Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA gee (regse) stappie agteruit

’n Giftige nasionalisme aan die regterkant van ons politieke spektrum herrys, skryf Mondli Makhanya.

19 Oktober 2005: Tony Leon, destydse DA-leier, en raadslid Ed Jordan by ’n verkeerslig in Greenside, Johannesburg, wat al vyf dae buite werking was.

Hulle sê ’n mens praat nie sleg van die dooies nie. Maar dit is ook onbehoorlik om nie die waarheid oor hulle te vertel nie. So, hier gaan ons.

Die ontslape Zach de Beer was een van die mees stugge, kleurlose en steriele politici wat die land nog opgelewer het. Hoe hy dit reggekry het om so ’n hoogs suksesvolle politieke loopbaan te hê, ’n loopbaan waarin hy uiteindelik gevorder het tot die leier van die Demokratiese Party (die DA se voorganger) bly een van die lewe se grootste geheime.

Miskien is dit ’n aanduiding van sy taaiheid en sy onbuigsame verbintenis tot die beginsels waarin hy geglo het. De Beer het die politieke leer geklim van studentaktivisme en liberale politiek en gevorder tot leier van die parlementêre opposisie in die ou wit parlement.

Sy politieke loopbaan het egter in mislukking geëindig. Sy party het droewig gevaar in die eerste demokratiese verkiesing van 1994 en het geëindig met nasionale steun van ’n skamele 1,7% en slegs sewe parlementêre setels.

Dit was twee minder as die voormalige weermaggeneraal Constand Viljoen se regse Vryheidsfront (die party wat later die VF Plus geword het).

Ná die pak slae wat De Beer by die stembus gekry het, het hy as leier uitgetree. Sy uittrede het die weg gebaan vir ’n jonger en meer energieke Tony Leon om by hom oor te neem.

Leon se doelwit was om die lomp DP te transformeer en het ’n boodskap begin predik wat hy “gespierde liberalisme” genoem het.

Dis die langtermyn-uitwerking van Leon se ‘Veg terug’-veldtog.

Waar De Beer ’n jintelman tot op die punt van sagmoedigheid was, het Leon die teenoorgestelde rigting ingeslaan. Sy party het hard teruggeveg en homself as die “ware opposisie” (in teenstelling met die ou Nasionale Party) bemark. Hulle het veel harder geraas as die NP, wat selfs met hul 82 setels steeds nie Leon se nietige klein partytjie kon oorskadu nie.

Die DP van die eerste vyf jaar van die demokratiese bestel het baie van hul landgenote vervreem omdat hulle standpunt ingeneem het teen dinge soos die Wet op Billike Indiensneming, op swart ekonomiese bemagtiging en die nuwe arbeidswetgewing.

Met hierdie ongewilde standpunte in ’n tyd toe die ANC baie geloofwaardigheid as ’n instrument van verandering gehad het, het dit gelyk asof die DP homself as ’n teenstander van die transformasieprojek beskou.

Die DP se openlike weerstand het die gevolg gehad dat die party baie steun gekry het van tradisionele NP-kiesers wat nie veel sin gehad het nie aan die lustelose Marthinus van Schalkwyk se manier van opposisiepolitiek nie. Hy het by FW de Klerk oorgeneem nadat De Klerk as adjunkpresident uit oudpres. Nelson Mandela se kabinet bedank het.

Meer onheilspellend nog was die feit dat Leon al hoe meer regse kiesers gelok het wat jou laat voel het die VF se doppie is ook geklink.

Skielik was die liberale Leon die held van diegene wat nie wou hê die land moet vooruit beweeg nie.

Bruin en Indiër-kiesers het ook gou op die DP se wa gespring, omdat hulle geglo het die DP-beleid sou beskerming aan minderhede bied.

Die toppunt van Leon se nuwe vorm van “gespierde liberalisme” was die party se “Veg terug”-veldtog tydens die 1999-verkiesing wat deur sowel die teikenmark as die swart meerderheid beskou is as ’n oproep om verandering teen te staan.

Dit het wondere onder die beoogde teikenmark verrig.

Die DA sukkel egter tot vandag toe steeds om die negatiewe konnotasies van daardie veldtog af te skud, omdat sy teenstanders die publiek telkens daaraan herinner.

Die gevolg van die veldtog was egter dat die DP sy parlementêre setels vermeerder het van sewe tot 38. Die NP het goed slae gekry en hul verteenwoordiging het van 82 tot net 54 setels in die parlement geval.

Die volgende jaar was Leon in staat om die dalende NP-steun nóg verder uit te buit toe die NP met die DA saamgesmelt het om die DA te vorm.

Belangriker is egter dat die veldtog ook die stryd om die harte van regse Afrikaner-kiesers gewen het – kiesers wat die Vryheidsfront verlaat het. Dié party se steun het uiteindelik met die helfte verminder van ses tot drie setels – ’n steunvlak waaraan hulle hardnekkig vir die volgende 20 jaar geklou het.

Die 2019-verkiesing is pas verby, ’n tyd van ’n selfvervaardigde gevoel van beleëring en onsekerheid onder baie kiesers.

Met die regerende ANC wat sy wortels van nierassisme vir rasse-essensialisme laat vaar het en die EFF wat geen geheim maak oor wat hulle van wit mense dink nie, het regse ekstremiste vrugbare grond gevind vir die saai van vrees en ’n gevoel van slagofferskap onder wit kiesers.

En daarmee saam die herlewing van die VF Plus, destyds een van die slagoffers van die DA se “Veg terug”-veldtog.

Met ’n amper identiese boodskap – “Slaan terug” – het Pieter Groenewald se party nou die stukrag gekry waaroor hulle net voorheen kon droom. Van vier parlementslede in 2014 het hulle nou tot tien gespring.

Voorheen was hulle net in drie provinsiale wetgewers verteenwoordig, nou het hulle lede in al nege.

Hul groei was alles ten koste van die DA, omdat baie kiesers wat hulself as slagoffers sien, voel die DA is nie meer ’n politieke tuiste vir hulle nie.

Die VF Plus het boonop ’n groot bondgenoot in die openlik rassistiese AfriForum en geassosieerde organisasies gehad. Hierdie organisasies het al lankal die vure van wit weerstand aangesteek.

Die manier waarop hulle hierdie vure aanblaas, het uiteindelik met vandeesmaand se verkiesing ’n vrugbare teelaarde by die stembus gevind.

Ons sien dalk nie die VF Plus se winste vandag as seismies nie, want die getalle is nie so groot nie. Maar mettertyd sal ons dalk terugkyk na hierdie spesifieke aspek van vanjaar se verkiesingsuitslae as die begin van iets wat agteruitgang in ons samelewing beteken.

Leon se “Veg terug”-veldtog was polities ’n meesterskuif, maar die langtermyn-uitwerking daarvan is lynreg teen dit waarvoor die Suid-Afrikaanse projek staan.

Dieselfde geld die VF Plus se aanblaas en uitbuiting van die vrese van landsburgers.

Pieter Groenewald, VF Plus-leier, het ná die verkiesing in ’n onderhoud hieroor gekraai.

“Mense begin nou besef dat jy toegelaat word om wit te wees, ’n minderheidsgroep, ’n Afrikaner sonder om ’n rassis te wees,” het hy gesê.

Deur dit te sê, het hy die terugtrek van ’n aansienlike deel van die wit bevolking – meestal Afrikaanssprekendes – in ’n rasse-laer van waar hulle hulself as afsonderlik van hul medeburgers beskou, as lofwaardig beskou.

Die ongelukkige aspek van demokrasie is dat dit elke nou en dan uitslae soos dié bewerkstellig. As demokrate moet ons dit respekteer.

Suid-Afrikaners moet egter nou die realiteit konfronteer dat ’n giftige nasionalisme aan die regterkant van ons politieke spektrum herrys. Die goeie ding is dat dit binne die grense van ons grondwetlike bedeling geskied.

Dit kan steeds op demokratiese wyse ontman word – mits diegene wat ons republiek lei dit herken en dit met breinkrag eerder as spierkrag beveg.

  • Mondli Makhanya is redakteur van Rapport se susterskoerant City Press.
Meer oor:  Mondli Makhanya  |  Tony Leon  |  Pieter Groenewald  |  Vf Plus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.