Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Roelof Botha: Dié glas is halfvol

Suid-Afrika is op die regte spoor om die welvaart van sy inwoners aan te hou verbeter, skryf Roelof Botha.

Dr. Roelof Botha

Die kanse dat Suid-Afrika teen 2030 ’n sogenaamde mislukte staat sal wees, is omtrent so goed as wat Ysland se kanse is om die volgende Wêreldbeker-rugbytoernooi te wen.

Eintlik is dit tydmors om hieroor ’n debat te voer, aangesien bykans alle kwantifiseerbare inligting op die teenoorgestelde situasie dui, naamlik ’n land waar alles bestaan om voort te bou op die merkwaardige suksesverhaal wat ’n kenmerk van die demokratiese bestel is, veral in die eerste 15 jaar.

Dit is nietemin bruikbaar om sommige van die ooglopende kragpunte en huidige knelpunte in die land uit te lig, aangesien die gesprek dan in die rigting van beleidsopsies sal beweeg om die ekonomie weer behoorlik in rat te kry.

Die beklemtoning van die ekonomie is doelbewus, aangesien hoër ekonomiese groei en werkskepping die verwesenliking van ’n swetterjoel van ander doelwitte aansienlik sal vergemaklik, soos byvoorbeeld laekostebehuising, die herstel van paaie en die bou van damme.

As vertrekpunt vir die ondubbelsinnige antwoord dat Suid-Afrika hoegenaamd nie op pad is om ’n mislukte staat te word nie, is dit nodig om laasgenoemde begrip onder die loep te neem.

Die internasionale organisasie The Fund for Peace is al etlike jare betrokke by gesaghebbende navorsing wat 178 lande se algemene vlak van stabiliteit op politieke, maatskaplike en ekonomiese gebied bepaal.

Meer as 100 aanwysers word in 12 kerngroepe saamgevat. Waardes word dan bereken wat uiteindelik in ’n rangorde van brose state gestalte vind (dit was vroeër bekend as die indeks van mislukte state).

? Skouer aan die wiel en die genade van Bo was nog altyd ’n wenresep in hierdie land.

Dié indeks meet die omvang van die broosheid van ’n staat, met Jemen in die onbenydenswaardige boonste plek met ’n telling van 112,4 en Finland aan die ander kant van die skaal met ’n telling van slegs 14,6.

Lande met ’n indekswaarde van meer as 100 kan as mislukte state beskou word. Afgesien van Jemen, sluit dié relatief klein groepie van slegs nege lande ook die volgende in: Somalië, Suid-Soedan, Sirië, die Demokratiese Republiek van die Kongo, die Sentraal-Afrikaanse Republiek en Afganistan.

Lande soos Zimbabwe, Nigerië, Libië, Mianmar, Venezuela en Noord-Korea het almal tellings van meer as 90, wat daarop neerkom dat hulle hard aan die deur klop om ook mislukte state te word. Suid-Afrika is na aan die middel van die rangorde met ’n telling van 70,1 – wat baie ver verwyderd is van enige sprake van ’n mislukte staat.

Interessant genoeg het China bykans dieselfde telling as Suid-Afrika (69,9), met die ander drie Brics-lande op ’n hoër vlak van broosheid.

Nadere ondersoek toon dat ’n land nogal aansienlike chaotiese toestande op maatskaplik-politieke gebied, asook ’n ekonomiese ineenstorting moet ervaar voordat die droewige etiket van ’n mislukte staat ter sprake kom.

Van die toestande wat moet heers vir ’n telling van meer as 100 vir die indeks van brose state sluit in burgeroorloë, terrorisme, die afwesigheid van ’n legitieme regering, emigrasie op groot skaal, stelselmatige en volgehoue ekonomiese agteruitgang, ’n algehele verbrokkeling van basiese dienslewering, tekens dat ’n diktatuur of militêre staat besig is om te ontwikkel, die algemene voorkoms van ernstige skendings van menseregte, en die teenwoordigheid van eksterne organisasies (soos byvoorbeeld gewapende magte van 'n ander land) wat die staat se besluitneming wesenlik beïnvloed.

RSG-debat
Talle RSG-luisteraars  het Maandagoggend aan hul oggendkoffie verstik toe die ekonome Roelof Botha en Dawie Roodt mekaar amper aan die keel gegryp het in ’n vurige debat oor ’n  verslag wat reken dat Suid-Afrika teen 2030 ’n mislukte staat gaan wees. Ons het die twee genooi om die debat verder te voer. 

Dit is hieruit duidelik dat dit loutere onsin is om Suid-Afrika as ’n mislukte staat te beskou, ten spyte van ’n rits maatskaplik-ekonomiese uitdagings wat dringend deur die regering hanteer moet word, veral voldoende elektrisiteit en werkskepping.

’n Objektiewe ontleding van die algemene stand van sake in Suid-Afrika moet egter deeglik rekening hou met die redes waarom daar tans ’n mate van kommer heers oor aspekte soos lae ekonomiese groei, die agteruitgang van infrastruktuur, hoë werkloosheid en onvoldoende investering in nuwe produksievermoë.

Die nommereen-sondaar is die land se voormalige president, wat vir bykans ’n dekade lank toegesien het dat staatsinstellings se bevoegdheid verswak en dat korrupsie en tenderbedrog hoogty vier.

Gelukkig vir Suid-Afrika is pres. Cyril Ramaphosa sedert 2018 in beheer van die regering en het sy institusionele ondersteuning binne die ANC-opset aansienlik vergroot sedert die leierstryd wat in Desember 2017 op die spits gedryf is. Daar is nou ’n nuwe verbintenis tot ’n markgerigte ekonomiese beleid, waarvan die eerste tekens duidelik sigbaar is in die 51 projekte wat aangekondig is om infrastruktuur uit te bou. Die waarde daarvan word op R340 miljard beraam.

Die nuwe minister van finansies het die Nasionale Ontwikkelingsplan afgestof en dit dien nou as die grondslag van die tesourie se nuwe groeiplan, wat in ’n groot mate met die samewerking van die private sektor in werking gestel gaan word.

Byna alle kernaanwysers van die toedrag van sake op maatskaplik-politieke en ekonomiese gebied bevestig wesenlike verbeterings aan die lewenspeil van Suid-Afrikaners sedert die oorgang na demokrasie.

Die besteebare inkomste van huishoudings is een van die grondliggendste aanwysers van ? land se welvaart. Dié syfer het sedert 1994 in reële terme met ’n allemintige 44% toegeneem om verlede jaar ’n waarde van meer as R53 000 te bereik.

Daar is ook die afgelope 25 jaar sowat vier miljoen huise gebou vir mense in die laer inkomstegroepe, meesal in stedelike gebiede (onder die Heropbou- en Ontwikkelingsprogram). Verder is 1,5 miljoen nuwe werksgeleenthede in die formele sektore geskep.

Suid-Afrika se Grondwet word allerweë as ’n toonbeeld van uitnemendheid op die gebied van staatsleer voorgehou en is volgens die Verenigde Nasies ’n voorbeeld wat deur alle lande nagestreef behoort te word, veral ten opsigte van vryheid van spraak, politieke assosiasie en godsdiens.

Verder is Suid-Afrika een van die 35 grootste ekonomieë ter wêreld en het die land se rangorde van internasionale mededingendheid verlede jaar verbeter. Op die gebied van die deursigtigheid van nasionale begrotings is Suid-Afrika in die eerste plek in die wêreld – en daar is 27 belangrike aanwysers van mededingendheid waarvan Suid-Afrika ’n rangorde in die wêreld se boonste 20% geniet.

’n Land wat op die randjie van ineenstorting staan, sal beslis geen wesenlike bedrae aan direkte buitelandse investering lok nie. Suid-Afrika het verlede jaar die derde hoogste vlak van sodanige investering in die geskiedenis gelok en het by verre die mees gediversifiseerde ekonomie in Afrika – en is ook een van die mees gediversifiseerde ekonomieë onder die ontluikende lande.

Die toenemende sofistikasie van Suid-Afrika se ekonomie word weerspieël in die opmars van die dienstesektore wat nou al vir byna 70% van die BBP verantwoordelik is. Weinig indien enige toeriste lê besoek af in lande wat op pad is om te misluk. Tien miljoen toeriste het Suid-Afrika verlede jaar besoek, waarvan 2,6 miljoen van oorsee was.

* Lees Dawie Roodt se artikel hier

Navorsing deur verskeie gesaghebbende instellings, insluitende die Internasionale Monetêre Fonds en die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling, voorspel dat Suid-Afrika se ekonomie oor die volgende dekade sal aanhou groei. Pricewaterhouse­Coopers is van mening dat Suid-Afrika se BBP, wat koopkragpariteit betref, oor die volgende dekade van sowat $800 miljard tot $1,1 duisend miljard sal toeneem.

Dan is die land bevoorreg om met ’n landbousektor van uitnemendheid te kan spog, wat sedert 2012 saam met voedselverwerking vir ’n kumulatiewe handelsurplus van meer as R323 miljard gesorg het. Suid-Afrika is een van bitter min lande in Afrika waar voedselsekerheid bestaan.

Daar kan op dié trant voortborduur word, maar die feite vertel die storie – Suid-Afrika is op die regte spoor om die welvaart van sy inwoners aan te hou verbeter.

Om dit wat stukkend is in ons land met oordrewe negatiwiteit te probeer vergruis, bied geen oplossings nie – ons moet eerder help om dit reg te maak en die volgende leuse voor oë te hou: ? Skouer aan die wiel en die genade van Bo was nog altyd ’n wenresep in hierdie land.

  * Dr. Roelof Botha is ’n ekonomiese raadgewer van die Optimum Beleggingsgroep.

Meer oor:  Roelof Botha  |  Ekonomie  |  Mislukte Staat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.