Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Repliek: Minderhede sal ander uitweg moet soek

Die konstitusionele hof (KH) se uitspraak waarin AfriForum verlof tot appèl geweier is teen die Universiteit van die Vrystaat (UV) se slegs-Engels-taalbeleid gee ’n aanduiding van hoe diep verstrengel die KH in die rasbehepte ideologie van die heersende orde en politieke elite geraak het.

’n Mens het waardering daarvoor dat regter Johan Froneman, met die steun van regters Edwin Cameron en Cynthia Pretorius, in sy minderheidsuitspraak (Rapport, 7 Januarie) nie lustig meegedoen het aan hoofregter Mogoeng Mogoeng en kie se meerderheidsuitspraak waarin Afrikaans op die brandstapel geplaas is ter bevordering van die heersende rasbehepte transformasie-ideologie nie.

Die wurggreep van ideologie op die KH het egter selfs ’n invloed op die minderheidsuitspraak, aangesien Froneman, soos in die straatnaamsaak, eers ’n kniebuiging voor die heersende orde moes maak deur teenstanders van die rasbehepte transformasie-ideologie – soos AfriForum – te kritiseer voordat hy dit durf waag het om van die meerderheid te verskil.

Die ironie is dat diegene wat vir Afrikaans se voortbestaan veg en slagoffers is van die heersende orde se anti-Afrikaanse agenda, nou met hierdie kritiek in die beskuldigdebank geplaas word, terwyl die anti-Afrikaanse rassiste eerder in die beskuldigdebank behoort te staan. Net so onvanpas is dat die kritiek teen AfriForum geensins op regsgronde berus nie, maar bloot omdat AfriForum weier om goedsmoeds by die heersende siening van sake in te val. Wanneer die hof aan organisasies soos AfriForum wil begin voorskryf wat hul standpunte moet wees, beweeg ons op ’n gevaarlike terrein.

Ek besef my standpunt dat die KH in die ideologie van die heersende orde verstrengel geraak het, sal ’n storm ontketen onder diegene wat die KH en Grondwet tot goddelike status probeer verhef.

Moenie my verkeerd verstaan nie; ek voer nie aan dat die Grondwet en die KH nutteloos is nie. Dit is ’n feit dat die KH sterk uitsprake teen pres. Jacob Zuma gemaak het rakende die Nkandla-skandaal en ander sake. Wat ek wel aanvoer, is dat Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede moet besef dat onderskeid getref moet word rakende die tipe sake wat met sukses in die KH gevoer kan word.

Wanneer ’n saak handel oor geskille binne die heersende politieke elite, korrupsie, wanadministrasie of ander sake wat niks met ’n rasse-ideologie en transformasie te doen het nie, is die kans goed dat die hof tot voordeel van die hele gemeenskap sal beslis. Die meeste van AfriForum se hofsake val in hierdie kategorie en daarom sal die organisasie voortgaan om die howe met vrug aan te wend om swak dienslewering en korrupsie te beveg.

In sake waar Afrikaners en ander minderhede se belange opgeweeg moet word teen die heersende ideologie, het die KH reeds klokslag gewys dat minderhede se regte as ondergeskik gesien word.

Diegene wat my oor hierdie stelling wil kritiseer, kan gerus gaan lees wat Froneman en Cameron in hul minderheidsuitspraak in die straatnaamsaak geskryf het. Hulle het gewaarsku dat die meerderheidsuitspraak op die volgende neerkom: “Any reliance by white South Africans, particularly white Afrikaner people, on a cultural tradition founded in history, finds no recognition in the Constitution, because that history is evidently rooted in oppression.”

Benewens die KH se kondonering van die ondermyning van Afrikaans by die UV, is daar ook talle ander uitsprake wat minderhede se regte aantas. Só het die KH onder meer al bevind dat die onteiening van mineraalregte nie ’n skending van eiendomsreg is nie, dat rassediskriminasie teen wit mense in die werkplek aanvaarbaar is, dat Afrikaanse skole gedwing kan word om hul taalbeleid te verander en dat prosesgedrewe openbare deelname van minder belang is tydens naamsveranderinge.

Hierdie uitsprake bots lynreg met die beloftes wat die grondwetlike onderhandelaars aan Afrikaners gemaak het met die politieke oorgang. Afrikaners is belowe dat sou hulle van hul politieke mag afstand doen, hul eiendom, onderwys en taal in ruil beskerming sou geniet.

Dit blyk dat Afrikaners mislei is.

Die besef dat die KH nie Afrikaners en Afrikaners se regte as minderheidsgemeenskap in beskerming gaan neem nie, beteken die einde van ’n era.

Waar baie Afrikaners die afgelope dekades eers grootliks hul hoop op die destydse regering van nasionale eenheid en later uitsluitlik op die Grondwet geplaas het as meganisme wat minderhede sal bystaan in hul strewe om blywend vry, veilig en voorspoedig voort te bestaan, is dit nou duidelik dat ander oplossings gesoek moet word.

Afrikaners, Afrikaanssprekendes en ander minderhede moet egter daarteen waak dat die besef dat die Grondwet nie al hul regte as minderhede beskerm nie, tot ’n staat van moedeloosheid lei. Afrikaners het in hul geskiedenis al voor baie groter uitdagings te staan gekom, soos ná die ­Anglo-Boereoorlog toe hulle self van nuuts af ’n toekoms moes bou.

Daar is geen rede waarom die huidige geslag nie ook die uitdagings te bowe kan kom deur selfstandige instellings te vestig wat selfdoen-ondernemings aanpak om ’n beter toekoms te bou nie.

Indien die huidige bedeling nie aan Afrikaanssprekendes ’n Afrikaanse universiteit en ander kulturele ruimtes gun nie, sal minderheidsgemeenskappe self selfstandige ruimtes moet skep waar hul voortbestaan verseker kan word.

  • Kallie Kriel is uitvoerende hoof van AfriForum.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.