Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rom rom rom is die regses aan die kom?

Is regse ekstremisme opnuut besig om wortel in Duitsland te skiet? Dié vraag word oor Europa heen gevra ná verskeie dae van straatgeweld in die Duitse stad Chemnitz, skryf Leopold Scholtz.

Betogers neem deel aan ’n byeenkoms wat gereël is deur die regse pro-Chemnitz beweging om die dood te gedenk van Daniel Hillig op 1 September. Twee vlugtelinge, ’n Siriër en ’n Irakees, word daarvan beskuldig dat hulle Hillig met ’n mes gesteek het ná ’n onderonsie in die vroeë oggendure van 26 Augustus. Foto: Jens Schlueter/Getty

Chemnitz lê diep in die suidooste van Duitsland in die deelstaat Sakse met ’n inwonertal van net minder as 250 000. Die afgelope week of wat was die strate in dié stad die toneel van ernstige onluste, waar regse en linkse ekstremiste mekaar te lyf gegaan het.

Dit het alles begin by ’n woordewisseling tussen enersyds ’n Duitse timmerman (35) met ’n Kubaanse pa, Daniel Hillig, en andersyds ’n Irakees en Siriër (22 en 23 respektiewelik). Hulle is geïdentifiseer as Alaa S. en Yousif A. Die chronologie van die botsing is nie presies bekend nie, maar dit het geëindig met ’n meslem in die longe van die timmerman, wat dieselfde nag nog dood is.

Die nuus het soos ’n veldbrand deur die stad versprei. Die regs-populistiese party Alternative für Deutschland (AfD) het inwoners onmiddellik deur die sosiale media tot protesbetogings opgeroep, en die berig versprei dat Hillig doodgesteek is terwyl hy ’n vrou teen aanranding probeer beskerm het.

Dit was duidelik dat die polisie die omvang van die regse woede hopeloos onderskat het.

Honderde, dalk duisende regse inwoners het in die dae hierna die strate ingevaar en immigrante links en regs aangerand. Hulle het die leuse Wir sind das Volk – ’n verwysing na die protesleuse wat in die sterwensdae van die kommunistiese Oos-Duitse diktatuur gehoor kon word – gedreunsing.

Die betrokke vrou, wat self met ’n Oekraïener getroud is, het luidens ’n berig in die konserwatiewe kwaliteitskoerant Die Welt ontken dat sy aangerand is. Vriende van die oorledene het ook vertel dat hy ’n verskriklike hekel in die ekstremiste van die AfD gehad het, maar dit het alles niks gehelp nie.

Dit was duidelik dat die polisie die omvang van die regse woede hopeloos onderskat het. By betogings hierna, waartydens duisende mense uit ander Saksiese stede aangery is, moes slegs 1 500 polisiebeamptes tot 10 000 woedende betogers in toom hou – ’n onmoontlike taak.

In reaksie is vir Maandagaand 3 September ’n reuse-popmusiekkonsert beplan met die tema Wir sind mehr (“ons is meer”). Meer as 27 000 mense het hulle geregistreer om daar teenwoordig te wees.

Die burgemeester van Chemnitz het ondertussen ’n noodtoestand in die stad afgekondig.

Mense neem deel aan ’n byeenkoms met die motto “Hart in plaas van treiter” (“Herz Statt Hetze”) om as teenwig te dien teen ’n regse optog wat op 1 September in Chemnitz plaasgevind het. Foto: Jens Schlueter/Getty

Regse radikalisme ’n Oos-Duitse probleem

Waar kom die woede vandaan? Die raaisel word des te groter as daar in aanmerking geneem word dat slegs sowat 7 500 buitelanders einde 2017 as inwoners van die stad geregistreer is.

Om mee te begin is dit ’n feit dat die AfD se invloed die laaste jaar of twee, drie toegeneem het. Terwyl die party in verlede jaar se algemene verkiesing landwyd 12,6% van die stemme getrek het, wys die nuutste peiling dat hy nou op 15% kan reken.

Luidens ’n ander peiling sien 66% van die gesamentlike Duitse bevolking regse radikalisme as ’n spesifiek Oos-Duitse probleem.

Tog is dié steun grotendeels beperk tot die ses deelstate wat vroeër die ou kommunistiese Oos-Duitsland beslaan het. Die peilings wys ook dat die AfD in Sakse 25% van die stemme sal behaal indien ’n deelstaatverkiesing nou daar sou plaasvind. In byvoorbeeld die Wes-Duitse deelstate Hamburg en Nedersakse sou die AfD slegs 7% kry en in Rynland-Palts 8%.

Luidens ’n ander peiling sien 66% van die gesamentlike Duitse bevolking regse radikalisme as ’n spesifiek Oos-Duitse probleem.

Dat die toevloed van meer as ’n miljoen vlugtelinge in 2015-’16, meestal uit die deur oorlog geteisterde Sirië, ’n politieke, maatskaplike en ekonomiese probleem geskep het, is ’n feit soos ’n koei. Maar, hoofsaaklik weens bondskanselier Angela Merkel se ooreenkoms met Turkye om die vlugtelinge teen betaling dáár te hou het die stroom sedertdien nagenoeg opgedroog.

Gekoppel met die feit dat die aantal immigrante in stede soos Chemnitz verwaarloosbaar klein is, kan die vlugtelingprobleem, objektief gesproke, nie vir die woede van soveel inwoners verantwoordelik wees nie.

Die antwoord moet eerder by ’n kombinasie van twee ander faktore gesoek word.

Mense neem deel aan ’n stille protesoptog wat gereël is deur die regse Alternative für Deutschland (AfD) party. Hulle dra Duitse vlae en portrette van sogenaamde slagoffers van vlugtelingegeweld op 1 September in Chemnitz. Foto: Jens Schlueter/Getty

In die eerste plek moet daar besef word dat Wes- en Oos-Duitsland in die dekades tussen die verdeling net ná 1945 en die hereniging in 1990 duidelik uit mekaar gegroei het.

Onder die Duitsers is die liberale veelpartydemokrasie ’n relatief nuwe verskynsel. In die outoritêre keiserryk van voor 1918 het die voorwaardes vir die groei daarvan weliswaar ingang begin vind, maar dis toe in die kiem gesmoor deurdat die demokrasie van die Weimar-republiek gepaard gegaan het met die intense nasionale vernedering van die Vrede van Versailles.

Die chaotiese demokrasie van die jare 1918-’33 is opgevolg deur die totalitêre, maar populistiese Nazi-diktatuur, wat tot 1945 geduur het. Daarna is die Nazi-regering se plek in Oos-Duitsland naatloos gevul deur die ewe totalitêre kommunistiese diktatuur.

Die ingang van die demokrasie in Wes-Duitsland het ook nie probleemloos verloop nie. Peilings deur die jare heen wys dat die Wes-Duitsers pas in die loop van die sestigerjare werklik vir die demokrasie gewin is toe dit blyk dat die stelsel hulle ekonomies bevoordeel.

Angela Merkel, bondskanselier van Duitsland. Foto: Foto24

Party flankeer openlik met Nazisme

Teen 1990 was Wes-Duitsland ’n voorbeeldige liberale demokrasie, en sy grondwet het gedien as voorbeeld vir die Suid-Afrikaanse grondwet, waaroor daar toe onderhandel is.

Die kommunistiese diktatuur het die Nazi-misdade aan Wes-Duitsland toegeskryf.

In dié tydperk het die Wes-Duitsers ook die een skokkende onthulling ná die ander meegemaak oor die dramatiese omvang van die volksmoord op die Jode en die ekstreme wreedheid van die Nazi-diktatuur in die gebiede wat hy beset het.

Die Oos-Duitsers het daarvan ’n ronde nul ondervind. Die kommunistiese diktatuur het die Nazi-misdade aan Wes-Duitsland toegeskryf. Vir sover Nazi-misdade oopgevlek is, was dit net dié teen die destydse Duitse kommuniste.

Dis waarom die inwoners van die ses oostelike Duitse deelstate soveel affiniteit ervaar met die AfD, ’n party waarvan die regtervleuel openlik met die Nazisme flirteer.

Tweedens: Toe Duitsland in 1990 herenig is, was dit eintlik Wes-Duitsland wat die Ooste ingesluk het. Daar was geen sprake van twee gelykwaardige state wat saamsmelt nie.

Bowendien was Oos-Duitsland, sekerlik vergeleke met die weste, taamlik primitief. Die westerlinge het dikwels meewarig en geamuseerd op die oosterlinge neergekyk.

Omdat die insluk van die bankrot Oos-Duitse ekonomie die Weste as ’t ware spysverteringsprobleme gegee het, het Oos-Duitsers jare lank minder salaris vir soortgelyke werk as die mense in die Weste gekry.

Dit het begryplikerwys taamlike weersin veroorsaak.

Dit het gepaard gegaan met intense teleurstelling dat die “bloeiende landskappe” wat die destydse bondskanselier, Helmut Kohl, indertyd aan die Oos-Duitsers beloof het, lank nie bewaarheid is nie.

Inteendeel: Omdat die insluk van die bankrot Oos-Duitse ekonomie die Weste as ’t ware spysverteringsprobleme gegee het, het Oos-Duitsers jare lank minder salaris vir soortgelyke werk as die mense in die Weste gekry.

Dit alles het gemaak dat die Oos-Duitsers deur die jare ’n opgekropte woede opgebou het. Hul betreklik hoë steun vir die AfD is daarom bowenal ’n protesstem teen die Wes-Duitse establishment, wat die land steeds oorheers – en teen bondskanselier Angela Merkel, eweneens ’n Oos-Duitse vrou van wie hulle meen dat sy hulle in die steek gelaat het.

Duitsland is nie opeens op pad om weer ’n Hitler-staat te word nie. Maar die establishment sal ’n fout maak as hy die woede in die ooste negeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.