slotsom dat die internasionale reg stel dat spesiale maatreëls nie permanent kan wees nie en dat sodra die doelwit van “substantiewe” gelykheid bereik is, dit gestaak moet word.

Gaan hierdie belangrike bevindinge die lewe vir minderheidsgroepe makliker maak?

Die MRK het verder beveel dat die departement van justisie en grondwetlike ontwikkeling, die kommissie op diensbillikheid en die departement van arbeid binne ses maande vanaf Julie 2018 terugvoering aan die MRK moet gee oor watter stappe gedoen is om die wet te wysig.

Gaan hierdie belangrike bevindinge die lewe vir minderheidsgroepe makliker maak? Dit kan, maar dit sal nie vinnig gebeur nie. Op ’n politiek-ideologiese vlak is die wet se “aangewese groepe” volledig deel van die regerende party se ideologie van “Afrikane eerste” en demografiese verteenwoordigendheid.

Dit beteken dat alle organisasies en alle onderdele in die organisasies die nasionale demografie (80% Afrikane, 9% bruin, 9% wit en 2% Indiër) moet weerspieël. Of die regerende party maklik van hierdie ideologie gaan afstand doen, sal nog gesien moet word.

Die feit is, daar bestaan ’n duidelike spanning tussen rasgebaseerde regstellende aksie en regstelling wat op sosio-ekonomiese behoeftes gegrond is.

Meer genuanseerde regstellende aksie

Die tweede voorwaarde is dat die staat die vermoë moet hê om regstelling ingevolge die meer genuanseerde “sosio-ekonomiese behoeftes” te doen, onder andere om mense se sosio-ekonomiese behoeftes te kan meet. Dit word op ’n beperkte skaal reeds met studielenings by NSFAS gedoen. Studente wie se ouers meer as R600 000 per jaar verdien, kwalifiseer nie.

Maar ek twyfel of die staat die vermoë sal hê om dit oor die wye spektrum te doen. Die ironie is juis dat hierdie gebrek aan kapasiteit ten minste ten dele gegrond moet word op die manier waarop regstellende aksie tot dusver toegepas is.

’n Derde faktor is die howe en spesifiek die konstitusionele hof. Sal die howe bereid wees om sy interpretasie van onbillike diskriminasie à la die Van Heerden-saak om te draai? Want selfs al verander die wet, kan arbeidsake steeds in die konstitusionele hof beland en sal die Van Heerden-presedent geld.

Die bevindinge van die MRK dat regstellende aksie meer genuanseerd gedoen moet word, moet verwelkom word.

’n Vierde faktor is die tydsduur van regstellende aksie. Volgens internasionale reg behoort dit gestaak te word sodra gelykheid bereik is. Die konstitusionele hof het die beginsel van “substantiewe” gelykheid daargestel. Ons het reeds formele gelykheid voor die reg bereik. Wat presies “substantiewe gelykheid” is en wanneer dit bereik sal word, is nog nie uit regspraak duidelik nie.

’n Ideologiese siening sal wees dat dit slegs bereik is wanneer 80% van alle poste in alle organisasies deur Afrikane beset word. Die MRK vra vir ’n meer genuanseerde benadering deur sosio-ekonomiese behoeftes in ag te neem. Wanneer substantiewe gelykheid dan bereik kan word, is egter ook nie duidelik nie. Dit hang van die definisie en die meting daarvan af.

In’t kort: Die bevindinge van die MRK dat regstellende aksie meer genuanseerd gedoen moet word, moet verwelkom word. Dit is nader aan die letter en gees van die Grondwet en internasionale reg.

Of die rasgebaseerde stelsel van regstellende aksie, wat op sy beurt op ANC-ideologie gegrond is, maklik sal verander, sal net die tyd leer.

*Eloff is uitvoerende direkteur van die FW de Klerk Stigting.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.