Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Regters verskil oor ‘als Engels’ by UV

Die beginsels van haalbaarheid en gelykheid lê aan die hart van die konstitusionele hof se uitspraak oor die taalbeleid van die Universiteit van die Vrystaat. Hier volg die hooftrekke van die meerderheidsuitspraak en die minderheidsuitspraak hieroor. Dit is saamgestel deur Gert Coetzee.

Die hoofgebou van die Universiteit van die Vrystaat in Bloemfontein.

Meerderheidsuitspraak: Afrikaans ‘bevorder rassespanning’

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het die hoofuitspraak gelewer. Regters A. Nkabinde, J. Jafta, J. Khampepe, J. Madlanga, J. Mhlantla, A. Mojapelo en J. Zondo stem saam met hom.

Sy bevinding is dat die UV se nuwe taalbeleid – met Engels as onderrigtaal – met die Grondwet strook en as sodanig wettig en geldig is. Sy uitspraak sny bepaalde elemente aan.

Konteks  

Regter Mogoeng sê die oplossing van dispute wat Suid-Afrikaners ingevolge ras kan verdeel of bestaande skeiding kan vererger, verg deeglike konteks.

Die betrokke saak “bring die werklike, maar onuitgesproke vraag te berde of Afrikaans van sy status as ’n hoofmedium vir onderrig ‘afgegradeer’ is vir ware en grondwetlik geldige redes of ter wille van een of ander historiese en onsensitiewe agenda om die bordjies te verhang (‘score-settling’)”.

’n Vorige uitspraak van die konstitusionele hof lui: “Apartheid het ons met baie littekens gelaat. Die ergste hiervan is die omvangryke ongerymdhede rakende toegang tot openbare en private hulpbronne . . .”

Die waarhede (in die ou uitspraak) en die eis vir “radikale transformasie” geld net so sterk vir universiteite waar Afrikaans al onderrigtaal was.

Hy sê: “Om die punt te bereik waar dit lyk of Afrikaans nou op werklike uitwissing afstuur as ’n onderrigtaal aan universiteite, sou altyd tot onmin, omstredenheid en agterdog lei dat ’n verskuilde agenda gedryf word.” 

Voorts: “Afrikaans word uitgefaseer as onderrigmedium om ’n grondwetlik-geïnspireerde transformasie-agenda te bevorder. Die oogmerk is om klasse nie-rassig te maak, eenheid en versoening te kweek en waarneembare rasse-spanning te ontlont, maar beslis nie om die huistale van regeerders op Afrikaners of ander af te dwing nie.”

Hy besef “die noodsaak vir onpartydigheid en ’n onemosionele benadering”. Dit sou betreurenswaardig wees as hulle hulle by litigante skaar, of dat dit so sou lyk.

Agtergrond

Hoewel die taalbeleidraamwerk vir tersiêre instellings die behoefte aan veeltaligheid benadruk, is dit “op voorwaarde dat die gebruik van Afrikaans nie andere onregmatig ontneem van toegang tot hoër onderwys of bewustelik of onbewustelik ’n instrument vir die bevordering van rasse- of ’n eng kultuur-diskriminasie word nie”.

Hy grond sy uitspraak voorts op die betoog van die UV dat sy (aanvanklike) dubbelmedium-beleid tot ras-gesegregeerde lesingsale en rasse-spanning gelei het.

Hulle haal prof. Liz Lange, vise-rektor (akademies), aan: “Sy bestempel die kommerwekkende en hardnekkige uitdaging van rasse-segregasie as ‘onuitstaanbaar op ’n post-apartheid kampus’.”

Lange sê: “Dit is inherent onmoontlik om rasse-spanning te ontduik as . . . statistieke wys een van die twee taalstrome bedien wit en die ander een swart studente. Hoewel dit soms deur verskillende individue as ’n ‘etiese’ of ‘regstellende’ kwessie beskryf word, is dit eweneens ’n geval van wat redelikerwys doenlik is.”

Regter Mogoeng verwys na ’n verslag van die UV-owerheid wat staaf dat Afrikaans (as onderrigtaal) rasse-spanning sou verskans en integrasie onwerkbaar sou maak.

Die gebruik van Afrikaans kortwiek gelyke toegang tot kennis. Die hoofregter neem kennis daarvan dat al sou Engels al onderrigmedium wees, Afrikaans steeds ’n belangrike rol sou speel (volgens die UV).

Reg tot appèl  

Volgens hom kom AfriForum en Solidariteit se aansoek om verlof tot appèl teen ’n uitspraak van die Vrystaats hooggeregshof ten gunste van die UV-beleid daarop neer dat die “beleid ongeldig sou wees omdat dit ingestel is al strook dit nie met die bepalings van afdeling 29 (2) van die Grondwet en die ministeriële beleidsraamwerk nie”.

Hy beaam dat dit ’n grondwetlike kwessie is as “ ’n amptelike taal wat ontwikkel is om komplekse wetenskaplike en tegniese konsepte oor te dra en vir baie dekades ’n onderrigtaal was, sy status as onderrigtaal kon verloor . . .”

Asook: “En die geskiedenis en sensitiwiteit van taal as onderrigme­dium, veral Afrikaans, bring gewoonlik regspunte van algemene openbare belang na vore. Jammerlik so, is daar gewoonweg geen redelike vooruitsig op welslae (met die aansoek) nie.”

Dié mening, sê hy, word bevestig deur ’n ontleding van die twee kernkwessies, naamlik of die UV strydig met artikel 29(2) van die Grondwet opgetree het, en of hy die ministeriële beleidsraamwerk nakom.

Redelikerwys doenlik

Regter Mogoeng wys op artikel 29(2) se bepaling dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderrig te kry in die amptelike taal of tale van eie keuse waar dit redelikerwys doenlik is . . .

“En wat doenlikheid redelikerwys beteken en behels, lê aan die hart van die aansoek.”

In hul ontleding sê hulle dit sou onredelik wees om slaafs te bly klou aan ’n taalbeleid wat bewys is as die praktiese teenstelling van regverdigheid, haalbaarheid, inklusiwiteit en nodige remediërende optrede om rassisme en (verwante) neigings uit ’n gemaksone te skud.

Dubbelmedium-instellings sou wel kon bestaan indien dit nie onbillike bevoordeling of rasse- en ander diskriminasie bly voed nie. Dan sou die reg om onderrig te word in die taal van eie keuse doeltreffend en toeganklik toegepas kon word.

“Dit terloops is wat die universiteit probeer doen het toe hy van ’n bedeling van Afrikaans as enigste onderrigmedium beweeg het na een waar Engels en Afrikaans gelyke status as onderrigtaal geniet het.”

As die reg op eie onderrigtaal haalbaar is sonder dat ander grondwetlike waardes ondergrawe word, sou dit waarskynlik die “gelykheidstoets” slaag.

Maar: “Redelikerwyse doenlikheid vereis nie net dat die doenlikheidstoets geslaag word nie, maar dat ook deeglik aan die oorwegings van ‘redelikerwys’ wat voorsiening maak vir gelykheid en die uitwissing van die euwels van ons skandelike apartheidsverlede, voldoen word.

“En dit is slegs bereikbaar as die uitoefening van die reg om in ’n taal van keuse onderrig te word, nie ’n bedreiging vir rasse-harmonie inhou of rasse-oorheersing onopsetlik aanwakker nie.”

Hy voer aan “baie Afrikaners” aanvaar dat die parallelle gebruik van Afrikaans as ’n onderrigtaal onbedoeld segregasie en rassisme bevorder – “omdat dit grondwetlike norme skaad”.

Die beleid werk nie (besef hulle). En verloor steun omdat baie Afrikaner-studente Engels verkies wat hulle beter voorberei om “globale spelers” te wees.

Ministeriële beleidsraamwerk 

Die raamwerk maak voorsiening vir die “gebruik van Afrikaans as ’n primêre onderrigtaal, maar nie as die enigste nie”, sê die regter. Dit is slegs op voorwaarde dat “onderrigtaal nie ’n struikelblok vir toeganklikheid is nie”, en dat Afrikaans nie rasse-diskriminasie onbedoeld aanblaas nie.

Regter Mogoeng sê die UV-gemeenskap, veral die raad en senaat, het hulself tevrede gestel dat die dubbelmedium-beleid nie die kanse op die regstelling van die skade van apartheid bevorder nie, maar eerder dreig om rasse-diskriminasie en -onenigheid te laat voortleef.

“Dit was die gebruik van Afrikaans as ’n tweede hooftaal van onderrig wat rasse-integrasie gekortwiek en rasse-spanning aangeblaas het.”

Die hoofregter grond hul bevinding dus daarop dat die UV-taalbeleid voldoen aan die ministeriële beleidsraamwerk en die Grondwet. As sodanig is die instelling daarvan wettig en geldig.

’n Groepie studente voor die hoofgebou op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat (UV) in Bloemfontein. Die konstitusionele hof het pas die universiteit se beleid om Engels as onderrigtaal te gebruik, bekragtig. Foto: Conrad Bornman

Minderheidsuitspraak: Grondwetlike reg aangetas

Regter J. Froneman het die uitspraak gelewer. Regters J. Cameron en A.J. Pretorius stem saam.

Regter Froneman verskil van hoofregter Mogoeng se hoofuitspraak deurdat dit ’n wyser uitweg vir die konstitusionele hof sou gewees het om die saak eers aan te hoor en daarna oor verlof tot appèl te besin.

Dit sou tot die legitimiteit van die uitspraak bygedra en die hof bemagtig het om oor die meriete van die aansoek te oordeel.

“Soos die hoogste hof van appèl, aanvaar die hoofuitspraak die Universiteit (van die Vrystaat) se bewering dat dit onmoontlik is om onderrig te gee in ’n keusetaal sonder om onregstreeks op grond van ras te diskrimineer. Dit hou enorme implikasies in ver buite die grense van die universiteit.”

Dit magtig ’n benadering wat sprekers van een van ons amptelike tale ontneem van die grondwetlike reg om onderrig in die taal van hul keuse te ontvang. “Vanselfsprekend is dit belangrik, indien dié benadering gemagtig word, om die feitelike en normatiewe grense te bepaal waarbinne die Grondwet dit toelaat.”

Dat dit nie gebeur het nie, is betreurenswaardig, ook omdat die aansoekers (AfriForum en Solidariteit) se kans op welslae nie so skraal is as wat die hoofuitspraak aandui nie.

Regter Froneman stel dit dat sy huistaal Afrikaans is en hy aan ’n parallelmedium-skool in Bloemfontein skoolgegaan het. “Noodwendig kleur dit my perspektief in – soos hul onderskeie agtergrond ook my kollegas s’n – maar hopelik beteuel rasionele en kritiese self-refleksie ons indivi­duele subjektiwiteit in die navolging van ’n afstandelike wetlike beredenering.”

Kernkwessie en konteks 

Die sentrale grondwetlike kwessie is: Watter omstandighede regverdig dit dat iemand ontneem word van onderrig in sy amptelike keusetaal?

Regter Froneman meen die hoofuitspraak benadruk die verpligting van wit Afrikaanssprekers dat hul begeerte om hul taal te beskerm, nie andere benadeel nie.

Soos J.R.R. Tolkien sê, is dit egter nodig “om te onderskei, sover dit moontlik is, tussen tale en hul sprekers” en te onthou tale is nie vyandig teenoor mekaar nie.

In die betrokke saak is die uitgangspunt dus dat dit onmoontlik is om die gebruik van Afrikaans van sy sprekers te onderskei, minstens in die geval van wit studente aan die UV.

“Dit is belangrik dat die onbetwisbare onregte wat Afrikaanssprekers in die verlede gepleeg het, en wat noodgedwonge en regverdiglik veroordeel word, nie buite verhouding en onkrities aan toekomstige geslagte van wit Afrikaanssprekers toegedig moet word nie.”

Soos hoofregter Mogoeng haal hy aan uit die verslag van die Gerwel-komitee wat onder meer uitgewys het Afrikaans word met apartheid vereenselwig.

Wat die hoofbevinding nie meld nie, is dat die Gerwel-komitee aanbeveel het dat die universiteite in Stellenbosch en Potchefstroom as bewaarders (“custodians”) van Afrikaans aangestel word.

Regter Froneman voer aan die meerderheidsuitspraak is veral gerig op Afrikaans as “ ’n instrument van verdrukking deur ’n rassistiese en nasionalistiese regering”; verwys slegs na Afrikaanse enkelmedium-universiteite en probeer om die historiese opdwing van Afrikaans te kontrasteer met ’n moderne weiering om die huistale van diegene in die regering op Afrikaanssprekers af te dwing. Dit neem nie die staat se grondwetlike verpligting om ander amptelike tale te bevorder, in ag nie.

Dit benadruk die institusionele voorregte wat Afrikaans geniet het – en steeds geniet – maar besef nie die ironie dat die UV se gekose taal, Engels, vir lank net so, of selfs meer, bevoorreg was nie.

As sodanig verloor dit perspektief dat Afrikaans se stryd om erkenning in die eerste plek ’n stryd teen die oorheersing van Engels was – ’n stryd wat dit met ander amptelike tale deel.

Rasse-diskriminasie

Regter Froneman is onbewus daarvan dat die konstitusionele hof al ooit die slotsom bereik het dat die blote beoefening van ’n grondwetlik beskermde taalreg gelyk gestel kan word aan onbillike rasse-diskriminasie, wat dan die ontneming van daardie reg sou regverdig.

Hy opper die Ermelo-hofsaak waarna hoofregter Mogoeng ook verwys. Dié saak is bepalend daaroor dat artikel 29(2) van die Grondwet dit toelaat dat iemand ontneem mag word van die grondwetlike reg om in die taal van eie keuse onderrig te word, maar sê niks oor die omstandighede waarin dit geregverdig sou wees nie.

Die meerderheidsuitspraak vat dit te ver deur die korrektheid van die UV se eie aanname (“assertion”) te aanvaar dat die voortsetting van die huidige beleid gelykstaande aan rasse-diskriminasie sou wees. Een van die applikante voer juis aan hierdie oordeel kom op sigself neer op onregverdige diskriminasie teen wit studente wat hul keuse van onderrigtaal uitoefen.

Dit bring ’n vraag van groot grondwetlike en wetlike belang mee: Kan die beoefening van jou grondwetlike reg op keusetaal in tersiêre onderrig lei tot die (soort) diskriminasie wat die Grondwet (juis) verwerp. In die voorleggings aan die hof was geen sprake dat Afrikaanssprekende studente hulself aan rasse-diskriminasie skuldig maak nie. Al onregverdige diskriminasie was die UV s’n weens sy versuim om onderrig aan verskillende taalgroepe te gee. “Derhalwe berus dit op die UV om feitelike en normatiewe regverdiging te gee vir sy ontneming van onskuldige gebruikers van ’n amptelike taal se reg om in daardie taal onderrig te word.”

Regter Froneman meen daar is feitlike kwessies wat nie duidelik is in die meerderheidsuitspraak nie, of ontbreek. Byvoorbeeld: As individuele studente of personeellede skuldig was aan rasse-diskriminasie, spruitende uit Afrikaanse onderrig, hoekom was dit onprakties om hulle te dissiplineer? Wat presies het dit onmoontlik gemaak om rasse-diskriminasie uit te wis? Het dit enigiets te doen met die reaksie oor die voortgesette gebruik van Afrikaans in lesings deur diegene wat ander tale verkies? Indien wel, is die redelikheid van die reaksie bepaal? 

Bewyse ontbreek dat studente wat onderrig in hul keusetaal gekry het, skuldig aan rasse-diskriminasie was. Wat is dus die normatiewe regverdiging vir die maatreël waaraan hulle onderwerp word?

Die konstitusionele hof moes die UV toegelaat het om relevante getuienis in die verband aan te bied. 

Die hof kon dan al die kwessies deurtrap het in sy eie vasstelling oor die wetlike kwessie van rasse-diskriminasie. Dan kon die slotsom anders gewees het.

Verlof tot appèl  

Regter Froneman sê sommige mense, veral wit Afrikaanssprekers, sal die uitslag beskou as verraad jeens hul verwagtinge oor die grondwetlike waarborge oor hul huistaal. Ander kan dit as ’n klein tree op pad na die beloofde transformasie in die Grondwet beskou.

Dit sou beter gewees het om die teenstrydighede (in die hof) te konfronteer. Gegewe dat die toekoms van Afrikaans as onderrigtaal betwis word, ook aan universiteite in Pretoria en Stellenbosch, sou dit geregtigheid bevorder het om ook aan dié instellings ’n sê te gee.

Dieselfde geld organisasies wat ’n meer inklusiewe benadering jeens Afrikaans volg as die aansoekers (AfriForum en Solidariteit). 

“Wit Afrikaanssprekers raak ’n minderheid van Afrikaanse taalgebruikers, en daar is groter bewustheid oor daardie Afrikaanssprekers wie se rol in die oorsprong en geskiedenis van die taal skandelik gemarginaliseer is. Dit is noodaaklik dat hul stemme oor die toekoms van Afrikaans gehoor word, en hoe daardie toekoms hulle sal raak.”

Die mening van sprekers van ander amptelike tale sou net so waardevol wees. Regter Froneman wys op “ ’n totale gebrek aan waardering in die meerderheidsuitspraak daarvoor dat Afrikaans ’n minderheidstaal is en vir internasionale steun daarvoor dat minderheidstale spesiale beskerming behoort te geniet”.

Toekoms van ander tale

Regter Froneman hoop hy is verkeerd, maar meen die uitspraak voorspel niks goeds vir die toekoms van ander tale as hoëronderrigtale nie.

“Dit mag wel wees dat dit beter vir die land is om te konsentreer op die inklusiwiteit wat Engels as alleentaal van onderrig mag bring – maar dit is ’n keuse wat die publiek eerder as hierdie hof moes doen.”

Die konstitusionele hof se plig sou eerder wees om ruimte vir ander amptelike tale te skep. Dít is wat ware eenheid in verskeidenheid behels.

“Die toekoms van Afrikaans lê in die hande van ’n jonger geslag wat Afrikaans praat. Of daar ooit ’n Derde Taalbeweging sal wees, hierdie keer vir ’n inklusiewe Afrikaans ontdaan van ras- en ander vooroordele, sal slegs die tyd leer,” sluit hy af.

Meer oor:  Gert Coetzee  |  Universiteit  |  Afrikaans  |  Kommentaar  |  Uv  |  Bloemfontein  |  Engels
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.