Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Repliek: ‘DA het mees diverse groep leiers gekies’

Sonder om té hard te probeer, het die DA die afgelope naweek die mees diverse groep leiers verkies van enige politieke organisasie in Suid-Afrika, skryf Cilliers Brink.

Cilliers Brink Foto: Sarel van der Walt

Laas naweek het ons as die DA ons federale kongres gehou en ’n nuwe span leiers verkies. Afgevaardigdes is nie volgens ras of geslag geklassifiseer nie. Geen van die kandidate het hulle op groepsidentiteit beroep nie. Van Seepunt tot Sekoekoeniland kon DA-lede na gelang van hul eie oortuigings stem. Soos dit ’n liberale party in die Suid-Afrikaanse tradisie betaam, het ons almal aanvaar dat daar waardes is wat Suid-Afrikaners met mekaar in gemeen het, ongeag stam of herkoms.

En, sonder om té hard te probeer, het ons die mees diverse groep leiers verkies van enige politieke organisasie in Suid-Afrika. Soek hulle maar op. Dit maak nie saak of jou maatstaf geografie, vaardighede, ras, geslag of taal is nie, die DA is by verre die party wat die veelheid en verskeidenheid van die Suid-Afrikaanse samelewing die beste reflekteer.

DA-afgevaardigdes het spontaan oor kleurgrense heen gestem vir die beste kandidate, en die resultaat is ’n leierskorps wat met gemak aan enige deur in die land kan klop.

Dan wonder ’n mens waar kom Christi van der Westhuizen vandaan. Sy skryf dat die DA se topleierskap sonder diversiteit sal bly as die party daarop aandring om kleurblind te wees.

Sonder diversiteit? Is die punt nie juis die teendeel nie? DA-afgevaardigdes het spontaan oor kleurgrense heen gestem vir die beste kandidate, en die resultaat is ’n leierskorps wat met gemak aan enige deur in die land kan klop. Wat nog belangriker is, is dis ’n span wat enige deel van die land bekwaam kan regeer.

‘Rasseklassifikasie’

Hoe verweer die DA hom teen die “beskuldiging” van kleurblindheid? Natuurlik sien die DA kleure en ander menslike variante, en gun ons Suid-Afrikaners die vryheid om hulle verskille uit te leef as individue sowel as lede van ’n groep. Ons verwerp egter rasseklassifikasie as die grondslag vir openbare beleid.

Die DA is nie die ANC nie, so hoekom word ons nog steeds aan ANC-standaarde gemeet?

Daar is beter maatstawwe vir opheffing as die kleur van ’n persoon se vel, soos byvoorbeeld sy of haar sosio-ekonomiese omstandighede. En anders as velkleur kan ’n mens sosio-ekonomiese omstandighede vasstel sonder om die gereedskap van apartheid te gebruik. Snaaks genoeg, die heethoofde van apartheid het Helen Suzman en die DA se voorgangers ook van “kleurblindheid” beskuldig.

Die DA is nie die ANC nie, so hoekom word ons nog steeds aan ANC-standaarde gemeet? Wanneer ons van “nierassigheid” praat, dan bedoel ons nie “rasse-verteenwoordiging” nie. Dit is die ANC se ideologie. En as jy dink dat rasgebaseerde indiensnemingsplanne en ekonomiese bemagtiging sal lei tot meer gelykheid, beter dienste en groter welvaart, stem dan vir die ANC of die EFF. Vir almal anders bied die DA ’n duidelike alternatief.

* Cilliers Brink is ’n DA-LP. Die menings in hierdie rubriek is sy eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. Dié rubriek is geskryf as repliek op ’n rubriek van Christi van der Westhuizen wat die vorige dag op Netwerk24 verskyn het 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.