Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regters moet wag voor die mond hê

Verstaan hoofregter Mogoeng Mogoeng die verantwoordelikhede van die regtersamp, en meer bepaald dié van die hoofregter, wonder Koos Malan.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng Foto: Gallo Images

Regters het hul gesag te danke aan hul vermoë om hulle sorgvuldig uit die vaarwater van omstrede kwessies te hou en onberispelike onpartydigheid in regsgedinge te beoefen.

Buite die hof is die belangrikste insig wat regters aan die dag moet lê, dat hulle moet weet wanneer om te swyg, meer bepaald om hulle sorgvuldig te weerhou van die lug van menings oor omstrede, veral politieke kwessies. As hulle dit nie doen nie, land hul onpartydigheid in die vaarwater en diskwalifiseer hulle hulself om in latere regsgedinge oor sulke kwessies te beslis.

Meer nog, wanneer hulle in omstrede politieke en dergelike kwessies indons, word hulle politici, pleks van regters en verbeur hulle die agting waarop regters andersins geregtig is.

Die regterlike amp en gepaardgaande verantwoordelikhede behels dat regters en veral die hoofregter minder spraakvryheid as politici of gewone lede van die publiek het. Dit is ’n gevolg inherent aan die regtersamp.

Die elementêre waarheid hoef nie aan regsprekers in behoorlik funksionerende regstelsels verduidelik te word nie. Hulle verstaan dit. Ook in Suid-Afrika voor en ná 1994 het regters grotendeels begrip hiervoor getoon.

Hy is by uitstek die politikus van transformatisme.

In die lig van die verantwoordelikhede van die regtersamp het hulle gewoonlik oor netelige, veral politieke kwessies ’n wag voor die mond gehad.

Maar nie hoofregter Mogoeng Mogoeng nie.

Op openbare podiums laat hy hom kwistig uit oor omstrede en verdelende kwessies. Boonop – en dis geen oordrywing nie – praat hy ook skaamteloos twak.

Waldimar Pelser verwys verlede week in sy rubriek onder die opskrif “Mogoeng Mogoeng: regter of politikus?” na Mogoeng se geskiedskrywing op grond van ’n toespraak wat die Britse politikus lord Babington Macaulay in 1835 sou gehou het nadat hy kruis en dwars oor Afrika gereis het.

Macaulay is Mogoeng se gesagsbron dat Afrika voor die koms van die Westerlinge in ’n paradyslike staat was, onder meer gekenmerk deur oorvloed en deur voortreflike opvoedkundige stelsels. In die toespraak roep Mogoeng sy toehoorders op om die kripto-kolonialiste, wat volgens Mogoeng nog oral aan die knoei is, uit te snuffel en aan die kaak te stel.

Mogoeng se toespraak was op louter bog gegrond, want Macaulay het nooit so ’n toespraak gehou nie en was trouens nooit in Afrika nie. Nogtans het Mogoeng die Macaulay-vervalsing in drie toesprake as “gesag” vir sy kruistog teen Westerlinge opgeroep.

Toe Mogoeng tot verantwoording geroep is, het hy die joernalistieke navrae geïgnoreer. Trouens, die toespraak met die Macaulay-onsin pryk steeds op die konstitusionele hof se webblad.

Onlangs in sy Nelson Mandela-toespraak was Mogoeng weer pens en pote in die politiek, toe hy in pas met die ANC-mantra kolonialisme en apartheid ná 25 jaar van ANC-brouwerk steeds as die hoofbron van die land se mislukking beskryf het.

Ook oor etlike ander omstrede kwessies het Mogoeng hom uitgespreek. In reaksie op die siening dat hy as hoofregter hom nie oor sodanige kwessies behoort uit te laat nie, verklaar Mogoeng dat hy, net soos enigiemand anders, sy spraakvryheid uitoefen; dat hy mag sê, wat hy wil. Hy verseg dus om hom by die verantwoordelikhede van sy amp neer te lê, klaarblyklik omdat hy dit nie verstaan nie. Of hy verstaan dit wel, maar kan homself nie beteuel nie.

In regsgedinge moet regters daadwerklik onpartydig wees en moet hulle ook op so 'n wyse optree dat daar geen verdenking oor hul partydigheid kan ontstaan nie. Hul uitsprake moet ook van hul onpartydigheid getuig.

Maar nie Mogoeng nie.

In die Pretoria-straatnaamsaak het hy en sy gevolg hul partydigheid in so ’n mate gedemonstreer dat twee ander regters – Froneman en Cameron – dit gerade geag het om Mogoeng-hulle in ’n minderheidsuitspraak te repudieer.

In dié saak het Mogoeng hom onomwonde teen die erkenning van kulturele diversiteit uitgespreek. Om Afrikaanse straatname te probeer behou, was volgens hom ’n slenter teen die transformasie, en ons konstitusionele visie vereis dat mense hulle nie teen naamsverandering moet verset nie. Mogoeng se uitspraak lewer ’n sonderlinge vertoning van onverdraagsaamheid teenoor Afrikaners en wit mense. Die implikasie was dat die Afrikaners nie kwalifiseer vir grondwetlik gegronde kultuurbeskerming nie.

In die taalsaak van die Universiteit van die Vrystaat was Mogoeng se partydigheid teen Afrikaners en Afrikaans op volle vaart. Blykbaar was Mogoeng bang dat mense sy onpartydigheid sou bevraagteken. Daarom doen hy reeds in paragraaf 8 van sy uitspraak die eienaardige ding deur te sê hy is inderdaad nie partydig nie. Tog het hy reeds in ’n voorafgaande paragraaf die bestuur van die universiteit geloof om as deel van die “constitutionally-inspired transformational agenda” van Afrikaans ontslae te raak. Soos Froneman in sy minderheidsuitspraak aangedui en ek elders breedvoerig behandel het, was Mogoeng se uitspraak inderdaad ’n sonderlinge tentoonstelling van regterlike partydigheid en vooroordeel.

Ook in die hof, net soos daarbuite, is Mogoeng dus volskaals ’n politikus. Trouens hy sê juis onlangs die meeste dinge wat regters (veral van die konstitusionele hof) doen, is polities van aard – dat hy en sy kollegas dus streng gesproke volskaalse politici is. Daarmee antwoord Mogoeng ook Pelser se vraag of hy – Mogoeng – regter of politikus is.

Deur dit te doen, offer meneer eerder as regter Mogoeng, synde politikus, natuurlik die grondslag van (sy) regterlike gesag op en verval alle gronde vir die eerbied waarop hy andersins as regter sou kon aanspraak maak.

Mogoeng, soos die res van die ANC-geleide heerserskoterie, waarvan hy deel is, is by uitstek die politikus van transformatisme. Vir hom is die eerste prioriteit dat die hof ’n getroue agent van transformatisme moet bly, want sê Mogoeng in sy Mandela-toespraak, as die hof gekaap word, kan dit nie meer, soos dit hoort, vir transformasie gebruik word nie. Dienooreenkomstig moet daarteen gewaak word dat regters van hul transformatiewe verantwoordelikheid afwyk.

By Mogoeng as getroue politikus van transformatisme is daar dus geen sprake van onpartydigheid nie. Trouens, onpartydigheid, waarvan die uitwerking is dat aspekte van transformasie krities beskou moet word, is gelyk aan ontrouheid aan die Grondwet.

Etlike politieke kommentators is onthuts hieroor en beduidende sektore van die publiek voel ongemaklik en uitgelewer, want die implikasie van Mogoeng se optrede sowel binne as buite die hof is dat daar oplaas nie op die regbank, die Grondwet en grondwetlike regte vertrou kan word nie; dat die grondwetlike geloof wat nou oor die verloop van 'n generasie gepredik is, vals was.

En vals was dit voorwaar.

Etlike van Mogoeng se voorgangers het reeds oor die afgelope twee dekades wesenlik dieselfde as Mogoeng gesê. Vir hulle moes die howe net soos in die geval van Mogoeng inderdaad nie 'n onpartydige beregter wees nie, maar ’n getroue agent van transformatisme. Hulle was egter veel meer subtiel as die breedsprakige Mogoeng.

Baie leidende politici, kommentators en akademici, meer bepaald ook in Afrikaanse geledere, wou of kon nie die ware toedrag van sake insien nie. Die burgerlike religie van die oppermagtige Grondwet, daar ver in die lug, vry-swewend op die vleuels van 'n kenmerkend geloofsversterkte evangeliese taal (gewaarborgde/ verskanste regte entrenched / guaranteed / en­shrined rights en nog talle evangeliese jargon), was net so gerusstellend en bekoorlik dat die daadwerklike en minder aangename realiteit net nie die aandag kon kry wat dit verdien het nie.

Nou, ironies genoeg, onder andere danksy Mogoeng, dring die onaangename waarheid, verwyderd van die aangename verrukking van die valse evangelie van die oppermagtige Grondwet en die onpartydige regbank, tot ons deur. Nogtans is dit nie rede tot wanhoop nie, want as ons ons huidige situasie realisties beg­ryp eerder as om in vervoering van 'n grondwetlike geloof te verkeer, kan ons nog iets daaraan begin doen.

* Prof. Koos Malan is skrywer van die boek There is no supreme constitution – a critique of statist-individualist constutionalism, uitgegee deur Sun Media.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.