Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Russe op SA drumpel

Russiese huursoldate is tans gewikkel in ’n verlore stryd met militante Islamitiese vegters in die noorde van Mosambiek, skryf Al Venter.

Lede van die Wagner-groep, Poetin se persoonlike leër, reg vir aksie. Foto’s: Al Venter-versameling

In ’n “oornagrevolusie” wat baie mense onkant gevang het, het ’n Islamitiese terreurgroep met sterk bande met Al-Kaïda nou nesgeskop in ’n afgeleë uithoek van suidelike Afrika.

Die gevolg is dat Suid-Afrika se buurland nou vir die derde keer die afgelope halfeeu deur ’n burgeroorlog in die gesig gestaar word wat dreig om die land te verswelg. Maar anders as die vorige konflikte, betrek hierdie een ’n redelike groot en uiters goed georganiseerde Islamitiese mag met noue bande met Somalië se Al-Sjabaab. Die afgelope drie jaar is daar reeds meer as 300 terreuraanvalle aangemeld waarin amper 500 mense omgekom het.

As niks gedoen word nie, kan so ’n konflik die stabiliteit van die hele subkontinent bedreig.

‘Konflik kan die stabiliteit van die hele subkontinent bedreig.’

In ’n desperate stap – en nadat hy herhaaldelik Suid-Afrikaanse hulp van die hand gewys het – het die Mosambiekse president, Filipe Nyusi, hom nou tot Rusland gewend in ’n poging om die insypeling onder bedwang te bring. Die gevolg is dat die Russiese Wagner-groep, ’n Russiese privaat mag wat besit word deur ’n protégé van pres. Wladimir Poetin, in September in die gebied aangekom het.

Nie lank nie, of hul basis was die teiken van ’n terreuraanval deur ’n groep wat amptelik bekend staan ??as Ahloe Soennah Wal-Djama, ’n naam wat dikwels deur die Soennitiese djihadistiese groepe gebruik word. Dit blyk nou die Wagner-operateurs het die sterkte en die vermoëns van hul guerrilla-teëstanders sleg onderskat. Die terreurgroepe is reeds goed ingegrawe en het tot op hede alle pogings van die Mosambiekse weermag om hulle uit te rook, afgeslaan met goed voorbereide hinderlae en aanvalle op hul basisse.

Nie dat die Russe (wat deur The Times in Londen beskryf word as Poetin se “private leër wat sonder reëls veg”) onvoorbereid gekom het nie. Die mag, wat tussen 200 en 300 man sterk is, het goeie lugondersteuning in die vorm van Mi-17-helikopters sowel as die Mi-24-aanvalshelikopter en tegnologies gesofistikeerde hulpmiddels soos hommeltuie.

Russiese huursoldate tydens gevegte in die noorde van Mosambiek.

Tog het dié moderne wapens en hul uitgebreide militêre ondervinding in plekke soos Sirië, Libië en die Sentraal-Afrikaanse Republiek die Russe niks gehelp nie. Nadat hulle self in ’n paar hinderlae gelei is (waarin bykans ’n dosyn van hulle gesneuwel het) het die groep nou “strategies teruggeval” na hul hoofkwartier in Nacala, Mosambiek se grootste noordelike hawestad, sowat 1 500 km noordoos van Musina.

Daar, glo ontleders, is hulle besig om nuwe planne te bedink om met die Islamitiese terroriste af te reken – weer sonder die hulp van dié weermag wat die beste geplaas is om hulle te help: Suid-Afrika. Die konsensus is dat hulle ook nie gou die opsie gaan aanvaar nie, aangesien Mosambiek die Wagner-groep ’n aansienlike aandeel in die gasbedryf in Mosambiek as betaling vir hul dienste beloof het.

Mosambiek se verre noordelike provinsie, Cabo Delgado, is die tuiste van ’n reeks gasprojekte waarin multinasionale energiemaatskappye beplan om tot soveel as $60 miljard te belê, een van die grootste beleggingsones in Afrika.

Vyand word sterker; Russe voel ‘geïsoleer en blootgestel’.

Ek was onlangs in die streek. In die noorde (anders as in Maputo) is dit alombekend dat die subtiele infiltrasie van Islamitiese militante oor die grens van Tanzanië al jare lank duur en dat niemand bereid was om dit te stuit nie. Nie dat dit vreeslik moeilik is om die grens oor te steek nie. Daar is miskien ’n halfdosyn kontrolepunte op ’n grens van digby die 1 000 km en ’n R100-noot is al wat nodig is om iemand te oorreed om jou met ’n makoro oor die Ruvuma-rivier te roei.

Die Russe se probleme word vererger deur die feit dat die meerderheid van die plaaslike bevolking nie bereid is om met ’n “goddelose, buitelandse mag” (soos wat ’n imam van die kusdorp Pemba hulle aan my beskryf het) saam te werk nie. Die mense hier glo dat die Russiese huursoldate probeer om die gebied te koloniseer – soos wat die Portugese in die verlede gedoen het. Die plaaslike stam, die Makonde, wat aan albei kante van die grens met Tanzanië bly, is ’n formidabele en strydlustige lot en het die koloniale Portugese ewe veel probleme besorg gedurende die nege jaar lange koloniale oorlog wat in 1963 begin het.

Die Makonde bejeën boonop die suide met agterdog, met die gevolg dat geen inligting oor rebellebasisse of die bewegings van guerrillas met die owerhede of die Russe gedeel word nie. Op hul beurt gee die inwoners aan die rebelle alle moontlike ondersteuning.

Die granietkoppies in die noorde van Mosambiek vorm ideale uitkykpunte waarvandaan guerrillas die omliggende bosse vir kilometers kan bespied.

Russiese betrokkenheid in die streek volg op ’n besoek van Nyusi aan Moskou verlede jaar waartydens verskeie militêre en ekonomiese samewerkingsooreenkomste gesluit is – insluitend moontlike energieprojekte vir Russiese beleggers. As deel van dié ooreenkoms moet die rebelle-opstand egter eers onderdruk word. En dit is die moeilike deel.

Die Russe se grootste struikelblok is dat die terrein heeltemal vreemd is vir hulle. Dit het gou gelei tot ’n reeks moeilike botsings met ’n vyand wat rotsoorhange, slote en waterkruisings tot hul voordeel gebruik om hinderlae te stel. Die Russe se samewerking met die Mosambiekse magte – wat ’n sterk, maar ondoeltreffende teenwoordigheid in die gebied het – laat ook veel te wense oor.

Soos wat dr. David Matsinhe, ’n kenner van die situasie in die Cabo Delgado dit stel: Daar is ’n ondergrondse ekonomie in die provinsie waarin die leër ’n belang het. As die Russe hierop inbreuk maak, sal die Mosambiekse bevelvoerders hulle probeer teengaan. Dis ook ’n welbekende feit dat Mosambiekse soldate se soldy dikwels in die sakke van hul bevelvoerders eindig.

Boonop, sê ’n Suid-Afrikaanse waarnemer wat al regstreeks met Mosambiek se militêre infrastruktuur te doen gehad het, is dié land se leër ’n vertoiingde mag wat jare sal neem om tot ’n gevegseenheid saam te snoer.

’n Wagner-groep-leier.

Instrukteurs van die Wagner-groep het ook opdrag om opleiding aan sommige Mosambiekse eenhede te verskaf, maar ook dit gaan nie goed nie omdat die Russe se opleidingsmetodes as “te wreedaardig” deur die Mosambiekers ervaar word. (Ek het self gesien hoe hierdie Wagner-instrukteurs rekrute in die Sentraal Afrikaanse Republiek wrede loesings gee gedurende opleiding, so erg dat hul wonde mediese aandag nodig het).

Volgens my bron is een of meer Russe ook dood in ’n insident waar lede van die Mosambiekse magte op hulle geskiet het – ’n voorval wat gelei het tot ’n verdere verbrokkeling van vertroue.

Daarbenewens is die meeste Mosambiekse weermagpersoneel suiderlinge en dikwels dronk as hulle aanmeld vir diens; daarteenoor sit die guerrillas, waarvan die meerderheid Moslems is, nie hul mond aan alkohol nie. Dit alles sien die plaaslike mense natuurlik raak, so ’n mens kan net dink waar hul sentimente lê.

Volgens Jasmine Opperman, ’n Suid-Afrikaanse terrorismespesialis, het daar in November alleen 25 terreurdade voorgekom.

Opperman sê dit beteken dat die Russe “geïsoleer en blootgestel voel” en voeg by: “Wagner is na die oog van die storm gestuur en is tot by hul nek in die gemors, terwyl die vyand daagliks sterker word.”

Meer beduidend, sê ’n ander bron wat nie geïdentifiseer wil word nie, is die feit dat die Mosambiekse bevelvoerders glad nie van die geleentheid wil gebruik maak om van ’n groep soos Wagner te leer nie. Alhoewel die Russiese soldate nie voldoen aan die standaarde van die Britse SAS of Suid-Afrika se recces nie, is hulle steeds strate beter as die Mosambiekse weermag met werklike gevegservaring.

Operasies in die gebied word bemoeilik deur die dig beboste gebied met geen goeie paaie nie. Granietkoppies, sommige meer as 300 m hoog, lê verspreid oor die hele gebied en dié vorm uitstekende uitkykpunte vanwaar guerrillas alle beweging kan monitor en hinderlae kan beplan.

Met amper geen grensbeheer op die Tanzaniese grens nie, kan hulle ook staatmaak op ondersteuning van vriendelike elemente wat maklik suidwaarts kan infiltreer oor die ongepatrolleerde riviere.

As gevolg hiervan het die Moslem-bevolking in die streek die afgelope dekades sterk toegeneem – hoofsaaklik as gevolg van die immigrasie van tienduisende mense uit Tanzanië.

Neall Ellis, ’n ervare Suid-Afrikaanse private militêre kontrakteur wat al die streek besoek het waar baie van die gevegte plaasvind, het reeds voor die Russe se aankoms daar gewaarsku dat hulle moeilikheid soek.

Sy redes was eenvoudig. Hy sê hul vlieëniers het nie genoeg ondervinding van bosoorlogvoering nie en ook nie genoeg transporthelikopters om grondmagte teen ’n goed georganiseerde guerrillamag te ontplooi nie.

Wat ook relevant is, is dat hierdie noordelike streek byna wetteloos is en sleg deur die regering verwaarloos is, presies op dieselfde manier as wat die koloniale Portugese oor amper vyf eeue gedoen het.

Die Wagner-groep is ook nie die eerste huursoldaatgroep wat probeer om die probleem in Cabo Delgado aan te durf nie.

Een van die veiligheidsgroepe wat met hulle meeding om die winsgewende Mosambiekse kontrak, is OAM International, ’n firma met sy hoofkwartier in Dubai in die Verenigde Arabiese Emirate, maar met sterk Suider-Afrikaanse bande. Hul Mosambiekse belange word bestuur deur John Gartner, ’n voormalige lid van die ou Rhodesiese Special Air Service. Gartner het vroeër aan The Times in Londen gesê hul tender was vir ’n groep van 50 man teen ’n koste van $15 000 tot $25 000 per manskap per maand. Die Russe se tender was blykbaar baie laer, maar die Russe het blykbaar die omvang van die taak onderskat, het Gartner gesê.

Voor dit is twee Gazelle-helikopters in militêre kamoeflering, ’n ligte helikopter wat soms in aanvalle gebruik word, in die oliestad Pemba opgemerk. Hulle is verskaf deur Umbra Aviation van Durban, maar het nooit enige aksie gesien nie en na Suid-Afrika teruggekeer sonder dat ’n skoot afgevuur is.

Voor die koms van Wagner is die Amerikaanse Frontier Services Group (FSG) gekontrakteer om veiligheidsdienste in die noorde van Mosambiek te lewer. Ook hulle het uit die gebied padgegee nadat Mosambiek ander reëlings getref het.

FSG is ’n besonder doeltreffende groep. Dit word gelei deur Erik Prince, die voormalige Amerikaanse spesialismarinier (Seal) en stigter/eienaar van die nou ontbinde Blackwater PMC. Hy het Blackwater oorspronklik gestig om koalisiemagte oos van Suez ekstra ondersteuning te bied, maar was nie suksesvol in die Arabiese wêreld nie omdat hulle te veel verliese gely het. Deesdae jag sy groep, wat ’n paar gewese recces insluit, seerowers met klein gewapende skuite (wat hy “tunabote” noem) teen die ooskus van Afrika.

  • Al Venter is ’n joernalis en skrywer van meer as 40 boeke oor oorloë oor Afrika heen.
Meer oor:  Mosambiek  |  Russiese Soldate
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.