Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
US: Reputasieskade of nie?

Jannie van der Westhuizen wonder of gebeure of voorvalle op die kampus van die Universiteit Stellenbosch die afgelope jaar die instelling se integriteit skade berokken het?.

’n Optog van die DAK-netwerk in April waarin gepleit word vir die status van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch. Die vraag is of geleenthede soos hierdie byvoorbeeld reg hanteer word deur die bestuur en of dit skade aan die universiteit se reputasie aanrig? Foto: jaco marais

Die Universiteit Stellenbosch (US) strompel die afgelope aantal jare van die een openbare debakel na die ander.

Die onverkwiklike situasie wat gevolg het op die aanvaarding van die 2016-taalbeleid, die omstredenheid en openbare ontevredenheid wat tans heers in reaksie op die nuwe konsep-taalbeleid, die venynige en dringende hantering van die persgesig-aangeleentheid, die ooglopend ligtelike hantering van die “verbod op die gebruik van Afrikaans” by koshuise op die kampus, die rektor se interaksie met regter Edwin Cameron net voor die konstitusionele hof se “Gelyke Kanse”-uitspraak en die huidige ondersoek van die Menseregtekommissie (MRK) dien as voorbeelde.

Ongeag die meriete van elkeen van hierdie insidente, loop daar ’n gemeenskaplike draad deur almal, naamlik dat dit onvermydelik negatief op die openbare beeld en integriteit van die US reflekteer. Ongunstige persepsies ontstaan, wat versterk word deur die herhalende patrone van die oënskynlik onbevredigende hantering van hierdie voorvalle. Ons weet hoe genadeloos persepsies se impak kan wees.

Institusionele integriteit

Die grootste ramp wat enige instelling, maar veral opvoedkundige instellings kan tref, is om hul institusionele integriteit te verloor.

Dit is die hart en die wese van enige instelling. Die verlies hieraan het oneindige implikasies. Boonop gebeur dit baie vinnig en word dit moeilik herstel. Hierdie institusionele integriteit is ’n inklusiewe begrip en begrens alles wat met daardie instelling verband hou.

Dit strek oor die volle spektrum – van die behoud van akademiese standaarde, tot die integriteit waarmee morele of etiese kwessies hanteer word.

Trouens, elke besluit, elke beleidsdokument of strategie, elke inisiatief, maar ook die wyse waarop sensitiewe kwessies hanteer word, reflekteer ’n bepaalde etiese en morele verantwoordbaarheid. Dit vorm die etos, of die kultuur van die instelling. Daarom is die hantering van selfs onbeduidende of kleiner insidente belangrik, want dit reflekteer die bestaande institusionele kultuur.

Universiteite, en ook skole, het boonop as instellings ’n groot verantwoordelikheid dat studente en leerlinge – as die volgende generasie van leidende en produktiewe landsburgers – etiese bestuur en leierskap in aksie sal sien en ervaar.

Slegte dinge gebeur ook by goeie instellings, en maak nie summier daarvan ’n “swak” instelling nie. Mense bestuur instellings, en mense maak foute en neem soms swak besluite. Dit is ’n gegewe. Daarom is die wyse waarop daar op sulke insidente of voorvalle reageer word, so veelseggend, want juis dit definieer die institusionele integriteit.

Speel volgens die reëls

Hierdie institusionele integriteit hou direk verband met die waardes van onafhanklikheid en eerbaarheid.

Dit behels ’n verbintenis en bereidwilligheid om onbevange en sonder vrees of vooroordeel die spel volgens die reëls te speel. Dat alleen die meriete van ’n saak, en ’n onvoorwaardelike verbintenis tot onpartydigheid, openheid, egtheid en die waarheid, jou denke en besluite sal rig.

“Onafhanklikheid” het in die moderne era ’n skaars kommoditeit geword. Onderlinge afhanklikheid is eerder veel meer aan die orde van die dag. Voeg daarby die belangrikheid van netwerke, ’n afhanklikheid van die goeie guns van invloedryke rolspelers, en ’n verskeidenheid van ander aspekte, insluitende gedweë politieke korrektheid.

Dit bedreig ware onafhanklikheid, en dikwels die wil en die vermoë om “die regte ding te doen”. Die navolg van die weg van die minste weerstand, ’n onwilligheid of onvermoë om standpunt in te neem, of om ruggraat te wys waar nodig, is ’n verdere bedreiging vir die behoud van hierdie onafhanklikheid. Integriteit is “harde werk”, en word alleen op ’n eerbare wyse verdien.

Alle sake het normaalweg drie kante, naamlik my kant, jou kant en die regte kant. Die gaan nie oor “wie is reg” of oor “wat sê die reg” nie, maar oor “wat is reg”. Dit alleen moet jou optrede rig en lei. Laasgenoemde vereis dat jy onbevange, en met ’n oop gemoed ’n saak kan evalueer, die feite beoordeel en dan met integriteit daarop reageer. Daar is nie ruimte vir vooroordele nie. Dit vereis onder andere dat foute erken word, en dit is veral hier waar die US oënskynlik kleitrap.

’n Geliefde instelling

Die US is ’n onvervangbare bate. Dit is ’n geliefde instelling wat ’n enorme bydra tot Suid-Afrika gelewer het, en dit ook in die toekoms steeds moet doen.

Dit is dus tragies en jammer dat die lompe hantering van verskeie sake die US voortdurend in die spervuur laat beland. Ongelukkig is daar net te veel van hierdie “insidente van lompheid”, om dit maar net onvoorwaardelik as blote swak bestuur, of as toevallige insidente met onbedoelde gevolge, te aanvaar.

Boonop is die klimaat oor tyd geskep wat aan individue of bepaalde belangegroepe ’n toenemende vrymoedigheid verleen om hul eie agendas te laat geld.

Die tyd het aangebreek dat al die besluitnemers, en veral die senior bestuur en die raad van die US, bestek moet opneem en krities na die gebeure van die afgelope paar jaar sal kyk.

Alleen ’n proses van onbevange openheid en ’n onwrikbare soeke na die feite, sal enige nut inhou. Geen instansie kan homself ondersoek nie en mag ook nie die “scope of reference” vir enige eksterne ondersoek té eng voorskryf nie. Dit sal veel eerder die reeds bestaande negatiewe persepsies versterk.

Kritiese vrae wat gestel behoort te word, sluit in:

  • Tot watter mate het ’n gedienstigheid aan sekere druk- of belangegroepe die besluite van die senior bestuur en die raad beïnvloed?
  • Is die US se etiese verantwoordbaarheid enigsins gekompromitteer?
  • Tot watter mate is die geloofwaardigheid van die US gedurende onlangse jare “verwater”?
  • En indien wel, wie moet daarvoor verantwoordelik gehou word?

Eerlike antwoorde op die vraag “wat is reg?” en ’n onbevange soeke na uitsluitlik die waarheid ten opsigte van die onderliggende motief vir elkeen van die onverkwiklike insidente van die afgelope paar jaar, is nodig

Hoe langer so ’n bestekopname uitgestel word, hoe groter sal die reputasieskade wees. Iewers moet ’n antwoord gevind word op die vraag: Hoe het die US by hierdie punt gekom waar duisende van sy mees lojale ondersteuners nou van sy grootste kritici geword het? Dit was bes moontlik nie ’n toevallige verloop nie.

’n Hoë prys om te betaal

Dis nooit die verkeerde tyd om die regte ding te doen nie. Die US moet dit besef.

Die openbare mening is baie ontvanklik en vergewensgesind teenoor ’n bereidwilligheid om verantwoordelikheid en eienaarskap te aanvaar, en dit wat nodig is, reg te stel.

Net so is die openbare mening genadeloos teenoor ’n onverbiddelike ego of onwilligheid om halsstarrig die onverdedigbare te regverdig.

Die US moet besef dat alle belanghebbendes alleen wil sien dat die universiteit se geloofwaardigheid onaantasbaar bly. Daarom moet die bestuur besef dat ’n “net ter wille van”-werkswyse weinig waarde het, maar dat ’n sigbare demonstrasie van gebalanseerdheid, openheid, sorg en redelikheid veel meer impak het.

Die behoud van jou integriteit kom teen ’n hoë prys. Die prys vir die verlies daarvan, is egter veel hoër.

Elkeen wat by die US betrokke is, hetsy deur middel van bestuur of beheer en wat elke “openbare verleentheid” maar net óf in goeder trou, óf as toeskouer gelate aanvaar, of maar net as “ter wille van” hanteer, moet besef dat hy by implikasie mede-eienaar, of selfs “mede-gevangene” daarvan geword het. Dit is ’n baie onverkwiklike gedagte.

  • Van der Westhuizen is ’n onderwyskonsultant van George en was tot 2017 die voorsitter van die US se sosiale- en besigheidsetiek-komitee.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.