Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Roekelose ongeërgdheid
’n Groep US-studente betoog teen die beweerde rassistiese ingesteldheid van die universiteit.Foto: getty images

In sy rubriek in Die Burger (18.08) voer Jan-Jan Joubert onder meer aan dat Wim de Villiers en Edwin Cameron nie anti-Afrikaans is nie, en dat die bestaan van die Woordfees daarvan getuig.

Hy kan sy M-verhandeling in Afrikaans afhandel, want die Universiteit Stellenbosch (US) aanvaar dit so. En boonop word die universiteit onder De Villiers as rektor goed bestuur, aldus Joubert. Hy is korrek, die US aanvaar steeds verhandelinge in Afrikaans.

Ons is albei tans M-studente aan die US, maar ons taalervaring spreek van twee wêrelde. In die geval van sy generasie was voorgraadse studies in Afrikaans die norm aan die US en talle ander universiteite. In De Villiers en Cameron se geval ook.

Joubert sien welwillendheid vir Afrikaans en ’n blink toekoms, want hy kan steeds sy verhandeling in Afrikaans doen, selfs aan ’n universiteit wat moeite gedoen het om te diversifiseer, ten goede en ter wille van meer landsburgers.

Waarom betreur mense dan die De Villiers-administrasie en hul taalbeleid, vra hy.

In my generasie se geval, wat deur die dae van die #FeesMustFall- en Open Stellenbosch-beweging hul voorgraadse studies voltooi het, het dinge drasties vir Afrikaans in die akademie verander.

Kovsies en Tukkies het ’n einde aan Afrikaanse studies gemaak. Maties se taalbeleid van 2016 is sonder proaktiewe stappe ter wille van ’n veeltalige kampus wat die streektale Xhosa, Afrikaans en Engels wesenlike en tasbare gelykwaardigheid gun.

Onder my generasie op Maties is daar ’n wesenlike afname in die aantal studente wat nog Afrikaans vir voor- en nagraadse studies gebruik.

Onder my generasie op Maties is daar ’n wesenlike afname in die aantal studente wat nog Afrikaans vir voor- en nagraadse studies gebruik. In my LLM-groep aan die regsfakulteit is ek, sover my kennis strek, die enigste student met ’n Afrikaanse verhandeling.

Om my word geen stappe gedoen om veeltalige akademiese ontwikkeling aan te moedig of te beloon nie.

Ons swaai heen en weer in die globale taalhegemonie van Engels, ’n voortsetting van ’n Brits-koloniale meerderwaardigheidskompleks deur Suid-Afrikaners. Vir Joubert is sy Afrikaanse M-studies ’n voortgesette voorreg; vir my is dit ’n daad van dekoloniale protes.

Wat van ander tale? Na my wete het niemand van die DA of Gelyke Kanse nog ooit van die uitgangspunt uitgegaan dat De Villiers of Cameron “anti-Afrikaans” is nie.

Ek glo ook nie hulle, of talle van die sleutelpersoneel, koester die een of ander sinistere haat teenoor Afrikaanstaligheid nie. Hulle is waarskynlik die taal goed magtig en belese in akademiese Afrikaans.

Die De Villiers-administrasie maak vensterversierings van Afrikaans. Hulle blameer globale tendense vir die afname in Afrikaanse studies, terwyl daar terselfdertyd graag oor ’n gedekoloniseerde, Afrika-sentriese en plaaslik-sensitiewe universiteitsvisie gepraat word.

Maar hierdie mooipraatjies en passiewe veeltaligheid is in die praktyk niks werd nie. Inderdaad lei dit net tot die indruk dat Afrikaans ’n las is vir ’n vooraanstaande akademiese instelling in ’n provinsie waar Afrikaans die taal van die meerderheid is.

Wat Xhosa- akademiese inburgering betref, kom dadels van.

Wat Xhosa- akademiese inburgering betref, kom dadels van. ’n Mens kan nie help om te wonder of die universiteit eintlik die aktiewe gebruik van Xhosa vrees nie – omdat dit in sy verdraaide geestesoog ’n stroom mense uit die Oos-Kaap sal lok? Ek bespiegel.

Maar op ’n kampus wat skynbaar “colonial and superior Englishness” aanbid sodat daar op die Britse rangorde van universiteite geklim kan word, is daardie strukturele ondertoon nie vergesog nie.

Niemand reken dus De Villiers, Cameron of die personeel is hatig of anti-Afrikaans nie. Dis nie die debat nie. Die beswaar is die US se roekeloosheid jeens Afrikaans, wat by sy roekeloosheid oor veeltaligheid in die algemeen aansluit. In hierdie opsig maak dit nie saak hoe goed die US bestuur word nie.

Die omstandighede van Cameron en De Villiers se kontak tydens die Gelyke Kanse-hofsaak bly kommerwekkend. Hulle openbare aansien en posisies is juis die rede waarom ernstig na die verdagte gebeure tydens die hofsaak gekyk moet word. Joubert, as joernalis, weet tog waarom verantwoordbaarheid deur magshebbers so belangrik is?

En het Joubert homself al afgevra hoe lyk die Woordfees se toekoms indien jaarliks minder en minder Afrikaanskundige skrywers, politieke kommentators, dramaturge en meningsvormers gradueer?

En het Joubert homself al afgevra hoe lyk die Woordfees se toekoms indien jaarliks minder en minder Afrikaanskundige skrywers, politieke kommentators, dramaturge, joernaliste, onderwysers, regsgeleerdes en meningsvormers gradueer? As Afrikaans se hoëropleidingsfaset wegval, kan selfs Media24 binne die volgende paar dekades van goeie Afrikaanse skryfwerk vergeet.

In daardie opsig is die US wat ons twee se Afrikaanse verhandelinge inneem en die US Woordfees in dieselfde sandlopertjie. Die domino's het klaar geval weens die hoër opvoeders se roekeloosheid, nie hul klinkklare haat nie. En vir roekelose ongeërgdheid behoort ons baie versigtiger te wees.

Elie Wiesel, konsentrasiekamp-oorlewende, het destyds gewaarsku dat amptelike Nazi-haat nie die grootste moordenaar was nie. Inteendeel, dit was die Duitsers en die res van die wêreld se roekelose ongeërgdheid. Vir diegene wat hul skouers te midde van ’n krisis ophaal, kom spyt altyd te laat.

Van Dyk is ’n LLM-kandidaat en navorsingsassistent aan die departement publieke reg aan die US.

Meer oor:  Taal  |  Afrikaans  |  Woordfees  |  Taalbeleid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.