Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘SA moet bekommerd wees oor Delta-variant’

Suid-Afrika moet baie bekommerd wees oor die hoogs aansteeklike Delta-variant, wat tot al hoe meer Covid-19-gevalle in die land lei, het ’n viroloog aan Jana Marx gesê.

Die Delta-variant uit Indië, wat reeds in Suid-Afrika die ronde doen, is byna twee keer so aansteeklik soos ander variante.

Dit is volgens navorsing wat verlede week in die Europese mediese vaktydskrif EuroSurveillance gepubliseer is.

In Suid-Afrika, waar inentings maar stadig vorder en menslike gedrag nie na wense is nie, is die Delta-variant volgens viroloë ’n rede tot groot kommer.

Die “tsoenami” van infeksies in Gauteng is ’n sprekende voorbeeld.

Lyke word veras in Bengaluru, Indië, waar mense by die duisende aan Covid-19 sterf nadat hulle die Delta-variant van die koronavirus opgedoen het. Foto: Reuters

Die Delta-variant, wat vir apokaliptiese tonele in Indië gesorg het en reeds 90% van Brittanje en Moskou se Covid-19-gevalle uitmaak, is ook verantwoordelik vir een uit elke vyf gevalle in Amerika.

Die Europese sentrum vir siektevoorkoming en -beheer (ECDC) het Woensdag in ’n verklaring gesê die Delta-variant kan in die komende maande die oorsaak van 90% van nuwe gevalle in die Europese Unie wees as hy nie sy entstofprogram versnel nie.

Hoewel die hoogs aansteeklike Beta-variant (B.1.351; oorspronklik van Suid-Afrika) nog vir die grootste persentasie van infeksies hier sorg, reken prof. Wolfgang Preiser, hoof van die afdeling vir mediese virologie aan die Universiteit Stellenbosch (US) en lid van die ministeriële advieskomitee oor Covid-19, daar is rede om baie bekommerd te wees oor die Delta-variant.

’n Mede-professor verbonde aan die Johns Hopkins-sentrum vir gesondheidsveiligheid het Woensdag aan Bloomberg-TV gesê die Delta-variant versprei makliker in gebiede en lande waar daar ’n lae inentingskoers is.

R-waarde
Dit is duidelik uit die grafiek dat die Delta-variant meer aansteeklik is as ander variante.

Preiser beaam dit: “Selfs lande met goed gevorderde entstofprogramme, soos Brittanje, beleef ’n opwelling van infeksies. Maar dit lyk darem of die entstowwe wat daar gebruik word, goed teen ernstige siekte en sterftes weens Delta beskerm. Ongelukkig is ons nog nie daar nie.

“Dis onwaarskynlik dat ons Delta se verspreiding in Suid-Afrika kan voorkom, maar as dit vertraag kan word totdat meer mense ingeënt is, sal dit baie voordelig wees.”

Preiser benadruk hoe belangrik dit is dat wetenskaplikes die koronavirus in Suid-Afrika met ’n valkoog dophou en weet wat in die res van die wêreld aangaan. “Die evolusie van die virus duur voort en kan nuwe uitdagings bring.”

Variante in Suid-Afrika

Die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) het bevestig dat die Beta-, Delta- en Alpha-variant in Suid-Afrika teenwoordig is. Al drie hierdie variante word as ’n “kommerwekkende variant” (variant of concern of VOC) beskou. 

Volgens die Sentrums vir Siektebeheer en -voorkoming (CDC) is ’n VOC ’n variant wat aansteekliker is en dus die doeltreffendheid van entstowwe en behandeling verlaag. Dit het ’n regstreekse uitwerking op hoe ’n land teen sy eie koronavirusepidemie stry.

Nios kon uit 8 906 individue sedert 5 Maart 2020 bepaal dat 56,9% positiewe gevalle (5 064 uit 8 906) deur die Beta-variant veroorsaak is. Dit het egter in Januarie vanjaar begin toeneem, met 89,2% van gevalle wat ontleed is, wat aan die Beta-variant toegeskryf kan word.

Nios kon by navraag nog nie bevestig presies hoeveel gevalle weens die Delta-variant veroorsaak is nie, maar het gesê dat hy uit 704 monsters sedert April vanjaar 22 Delta-verwante gevalle (3,1%) aangemeld het. 

Die goeie nuus is dat die Gamma-variant (P.1), wat chaos in Brasilië veroorsaak, volgens Nios nog nie hier is nie. 

Gedrag én variante ’n probleem in Gauteng

Die Gautengse bevelsraad oor Covid-19 het aanvanklik gedink die provinsie se derde vlaag gaan nie so erg soos die tweede wees nie, gegrond op modelle oor wat verwag kan word.

Netwerk24 verneem daar was wel modelle met scenario’s vir meer hospitaalopnames as voorheen. Geen van die modelle het egter die ontwikkeling van nuwe variante, soos Delta, in ag geneem nie.

Volgens Preiser is daar nog nie definitiewe antwoorde vir wat Gauteng se erge vlaag veroorsaak nie, “maar die meeste kollegas meen dat die hoofaandrywer van die derde vlaag in Gauteng gedragsverwant is, wat moontlik toenemend aangevuur word deur die Alpha- (uit Brittanje) of Delta-variant. Dit word egter nog ondersoek.”

Prof. Wolfgang Preiser Foto: Universiteit Stellenbosch-webblad

Hoewel die land se derde vlaag in die binneland begin het, is dit volgens Preiser nou op pad kus toe.

“Of dit daar so sleg sal wees soos in Gauteng, sal ons moet sien. Baie is effens hoopvol dat, omdat die provinsies aan die kus so sleg deur die tweede vlaag geraak is, hulle ’n ligter derde vlaag sal beleef omdat so baie mense ’n gedeeltelike immuniteit opgebou het ná vorige infeksie.”

Die vorige vlaag kan ook dalk Gauteng se huidige situasie verklaar.

“(Gauteng) het ’n relatief ligter tweede vlaag gehad. Die volgende paar weke sal egter hierdie vraag beantwoord. Wat gesondheidsdienste betref, is ek geskok oor die berigte uit Gauteng. Ná langer as ’n jaar is dit tragies dat die stelsel so sleg misluk. Op grond van dit wat ek van die Wes-Kaap se voorbereidings weet, hoop ek hulle sal beter vaar. Ek is ook baie bekommerd oor die Oos-Kaap.

“Gelukkig is Suid-Afrika een van die lande wat ’n taamlik goeie genomiese waarnemingstelsel het, wat teruggaan tot voor die eerste sulke VOC’s (‘kommerwekkende variante’, soos Delta) erken is. Maar soos die wêreld gesien het met Indië, waar daar nie goeie waarnemingstelsels is nie, kan problematiese nuwe variante na vore kom wat eers later ontdek word. Teen daardie tyd is dit dikwels te laat om verspreiding te voorkom.”

Inentings en voorkomingsmaatreëls nou nodiger as ooit

Bly by die maatreëls wat wérk, maan sowel Preiser as sy kollega aan die US prof. Gert van Zyl, ’n virologiese patoloog van die departement mediese virologie.

Nuwe variante en die huidige wintermaande maak dit vir Suid-Afrikaners noodsaaklik om virusoordrag te verminder, meen Van Zyl.

“Virusoordrag verminder wanneer mense ingeënt word en basiese voorkomingsmaatreëls volg.

“Johnson & Johnson- en boodskapper-RNS-entstowwe, soos Pfizer, is sover nog doeltreffend teen al ons variante. Dis belangrik om die doel van inentings te verstaan. Entstowwe vrywaar jou nie van Covid-19 nie. Dit beskerm teen ernstige Covid-19 en dood. Dis minder doeltreffend teen ligte of matige Covid-19,” verduidelik Van Zyl.

Jy kan dus steeds siek word, al is jy ingeënt, maar die entstof verlaag jou kans om ernstig siek te word en selfs te sterf.

“Die feit dat ons entstofprogram onlangs versnel het, is verblydend,” sê hy.

Foto ter illustrasie: ’n Verpleegkundige ent ’n Suid-Afrikaner ouer as 60 jaar teen Covid-19 in. Mense in dié ouderdomsgroep word as hoërisikogevalle beskou. Foto: Argief

Meghan Lawrence het Donderdag berig oor nuwe navorsing wat toon dat die AstraZeneca-entstof, wat nie doeltreffend genoeg was teen die Beta-variant nie, wel doeltreffend is teen die Delta-variant.

Maar entstowwe alleen is nie genoeg nie. “Daar is baie inperkingsmaatreëls waaroor ons kan debatteer, maar die twee wat ons weet werk, is: Dra jou masker en bly weg van samedrommings.” En as jy móét vergader, doen dit in die buitelug, sê Van Zyl.

“Iets wat ons moet dophou in die winter, is dat mense geneig is om saam te kloek en vensters toe te maak. Met navorsing oor tuberkulose in KwaZulu-Natal het ons gesien hoe hoog die viruslading in ’n taxi kan opbou as al die vensters toe is. In teorie is dit ook so dat ’n virus langer in droë lug (Suid-Afrikaanse winterlug) bly as in vogtige lug.”

Delta-variant
Die grafiek toon aan dat die Beta-variant in Suid-Afrika oorheers.

Hoe hoër die virusoordrag, hoe meer variante

Hoe wilder die virus versprei, hoe groter is die kans dat nuwe variante gaan ontwikkel voordat almal ingeënt is, sê Van Zyl.

“Vir ’n virus om evolusie te ondergaan, moet hy aanhou aansteek. Daar moet baie oordrag plaasvind. Elke keer as hy ’n nuwe mens binnedring, is daar nuwe generasies (soos die virus in die mens se liggaam repliseer). Baie oordragte gee vir die virus vrugbare grond om evolusie te ondergaan.”

Variante ontwikkel eerstens wanneer mense wat reeds ’n mate van immuniteit het, aansteek (dit plaas druk op die virus). Soms gebeur dit ook dat ’n liggaam 'n virus baie lank kan onderdruk. Volgens Van Zyl kan hierdie virus dan met die verloop van tyd muteer.

Prof. Gert van Zyl Foto: Universiteit Stellenbosch-webblad

“Ons het in Brasilië en Suid-Afrika gesien dat ons variante immuniteit die beste kan systap. As mense reeds gedeeltelik immuun is, muteer die virus om immuniteit te probeer ‘ontsnap’.”

’n Inenting is nie ’n vrypas om nie meer by die reëls te hou nie, benadruk Van Zyl.

“Die probleem is, jy kan die virus onder lede hê en niks makeer nie, maar dit steeds dra en versprei. Ons het onlangs ’n geval gehad met ’n geweldige hoë viruslading in sy liggaam, maar hy was self nie baie siek nie.

“Ons het voorheen maskers gedra ter wille van onsself en ander mense. Maar dis nou nodig om daardie masker te dra ter wille van die beskerming van ander mense wat nog nie die koronavirus gehad het of ingeënt is nie.”

Meer oor:  Derde Vlaag  |  Pandemie  |  Delta-Variant  |  Variante  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.