Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘SA moet alle aptekers oplei om inentings te doen’

Laat alle aptekers toe om mense teen die koronavirussiekte in te ent, skryf dr. Velisha Ann Perumal-Pillay.

Durbanse aptekers berei inspuitings voor vir KwaZulu-Natal se inentingsprogram teen Covid-19. Foto: Gallo

Suid-Afrika het die tweede fase van sy Covid-19-entstofprogram begin. Die doel van hierdie fase is om alle noodsaaklike werkers, mense wat ’n leefarea deel (soos verpleeghuise), dié wat ouer as 60 jaar is en ander kwesbare groepe in te ent. Die algehele mikpunt van die entstofprogram, wat in fases ontplooi word, is om 67% van die bevolking teen die einde van die jaar in te ent. 67% word as die perk vir groepsimmuniteit in Suid-Afrika beskou.

Maar dis onwaarskynlik dat ons die teiken gaan behaal. Die eerste fase was stadig, en hoewel die tweede fase vinniger vorder, bly die getal mense wat ingeënt word, maar min. Ander vertragings is te wyte aan die verkryging en aflewering van entstowwe, nuwe variante wat na vore kom, sowel as die opskorting van die gebruik van sommige entstowwe weens kommer oor hul veiligheid.

In die eerste fase van entstofontplooiing, wat gesondheidswerkers en ander personeel in die voorste linie geteiken het, was daar slegs ’n paar afsetpunte vir inentings. Met die tweede fase het die getal plekke waar mense kan gaan inent, aansienlik vermeerder om die staatsektor soos gesondheidsklinieke en hospitale, asook die privaat sektor, soos dokters en apteke in te sluit.

Die meeste van die 17 000 aptekers in die land mag nie inentings doen sonder verdere opleiding nie.

Daar is tans 3 481 gemeenskapsapteke, 613 staats- en 306 private apteke in die land. Dit is ’n uitgebreide netwerk in die stad en in landelike gebiede. Maar ’n suksesvolle ontplooiing gaan nie net oor die plekke waar mense hulself kan laat inent nie. Dit gaan ook oor die opgeleide werkmag wat dit moet toedien.

Tans is dit meestal dokters en verpleegsters wat mense mag inent. Kragtens die land se regulasies, kwalifiseer aptekers nie sonder die nodige sertifisering hiervoor nie. Dit beteken dat die meeste van 17 000 aptekers in die land nie mag inentings doen sonder verdere opleiding nie.

Sommige apteke sal nietemin deel wees van die entstofontplooiingsprogram: Diegene wat klinieke op die perseel het wat deur verpleërs bestuur word of gevalle waar aptekers die nodige opleiding gekry het om entstowwe te mag toedien.

Suid-Afrika sal egter alle aptekers by inentings moet intrek. Volgens my navorsing is dit binne bereik. Dit vra ’n verandering in hoe aptekers opgelei word. In ander lande, soos Amerika, Brittanje en Australië, doen aptekers al vir jare lank inentings.

Die gaping, en hoe om dit te herstel

Foto ter illustrasie: Mense ouer as 60 jaar oud en ander kwesbare gevalle word tans ingeënt. Foto: Gallo

Die kurrikulum vir Suid-Afrika se BPharm-graad (voorgraadse kwalifikasie in aptekerswese) word deur nege universiteite aangebied.

Die kursus is ontwerp om aptekers as algemene praktisyns op te lei. Om te kwalifiseer om inentings te mag doen, moet aptekers nagraadse opleiding kry en gesertifiseer word. Dit vorm nie outomaties deel van voorgraadse studies nie en word as ’n deeltydse kursus aangebied.

Die stelsel sal herontwerp moet word om die beperking te oorkom. Uitdagings sluit in:

• Om die voorgraadse kurrikulum vir ’n aptekersgraad aan te pas om opleiding in inspuitingtegnieke in te sluit. Dit vereis dat aptekers wat inentings doen, vertroud is met spuitnaalde en toedieningstoestelle.

• Om die wetgewing wat die aptekersbedryf reguleer, aan te pas.

Aptekers leer reeds baie oor inentings in die voorgraadse kurrikulum. Vakke sluit in siektes wat deur entstowwe voorkom kan word, roetine-entstowwe, reisinentings, immuniseringskonsepte, die logistiek rondom die vervoer van entstowwe en kouekettingbestuur.

Die Internasionale Farmaseutiese Federasie (FIP), ’n nieregeringsorganisasie en liggaam wat die aptekerswese wêreldwyd verteenwoordig, staan aptekers as inenters voor.

Die FIP moedig lande aan om hul regulasies oor entstoftoediening deur aptekers by te werk met die doel om inentings wêreldwyd te bevorder.

Dringendheid

Foto ter illustrasie: ’n Apteker berei inentings voor. Foto: Gallo

Die Covid-19-pandemie het beklemtoon hoe belangrik dit is dat lande, waar aptekers se basiese opleiding nog nie die toediening van entstowwe insluit nie, die nodige veranderinge aanbring. Aptekers het ’n belangrike rol om in immunisering te speel.

In die huidige praktyk van aptekerswese in Suid-Afrika, is aptekers reeds besig met gesondheidsorgonderrig, berading vir pasiënte en gesondheidsbevordering wat verband hou met entstowwe, immunisering en siektes wat deur inenting voorkom kan word.

Hierdie rol moet uitgebrei word om die bestuur van pasiënte se inentingskedules en die erge nagevolge van ’n inenting te monitor, in te sluit.

Veranderings aan die kurrikulum moet onmiddellik en eenvormig in alle universiteite wat die baccalaureus-graad in aptekerswese in Suid-Afrika aanbied, toegepas word.

Indien hierdie veranderinge gemaak word, sal die land in die toekoms ’n groot getal behoorlik-opgeleide apteker-inenters as interns by die stelsel kan inlaat.

Dit sal die land se gesondheidswerkmag versterk en die getal inenters vir Covid-19-inentings en ander inentingsdienste kan uitbrei. Dit sal dus sorg dat meer mense gouer ingeënt word.

• Perumal-Pillay is ’n senior lektor in aptekerswese aan die Universiteit van KwaZulu-Natal. Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Covid-19-Pandemie  |  Apteke  |  Inentings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.