Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Ruk en pluk op die Puk

Die PUK – deesdae die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit – sou vanjaar 150 jaar oud gewees het. Izak Malherbe vertel van ’n tyd toe die vreedsame kampus aan die Mooirivier ’n oorlogsone was.

’n Paar van die 26 beseerde Pukke nadat hulle uit die hospitaal ontslaan is.

Dit is vanjaar anderhalf eeu gelede dat die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, kortweg bekend as die PUK, tot stand gekom het, en anderhalf dekade sedert dié universiteit omvorm is tot die Potchefstroomkampus van die nuutgestigte Noordwes-Universiteit (NWU).

Die PUK se ontstaan het saamgeval met die stigting van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (die Dopperkerk) se teologiese skool op 29 November 1869 op Burgersdorp in die destydse Brits beheerde Kaapkolonie.

Benewens teologie-vakke is kursusse aangebied in Nederlands, Latyn, Grieks, Hebreeus, logika, wiskunde, natuurkunde, metafisika, geskiedenis en aardrykskunde.

In 1905 het die teologiese skool en sy liturgiese departement na Potchefstroom in die destydse Transvaal verskuif. Albei het in die daaropvolgende dekades gedaante- en naamsveranderinge ondergaan. In 1951 is die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys (PU vir CHO) deur wetgewing as ’n onafhanklike universiteit erken. In dié hoedanigheid is die PUK in 2004 in die NWU opgeneem.

Onvrede was altyd sluimerend op die kampus.

Vroeër vanjaar het die NWU-bestuur aangekondig dat hy nie sy voorganger se geboorte 150 jaar gelede amptelik gaan herdenk nie. Die fakulteit teologie het wel die geleentheid gevier.

Die PUK het hom altyd vereenselwig met Afrikanernasionalisme – Afrikaners se strewe na vryheid van oorheersing, onafhanklikheid en ’n eie republiek.

Onvrede en wederstrewigheid was gevolglik maar altyd sluimerend op die kampus. Veral in tye van oorlog het die gevoelens soms hoog geloop.

Met die uitbreek van die Eerste Wêreldoorlog tussen die Geallieerdes (waaronder die Britse Ryk) en die Sentrale moondhede (waaronder die Duitse Ryk) was die Afrikaners steeds verbitterd oor die verwoestende Anglo-Boereoorlog.

As dominium was Suid-Afrika ’n bondgenoot van Brittanje in die oorlog. Die PUK was egter anti-Brits en is beskou as ’n rebelle-nes wat met die vyand heul. Uitdagende en uittartende voorvalle tussen soldate en studente het gereeld voorgekom.

Op ’n dag het ’n gerug geloop dat soldate die kampus gaan aanval. Die studente het hulle inderhaas voorberei om hulself te verdedig. Tussen hul wapens was ’n paar gewere, asook pikstele, fiets­kettings, ysterpale, katelpote en knopkieries.

Koshuisbewoners wie se eetsaal in die aanval verwoes is, geniet ’n buitelug-ete.

Die verwagte aanval het egter nie plaasgevind nie. ’n Kwarteeu later tydens die Tweede Wêreldoorlog het sake egter heeltemal anders verloop.

Met die uitbreek van dié oorlog tussen die Geallieerdes (waaronder Brittanje) en die Spilmoondhede (waaronder Duitsland) in 1939 het die Suid-Afrikaanse parlement besluit om nie neutraal te bly nie, maar Brittanje te steun.

Vir baie Afrikaners was dit onaanvaarbaar. Die Besembos, die destydse studentekoerant, het geskryf die besluit beteken “ons moet ons enigste buitelandse vyand ondersteun!”. In ’n redaksionele artikel is uitgespel dat die PUK nie die parlement se “onregbesluit” kan onderskryf nie.

Relletjies tussen studente en soldate waarin die vuiste geklap het, het gereeld voorgekom. Van die dosente en ’n student is geïnterneer.

Die gemoedere het op Woensdag 7 Augustus 1940 oorgekook.

’n Artilleris is die Woensdagmiddag met ’n gebreekte been na die hospitaal in die militêre kamp digby die universiteit gebring. Daar is vertel dat ’n groep Pukke sy been opsetlik op twee plekke gebreek het.

’n Tweede gerug is dieselfde middag in die kamp versprei. Daarvolgens het studente ’n beuelblaser wat twee dae tevore ’n makker se begrafnis bygewoon het, aangeval en sy neus gebreek.

Die soldate was woedend. As die owerhede nie sake kan regstel nie, sal hulle dit self doen, het sowat 500 van die 7 000 soldate in die kamp besluit.

’n Reuse-hamer en ander wapens wat deur die soldate op die kampus agtergelaat is.

Daardie aand omstreeks 19:00 het tussen 200 en 300 niksvermoedende studente in die studentesaal liedjies geoefen vir die komende naweek se intervarsity teen die Universiteit van Pretoria.

Die saal was ’n lang, smal sinkgeboutjie met rye vensters aan weerskante. Skielik het Piet Malan, ’n student en later Springbok-rugbyspeler, die saal ingestorm en uitgeroep: “Hier kom die soldate! Honderde van hulle is voor die hoofgebou!”

Oomblikke later het klippe en stokke die rye vensters in skerwe laat spat. Skreeuende soldate het vensterrame uitgeruk en by die deure ingebars om die studente in die hande te kry.

Die studente moes hulself met hul kaal hande teen enige denkbare slaanding verdedig. Terselfdertyd moes hulle die sowat 40 vrouestudente uit die saal probeer kry.

In die geveg van 15 tot 20 minute kon die studente niks teen die oorweldigende aantal soldate uitrig nie. Byna al die stoele in die saal en ook die klavier en ander orkesinstrumente op die verhoog is verwoes.

Die fietse buite die saal is almal vernietig. Die wiele is inmekaargebuig en die rame is stukkend geslaan.

Van die saal af het die soldate na die nabygeleë manskoshuis Heimat beweeg. By dié tweeverdiepinggebou was ook ’n paar tydelike kamertjies – bekend as die “spelonke” – waarin studente gewoon het.

In Heimat was ’n klompie studente wat van die saal na die koshuis gehardloop het om die gebou te verdedig. Hulle kon nie die soldate uit die onderste verdieping weer nie.

Daar en in die “spelonke” het die soldate hul vernietigingswerk voortgesit.

In die eetkamer het alles deurgeloop – die vensters, tafels, stoele, breekware, skilderye, sportbekers.

In die slaapkamers is beddens gebreek, deure stukkend geskop, pos- en hoederakke en wasbakke uit die mure geruk, klere en boeke op die vloer rondgegooi.

Op die trappe na die boonste verdieping van die koshuis het die soldate hulle egter teen ’n muur van studente vasgeloop.

Die studente het die trappe met beddens versper en die traliewerk van die trappe geëlektrifiseer.

’n Soldaat wat dit te ver die trappe op gewaag het, is met ’n veertienpondgewig in die gesig gegooi. Hy het tussen sy makkers geval en hulle het saam op die vloer beland.

Met uitroepe van “Murder! Murder!” het die soldate uit Heimat padgegee. In dié stadium het offisiere van die kamp daar opgedaag. Hulle het die soldate bymekaargeroep en teruggestuur kamp toe.

Onder die soldate se wapens wat op die gevegsterrein opgetel is, was knopkieries waarom doringdraad gedraai is, staalpype, ysterbeslae pikstele en dergelike voorwerpe.

Die eetsaal was onbruikbaar. Inwoners van die dorp het tafels, stoele en eetgerei aan die koshuis geleen en vir die studente kos gemaak. Die naweek se intervarsity is ook afgestel weens die groot skade op die kampus.

Die regering het ’n kommissie aangestel om die aanval te ondersoek. Luidens die kommissie se verslag het 26 studente hospitaalbehandeling ontvang. Vier soldate is in die kamphospitaal opgeneem, terwyl een oorgeplaas is na ’n hospitaal in Johannesburg waar sy linkeroog verwyder is.

Die kommissie het die skade aan universiteitseiendom op minstens £700 gestel en die skade aan twee private motors op £150.

Die regering het die volle bedrag as skadevergoeding aan die PUK betaal.

  • Izak Malherbe is ’n oudjoernalis.
Meer oor:  Geskiedenis  |  Noordwes-Universiteit  |  Nwu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.