Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA moet hom staal vir meer onrus op kampusse

Studenteprotes op Suid-Afrikaanse universiteitskampusse sal toeneem weens politieke onstabiliteit, berig Gert van der Westhuizen.

Piet le Roux (links), akademiese hoof van Akademia, Alida Kok, dosent in politieke wetenskap aan Unisa, dr. Leslie van Rooi, hoof van die Frederick Van Zyl Slabbert Instituut aan die Universiteit Stellenbosch, en Waldimar Pelser, redakteur van Rapport, Dinsdag by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks. Hulle het op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn oor die #FeesMustFall-beweging en die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite gesels. Foto: Jaco Marais

Studenteprotes oor die wêreld heen kan direk verbind word met politieke onstabiliteit en verslegtende ekonomiese toestande. Suid-Afrika is dus nie ’n uitsondering in dié opsig nie.

“Protes sal toeneem hoe moeiliker die politieke omstandighede word en hoe meer mense ekonomiese druk ervaar,” het dr. Leslie van Rooi, hoof van die Frederick Van Zyl Slabbert Instituut aan die Universiteit Stellenbosch, Dinsdag voorspel by Die Burger se Praat Saam-gespreksreeks op die Klein Karoo Nasionale Kunstefees in Oudtshoorn.

Hy het saam met Alida Kok, dosent in politieke wetenskap aan Unisa, en Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia, gesels oor die #FeesMustFall-beweging en die toekoms van Suid-Afrikaanse universiteite.

Alida Kok, dosent in politieke wetenskap aan Unisa.Foto: Jaco Marais

Kok het met Van Rooi saamgestem.

Die ekonomie sal volgens Kok beslis ’n rol in studenteprotes speel omdat geld een van die belangrikste redes vir die aanvanklike betogings was toe kapsie teen verhoogde klasgeld gemaak is.

“Studente het eenvoudig nie genoeg geld om te studeer en te leef nie. Dit gaan nou nog moeiliker raak,” het sy gesê.

Daarby het Suid-Afrika ’n politieke elite wat besig is om die mag te sentraliseer en hulpbronne te misbruik.

“ ’n Interessante voorbeeld vir my in hierdie verband is die universiteit van Zimbabwe. Iemand het juis die naweek geskryf dat ons ons Mugabe-oomblik bereik het.

“Die Universiteit van Zimbabwe was in ’n stadium ’n instelling van wêreldgehalte met studente van ’n hoë kaliber. Onder Zanu-PF is daar in die negentigerjare politieke aanstellings gemaak en hoewel daar steeds goeie studente is, het die instelling verskriklik skade gely.

“Ons moet bepaal wat ons hier anders maak as daar. Iets wat ons anders maak, is ons burgerlike samelewing. Die Zimbabwiese burgerlike samelewing is vinnig onderdruk omdat daar terreur was. Suid-Afrika het nog nie openlike terreur nie.”

Ek is nie seker of standbeelde in die land moet val nie
Dr. Leslie van Rooi

Openbare gesprekke soos Dinsdag s’n is ook belangrik, het sy gesê. “Dit kan ons dalk red.”

Le Roux het gesê hy wil graag meer kritiese openbare gesprekke sien.

Hy het die #FeesMustFall-beweging as ’n “revolusionêre beweging in die slegste sin van die woord” beskryf en hy hou nie van die “afgunstige en wrokkige benadering wat dit kenmerk nie”.

Dr. Leslie van Rooi, hoof van die Frederick van Zyl Slabbert Instituut aan die Universiteit Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Die aandrang op dekolonialisering is ’n “utopiese en problematiese” idee, veral omdat aktiviste nie kan sê presies wat hulle met dekolonialisering bedoel nie.

“Hulle wil van universiteite staatshospitale maak.”

Volgens Le Roux sal dit universiteite help om weg te staan van heersende politieke ideale en eerder hul eie ideale te formuleer.

Die antwoord is beslis nie groter staatsbeheer nie.

Daar is ’n dekade gelede al met planne vir Akademia begin toe die aandrang op eenvormigheid al hoe groter geword het, het Le Roux gesê.

“Daar is plek vir ’n ander opvatting oor die taak van die universiteit. Dit moet ’n gemeenskapsinstelling wees. Die doel by Akademia was om ’n universiteit vanuit die gemeenskap op te rig.”

Die geweld en onverdraagsaamheid wat studentebetogings kenmerk, het ook ter sprake gekom. Van Rooi het gesê armer universiteite, soos die “Fort Hare’s van die wêreld”, sal die swaarste ly onder materiële skade soos die afbrand van onder meer geboue wat sommige betogings gekenmerk het.

Ons moet die pyn van die verlede ook verstaan, hoewel ek dink ons moet eerder byvoeg as wegneem.

“Ek is nie seker of standbeelde in die land moet val nie” het Van Rooi gesê toe hy gevra is oor simboliese teikens wat ook in die visier van ontevrede studente is. Die bekendste hiervan was die standbeeld van die aartsimperialis Cecil John Rhodes by die Universiteit van Kaapstad.

“Maar ek is redelik oortuig dat ons meer simbole in hierdie land nodig het wat meer sê van wie die land is.

“Daar moet nie net ’n standbeeld van ’n Mandela of Zuma êrens opgerig word nie. Kulturele kenmerke of identiteite kan ’n plek kry langs ’n Rhodes of saam met ’n Rhodes.”

Van Rooi het vertel hoe bevrydend dit vir hom was om as jong student in plekke rond te stap wat vernoem is na apartheidspremiers soos DF Malan en dr. HF Verwoerd.

Piet le Roux, akademiese hoof van Akademia.Foto: Jaco Marais

Die huidige geslag wil egter niks weet van sulke oorblyfsels uit ’n vroeëre era nie. “Ons moet die pyn van die verlede ook verstaan, hoewel ek dink ons moet eerder byvoeg as wegneem.”

Die debatte rondom studenteprotes is volgens Kok en Van Rooi ook nie net negatief nie en lewer beslis ’n bydrae tot die nasionale gesprek. Kok het byvoorbeeld daarop gewys hoe vinnig die regering reageer het nadat daar vir jare bitter min gedoen is om tersiêre onderwys behoorlik te finansier.

Leerplanne kan volgens Van Rooi vernuwe word soos studente vra, anders hou universiteite nie meer tred met die moderne samelewing nie. Hy was byvoorbeeld ’n teologiestudent aan die Universiteit Stellenbosch en daar kon tog nie van hom verwag word om net die werke van apartheidsteoloë te bestudeer nie, het hy gesê.

Die onverdraagsaamheid wat gereeld in debatte opduik, is wel ’n probleem.

Kok het gesê sy het geen legitimiteit nie, bloot omdat sy wit is.

“Daar is ’n algemene gevoel dat mense nie heeltemal kan sê wat hulle wil wanneer hulle wil nie,” het Van Rooi bygevoeg.

Hy het egter hoop omdat hy as inwonende koshuishoof sien hoe gesprekke daagliks gevoer word.

Volgens Kok verander dinge gelukkig redelik vinnig wat die debat rondom #FeesMustFall betref.

“Die afgelope ses maande het die debat en diskoers verander. Daar is reeds meer plek vir ’n groter groep mense en meer stemme.

“Die feit dat gesprekke plaasvind, skep ruimte vir verandering en verbetering.”

Hoewel sy weet dis ’n omstrede stelling, sal Kok ouers aanraai om nie hul kinders uit staatsuniversiteite te haal nie.

“Wees teenwoordig, wees pro-aktief en wees deel van die gesprek. Dit hou kwaliteit in plek, daai kritiese aard wat ons vandag in ons burgerlike samelewing het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.