Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ruda Landman: ‘Dat ’n swart vrou nés my ma kon wees’

Die dag toe Ruda Landman besef het ’n swart vrou is nés haar ma, het haar ommekeer begin, skryf Jo Prins.

Ruda Landman: “As ek nou daaraan terugdink . . . dit was só een kultuur dat ek skoon verbaas is dat ek vandag in Johannesburg funksioneer.” Foto: Jo Prins

’n Mens vergeet hoe suksesvol die apartheidsprojek was.

Hoe allesomvattend die masjien se programmering was van die persoonlike, huislike vlak, tot deur die kerk, die ekonomie en natuurlik polities.

Dié besef kom die afgelope naweek weer by my op toe Ruda Landman op die maandelikse Ubudlelwano in Melville, Johannesburg gepraat het.

Ubudlelwano is ’n inisiatief om mense van verskillende kulture bymekaar te bring en mekaar op sosiale vlak – oor ’n bord kos en ’n glas wyn – beter te leer ken. Dis ook die begin van ’n gesprek dat ons uit ons onderskeie enklawes kan kom na die wie en wat van “die ander” – ons onderskeie stories.

Dit is om met mekaar te praat, ja. Maar dis veral ’n ruimte om te luister.

“Ek is in 1953 gebore in ’n Afrikaanse dorpie langs die Oranjerivier. Selfs die swart mense daar het nét Afrikaans gepraat.

Toe ek Ruda sowat twee weke gelede gekontak het om ons gas te wees, het sy gewoon gevra: “Nou wat sal ’n 60+-jarige wit vrou julle kan bied?”

Die antwoord, in kort, is: Baie.

’n Hele paar jaar gelede het Max du Preez in ’n praatjie op Aardklop in Potchefstroom gesê dis ondenkbaar dat mense nie geweet het wat werklik in die land aangaan nie.

Dit het daarop neergekom dat mense maar kop in die sand gedruk het en aangegaan het met ’n lewe en ’n stelsel wat hulle op alle vlakke bevoordeel het.

Ek onthou hoe die monde van my vrou en ’n vriendin van haar, wat ook in die gehoor was, soos visse oop- en toegegaan het.

Hoe ís dit dan dat hulle nie kón weet nie? Soos Max gesê het, dis skreiend.

En dis hier waar Ruda se verhaal nie net vir my nie, maar vir heelparty van die swart mense op Saterdag se byeenkoms insiggewend was.

Om ingewortelde rassisme te ‘ontleer’

“Ek is in 1953 gebore in ’n Afrikaanse dorpie langs die Oranjerivier. Selfs die swart mense daar het nét Afrikaans gepraat.

“As ek nou daaraan terugdink . . . dit was só een kultuur dat ek skoon verbaas is dat ek vandag in Johannesburg funksioneer,” het Ruda onder gelag gesê.

Die eerste tien jaar van die jong Landman se lewe het sy in ’n klein plekkie met die naam Hartswater grootgeword. Haar pa was die hoof van die (wit) Afrikaanse hoërskool en haar ma het rekeningkunde gegee.

“In die jaar toe ek tien geword het, het ons na Kaapstad verhuis. Toe die verhuisingsmaatskappy se vragmotor daar opdaag, was die bestuurder ’n bruin man.

“Hy was die eerste persoon van kleur wat ek in my lewe gehoor het wat my pa nie as ‘baas’ aangespreek het nie.”

Om ’n rassis te wees, is soos om ’n alkoholis te wees: Jy kan nooit sê jy is nie een nie . . .

Ruda het gevra waar sou daardie klein meisietjie ’n ander perspektief op haar realiteit kon kry?

“Dit was nie vir my ’n waardeoordeel dat swart mense die werkers was, arm en ongeskoold nie; dit was die realiteit wat ek om my waargeneem het.”

Dié realiteit, het Ruda gesê, is in haar bene ingewortel.

Maar om ’n rassis te wees, het sy vir Pieter-Dirk Uys geparafraseer, is soos om ’n alkoholis te wees: “Jy kan nooit sê jy is nie een nie . . . jy kan net sê ‘ek het nie vandag soos een opgetree nie’.”

“Dis soos om later in jou lewe ’n nuwe taal te leer, dit moet deur jou bewuste gaan (om die verandering teweeg te bring),” het Ruda gesê.

Maar hoe gemaak om dié realiteit ongedaan te maak? Om deur die ingewortelde rassisme te breek?

Jo Prins

Ruda het gesê sy moes dit doelbewus “ontleer”.

“Ek was 23 toe ek by Die Burger in Kaapstad begin werk het, dit was 1977. Ek het vir die vroueblad gewerk en moes ’n storie gaan doen oor ’n vrou wat ’n netballiga in ’n squatter camp bestuur.”

Vir dié jong verslaggewer van Die Burger was die squatter camp vreesaanjaend. Dit was asof die hele nedersetting een homogene duistere groep was met nie werklik enige individue nie . . . ménse.

“Ek het met my klein Cortina-bakkie daar ingery en hier was hierdie vrou in haar sinkhuisie. Maar binne was dit ongelooflik netjies: ’n houtvloer met linoleum bo-op, ’n klein, groen Formica-tafel, groen Formica-stoele en plastiekblomme.

“Sy het vir my tee gegee.”

En toe dié gewaarwording wat vir die jong Ruda ’n belangrike keerpunt in haar lewe was: Dié vrou is nés haar ma.

“Dat ’n swart vrou nes jou ma kon wees; dit was die begin van my ommekeer wat deur die jare keer op keer moes gebeur.”

* Die volgende Ubudlelwano is op Saterdag 4 Mei in Chiesa di Pazzo Lupi (4de Laan 38) in Melville, Johannesburg. Kom breek brood saam met ons. Kontak Prins by jprins@24.com of Melusi Tshabalala by melusi@studio214.org.

* Prins is ’n vryskut-joernalis van Johannesburg.

Meer oor:  Jo Prins  |  Ruda Landman  |  Max Du Preez  |  Apartheid  |  Rassisme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.