Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Revolusie soos dié ’n godsdiens

Die mens is van nature ’n godsdienstige wese en as ons nie meer kerk toe gaan nie, vind ons net ’n ander geloof, skryf Danie Goosen.

’n Betoging by ’n standbeeld van Winston Churchill in Londen. Ingevolge die nuwe purisme is die ganse Westerse verlede boos en onsuiwer. Foto: Getty Images
’n Betoging by ’n standbeeld van Winston Churchill in Londen. Ingevolge die nuwe purisme is die ganse Westerse verlede boos en onsuiwer. Foto: Getty Images

’n Revolusionêre gees waai vandag oor die Westerse wêreld. Ten diepste word dit deur die begeerte aangewakker om met die einste Westerse wêreld en in die besonder sy kulturele erfenis weg te doen.

Alhoewel die historiese oorspronge van die revolusionêre gees na die Franse Revolusie teruggevoer kan word, lê die onmiddellike bronne by die 1960’s. In menige opsig is die hedendaagse revolusionêre strominge ’n gekussingde weergawe van die revolusionêre gees uit die 1960’s. “Gekussing” omdat dit meestal deur akademici in beskermde poste aan welvarende Westerse universiteite uitgedra word, maar ook deur die media, die hoër middelstand, linkse politici en – ironie der ironieë – groot sakeondernemings.

Groeperinge soos Black Lives Matter (BLM) tree as die stormtroepe van die akademiese, media-, politieke en sake-elites op.

Die wyse waarop stede geplunder en in chaos omskep word, word deur dié elites met fluweelhandskoene hanteer.

Hoe moet hierdie gebeure verstaan word? Alhoewel verskillende verduidelikings gegee word, staan ek by een verduideliking stil, te wete ’n “godsdienswetenskaplike” verduideliking. Van nader beskou, vertoon die links-revolusionêre beweging merkwaardige ooreenkomste met sekere bewegings uit die godsdiensgeskiedenis.

’n Rasionale gesprek oor die verlede word met ’n eensydige moralistiese veroordeling vervang.

Ons gaan uit van die gedagte dat die links-revolusionêre gees die leegte vul wat met die kerk se onttrekking uit die Weste gepaardgaan. ’n Godsdienstige leegte kenmerk die Westerse wêreld. Dit blyk uit die nou reeds dekade lange “onttrekking” van die Christelike kerke uit die Weste. Sowel in die VSA as in Europa bedank lidmate steeds op ’n ongekende skaal uit die gevestigde kerke.

Omdat die mens van nature ’n godsdienstige wese (homo religiosus) is, word geestelike leegtes egter nie geduld nie. Dit word altyd weer met ander godsdienstige kragte gevul.

Christene wat die kerk verlaat, verlaat nie noodwendig die godsdiens nie, maar vind eerder aansluiting by nie-gevestigde kerke of (nog belangriker) by ’n nuwe sekulêre godsdiens.

Die links-revolusionêre beweging van vandag is ’n voorbeeld van so ’n sekulêre godsdiens. Dit vul die geestelike leegte met hul eie godsdienstige denkbeelde.

Mary Eberstadt, bekende konserwatiewe sosioloog, bevestig hierdie punt wanneer sy in ’n onlangse onderhoud met die tydskrif Public Discourse (14 Julie) ’n direkte verband tussen die krisis van die kerke (maar ook die krisis van die tradisionele gesin) en die sogenaamde “identiteitspolitiek” van linkse revolusionêre trek: “ . . . many people in the West are gripped by a profound identity crisis. Our post-revolu­tionary, unnaturally atomised way of life has robbed people of the usual ways of answering the universal question, who am I? Today, though, secularisation means that many people no longer identify them­selves first and foremost as Christians and other religious believers do . . . In this familial and metaphysical void, identity politics serves as a rough substitute for natural and supernatural communities.”

Ter plaatse sluit die ANC en sy bondgenote aan die linkerkant van die politieke spektrum sonder voorbehoud hierby aan. Die ANC kompenseer vir die geestelike leegte (soos blyk uit die ineenstorting van tradisionele gesinne, gemeenskapstrukture, kulture, ens.) deur self die mantel van godsdienstige verlosser aan te trek.

Omdat die sekulêre godsdiens van vandag nie soos in die Christelike erfenis daarin slaag om geloof en rede in hul samehang te bedink nie, is dit bykans onmoontlik om hul uitgangspunte met rasionale argumente te antwoord. Religieuse fanatisme eerder as openheid vir ander standpunte is hul waarmerk.

Soos in die Christelike geloof word die geskiedenis deur die linkse revolusionêre met behulp van kernbegrippe soos skepping, sondeval en verlossing verstaan. ’n Andersoortige betekenis word egter daaraan gegee.

Volgens linkse groeperinge word die mens (onder die invloed van die 18de-eeuse Jean-Jacques Rousseau) in sy aanvanklike natuurstaat deur ’n paradyslike toestand van volledige gelykheid, geluk en ongekende oorvloed gekenmerk.

Met die koms van die moderne Europese koloniale era word die sondeval egter ingelui. ’n Einde aan die paradyslike toestand word aangekondig. Voortaan regeer kolonialisme (asof daar nie kolonies voor die koms van Europa op die wêreldtoneel was nie); maar ook rassisme (asof daar nog nooit rassisme was nie); patriargale geweld (asof daar nog nooit voorheen pa’s was wat vroue en kinders mishandel het nie); xenofobie (asof daar nog nooit vrees vir die bedreiging van andere bestaan het nie); armoede (asof daar voorheen slegs oorvloed was), ensovoorts.

Gelukkig wag verlossing op ons almal. Dit sal gebeur wanneer die Westerse koloniale erfenis, intrinsiek aan elke Westerse instelling, omvergewerp en die oorspronklike toestand van gelykheid, geluk en oorvloed herstel word.

In ’n moderne parasitering op die Christelike voorstelling van die eindtyd strewe revolusionêres na ’n utopiese eindtyd van totale gelykheid. So ’n eindtyd is egter nie ’n funksie van God se beskikkende hand nie, maar van die revolusionêre omverwerping van die Westerse erfenis. Deur revolusionêre verandering sal die sondige verlede skoongevee en ’n utopiese toekoms ingelei word.

Ingevolge die nuwe purisme is die ganse Westerse verlede boos en onsuiwer. Gevolglik moet dit aan prosesse van suiwering onderwerp word.

Revolusionêre verteenwoordig daarenteen die avant-garde van die suiwere en die goeie.

’n Plaaslike voorbeeld is die oproep van die uitvoerende hoof van die Nasionale Museum in Bloemfontein dat die koloniale Weste aan “etiese suiwering” onderwerp moet word.

Links-revolusionêr is nie noodwendig eties dekadent nie, maar eerder super-moralisties. Trouens, soos wat G.K. Chesterton reeds in Orthodoxy geskryf het, wanneer Christelike etiese opvattinge van hul bronne afgesny word, word hulle letterlik waansinnig: “The modern world is full of the old Christian virtues gone mad.”

“Vergifnis” speel ook ’n rol. Anders as in die Christelike geloof word vergifnis egter telkens uitgestel – en onderwerp aan die voorwaarde dat totale gelykheid eers bewerkstellig moet word.

Vergifnis word nie ongekwalifiseerd vanuit ’n genadevolle bron gegee nie; vergifnis is onderwerp aan radikale ekonomiese en politieke veranderinge.

Hoe meer die revolusionêre in hul verwagting van gelykheid gefnuik word (’n noodwendigheid omdat dit ’n onrealistiese verwagting is) des te sterker word by die Weste aangedring om sy skuld te bely.

Tegelyk word die aandrang om die Weste as ’n sondebok te identifiseer, steeds sterker. Dit is alles gegrond op die oeroue wanopvatting dat indien die sondebok uitgedryf is ’n staat van geluksalige gelykheid op almal sal neerdaal.

Ingevolge die puristiese skema word die Westerse verlede sonder meer met die bose en die revolusionêre toekoms met die goeie geïdentifiseer.

’n Gevolg hiervan is dat rasionele pogings om op ’n vergelykende wyse oor die verlede na te dink, eenvoudig gesensureer word.

Vergelykings tussen die wyses waarop verskillende kulture (Afrika ingesluit) slawerny of kolonialisering beoefen het, is eenvoudig ikabod.

So ook vergelykings tussen die postkoloniale Afrika en die postkoloniale Ooste; Suid-Afrika voor en ná apartheid met die res van Afrika, ensovoorts. ’n Rasionale gesprek oor die verlede word eerder met ’n eensydige moralistiese veroordeling vervang.

Begrippe soos goed en kwaad word so van hul teologiese betekenis gestroop en ’n sekulêre betekenis gegee. Volgens die Christelike geloof is die werklikheid self gebrekkig. Geen politieke en morele handeling, projek of revolusionêre plan kan dit heel nie.

Revolusionêre voer daarenteen aan dat die bose polities en ekonomies oorwin en ’n hemelse ryk van gelykheid inderdaad op aarde tot stand gebring kan word.

In die skema word die staat ’n plaasvervangende god. Soos in die Christelike geloof vertrou die linkse revolusionêre ook op ’n absolute krag waarin die ganse werklikheid geanker word.

Anders as in die Christelike denke is dié krag egter nie die transendente God van die Bybel nie, maar die immanente god van die (ironies genoeg) Westerse moderne era, naamlik die moderne soewereine en sentralistiese staat. Terloops, die begrip “soewerein” het diep godsdienstige ondertone.

Einde ten laaste word die linkse revolusionêre gestuur deur die religieuse ambisie om die staat as plaasvervangende god in beheer van elke aspek van die lewe te plaas. Indien trou aan dié god gesweer word, sal die belofte van gelykheid in vervulling gaan.

’n Kenmerk van die moderne staat is die intieme religieuse band tussen homself en die individu (in die liberale staat); tussen homself en die werkersklas (in die ou sosialisme) of tussen homself en die gemarginaliseerde identiteite (in die hedendaagse revolusionêre sosialisme).

In dié intieme band is daar geen plek vir die veelheid van plaaslike en kultuurgemeenskappe en hul instellings nie.

Soos met puristiese strominge in die godsdiensgeskiedenis word die revolusionêre purisme deur ’n intense vyandigheid jeens beelde gekenmerk. Beeldebestorming is hul kenmerk. Westerse beelde word sonder meer met afgode gelykgestel wat vernietig moet word.

Isis se vernietiging van die kunsskatte uit die klassieke tyd is ’n onlangse voorbeeld van dié vyandigheid jeens beelde; maar so ook die beweging wêreldwyd om Westerse simbole te vernietig.

Asook die standbeelde van Afrikaner-helde soos pres. M.T. Steyn in Bloemfontein en pres. Paul Kruger op Kerkplein. Ook daarteen word met religieuse entoesiasme gemobiliseer.

Linkse revolusionêre word egter ook deur hul eie godsdienstige rituele gekenmerk.

Westerse universiteite wat van koloniale simbole gesuiwer moet word, word rituele ruimtes van suiwerheid (en nie van akademiese bevraagtekening en kulturele oordrag nie); BLM se rituele knieval teer op oeroue rituele gebruike; terwyl Etienne van Heerden in sy jongste boek, Die biblioteek aan die einde van die wêreld, beskryf hoe die Fees Must Fall-beweging letterlik ’n skaap op die trappe van die hoofgebou van die Universiteit van Kaapstad geslag en geoffer het, sodat die sondes van die verlede skoongewas kan word.

* Prof. Danie Goosen is akademiese hoof van die private universiteit Akademia.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.