Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rugby se simboliese bydrae

Dit kom voor asof nasionale rugbybase meer daadwerklik verstaan dat rugby simbolies ’n bydrae maak tot die skep van ’n gesamentlike Suid-Afrikaanse identiteit, skryf Christi van der Westhuizen.

Jubelende Springbok-ondersteuners juig eergister die Springbokke toe tydens die rugby-wêreldkampioene se oorwinningstoer deur die strate van Pretoria, deel van ’n landwye toer.Foto: getty images

Francois Pienaar is reg as hy sê die historiese oorwinning van die Springbokke in die Rugbywêreldbeker-eindstryd ’n week gelede in Japan is belangriker as die triomf in 1995.

Reaksies onthul hoe die politieke dinamika van hierdie twee oomblikke ingrypend verskil. Die verskil weerspieël skuiwe in sosiale hiërargieë en ideologieë in Suid-Afrika – ook onverwags positiewe skuiwe.

Sommige plaaslike aanhangers van die sport hou daarvan om te ontken dat rugby enigiets met magsverhoudings uit te waai het.

Maar die werk van historici soos Albert Grundlingh wys hoe belangrik die elite-sportsoort van die begin af was vir die ontwikkeling van Afrikaner-identiteit as reaksie teen die Britte.

Die tentoonstelling van manlike strategie en krag in die vorm van rugby is aangegryp “to beat the English at their own game”.

Dit is dan ook letterlik wat weer eens verlede naweek met verstommende vernuf gebeur het.

Vir ’n groot gros Suid-Afrikaners – ook heelparty Afrikaners – is rugby simbolies van Afrikaner-mag se gruwelike fantasieë van rasse- en geslagsmeerderwaardigheid.

Die spel self word geassosieer met brute liggaamlike krag.

Reeds vanaf skoolvlak word dit gebruik om eerstens ’n hiërargie tussen mans en vroue te vestig, en tweedens ’n hiërargie onderling tussen mans.

Seuns wat nie rugby se manlikheidsmodel aangryp nie, trek aan die kortste end. Gay mans of mans met ongewone geslagsidentiteite loop die gevaar om gewelddadig gedissiplineer te word.

Om nie aan rugby deel te neem nie, suggereer dat jy nie konformeer tot ’n spesifieke dominerende, heteroseksuele vorm van manlikheid nie.

Rugby werk dus as ’n meganisme om van vroeg af manlike konformisme by seuns in te dril.

Groeiende positiewe reaksie

Dit blyk uit reaksies op sosiale media in die aanloop tot die eindstryd en ook daarna dat mense wat gewoonlik rugby om al dié redes vermy, ongekende belangstelling in minstens die Wêreldbekertoernooi getoon het.

Die rasse-transformasie van rugby, hoewel steeds te stadig volgens baie, bring ’n diversiteit van ervarings op die veld.

Behalwe ras beteken dit ook ’n groter verskeidenheid van klas- en kulturele agtergronde. Dit maak ook die deur oop vir meer seksuele en geslagsverskeidenheid, iets wat ook aangehelp word deur groeiende vrouerugby.

Rassie Erasmus, die Bokke se afrigter, het meer swart Springbokke as vantevore vir die Wêreldbeker-groep gekies: 11 uit 31.

Hoewel die oorhoofse teiken van 45% swart Springbokke nie gehaal is nie, is die 39% wat wel behaal is, beduidend.

Die slim slagspreuk #Stronger-Together het van die begin af aandag op die ras- en kulturele verskeidenheid van die span gevestig.

Die dra van die Springbok-rugbytrui deur swart en wit lede van die publiek gedurende die Wêreldbeker-toernooi het ’n groeiende positiewe reaksie op rugby gewys.

Dit kom voor asof nasionale rugbybase meer daadwerklik verstaan dat rugby simbolies ’n bydrae maak tot die skep van ’n gesamentlike Suid-Afrikaanse identiteit vandag – juis deur te demonstreer dat alles gedoen word om die eksklusiwiteit van die verlede te oorkom.

As rugby-aanhangers wil hê hul sport moet floreer, moet hulle dié werklikheid aangryp – en dit lyk asof die besluitnemers dit wel meer begin doen.

Die moontlikheid van rugby om ’n belangrike rol te speel om Suid-Afrikaners saam te snoer, mits dit verder transformeer, is paradoksaal deur die teenreaksie van swart nasionaliste bewys.

Siya se rol en Ndlozi se reaksie

Die keuse van Siya Kolisi as kaptein was dus ook vindingryk.

Hy beliggaam die verandering wat rugby as sport moet ondergaan – oorspronklik uit ’n arm agtergrond in Zwide, Port Elizabeth, het sy talent die aandag van die keurders van Grey High School se rugby-ontwikkelingsprogram getrek.

’n Alumni-beurs het hom in staat gestel om die elite-skool by te woon, en te groei tot die rugbyreus wat hy vandag is. Daarmee saam wys sy opmerkings ná die eindstryd dat hy die simboliek van die oomblik uitstekend begryp het.

Al hierdie faktore, en dan ook pres. Cyril Ramaphosa se hoopvolle boodskap voor die tyd, het die oorwinning net soveel te meer simboliese impak gegee.

Suid-Afrikaners is voos van al die krisisse, en hier was uiteindelik ’n klein ligpunt wat ons aan ons eie potensiaal herinner het, en ook aan wat ons al vermag het.

Die moontlikheid van rugby om ’n belangrike rol te speel om Suid-Afrikaners saam te snoer, mits dit verder transformeer, is paradoksaal deur die teenreaksie van swart nasionaliste bewys.

Die EFF se Mbuyiseni Ndlozi het hard probeer om op Twitter die diskoers wég van nasionale eenheid te swaai.

Kolisi wat die beker omhoog hou, omring deur sy veelrassige span, is nié ’n voorbeeld van rasse-eenheid nie, maar van “swart uitmuntendheid”, sê Ndlozi.

Hoekom, wonder ’n mens onwillekeurig, kan dit nie albei wees nie?

As die EFF se agenda werklik is om voortdurende rasgegronde ekonomiese ongeregtigheid ongedaan te maak, hoekom die skrapse, maar steeds toenemende voorbeelde ontken waar dit wél gebeur?

Ook op Twitter was daar diegene wat Kolisi uitgesonder het as ’n rare verskynsel wat net moontlik is omdat hy “geassimileer” het tot die Engelssprekende wit manlike kultuur van Grey High School.

Die omstredenheid oor haarstyle ’n paar jaar gelede het die kollig laat val op die probleem van gedwonge assimilering by elite-skole.

Inklusiewe kulture moet by skole geskep word. Maar ’n ondertoon in die kritiek blyk te wees dat individuele uitmuntendheid nie gevier of beloon moet word nie.

Van die Twitterati het gekla dat Kolisi net ’n produk is van ’n stelsel wat “assimileerbare” swart rugbyspelers kies en die groter meerderheid swart rugbyspelers aan hul lot oorlaat.

Hetero-seksisme het ook in kommentare oor sy wit vrou kop uitgesteek.

Die uiters talentvolle Makazole Mapimpi word opvallend nié genoem nie, sekerlik omdat hy nie via die elite-roete gekom het nie. Dit suggereer afguns oor spesifiek Kolisi se suksesse.

Hoewel die algemene toeganklikheid van sportkodes aansienlik verbeter moet word deur die verskaffing van sportgeriewe by histories swart skole, is daar ’n elite-aspek aan sport wat onvermydelik is.

In een twiet is gekla dat Kolisi net “posture”, soos die voormalige DA-leier Mmusi Maimane.

Dit blyk dat sommige mense nog moet uitwerk wat dit beteken as meer en meer swart Suid-Afrikaners presteer.

Intussen kan ’n mens met vertroue sê dat dit onmoontlik is om voor te gee dat jy een van die nommereen-sportmanne ter wêreld is.

En dit as deel van die mees geïntegreerde Springbok-span tot nog toe, ten spyte van ’n nasionale krisis en algemene moedeloosheid.

  • Moenie misloop nie: Kry Maandag jou spesiale uitgawe van Die Burger wanneer die Springbokke met die beker in Kaapstad kom pronk.

Van der Westhuizen is medeprofessor by die sentrum vir die bevordering van nierassigheid en demokrasie, Nelson Mandela-Universiteit.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.