Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rook jou sokkies

Dagga begin al hoe meer sosiaal aanvaarbaar word, maar dit beteken nie dat dit ’n kuur vir  ál jou probleme is nie, skryf Heinz Mödler.

Mense rook dagga in die Lowell Cafe in Hollywood, die eerste Amerikaanse restaurant waar die gebruik van dagga wettig is. Foto’s: Bloomberg

Dagga is hier om te bly. Of jy nou daarvan hou of nie, dit gaan nie sommer weer gereduseer word tot ’n onwettige sypaadjieproduk wat jy onder ’n lamppaal moet koop nie.

Jy hoef natuurlik nie meegesleur te raak deur die dagga-euforie wat tans hoogty onder Suid-Afrikaners vier nie. Jy het nog altyd die keuse om “nee” te sê. Vir mense met kinders op die skoolbanke is die saak dalk ingewikkelder. Daar is geen manier dat dagga nie jou kinders se paadjie gaan kruis nie. Die lysie onderwerpe waaroor jy openhartig en nie-verdoemend met jou kroos moet gesels, is dus besig om net langer en langer te raak.

En moenie vir een oomblik glo jou kinders gaan nie dagga probeer nie. Navorsing wys dat kinders deesdae dagga bo alkohol en sigarette verkies. Omtrent die helfte van kinders het al dagga probeer voordat hulle 16 jaar oud is. Moet dus nie ’n verdoemende vinger na jou buurvrou wys wanneer die soet walms van haar zol na jou oorspoel nie. Wat sinvoller is, is om haar toe te laat om haar jaarlikse oes in vrede op haar stoep te sit en rook, want wie weet, dalk kry jy een of ander siekte waarvoor dagga verligting kan bring.

                                                                              ***

Maar wat weet ons vandag alles van dagga? Daar is genoeg navorsing en toetse gedoen om met sekerheid te sê dat dagga nie die euwel is wat sedebewakers al die jare aan ons verkondig het nie. Dit is om die minste te sê, glad nie so gevaarlik en verslawend soos wat baie ander dwelmmiddels kan wees nie. Maar dagga dra ook nie ’n vlekkelose wit kleed nie. Dit ís verslawend indien dit vir lank genoeg gebruik word. Veral die dagga wat jy deesdae kry, want dit bevat baie meer aktiewe bestanddele as die zolle wat Jimi Hendrix op die Woodstock-verhoog gerook het.

Werkers versorg daggaplante in ’n kweekhuis in Skopje, Noord-Macedonië. Dié land plaas sy ekonomiese hoop op die medisinale daggabedryf.

Die rede hiervoor is dat daggaplante deesdae verbou word om die maksimum hoeveelheid aktiewe bestanddele moontlik te bevat. Wanneer dagga gekweek word om ’n high te veroorsaak, is alleen die vroulike plante van belang, want dit is slegs dié plant se blomme wat die aktiewe bestanddele, die kannabinoïede, in voldoende hoeveelhede vervaardig. Deur van die manlike plante ontslae te raak en sodoende bevrugting te verhoed, lewer die vroulike plant meer en meer kannabinoïede. Die rede hiervoor is dat die vroulike plant hoopvol bly dat bevrugting tog gaan plaasvind en dus groot hoeveelhede hars produseer. Die hars is die taai stof wat op die blomme gevind word wat veroorsaak dat stuifmeel vasklou en bevrugting plaasvind. Die hars bevat ook die kannabinoïede. Hoe meer hars, hoe meer kannabinoïede. Hierdie metode van kweking word die sinsemilla-metode genoem – afgelei van die Spaans “sin”, wat “niks” beteken en “semilla” vir “saad”.

Is dagga-olie die volgende vrotmelk­skema?

Dagga is veral gevaarlik wanneer kinders dagga baie jonk begin gebruik en daarvan ’n chroniese gewoonte maak. Anders as met volwassenes, is navorsers nog onseker of die nadelige uitwerking van dagga op kinders omkeerbaar is. Enige onderdrukkende uitwerking wat dagga op die volwasse brein het, blyk omkeerbaar te wees. Jy “herstel” dus nadat jy jou laaste zol doodgedruk het – al neem dit ’n paar weke of selfs maande. (Hierdie bevindinge strook met wat ons tans weet, maar dit kan natuurlik in die toekoms verander soos nuwe navorsing vorendag kom.)

Indien jy egter dagga van ’n baie jong ouderdom begin gebruik het, is volledige herstel nog onseker. Daggagebruik vir kinders is dus baie gevaarlik en sommige meen dit kan selfs tot ernstige geestesversteurings lei.

                                                                            ***

Op die oomblik is niemand egter baie gepla oor die nadelige uitwerking en gevare van dagga nie. Want oral waar jy kom, is dit die mediese voordele van dagga wat opgehemel word. Dagga-olies word oor die internet verkoop of in die gastekamer onder ligte verbou – nie net vir persoonlike gebruik nie (wettig), maar ook om te verkoop aan almal in pyn en lyding (onwettig).

En die wat nie self die olies gebruik nie, het groot planne om sakke vol geld te maak uit die verbouing van dié kruid om die leërskare siekes te genees.

Wat mens laat wonder: Is dagga-olie die volgende vrotmelkskema? Of ons pad na ewige rykdom en gesondheid?

Dagga word al vir duisende jare as ’n medisyne in Asië en die Nabye Ooste gebruik. Westerse dokters se paadjie het dagga s’n eers heelwat later gekruis, maar hulle was gou beïndruk deur die zol se helende kragte.

Ongelukkig het die psigotropiese effekte van kannabis die publiek bang gemaak en dagga is as ’n euwel verbied. Die medisinale eienskappe en die mode vir “natuurlike geneesmiddels” beteken egter dat daggamedisyne weer gewild word.

Die aktiewe bestanddele in dagga word die kannabinoïede genoem en daar is ’n hele klomp verskillende kannabinoïede aanwesig. Die kannabinoïed wat jou laat giggel is tetrahidrokannabinol (THC), maar hierdie psigotropiese kannabinoïed is ook verant-woordelik vir baie van die newe-effekte van dagga. En hoewel THC ook van medisinale waarde kan wees, is dit ’n ander kannabinoïed, kannabidiol (CBD), wat veral verantwoordelik is vir dagga se helende eienskappe.

Indien jy dagga van ’n baie jong ouderdom begin gebruik het, is volledige herstel nog in die weegskaal.

Daar is talle maniere om die helende kannabinoïede in jou lyf te kry. Jy kan die blare rook of vape. Jy kan CBD-olie oor die internet koop of binnekort sal jy jou dokter kan vra om vir jou ’n geregistreerde mediese produk voor te skryf. (Sodra sulke geregistreerde middels wettig hier beskikbaar is).

Indien jy seker wil maak jy koop ’n gehalteproduk, kan jy jou buurvrou vra om haar registrasiesertifikaat vir jou te wys, want kragtens die wet moet persone wat CBD-olie produseer en verkoop, geregistreer wees. Hierdie registrasie is belangrik, want dit bevestig gehaltebeheer en sorg dat jou aankoop dieselfde hoeveelheid CBD bevat as wat op die etiket aangedui word. Ook verhoed registrasie dat ’n produk meer CBD bevat as wat die owerhede voorskryf.

En dit is waar al die probleme begin. Die meeste CBD-olies wat gekoop word, word oor die internet bestel. Eerstens weet jy nie hoe die olie vervaardig is nie, want daar is verskillende metodes om die CBD uit die daggaplant te ekstraheer. Die maklikste metode is alkohol omdat die kannabinoïede oplosbaar in alkohol is. Maar hierdie metode word nie deur ingeligtes aanbeveel nie. Koolstofdioksied­ekstraksie (CO2-ekstraksie) word gereken as die beste metode. Indien jy glo wat vervaardigers op die etiket adverteer, is dit raadsaam om te lees hoe die CBD in die betrokke olie verkry is.

Dit is nou indien daar wel CBD in die olie is wat jy gekoop het. Of liewers, ten duurste aangekoop het. Indien jy ’n CBD-olie koop wat deur ’n farmaseutiese maatskappy vervaardig word, sal jy presies weet wat in die produk aanwesig is, maar ongelukkig geld hierdie gemoedsrus nie in die geval van baie van die olies wat die posman aflewer nie.

’n Jaar of wat gelede het ’n Europese navorser ’n handvol olies in Nederland aangekoop en gekyk of die inhoud dít wat op die etiket gedruk is, reflekteer. Die meeste van die olies het 80-100% minder CBD bevat as wat hulle beweer hulle aan jou verkoop. Sommige aankope het glad niks, zero, 0, niente, nada CBD bevat. Ook het van die olies wat nie veronderstel is om THC te bevat nie, wel THC bevat. Dit is onrusbarend, want so ’n gebruiker kan kla van ongewensde newe-effekte en euforie ervaar waarop hy glad nie voorbereid was nie!

Is dit omdat CBD-olies werklik doeltreffend is?

Wat ook nie op die etikette genoem word nie, is of die THC en CBD in die produk in die aktiewe vorm aanwesig is. THC en CBD word in die plant in die suurvorm aangetref, wat onaktief is. Voor hierdie kannabinoïede in die mens enige farmakologiese aktiwiteit kan hê, moet daar eers van die karboksielgroep, wat van die kannabinoïed ’n suur maak, ontslae geraak word. Hierdie proses staan as dekarboksilasie bekend en kan spontaan plaasvind tydens uitdroging, maar die proses is onvolledig en tydsaam. Die maklikste manier om dekarboksilasie teweeg te bring, is deur dagga te verbrand (pirolise). Dit is waarom dagga gerook word, want die verbranding sorg dat jy die aktiewe kannabinoïed inasem.

                                                                                  ***

Ten spyte van al die probleme blyk CBD nogtans ’n blitsverkoper te wees.

Is dit omdat CBD-olies werklik doeltreffend is?

Van die vernaamste siektetoestande waarvoor dit gebruik word, sluit in naarheid en braking geassosieer met chemoterapie, spierstyfheid in pa­siënte met veelvuldige sklerose, rare soorte epilepsie wat in kinders gevind word en vir uitgeteerde pasiënte wat graag gewig wil aansit.

Daar is nog baie ander mediese toestande waarvoor dagga voordelig kan wees, maar baie van die bewyse is anekdoties van aard of die navorsing nog nie duidelik nie. Daarby moet in gedagte gehou word dat baie van die siektetoestande waarvoor dagga kwansuis help, eers ’n verbetering toon wanneer hoë doserings van die kannabinoïede ingeneem word. Ongelukkig gaan sulke hoë doserings ook gepaard met onaanvaarbare newe-effekte. Dikwels is daar ander farmakologiese middels wat as alternatiewe gebruik kan word wat nie net veel beter presteer as dagga nie, maar ook minder newe-effekte het.

                                                                                 ***

Of is CBD-olie so gewild omdat sommige mense eenvoudig net meer ontvanklik is vir sulke terapie? Mense wat só oortuig is van hul saak dat hulle sommer onmiddellik beter voel ná ’n pyp?

Sulke kure is die gevolg van die sogenaamde plasebo-effek.

’n Plasebo (afgelei van die Latyn “ek sal tevrede/gelukkig hou) is ’n middel, soos ’n suikerpil, wat oor geen intrinsieke farmakologiese waarde beskik nie, maar tog ’n positiewe gevolg het wanneer dit geneem word om ’n spesifieke siektetoestand mee te behandel.

Dr. Heinz Mödler is skrywer van die boek ...en daar was dagga wat pas by Naledi verskyn het

Die plasebo-effek moet geensins onderskat word nie. In baie studies is al bewys dat tot 40%, en selfs meer, pasiënte beter word wanneer dokters ’n plasebo aan hulle voorskryf. Deels omdat hulle die verwagting koester dat die middel gaan werk, maar ook omdat sekere pasiënte dalk geneties vatbaar is vir die plasebo-effek.

Met die plasebo-effek glo pasiënte dat dit wat aan hulle voorgeskryf word, ’n farmakologies aktiewe stof is. Wanneer hulle vir ’n opvolgbesoek kom, voel die helfte van sulke pasiënte baie beter.

Maar hoekom net die helfte? Dit het dokters laat vermoed dat die plasebo-effek net vir sekere persone werk, terwyl ander “weerstandig” is. Albei glo tog dat die middel regtig gaan help, so waarom is sommige mense oënskynlik vatbaarder vir hierdie kullery as ander?

Die brein bevat endogene stowwe wat die brein self vervaardig wanneer pyn ervaar word of die gemoed dalk ’n bietjie af is.

Daar is ’n verskeidenheid van hierdie stowwe in die brein aanwesig en navorsers gebruik die werking van hierdie stowwe om medisyne te vervaardig wat die effekte van endogene stowwe kan naboots.

Dit is ook hoe dagga werk. Die kannabinoïede in dagga bind aan reseptore in die brein wat normaalweg deur die endogene kannabinoïede (endokannabinoïede) wat die brein self produseer, gestimuleer word.

Daar is heelwat voorbeelde van endogene stowwe wat die mens farmakologies naboots om medisyne, of dwelmmiddels, te vervaardig. Die belangrikste is dalk die endorfiene. Hierdie stowwe is die brein se natuurlike morfien en bind aan reseptore in die senuweestelsel om pyn te verlig. Morfien, wat deur die Papaver somniferum-plant, of in die laboratorium vervaardig word, bind ook aan hierdie reseptore. So ook die sintetiese produkte, soos petidien, wat aptekers vervaardig om pyn te verlig.

Wanneer jy byvoorbeeld ’n plasebo neem om jou pyn te verlig, is dit baie moontlik dat alleenlik die wete dat jy iets neem wat jou gaan help, genoeg is om voldoende endorfiene af te skei, om inderdaad jou pyn te verlig. Jy hoef dus nie verleë te voel dat ’n plasebo jou pyn verlig nie – jy voel werklik beter en verbeel jou nie. Danksy jou endorfiene.

Dokters het besef dat veral pasiënte wat van pyn, depressie en Parkinson se siekte kla, daarby baat vind wanneer plasebo’s aan hulle voorgeskryf word. Die pasiënte wat nie ’n positiewe respons toon nie, is dalk diegene wat in elk geval nie verwag het die pil gaan werk nie, of omdat hulle geneties “weerstandig” is teen die effekte van ’n plasebo. Dit is ’n redelik nuwe idee, maar navorsing het reeds bevestig dat sekere mense geneties vatbaarder is vir die plasebo-effek as ander.

                                                                                       ***

Hierdie verduideliking beteken nie dat dagga ’n plasebo is nie. Geensins. ’n Plasebo kan nie vir jou ’n high gee nie en dit kan ook nie dosisverwante newe-effekte veroorsaak nie. En ons weet reeds van heelwat mediese voordele wat dagga die mens kan bied. Die kannabinoïede in dagga bind immers aan dieselfde kannabinoïedreseptore in die brein waaraan die endokannabinoïede bind.

Maar dat dagga al jou skete gaan genees, jou huwelik gaan red en al jou finansiële probleme gaan oplos, is net so vergesog as dit wat op dr. Joshua se pamflet staan wat hy by die verkeerslig in jou hand stop.

Indien jy wel glo dagga gaan jou verlos van al jou pyne, skete, kankers, velprobleme, impotensie en algemene verdriet, is jy ’n plasebo-respondeerder by uitnemendheid.

* Dr. Heinz Mödler is ’n narkotiseur en skrywer van die boek Dagga, ’n biografie.

Meer oor:  Heinz Mödler  |  Dagga
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.