Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Rusland stewig op pad na diktatuur

Vandag is die finale dag in ’n week lange referendum in Rusland oor ’n nuwe grondwet wat van Rusland vir alle praktiese doeleindes ’n fascistiese diktatuur sal maak, skryf Leopold Scholtz.

Die Russiese pres. Wladimir Poetin gedurende ’n parade op die Rooiplein in Moskou om die 75ste herdenking van Rusland se oorwinning oor Nazi-Duitsland te vier. Links van hom is die minister van verdediging, Sergei Sjoigoe, en die opperbevelvoerder oor die grondmagte, Oleg Saljoekof. Foto: Mikhail Svetlov/Getty

Pres. Wladimir Poetin is nie ’n man wat van speletjies hou nie. Synde iemand wat sy politieke verstand as offisier in die Sowjetunie se meedoënlose geheime polisie, die KGB, gekry het, glo hy daaraan om die hoofprys – die politieke mag – te gryp en ten alle koste te behou.

Die nuwe grondwet waaroor Russiese kiesers in teorie die afgelope week in ’n referendum kon stem, moet Poetin se greep op die mag verstewig en formaliseer. Om dit behoorlik te begryp, moet ’n mens iets van die agtergrond weet.

In 1999 het die doodsiek (en meestal dronk) pres. Boris Jeltsin uit die bloute vir Poetin as premier aangestel. Poetin was toe hoof van die FSB, wat die KGB as geheime polisie opgevolg het.

Nog ’n militêre parade om Rusland se oorwinning oor Duitsland te vier op 24 Junie vanjaar voor die katedraal van St. Aleksander Newski in Wolgograd. Foto: Dmitry Rogulin\TASS via Getty Images

Poetin het onmiddellik gewys van watter stoffasie hy gemaak is. Binne enkele weke nadat hy premier geword het, het ’n reeks geheimsinnige bomontploffings in Moskou gevolg, wat Poetin dadelik op die brood van Tsjetsjeense afskeidingsgesindes gesmeer het.

’n Bloedige offensief om Tsjetsjnië in te neem, wat in dié stadium ’n selfregerende streek was, is van stapel gestuur. Dit het in sy hoofdoel geslaag, om Poetin se magsposisie te versterk, en kort daarna het Jeltsin bedank en Poetin in sy plek aangestel.

In die jare hierna het Poetin sy eie mag stelselmatig uitgebrei. Ná die twee termyne van vier jaar wat die grondwet hom as staatshoof toegelaat het, het hy tydelik plekke geruil met sy premier, Dmitri Medwedef, en ná nog vier jaar opnuut president geword.

’n Vrou stap verby ’n teken waarop staan “Ek het gestem” by die Moskou Internasionale Sakesentrum tydens die Russiese referendum. Foto: Mikhail Tereshchenko\TASS via Getty Images)

Verbod op gay huwelike

Omdat sy termyne terselfdertyd tot ses jaar uitgebrei is, beteken dit dat hy nou die septer tot 2024 kan swaai. Die nuwe grondwet waaroor tans gestem word, gee hom nóg twee termyne van ses jaar elk, sodat hy – altans as hy lank genoeg leef – tot 2036 aan die bewind kan bly. (Dit sal nie vir toekomstige presidente geld nie; net vir Poetin.)

Daar is géén kans dat Poetin die referendum kan verloor nie.

Die nuwe grondwet bevat ook ander opmerklike veranderings. Homoseksuele huwelike en aborsie word verbied. God en die Russies-Ortodokse Kerk word uitdruklik in die grondwet erken, dit verplig alle Russe om die land se geskiedenis te eer, daar is beloftes van hoër pensioene en minimum salarisse, en ’n verbod op dubbele burgerskap by hoë amptenare.

Daar is géén kans dat Poetin die referendum kan verloor nie. Die Poetin-bewind staan bekend vir die wyse waarop hy verkiesings manipuleer, en dae voor die einde van die referendum is die uitslag – 76% wat “ja” vir die wysigings stem – vir alle praktiese doeleindes reeds bekend gemaak.

Bowendien is die ruimte vir teenstanders van die grondwet-wysigings tot byna nul gereduseer. Hulle is grotendeels in die hoofstroom-media geïgnoreer, aldus die onafhanklike nie-regeringsorganisasie Golos.

Russiese nasionalisme

Prof. Sergey Radchenko, direkteur van die Cardiff-Universiteit se Skool vir Reg en Politiek (hy is ’n historikus wat veel oor die Koue Oorlog gepubliseer het), se oordeel is: “Dis natuurlik slegs ’n simboliese referendum, en aangesien die Russiese politieke stelsel bekend is vir wyd verspreide bedrog, staan die resultaat vas, ongeag wat die publiek dink.”

Hy sê anders as die tsaar, “wat aanspraak gemaak het op God se mandaat om oor Rusland te regeer, sien Poetin homself steeds as ’n ‘demokraat’; dus wil hy ’n wetlike meganisme hê om die voortsetting van sy heerskappy te legitimeer”.

Pres. Wladimir Poetin hou op 24 Junie ’n toespraak gedurende ’n militêre parade op die Rooiplein in Moskou om die oorwinning van Rusland oor Nazi-Duitsland te vier tydens die Tweede Wêreldoorlog. Foto: Alexei Nikolsky\TASS via Getty Images

In die proses het Poetin die Russiese nasionalisme tot histeriese hoogtes aangeblaas. Net ’n paar dae voor die stemmery is ’n yslike parade in Moskou gehou met duisende soldate, tenks, kanonne en vliegtuie om die USSR se oorwinning oor Nazi-Duitsland te gedenk.

Dat dié parade nie op 9 Mei – die dag van die Duitse kapitulasie – gehou is nie, maar vlak voor die referendum, dui daarop dat Poetin dit wou gebruik vir sy eie doeleindes.

’n Vrou besoek die Pad van Herinnerings-museumkompleks by die Katedraal van die Russiese Gewapende Magte in patriotpark in Koebinka. Foto: Valery Sharifulin\TASS via Getty Images

Mosaïek van Stalin

Ook in dié tyd is ’n nuwe kerk in Moskou voltooi, die Katedraal vir die Russiese Gewapende Magte, wat op twee na die grootste Russies-Ortodokse kerkgebou ter wêreld sal wees. Dis in ’n tipies Russiese styl gebou en lyk baie soos die Basilius-katedraal op die Rooiplein, net nog meer indrukwekkend.

Wat interessant is, is ’n yslike mosaïek in die kerk waar die kommunistiese diktator Josef Stalin lewensgroot uitgebeeld word. Daar was sprake dat Poetin self ook in die mosaïek sou wees, maar dit was selfs vir hom blykbaar te dik vir ’n daalder, en sy aanwesigheid is toe gekanselleer.

’n Standbeel van Wladimir Lenin wat opgerig is in Gelsenkirchen. Foto: ing Tang/NurPhoto via Getty Images

Hoe ook al, elders in die wêreld val die standbeelde van mense wat na die mening van sommige diktatoriaal of rassisties was. In Rusland word Stalin geëer, en op verskeie plekke word standbeelde vir Wladimir Lenin en Feliks Dzerzjinski, eerste hoof van die Tsjeka, die KGB/FSB se voorganger, weer opgerig.

Dis asof die Duitsers besluit om opnuut standbeelde van Adolf Hitler, Heinrich Himmler en Hermann Göring in die Tiergarten in Berlyn neer te sit.

Dat die Russies-Ortodokse Kerk dit alles goedkeur, wys hoe dié kerk opnuut ’n staatsinstrument geword het. Leonid Kalinin, ’n priester wat voorsitter is van die kerk se kunskomitee, se standpunt is: “Hierdie beeltenisse is absoluut gepas en reflekteer ’n historiese waarheid waaruit bladsye nie na willekeur geskeur kan word nie.”

Plakkate van Georgi Zjoekof, Josef Stalin en Konstantin Rokossowski op GAZ M-1-voertuie gedurende nog ’n viering van Rusland se oorwinning oor Nazi-Duitsland in Wolgograd. Foto: Dmitry Rogulin\TASS via Getty Images

Dít oor mense wat die Christelike godsdiens prakties verbied en Christene gruwelik vervolg het.

Nietemin het die onafhanklike Lewada-Instituut in ’n peiling bevind dat 70% van die Russe Stalin se rol in die geskiedenis – waarby hulle veral aan sy oorwinning oor Nazi-Duitsland dink – goedkeur. Die meeste weet maar min van sy diktatuur, konsentrasiekampe en grootskaalse massamoorde.

Leopold ScholtzFoto: Verskaf

’n Fascistiese staat

Dit was al die geval, maar met die jongste wysigings aan die grondwet word dit eintlik geformaliseer: Rusland is nou ’n staat wat met die beste wil ter wêreld nie anders as fascisties genoem kan word nie. Die stelsel voldoen aan al die vereistes wat historici en politieke wetenskaplikes daarvoor stel – histeriese nasionalisme, aanbidding van die eie kultuur en geskiedenis, ’n haat vir ander volke, vervolging van andersdenkendes, die afdwing van die staatsideologie tot in alle uithoeke van die samelewing, en ’n persoonlikheidskultus vir die leier (in Duitsland is hy genoem Der Führer, in Italië Il Duce, en in die USSR die Vozjd, maar dis eintlik maar dieselfde ding).

Kan die Weste hom stop?

Rusland is weliswaar veel minder sterk as die ou USSR. Maar Poetin is ’n takties briljante skaakspeler: Hy sit en wag totdat hy ’n gaping sien, en dan vát hy hom.

Dis wat hy in 2014 met sy inname van die Krim en sy aanstook van burgeroorlog in Oos-Oekraïne gedoen het. Dis wat hy weer met die Baltiese republieke kan doen as hy die ruimte daarvoor kry.

Kan die Weste hom stop? Solank ’n president in die Withuis sit wat hom in alle opsigte sy sin gee, is die antwoord nee.

• Scholtz is ’n onafhanklike kommentator wat in Nederland woon.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.