Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Republikeine se eintlike stryd is teen ja-broers

Ná een van die bloedigste verkiesings in menseheugenis moet die Republikeinse Party vorentoe ernstige selfondersoek doen, skryf Leopold Scholtz.

Pres. Donald Trump Woensdag by ’n Veteranedag-geleentheid in die Arlington-begraafplaas. Foto: Reuters

Kom ons begin by die begin. Die basiese vertrekpunt waarop dié artikel gegrond word, is dat die liberaal-demokrasie – soos Winston Churchill gesê het – die slegste van alle stelsels is, behalwe vir al die ander. Dis die mins slegte stelsel tot ons beskikking.

Om daardie stelsel min of meer bevredigend te laat werk is daar egter sekere voorwaardes waaraan voldoen moet word. Die geskiedenis wys dat daar ’n vae en moeilik bepaalbare ewewig is tussen die beleidsverskille wat politieke partye verkondig en konsensus oor die beginsels waarop die stelsel gegrond is.

Die stelsel werk die beste, onder meer, as jy verskillende partye het, elk met ’n eie sosiaal-ekonomiese benadering, die belang van etnisiteit, die mate waarin die staat in mense se lewe moet kan inmeng. Dan het mense ’n keuse (uiteraard mits die verkiesing vry en regverdig is en mits die liberaal-demokratiese regstaat tússen verkiesings ook nougeset in stand gehou word).

Maar as die vernaamste keuse is tussen ekstremistiese partye weerskante van die spektrum, partye wat die vertrekpunte van die stelsel bevraagteken of selfs verwerp, begin die demokrasie wankel. Dit het in die jare 1918-’33 in Duitsland gebeur toe mense toenemend slegs tussen die kommuniste en Adolf Hitler se Nazi’s kon kies.

So ver is dinge in Amerika nog verreweg nie. Maar die laaste jaar of vyf, in elk geval sedert Donald Trump op die politieke toneel verskyn het, het dinge in ’n verkeerde rigting beweeg.

Hy en sy juigkommando skreeu luidkeels dat die uitslag ’n gekierang van die Demokrate is, maar kon (tot dusver) geen sprankie bewys daarvoor lewer nie.

Trump het grotendeels daarin geslaag om die Republikeinse Party te kaap en tot ’n Trump-juigkommando te transformeer. Onafhanklik denkende lede van sy regering is uitgewerk en slegs ’n groep ja-broers het oorgebly.

Moet geen fout maak nie: Dié artikel bevat geen polemiek teen die Republikeinse Party of konserwatisme nie, inteendeel. ’n Gesonde demokrasie vereis ’n gesonde konserwatiewe groep wat ’n gematigde, rasionele konserwatiewe beleid aan die kiesers kan voorhou.

Maar ’n party wat op ’n Trump-juigkommando neerkom, voldoen kwalik hieraan. Inteendeel, só ’n party is ’n bedreiging vir die demokrasie.

Trump verketter almal wat nie sý leiding onkrities aanvaar nie. Die media (hier word nie gesê die media is perfek nie, verreweg nie) is die “vyande van die volk” – met die implikasie dat hulle eintlik verbied of toegesluit moet word.

Sy politieke teenstanders is “seniel”, “slaperig”, “mal”, “klein”, “skynheilig”, “leuenagtig”, “liggewig”, “ ’n monster”, “ ’n marionet”, “korrup”, “breindood”, “huilerig” en selfs “misdadig”.

Sy voorste ondersteuners gaan nog verder.

Een van sy hoof-ideoloë, Steve Bannon, bepleit openlik ’n revolusie soos in die 17de eeu in Engeland, iets wat met grootskaalse bloedvergieting gepaardgegaan het. Die koppe van die epidemioloog dr. Anthony Fauci en die FBI-direkteur, Christopher Wray, moet afgekap en op die hoeke van die Withuis op pale ten toon gestel word. (Twitter het Bannon permanent daaroor verbied.) Don Trump het sy pa aangemoedig om ’n “totale oorlog” oor die verkiesingsuitslag te begin.

Trump weier om die uitslag van ’n verkiesing wat hy verloor het, te aanvaar. Hy en sy juigkommando skreeu luidkeels dat die uitslag ’n gekierang van die Demokrate is, maar kon (tot dusver) geen sprankie bewys daarvoor lewer nie.

Toe dié woorde geskryf is, het die media te kenne gegee dat Trump enduit gaan weier om sy nederlaag te erken en dat hy nie, soos goeie maniere en die Amerikaanse konvensie vereis, vir Joe Biden gaan gelukwens nie. Dis selfs twyfelagtig of hy op 20 Januarie by Biden se inhuldiging gaan opdaag.

Maar ’n mens moet nooit ongenuanseerd na sake kyk nie. Nie alle Republikeine is in die laaste vyf jaar tot willose Trump-slawe gereduseer nie.

Politici soos die senators Susan Collins, Pat Toomey, Ben Sasse, Roy Blunt en Mitt Romney het kritiek op Trump se ongehoorde reaksie uitgespreek.

Romney het onder meer gesê om die verkiesing as ’n bedrogspul te bestempel “skaad die saak van vryheid hier en elders ter wêreld, verswak die instellings wat aan die fondament van die Republiek lê en laat verwoesting en gevaarlike emosies roekeloos ontvlam”.

Dis ook opvallend dat die nuusafdeling van Fox News versigtig van Trump begin wegstaan het. Van die verslaggewers het reguit gesê Trump se bewerings is “misleidend” en “eenvoudig verkeerd”.

In die baie konserwatiewe en hoofsaaklik Trump-gesinde Amerikaanse tydskrif National Review skryf een van die blad se senior redaksielede, Dan McLaughlin, ’n uiters insiggewende beskouing. Hy sê daar is in werklikheid twéé Republikeinse Partye. Die een is die tradisionele Republikeinse Party: “deftig, voorstedelik, professioneel, waardig. Hy glo in lae belastings . . . grondwetlikheid en ten minste in teorie in beperkte staatsbesteding.

“Hy kan taamlik veglustig wees, maar hy word teruggehou deur die respektabele politiek van die geleerde stand. Hy neig na die goedkeuring van vryhandel, om ’n ambisieuse rol vir Amerika in die wêreld te steun, om gematig oor immigrasie te wees, en is terughoudend oor rassekonflik. Hy is ook tradisioneel volledig wit.”

Die ander een is die Trump-party: “Luidrugtig en konfrontasioneel, en hou van Donald Trump se windmakerigheid en vertoonsug. Hy gee toe aan die gevoelens van die werkende stand, op maniere wat ook aan nie-wit werkers se gevoelens toegee, maar dié ook afskrik as hy die verkeerde gevegte oor rassesake uitlok . . . Hy is skepties oor – en miskien vyandig teenoor – immigrasie, en Amerikaanse hulp aan en betrokkenheid by die buiteland. Hy gee nie veel om oor prosedurele vorm nie en stel meestal nie belang in staatsuinigheid nie.”

As die Republikeinse Party vorentoe weer die Withuis wil verower, sal dié twee vleuels hulle met mekaar moet versoen. “Wat my betref, ek sal nooit diegene wat Trump op die res van die party afgedwing het, kan vergeef nie,” aldus McLaughlin.

Dit kos geen groot intelligensie om in te sien dat die Republikeine in die maande en jare wat kom ’n groot geveg om die siel van die party sal moet voer nie. Bly die party vasklou aan die verwoestend-populistiese Trump-benadering, of word hy weer ’n beskaafde en gematig-konserwatiewe party soos in die tyd van Eisenhower, Reagan en vader en seun Bush?

  * Dr. Leopold Scholtz is ’n historikus en politieke ontleder.

Meer oor:  Joe Biden  |  Donald Trump  |  Vsa  |  Presidentsverkiesing  |  Republikeinse Party
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.