Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Reisigers van Aarde wentel tussen die sterre

’n Klein ruimtetuig wat in 1977 diep die ruimte ingestuur is, het ’n jaar gelede die sonnestelsel verlaat, net soos sy sustertuig voor hom wat nou tussen die sterre reis, skryf Elsabé Brits.

’n Voorstelling van Voyager 1 en 2 wat die sonnestelsel (kring in die middel) verlaat en deur die reuse-borrel moet reis. Dit is die heliosfeer, ’n borrel wat geskep word deur die sonwind en tot op die grens van die Aarde se sonnestelsel strek. Eers daarná wag ander sterrestelsels met hul miljarde en miljarde sterre en planete. Voorstelling: JPL/Nasa

Die twee mensgemaakte voorwerpe wat tussen die sterre wentel, lyk ’n bietjie soos satellietskottels met dun bene.

Die sendings van Voyager 2, wat in Augustus 1977 gelanseer is, en sy tweeling, Voyager 1, wat Nasa in September 1977 die ruimte ingestuur het, sou vyf jaar duur. Die doel was om naby Jupiter en Saturnus verby te vlieg.

Nou, 42 jaar later, het die twee talle rekords verbeter en is nou tussen die sterre nadat die son op pad hul grootse teenstander was.

In 2012 het Voyager 1, wat ’n ander roete gevolg het, die interstellêre ruimte oorgesteek. Die data wat van hom teruggekry is, was egter beperk omdat een van sy instrumente aan boord beskadig is. Voyager 2 het op 5 November verlede jaar dieselfde geskiedkundige grens oorgesteek, naamlik om van die son se invloed weg te kom.

Om só ver die ruimte in te reis bring jou te staan voor ’n byna ondenkbare groot gebied.

Dié aankondiging is Maandagaand gemaak in die vakjoernaal Nature Astronomy in vyf verskillende akademiese artikels wat ’n oorsig oor die reis gee.

Om só ver die ruimte in te reis bring jou te staan voor ’n byna ondenkbare groot gebied: Die heliosfeer, ’n reuse-borrel wat geskep word deur die sonwind en tot op die grens van die Aarde se sonnestelsel strek. Eers daarná wag ander sterrestelsels met hul miljarde en miljarde sterre en planete.

Dié grens is die heliopouse, waar die warm sonwind by die digte interstellêre ruimte uitkom. Die sonwind waai volgens een van die artikels aanhoudend teen ’n supersoniese spoed weg van die son af en skep ’n gaping – die borrel – wat gevul is met materiaal wat afkomstig van die son is.

Omdat die son se plasma en die interstellêre plasma verskillende samestellings, digtheid, temperatuur en magnetisme het, asook ’n verskillende oorsprong, kan hulle nie vrylik integreer nie. Hulle word geskei deur ’n grens – die heliopouse. Dit is die begin van die interstellêre ruimte, buite ons sonnestelsel

Albei tuie reis steeds

Só lyk Voyager 2 wat al 42 jaar in die ruimte reis. Foto: Nasa

Voyager 2 se plasmagolf-instrumente is nie beskadig soos sy tweeling s’n nie, en hy kon sy oorgang van die warm, minder digte gebied na die kouer, digter gebied karteer. Dit is die eerste keer dat dít gedoen is.

Die afstand wat hy tot in daardie stadium gereis het, was 119,7 keer die afstand tussen die Aarde en die son – 119,7 maal 150 miljoen km. En dan was dit net om ons sonnestelsel te verlaat – daarna wag die heelal.

Kenners weet nou dat die son materiaal uitwaarts blaas en die borrel vorm.

Navorsing dui daarop dat Voyager binne net een dag daarin geslaag het om deur die heliopouse te beweeg. ’n “Laag” is ook tussen die heliopouse en die interstellêre ruimte ontdek, iets wat nie deur Voyager 1 raakgesien is nie. Volgens die kenners is daar wel ’n spesifieke grens tussen die sonnestelsel en die sterre.

Die buitenste deel van die heliosfeer word die helioskede genoem. Dit is waar die sonwind opbou; amper soos grond wat deur ’n stootskraper teen ’n wal gestoot word. Dit blyk dat dié helioskede nie op alle plekke ewe dik is nie.

Kenners weet nou dat die son materiaal uitwaarts blaas en die borrel vorm. Dit is die eerste meting nóg van die plasma naby aan die grens – die grens alleen is 1,5 keer so wyd soos die afstand tussen die Aarde en die son.

Só lyk die goue plate op die Voyager-ruimtetuie. Foto: Nasa

Die plasma op die grens word warm en is twee keer so dig as die tipiese plasma in die helioskede. Dié temperatuur is tussen 30 000 °C en 50 000 °C!

Dié strukture wat nou die eerste keer met ’n tuigie van 700 kg waargeneem is, sal nie uniek wees aan ons son en die verre invloed wat hy het nie.

Volgens een van die studies dien dit as ’n templaat vir die begrip van die vorming en die dinamika van sulke heliosfere om ander sterre. Dit sal ’n uitwerking hê op die lewensvatbaarheid van planete om ander sterre as hulle ook sulke borrels het.

Oor 40 000 jaar sal Voyager binne 1,6 ligjare van die ster Gliese 445 verbyvlieg.

Albei tuie reis steeds voort. Dit neem nou sowat 19 uur vir Voyager 1 se boodskappe om die Aarde te bereik omdat hy nou al 146 astronomiese eenhede ver van die Aarde af is – sowat 22 miljard km. Voyager 2 is 122 astronomiese eenhede weg – sowat 18 miljard km.

Volgens die kenners is die twee nou in hul eie wentelbane in die sterrestelsel en die kanse dat hulle met iets sal bots, is byna nul.

Aan boord albei tuie is twee goue plate wat iets van die mensdom vertel. Daarop word onder meer die posisie van die Aarde aangedui en geluide soos reën, wind, dié van woude en mense wat hul diversiteit deur middel van kultuur en musiek uitbeeld. Daar is ook foto’s.

Oor 40 000 jaar sal Voyager binne 1,6 ligjare van die ster Gliese 445 verby beweeg. Net ’n oogwink as ’n mens aan evolusie en die ontstaan van die heelal dink.

* Bronne: Nasa; Nature Astronomy

https://www.nature.com/articles/s41550-019-0928-3; https://www.nature.com/articles/s41550-019-0929-2.

* Brits is ’n vryskut-wetenskapjoernalis. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Nasa  |  Elsabé Brits  |  Saturnus  |  Jupiter  |  Son  |  Ruimte  |  Voyager 2  |  Aarde  |  Heelal  |  Voyager 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.