Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rooigety-party

Jaag die DA nou die EFF in die arms van die ANC, vra Jan-Jan Joubert.

EFF-lede verlede jaar in ’n optog by die Uniegebou. Foto: Alet Pretorius

Ná ’n paar weke van ongekende storm en drang in ons munisipale politiek waarin die trekpas twee uiteenlopende DA-metroburgemeesters – Solly Msimanga in Tshwane (Pretoria) en Athol Trollip in Nelson Mandelabaai (Port Elizabeth) – in die gesig gestaar het, val die klem opnuut op die rol van die party wat grootliks die mag van die opposisie na die ANC laat swaai het – die EFF.

Trollip – wat van die eerste dag van sy koalisieregering af die EFF getart en gehoon het – het polities gesneuwel, terwyl Msimanga oorleef het omdat die EFF eerder uitgestap het as om ’n ANC-mosie teen hom te steun. Dit was die volgende bedryf in die drama wat die manne en vroue in rooi op ons politiek losgelaat het sedert hulle in 2014 die parlement en in 2016 ons land se stadsrade betree het.

Wie is die EFF se kiesers? In watter dele van die land is hulle op hul swakste en sterkste? Wat is hul toekomsplanne en wie slaan die kitaar in hul geledere?

En wat is hul rol in die bekamping of bevordering van korrupsie?

’n Belangrike en interessante feit oor die EFF is dat hulle die enigste party buiten die ANC en die DA is wat groei van meer as twee persentasiepunte getoon het in hul tweede verkiesing in ’n demokratiese Suid-Afrika. Byna alle ander partye het ná hul debuut teruggesak, met die uitsondering van die ACDP, wat ’n tydelike opflikkering beleef het in 1999 voordat hulle ook die kreeftegang begin gaan het.

EFF-ondersteuners is oor die algemeen brandarm, al lei van die leiers blink klatergoud- lewens .

Daarteenoor het die EFF hul aandeel in die totale stempersentasie tussen 2014 en 2016 opgestoot van 6,35% tot 8,24%, en toon hulle in tussenverkiesings sedertdien gemiddeld ’n styging van ’n verdere ietwat meer as een persentasiepunt.

Die moeilikste aspek wanneer mens die EFF se steun probeer meet, is dat dit uiters ongelyk is – soos die outydse weervoorspellings dit sou stel, kom dit kol-kol voor (vergelyk die grafika hierby). Tot dusver het die EFF se steun op ’n bepaalde plek baie afgehang van unieke omstandighede soos ’n sterk plaaslike leier, ’n gebrek aan sterk plaaslike leiers vir ander partye sodat die EFF die vakuum kon vul of ’n spesifieke plaaslike katastrofe wat die EFF tot sy voordeel kon uitbuit.

Verlede week was daar volop beroering oor ’n peiling onder die vaandel van die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRV) waaruit dit blyk dat die EFF se steun selfs kan verdubbel in volgende jaar se verkiesing – waaroor Rapport op sy voorblad berig het. Terwyl dit op die oomblik metodologies die beste meningspeiling in die land is wat algemeen beskikbaar is, moet die foutmarge in ag geneem word.

Die foutmarge ontstaan omdat geen steekproef die werklikhede van ’n demokratiese verkiesing kan herskep nie, want die monster van die steekproef (die getal mense wat ondervra word) kan nie die gedrag van die miljoene Suid-Afrikaners wat op stemdag na die stembus stroom, presies voorspel nie. Wat die IRV-peiling betref, is die foutmarge landwyd ongeveer 3% (wat beteken die EFF kan kragtens die peiling se eie metodiek op ’n slegte dag so min soos 10% steun kry en op ’n goeie dag soveel soos 16%), en vir Gauteng is die foutmarge ’n volle 6%, wat eintlik ’n raps hoër is as wat verkieslik is.

In eenvoudige taal beteken dit ’n mens moet net onthou dat menslike gedrag uiteindelik van elke individu afhang en dus nie heeltemal voorspelbaar is nie, en dat partye se finansiële en mensehulpbronne, hul organisasie, verkiesingsboodskap en diensleweringsprestasie belangrike veranderlikes op stemdag is – veral in ’n proporsionele stelsel soos ons s’n.

Nietemin is die belangrikste bevinding van die IRV-peiling dat die EFF (en die IVP, en potensieel die DA) in ’n opwaartse kurwe is, terwyl die ANC se steun suid mik.

So waar kom die EFF se steun vandaan?

Wat die tipe gebied betref waarin die EFF goed vaar, is dit duidelik dat die noordelike binneland hul groenste weivelde is. In al vier die kusprovinsies trek hulle noustrop, en hulle is veral ongewild in gebiede waar die oorgrote meerderheid kiesers Zoeloe- of Afrikaanssprekend is.

EEF-steun

Dit is voorts baie duidelik dat die EFF sukkel om hond haaraf te maak onder die drie nasionale rasse-minderheidsgroepe – hul gewildheid by bruin, wit en Indiërkiesers is beroerd. Hulle vaar die beste in gebiede waar daar mynboubedrywighede is, soos die platinum­gordel van Noordwes, die mynboustreke in Limpopo, en die myndorpe van Gauteng, die Noord-Vrystaat en Mpumalanga se steenkoolvelde. Daar is ook sterk steun vir hulle uit die gebiede waar prominente EFF-leiers soos Julius Malema (Polokwane), Floyd Shivambu (die platteland van Limpopo) en Mbuyiseni Ndlozi (Vaaldriehoek) se wortels lê. Die EFF vaar voorts goed in studenteraadsverkiesings op universiteitskampusse, hoewel dit onduidelik is of dit buite die studentepolitiek op kampusse geld. Histories is kampussteun geen aanduiding van groter steun in latere verkiesings in Suid-Afrika nie.

Soek jy na die sterkste EFF-gebiede in elke provinsie om jou in te vestig, is dit vir die Oos-Kaap Stutterheim, Oos-Londen en Peddie, vir die Vrystaat Bothaville, Sasolburg en Zastron, vir Gauteng Carletonville, Vereeniging en Randfontein, vir KwaZulu-Natal Kokstad, Ixopo en Newcastle, vir Limpopo Polokwane, Lebowakgomo en Sekhukhuneland, vir Mpumalanga Siyabuswa, KwaMhlanga en Secunda, vir Noordwes Rustenburg, Madikwe en Koster, vir die Noord-Kaap Kgalagadi, Kuruman en Griekwastad, en vir die Wes-Kaap (maar dis regtig min) Stellenbosch, Ceres en Kaapstad.

Die gebiede met die kleinste persentasie EFF-steun in die Oos-Kaap is Humansdorp, Graaff-Reinet en Somerset-Oos, in die Vrystaat Vrede, Dealesville en Reitz, vir Gauteng Meyerton, Heidelberg en Johannesburg. In KwaZulu-Natal is dit Tugela Ferry, Nkandla en Maphumulo, in Limpopo Giyani, Vuwani en Louis Trichardt, in Mpumalanga Balfour, Standerton en Bosbokrand, in Noordwes Pomfret, Potchefstroom en Vryburg, vir die Noord-Kaap Port Nolloth, Calvinia en Pofadder, en in die Wes-Kaap Riversdal, Prins Albert en Laingsburg.

Die bewering word gereeld gemaak dat die EFF baie steun onder die ontluikende swart middelklas in veral Gauteng geniet. Dit is baie moeilik om empiries te bepaal omdat die swart middelklas in dieselfde gebiede as die res van die middelklas woon. Die EFF vaar oor die algemeen nie uitstekend in middelklasgebiede nie. Wat wel waar is, is dat alle beskikbare syfers en peilings toon dat die swart middelklas wegbeweeg van die ANC in ’n versplinteringsaksie wat alle opposisiepartye insluitend die EFF bevoordeel, met die sterkste opposisieparty in die spesifieke gebied wat die meeste van daardie stemme kry.

EFF-ondersteuners is oor die algemeen brandarm, al lei van die leiers blink klatergoud-lewens en al het die party sommige hoëprofiel-, skatryk ondersteuners. Dit maak die EFF kwesbaar vir die grille van groot skenkers waarvan nie almal altyd moreel ewe nastrewenswaardig is nie, en skep die gevaar dat sulke skenkers groot bedingingsmag in die party kan verkry.

Voorbeelde is die tabakmagnaat Adriano Mazzotti en die voormalige tronkvoël Gayton McKenzie. Dit maak dat hul kritici meen die party is kwesbaar vir korrupsie. Fluisteringe hieroor is tans meer volop as openbare harde bewyse. Dit is wel ’n feit dat Malema se prokureur, Joseph Mabuza, tans vir al hoe meer beskuldigdes in staatskapingsverwante sake optree, soos ook die EFF se nasionale voorsitter, die bekende adv. Dali Mpofu.

Soos enige groot politieke party is die EFF geen monoliet nie en hulle kan nogal regtig erg onder mekaar stry. ’n Verstommende syfer is dat meer as 60% van diegene wat vier jaar gelede vir die EFF tot die parlement verkies is, sedertdien geskors is of uit die parlement bedank het. Geen ander party het soveel opstuwing en onenigheid nie.

As leier van die EFF sit Malema met sy oorheersende persoonlikheid en vlymskerp, soms gewaagde taalvermoë stewig in die saal. Ander invloedryke leiers sluit Shivambu, Ndlozi, Godrich Gardee, Mpofu en Hlengiwe Mkhaliphi in.

Van daardie ses is Malema ongetwyfeld die gesig en simbool van die party. As dit van hom afgehang het, was die EFF se toekoms ongetwyfeld by die ANC eerder as die opposisie. Die ander vyf staan tot dusver veel nader aan die opposisie – nie dat sommige prominente DA-lede en -ondersteuners dit die afgelope jaar, veral sedert April, dit vir diesulkes maklik gemaak het nie met hul openbare populistiese stellings soos dat die EFF fasciste of ’n virus is.

Die meeste – hoewel nie almal nie – van hierdie tipe uitgesproke DA-lede is wit Engelse mans uit die kusprovinsies en Johannesburg.

Gewild soos hul aansprake onderling en vir sommige gehore is, het dit die wêreld ook bitter moeilik gemaak vir diegene in die DA en ander opposisiepartye wat ’n koalisie probeer vestig om die ANC uit die kussings en die opposisie in die regering te kry.

Sulke gedrag het oor die afgelope tyd bygedra tot die ontseteling van die DA uit leiersposte in Nelson Mandelabaai, met ander munisipaliteite wat moontlik kan volg.

In hierdie verband is dit belangrik om te weet dat die EFF die deur vir beleidsonderhandelinge met opposisiepartye nog altyd oopgehou het.

Dit is dalk tyd vir veral DA-ondersteuners om te vra of die uitgesproke vyandigheid waarmee sommige DA-leiers hierdie bereidheid veral die afgelope jaar hanteer het, in belang van DA-kiesers is, en of dit dalk die stompsinnige gedrag verteenwoordig van mense wat die EFF in die arms van die ANC dryf weens ’n gebrek aan opsies, tot nadeel van opposisiekiesers.

  • Jan-Jan Joubert is ’n politieke verslaggewer en skrywer van die boek Wie gaan regeer in 2019?
Meer oor:  Verkiesing  |  Ondersteuning  |  Eff
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.