Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Restitusie is ten diepste’n geloofsaak

In ’n wêreld wat kreun onder verdeeldheid, is ’n restitusie-konferensie verlede week in Kaapstad aangebied.

Feitlik elke spreker het ’n mens laat besef dat ons hier te doen het met ’n diep en hewige emosionele stroom wat onder die oppervlak van ons samelewing vloei en dan soms, soos met #FeesMustFall, na die oppervlak borrel.

Restitusie is ’n komplekse en veelkantige begrip, maar dit is een van die sleutels tot heling in Suid-Afrika. Dis egter nie net ’n grondkwessie nie, maar ook ’n diep geestelike saak.

Restitusie sal ook nie versoening bring as dit sonder meer aan mense opgedwing word nie, maar kan ’n reuse-impak hê as dit uit ’n diep geestelike oortuiging sou groei.

Bybelinterpretasie bly ingewikkeld, en reglynige afleidings uit ’n teks van lank gelede bly gevaarlik.

Tog is daar menige Skrifgedeelte wat vir ons beslis ’n teologiese raamwerk gee wat te lank geïgnoreer is.

Vir bevoorregtes soos ek is dit ongemaklik en kan dit ’n mens met baie onsekerheid laat. Die onsekerheid sal egter nie weggaan deur die saak te ignoreer nie.

Restitusie gaan nie oor wiskundige berekeninge nie, maar oor die heling van harte.

Veilige ruimtes waarin na sowel die pyn as die emosies van ander geluister kan word en met redelike nugterheid oor die konkrete implikasies en toepassing gedink kan word, is nou baie nodig.

Reeds op die eerste dag van die konferensie het die bydraes van mense soos aartsbiskop Thabo Makgoba, Thuli Madonsela en Leon Wessels ’n mens laat dink. Dalk help ’n paar aanhalings uit die gesprek:

“Restitusie gaan nie oor wiskundige berekeninge nie, maar oor die heling van harte. Die gesprek raak die wortels van ons medemenslikheid.” – Makgoba

“ ’n Nuwe wêreld is op die punt om gebore te word. Is ons gereed om die baba te vang? Geweld is die taal van die magtelose.” – Madonsela

“Ons het gedink dat die WVK ons sou leer om saam te huil en te lag, maar ons het die lesse te gou vergeet.” – Wessels

Van die vloer af was daar ander bydraes soos: “Die Bybel leer ons dat niemand besitters van die grond is nie, maar wel rentmeesters, tot voordeel van ander.” En: “Hoe is dit moontlik om ’n neoliberale kapitalistiese stelsel in Suid-Afrika te verander terwyl ons deel van ’n wêreldekonomie is? Moet ons nie ’n gesprek begin oor ’n maksimum salaris nie?”

Vrydagaand maak ek gereed om ’n vleisie te braai. ’n Jong, hawelose man klop aan my deur met ’n sak hout. “Seblief, Meneer, koop dié by my. Ek het byna flou geword van hongerte terwyl ek dit gekap het.”

Skielik het ek opnuut besef: Hoë mure alleen sal ons nie red nie. Die gesprek is lank nie klaar nie.

  • Dr. Hanekom is aan die Sentrum vir Publieke Getuienis verbonde.
Meer oor:  Godsdiens Aktueel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.