Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Robotika is goeie nuus, maar leerlinge moet eers kan lees

Pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede verlede week toon tekens van ’n nuwe visie vir onderwys in Suid-Afrika. Maar beloftes moet opgevolg word met dade ten einde die groeiende werkloosheidsyfer onder die jeug te bekamp, skryf Michael le Cordeur.

Leerlinge aan die Hoërskool Tygerberg skryf wiskunde en wiskundige geletterdheid gedurende verlede jaar se matriekeksamen.Foto: Denvor de Wee

Dit was verlede week 30 jaar sedert Nelson Mandela op 11 Februarie 1990 as ’n vry man by die Victor Verster-gevangenis uitgestap het. Ek was daar. Vir ons was dit die sleutel tot ’n nuwe bedeling waarin almal vry sou wees.

Dit was dus gepas dat Ramaphosa sy staatsrede met daardie historiese dag begin het, want ons het met verwondering gestaar na Mandela as die simbool van hoop wat die nuwe Suid-Afrika sou bring. ’n Nuwe era van demokrasie en vryheid het aangebreek.

Maar 30 jaar later moes Ramaphosa die volk verseker dat Projek Vryheid op koers is toe hy gesê het ons moenie toelaat dat vrees in ons pad staan nie. Hy moes ook erken dat dit moeilike tye is.

Ons wat daar was, kan getuig dat daar destyds ’n reuseskare op die Parade in Kaapstad was. Anders as verlede week. Almal was opgewonde. Maar daar was orde.

Fast forward na 13 Februarie 2020: Daar heers ’n somber atmosfeer in die parlement. Suid-Afrika se moraal is laag. Toe ek en duisende Suid-Afrikaners voor die televisie inskuif om na die staatsrede te luister, was dit in die hoop dat ons iets sou hoor waaraan ons kan vashou.

Soos tipiese skoolboelies het die EFF verlede week voortdurend voor verlede week se staatsrede die “klas” ontwrig terwyl ander in die parlement net hul grondwetlike reg om te kan luister wou uitoefen.Foto: Jaco Marais

Maar toe besluit die EFF om ’n bespotting te maak van die demokrasie waarvoor Mandela en baie ander ge-struggle het. Soos tipiese skoolboelies ontwrig hulle voortdurend die klas terwyl die res net hul grondwetlike reg om te kan luister wil uitoefen. En wanneer hulle die klas belet word, gaan kla hulle by hul ouers dat niemand na hulle wil luister nie!

Maar wat as die onderwysers nie opdaag nie?

Die positiewe is egter dat onderwys – die een gebied waarop die ongelykheid in die Suid-Afrikaanse samelewing die duidelikste blyk – stadig maar seker in die regte rigting beweeg.

Die president herinner ons dat meer jeugdiges vandag as ooit tevore in die land toegang tot onderwys het. Die 2,4 miljoen kinders in voorskoolse-onderwysinrigtings is die bewys hiervan. In 2019 het 81% van die matrikulante geslaag – dit is die meeste in ons demokratiese geskiedenis. Ons behoort hierdie prestasies te vier.

Puttoilette buite die Myolwa Senior Primary School in Lusikisiki word opgegradeer. Foto: Verskaf

Oor sekere probleme het die president egter stilgebly. Daar is steeds 2 703 skole waar leerlinge puttoilette gebruik. Ondanks R3,4 miljard wat die tesourie vir hierdie doel beskikbaar gestel het, sien ek geen duidelike plan om hierdie leerlinge se waardigheid te herstel nie.

Iémand moet verantwoordelikheid aanvaar as leerlinge die afwesigheid van onderwysers as een van die vernaamste hindernisse in hul strewe na sukses beskou.

Daar is groeiende kommer oor die afwesigheid van onderwysers. Ek het gehoop dat die president dié aspek sou uitlig, gegewe die feit dat onderwys die grootste enkele item in ons begroting is.

Iémand moet verantwoordelikheid aanvaar as leerlinge die afwesigheid van onderwysers as een van die vernaamste hindernisse in hul strewe na sukses beskou.

Armoede is steeds sigbaar in baie skole, veral op die platteland, waar leerlinge vir kos moet toustaan. In die Karoo moet leerlinge, van wie party so jonk as sewe jaar oud, 12 km langs die gevaarlike N1 stap omdat net leerlinge wat verder as 5 km van die skool woon, voortaan vervoer sal word.

Prof. Michael le CordeurFoto: Foto24

’n Klaskamer onder ’n boom

In die Ibhongo Lethu Primary School in Upington in die Noord-Kaap moes 900 leerlinge die nuwe skooljaar sonder toilette begin. Die onderwysdepartement huur sedert 2018 vier tydelike toilette vir 900 leerlinge weens versuim om die huur te betaal.

In ’n skool in Limpopo is die leerlinge begroet deur ’n skool waarvan die dak al voor die Kersvakansie afgebrand het. Vir hulle was dit terug na die “klaskamer” onder die boom. En in die Oos-Kaap moes leerlinge van die Mcheni Primary School terugkeer na ’n modderskool omdat die onderwysdepartement nie sy belofte nagekom het dat nuwe klaskamers gebou sou wees teen die tyd dat skole heropen het nie.

Die geweld wat Suid-Afrikaanse skole nou al ’n geruime tyd teister, waaronder die bendegeweld op die Kaapse Vlakte, ontneem duisende kinders van hul basiese reg tot onderwys. Die president het erken dat basiese veiligheid in sommige woongebiede ontbreek, en dat polisie-sigbaarheid, doeltreffende opleiding en beter hulpbronne ’n prioriteit in die polisiekantore is. Wat ook ontbreek, is ’n minister met die politieke wil en die kundigheid om die planne uit te voer.

Ten spyte van die goeie slaagsyfer van die matrieks van 2019, vertel dit nie die volle verhaal nie. Slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was, het tot matriek gevorder.Foto: Foto24

Matriekslaagsyfer vertel nie volle verhaal nie

Toe die huidige regering aan bewind gekom het, het hy beloof om die onderwysstelsel tot ’n funksionele stelsel te transformeer. ’n Sosiale kontrak is met die jeug aangegaan. Terwyl hulle op hul studies moes fokus, sou die regering die ekonomie laat groei en werk verskaf.

Wat sê ons dus aan die jeug wat hul deel van die kontrak nagekom het?

Slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was, het tot matriek gevorder.

Wat ons aan die jongmense behoort te sê – maar nie sê nie omdat voorligtingsonderwysers afgeskaf is – is dat leerlinge aan die einde van hul skoolloopbane in diens geneem moet kan word. Soos die president tereg opmerk: Ons moet aanpas by ’n veranderde wyse waarop jongmense op toekomstige loopbane voorberei word. Dit behels korter kursusse in spesifieke vaardighede in die snelgroeiende sektore.

Want ten spyte van die goeie slaagsyfer van die matrieks, vertel dit nie die volle verhaal nie. Slegs 60% van alle leerlinge wat in 2007 in gr. 1 was, het tot matriek gevorder. Die hoë uitvalsyfer beteken dat baie jongmense nie vir enige werk gekwalifiseer is nie. Dit dra by tot die groeiende werkloosheidsyfer onder die jeug.

Twee derdes van die 1,2 miljoen jeugdiges wat jaarliks die arbeidsmark behoort te betree het nie werk nie en word ook nie iewers opgelei nie.

Ons sit dus met ’n krisis wat dringende ingryping verg en die president wéét dit.

Beroepsgerigte kolleges

Ons benodig voldoende beroepsgerigte opleidingskolleges om jeugdiges vir werk voor te berei. Dit was dus verblydend om te verneem dat nege nuwe beroepsgerigte kampusse in aanbou is: Een vir elke provinsie (of so het ek gedink). Tans word vier in die Oos-Kaap en vyf in KwaZulu-Natal beplan. Ek het begrip dat hierdie twee provinsies groot agterstande het. Maar so ook Limpopo, Mpumalanga en die Noord-Kaap. En ná sy puik prestasie in die matriekeksamen, verdien die Vrystaat dit ook.

Dit is verblydend om te hoor dat die tablette wat die president verlede jaar beloof het, byna gereed is om na skole versprei te word. Ek het ook kennis geneem dat daar vanjaar in die grondslagfase met kodering en robotika begin sal word.

Sekere probleme in die onderwys het pres. Cyril Ramaphosa in sy staatsrede verswyg. Daar is byvoorbeeld steeds 2 703 skole waar leerlinge puttoilette moet gebruik. Foto: Jaco Marais

Soos verlede jaar wil ek maan dat die kar nie voor die perde gespan word nie. In die internasionale Timms-toetse kon 78% van ons gr. 4’s nie met begrip lees nie. Ons eerste prioriteit is dat alle leerlinge in die grondslagfase met begrip kan lees en skryf, en basiese somme kan doen. Soos die naam aandui, moet die grondslag in dié fase gelê word sodat leerlinge in die intermediêre fase die sprong na kodering en robotika kan maak. Dat ons leesprogramme momentum begin optel, is dus goeie nuus.

Nog ’n universiteit?

Die aankondiging oor ’n nuwe universiteit vir wetenskap en innovasie is nie onverwags nie en waarskynlik deel van die regering se groter plan om vir die vierde nywerheidsrevolusie gereed te maak. Die instelling van kodering en robotika asook tegniese wiskunde en tegniese wetenskap vorm deel van hierdie plan.

Wat nie deel van die plan is nie, is die afname in matrieks wat wiskunde neem. Dit behoort die president te bekommer.

Ek is verbaas dat nog ’n universiteit in Gauteng – binne taxi-afstand van Wits, die Universiteit van Johannesburg, die Universiteit van Pretoria en Unisa – beplan word. Baie studente hier volg kursusse wat hulle nie toegang tot die arbeidsmark gee nie.

’n Meer volhoubare plan sou wees om een universiteit te herposisioneer as ’n universiteit vir wiskunde en wetenskap. Wat nie deel van die plan is nie, is die afname in matrieks wat wiskunde neem. Dit behoort die president te bekommer.

Ten slotte: Die basiese doelwit van enige onderwysstelsel is om sy jeug met gepaste vaardighede toe te rus. Dit is die beste bydrae tot inklusiewe ekonomiese groei. Om die president aan te haal: Die beleggings wat nou in die ontwikkeling van die jeug gemaak word, sal op lang termyn tot voordeel van die ekonomie wees.

Dit is ons plig om hierdie land te máák werk vir die jeug sodat hulle eendag vir die land kan werk. Alles in ag genome gee die staatsrede hoop aan onderwyskundiges.

Laat ons nou daad by die woord voeg.

*Prof. le Cordeur is hoof van die departement kurrikulumstudie aan die Universiteit Stellenbosch.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Michael Le Cordeur  |  Onderwys  |  Staatsrede  |  Robotika
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.