Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Russe fop VSA toe wel

Fopnuus het ’n belangrike rol gespeel om ’n hupstoot aan Donald Trump se kiesveldtog te gee, luidens ’n verslag van die Amerikaanse nasionale intelligensieraad, skryf Leopold Scholtz.

’n Mens kan van pres. Wladimir Poetin van Rusland sê wat jy wil, maar jy sal ver moet gaan om ’n meer gewetenlose en intelligente staatsman as hy te kry. In 2016 het hy beduidend daartoe bygedra dat Donald Trump in die Withuis beland het; verlede jaar wou hy dit weer doen.

Altans, tot dié gevolgtrekking kom die Amerikaanse nasionale intelligensieraad in ’n verslag wat pas op versoek van Trump se opvolger, pres. Joe Biden, opgestel is. In dié liggaam word verskeie onderafdelings van die intelligensiegemeenskap – die CIA, FBI, NSA, militêre inligting ensovoorts – saamgevoeg met die taak om op gegewe tye internasionale neigings en die moontlike invloed daarvan op Amerika te bekyk.

Die verslag van 15 bladsye is opgestel onder verantwoordelikheid van die intelligensieraad se voorsitter, Neil Wiley, wat deur Trump self in dié pos aangestel is en 35 jaar se ervaring in intelligensiewerk het.

Poetin het fopnuus-operasies laat uitvoer om Joe Biden swart te smeer.

Die verslag bevat vyf hoofgevolgtrekkings:

  • Daar is geen aanduidings dat enige “buitelandse akteur” ’n poging aangewend het om enige tegniese aspek van die stemmery – soos kiesersregistrasie, die uitbring en tel van stemme, of die bekendmaking van die uitslae – te manipuleer nie. Wat wel gebeur het, is dat Rusland en Iran fopnuus oor die akkuraatheid van die kiesstelsel versprei het om die openbare vertroue in die proses en uitslag te ondermyn;
  • Poetin het ’n hele reeks Russiese staatsinstellings gemagtig om fopnuus-operasies uit te voer wat gemik was op die swartsmeer van Joe Biden se kandidatuur en die Demokratiese Party, om die vertroue in die kiesproses te ondermyn en die politieke teenstellings in Amerika te vergroot. Dit het ingesluit die “uitlek” van misleidende of onbevestigde bewerings teen Biden aan Amerikaanse media en prominente individue, onder wie sommige wat na aan Trump en sy regering gestaan het;
  • Ook Iran het ’n rol gespeel, maar dít was juis om Trúmp se herverkiesingskanse te ondermyn. Ajatolla Ali Chamenei, Iran se religieuse leier, het persoonlik toestemming hiervoor gegee;
  • China het stappe oorweeg om Trump se herverkiesing te ondermyn, maar uiteindelik daarteen besluit. Dié land het stabiliteit in sy betrekkinge met Amerika nagestreef. Sy gevolgtrekking was dat dit sy eie belange te veel sou skaad as hy uitgevang word en dat dit uit sy eie oogpunt vinkel en koljander is wie ook al wen.
  • Ten slotte: ’n hele reeks buitelandse akteurs het in mindere of meerdere mate stappe gedoen om die verkiesing te beïnvloed. Dit sluit in die Libanese beweging Hisbolla, die Kubaanse regering en Venezuela. Dié pogings was egter beperk en het nie veel sukses behaal nie.

Wat Rusland betref: dié land het al in 2014 begin met ’n misleidingsoperasie waarin “korrupte bande tussen Biden, sy familie en ander Amerikaanse amptenare en Oekraïne” verkondig is. Dit het op voldoende afstand van die Moskouse regering gebeur om “geloofwaardige ontkenning” moontlik te maak en is met hernieude ywer in 2020 voortgesit.

Onder meer word die name genoem van Andreii Derkatsj, ’n Oekraïnse parlementslid, en Konstantin Kilimnik, wat bloot as ’n “Russiese beïnvloedingsagent” beskryf word. Hulle het “materiaal” verskaf aan Amerikaners met bande met die Trump-administrasie en vier (glo misleidend geredigeerde) stemopnames uitgereik om Biden aan korrupsie in die Oekraïne te koppel.

Geen name van bogenoemde “Amerikaners” word genoem nie, maar media soos The New York Times, The Washington Post en Newsweek gis dat daarmee bedoel word Trump se boesem­vriend en regsverteenwoordiger Rudy Giuliani.

Wat ook van belang is, is dié sin: “Selfs ná die verkiesing het Russiese aanlyn beïnvloeders voortgegaan om narratiewe te bevorder waarin die verkiesingsuitslae bevraagteken en Biden en die Demokratiese Party verkleineer is.” Dit was soortgelyk aan planne om dieselfde te doen ná die verwagte oorwinning van Hillary Clinton in 2016, maar wat toe om begryplike redes nie uitgevoer is nie.

Die verslag bevat die mees omvattende samevatting van Rusland se pogings om die verkiesingsuitslag ten gunste van Trump te beïnvloed. Die verslag gaan nie spesifiek in op Trump se bewerings oor Biden-hulle se verkiesingsbedrog nie, maar dis duidelik dat – altans in die oë van die intelligensiegemeenskap – die fopnuus nie uit die Biden-rigting afkomstig was nie, maar uit die Trump-kamp met hul boodskap dat die verkiesing “gesteel” is.

Iemand wat nogal geskaad uit die affêre kan kom, is Giuliani. Reeds in 2019 het Robert O’Brien, Trump se destydse nasionale veiligheidsraadgewer, Trump gewaarsku dat Russiese spioene sy vriend as ’n kommunikasiekanaal vir fopnuus gebruik, maar Trump wou dit nie glo nie.

Dis bekend dat Giuliani en Derkatsj, wat prominent in die verslag genoem word, mekaar gereeld raadpleeg.

Nog ’n Amerikaanse naam wat nie in die verslag genoem word nie maar wat deur verskeie media betrek word, is dié van Paul Manafort. Sy noue bande met Derkatsj en Kilimnik, wat veral gedurende die 2016-verkiesing belangrik was, is in detail uiteengesit in die verslag van ’n gekose Amerikaanse senaatskomitee oor Russiese inmenging in 2016.

In die verslag van die spesiale ondersoeker Robert Mueller, gewese hoof van die FBI, na beweerde samespanning tussen Rusland en die Trump-veldtog in 2016 het Mueller gesê die Russe hét destyds ten gunste van Trump ingemeng.

Trump self het die Russe in die openbaar aangemoedig om Hillary Clinton se e-posse te onderskep, en sy seun het gesê hy sou graag “smerigheid” oor Clinton van die Russe ontvang.

Uiteindelik kon nie bewys word dat Trump aktief met die Russe saamgespan het nie, maar verskeie Trump-bondgenote is skuldig bevind aan die vertel van leuens oor hul kontak met die Russe.

Die direkteur van nasionale intelligensie, Avril Haines, se kommentaar was vandeesweek dat buitelandse skadelike invloed “ ’n voortdurende uitdaging vir ons land is. Dié pogings van Amerikaanse teenstanders probeer verdeling vererger en die vertroue in ons demokratiese instellings ondermyn”.

Rusland het, soos verwag is, blitsvinnig alles ontken. In ’n verklaring het die Russiese ambassade in Wash­ington gesê die gevolgtrekkings in die verslag berus “uitsluitend op die vertroue van die intelligensiedienste in hul eie onfeilbaarheid. Geen feite of spesifieke getuienis is aangevoer nie”.

Die verwagting is dat Amerika in die week wat kom sanksies van die een of ander aard teen Moskou kan aankondig.

Eintlik moet niks van dit alles ’n mens verbaas nie.

Die wêreld van internasionale diplomasie word meestal deur ’n dik rookwolk bedek. Bo-op lyk alles vreedsaam en in orde; onder die wolk maal en kook dit soos lande mekaar bespioeneer, vertroulike inligting lospeuter of die politieke klimaat probeer beïnvloed.

Dit is al eeue lank die geval. Selfs tussen noue bondgenote soos Amerika en Brittanje gebeur dit, sy dit slegs in beperkte mate. Dit sal ongetwyfeld nog eeue lank so voortgaan.

* Dr. Leopold Scholtz is ’n onafhanklike politieke ontleder.

Meer oor:  Donald Trump  |  Wladimir Poetin  |  Vsa  |  Fopnuus  |  Amerikaanse Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.