Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA moet inperking beëindig - hier is 'n alternatief

Suid-Afrika kan nie in die bekamping van die Covid-19-pandemie net aan gesondheidsaspekte aandag gee nie omdat die ekonomie ook lewensbelangrik is, skryf ’n paneel kenners van die Universiteit van die Witwatersrand.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag aangekondig dat die staat van inperking met nog twee weke verleng gaan word. Foto: Felix Dlangamandla

In die openbare debat oor strategieë om die Covid-19-pandemie te bekamp, word gesondheid- en ekonomiese oorwegings dikwels lynreg teenoor mekaar gestel – dit is óf die een óf die ander.

Dit help nie juis nie. Inteendeel, ekonomiese beleid het gesondheidsgevolge. En gesondheidsbeleid het ekonomiese gevolge. Albei moet gesien word as deel van ’n samehangende geheel.

Suid-Afrika het te make met drie probleme wat met mekaar verband hou. Dit is die gevaar vir openbare gesondheid wat die Covid-19-pandemie inhou, die invloed van die staat van inperking op die ekonomie en gesondheid en ’n hele reeks ekonomiese probleme wat nie direk die gevolg van die pandemie is nie.

Dit sluit in ’n hoë werkloosheidsyfer, lae ekonomiese groei en ’n daling in die per capita inkomste.

Ons glo dat ’n uitgerekte staat van inperking die land nie noodwendig van die virus sal verlos nie.

Enige potensiële lewensvatbare reaksie op die Covid-19-pandemie moet al drie dié aspekte in ag neem.

Dit is veral belangrik as die land beplan vir die tydperk ná die staat van inperking.

As net gefokus word op die uitdagings van gesondheid en daar nie aandag aan ekonomiese kwessies gegee word nie, sal dit tot betekenisvolle hoër ekonomiese koste lei en ook optrede op die gebied van gesondheid ondermyn.

Ons glo dat ’n uitgerekte staat van inperking die land nie noodwendig van die virus sal verlos nie, maar dat dit onaanvaarbare gevolge vir gesondheid en die ekonomie sal hê.

Koste

’n Gesondheidswerker toets ’n vrou vandeesweek in Vanderbijlpark vir die koronavirus. Foto: Felix Dlangamandla

Die aanvanklike staat van inperking was verstandig en het waarskynlik die risiko van die gemeenskapsverspreiding van Covid-10 bekamp.

Maar die ware aantal mense wat Covid-19 onder lede het, is moeilik om te kwantifiseer. ’n Beperkte aantal toetse is gedoen en die sifting van hele gemeenskappe vir moontlike infeksies is vertraag.

Die beskikbare bewyse oor die Covid-19-pandemie dui daarop dat enige aanvanklike bekamping van dié siekte deur ’n staat van inperking van korte duur sal wees. Dit sal ook waarskynlik lei tot ’n tweede vlaag van gevalle as daar nie aggressiewe sifting van gemeenskappe vir infeksies is nie, mense wat die virus onder lede nie in isolasie geplaas word nie en diegene wat noue kontak met hulle gehad het nie vir minstens 14 dae in kwarantyn geplaas word nie.

Die ekonomiese gevolge van ’n staat van inperking is ook erg.

Boonop kan Suid-Afrika permanent benadeel word weens die gelyktydige vernietiging van die vraag- en aanbod-sektore van die ekonomie onder ’n uitgebreide algemene staat van inperking.

Dit sal ander onvoorsiene gesondheid- en ekonomiese gevolge op lang termyn hê. ’n Uitgebreide staat van inperking kan ander gesondheidsdienste byvoorbeeld ondermyn, soos die immunisering van kinders.

Die ekonomiese gevolge van ’n staat van inperking is ook erg. Vroeë vooruitskattings dui op betekenisvolle ekonomiese ontwrigting weens die huidige staat van inperking wat die ekonomie ’n beraamde R24 miljard per dag kos. Voorlopige vooruitskattings van die Suid-Afrikaanse Reserwebank dui daarop dat die land 370 000 werkgeleenthede in 2020 kan verloor. Ontleders van private banke het op grond van die aanvanklike staat van inperking van 21 dae bereken dat die bruto binnelandse produk met 7% kan inkrimp in 2020 en dat dit tot ’n fiskale tekort van 12% van die bruto binnelandse produk (die begroting van 2020 het 6,8% voorspel) kan lei en ’n skuld tot bruto binnelandse produk-ratio van meer as 81% in 2021.

Dit beteken dat die staatskas wat reeds nie vol genoeg is nie nog verder onder druk sal wees.

Strategie vir die tyd ná inperking

Mense in Alexandra handhaaf sosiale distansiëring. Suid-Afrikaners sal moet leer om dít voortaan te doen, selfs al word die staat van inperking opgehef. Foto: Felix Dlangamandla

Wêreldwyd word die aandag verskuif van aanvanklike bekamping deur algemene inperking tot strategieë op kort- en mediumtermyn vir openbare gesondheid en die ekonomie gegrond op risiko-ontleding.

Ons wil graag sommige oorwegings vir gesondheid- en ekonomiese beleid vir Suid-Afrika ná die staat van inperking voorlê.

Daarmee gaan ons van die volgende veronderstellings uit:

Covid-19 sal nie in Suid-Afrika uitgeroei word voordat ’n entstof (wat nog ontwikkel moet word) beskikbaar is nie of voldoende natuurlike immuniteit in die bevolking bewerkstellig word nie. Dit is daarom nodig om ’n volhoubare bekampingstrategie vir Covid-19 vir die res van 2020 in plek te stel óf tot ’n entstof beskikbaar is (’n optimistiese beraming is dat dit van 18 tot 24 maande kan duur).

’n Algemene staat van inperking is nie ’n lewensvatbare langtermyn-voorkomingstrategie vir Covid-19 nie vanweë die nadelige gevolge wat dit inhou, onder meer die impak op lang termyn op die samelewing, openbare gesondheid en die ekonomie.

Ekonomiese bedrywighede moet moontlik gemaak word met voldoende maatreëls om gesondheidsgevare wat daarmee verband hou te bekamp.

As die staat van inperking opgehef word sonder behoorlike gesondheid- en ekonomiese maatreëls sal dit lei tot ’n uitermatige hoë sterftesyfer weens Covid-19 wat tot verdere ekonomiese teenspoed sal lei.

Suid-Afrika se gesondheid- en ekonomiese strategie ná die huidige staat van inperking moet daarop gemik wees om goeie gesondheidsorg te verseker en moet ekonomies volhoubaar wees. Volgens ons moet die land ’n oorgang maak na ’n strategie wat op risiko-ontleding gegrond is en doeltreffende gesondheidsbeskerming bied en die hervatting van sommige ekonomiese bedrywighede toelaat.

Dié benadering is voorgestel deur navorsers in Duitsland en die Indiese staat van Kerala.

Gevolglik moet die volgende doelwitte die kern vorm van enige beleid.

Eerstens moet die vinnige verspreiding van die virus getemper word en moet die geleidelike toename van natuurlike immuniteit in die bevolking toegelaat word.

In die tweede plek moet gesondheidsorgstelsels sodanig versterk word dat optimale behandeling vir so veel pasiënte, dié wat Covid-19 onder lede het én dié met ander ernstige siektes, moontlik is.

Derdens moet mense beskerm word wat ’n hoë risiko loop om ernstig met Covid-19 siek te word.

In die vierde plek moet ekonomiese bedrywighede moontlik gemaak word met voldoende maatreëls om gesondheidsgevare wat daarmee verband hou te bekamp.

Ekonomiese en gesondheidstrategieë

’n Soldaat by ’n padversperring buite Pretoria. Foto: Felix Dlangamandla

Op die hoogste vlak is daar drie breë ingrypingstrategieë wat Suid-Afrika kan volg. Dit is aangepas uit ’n onlangse artikel deur drie vooraanstaande Australiese akademici oor gesondheidsaangeleenthede, James Trauer, Ben Marais en Emma McBryde.

* Laat vaar die inperkingsmaatreëls heeltemal en keer terug na normaal.

* Hou aan met inperking om die oordra van infeksies in gemeenskappe te beperk en verseker dat daar so min moontlik gevalle is totdat ’n entstof beskikbaar is.

* Verslap sommige maatreëls, bestuur infeksies en beskerm die mees kwesbare mense totdat natuurlike immuniteit bewerkstellig word of ’n entstof ontwikkel word wat die immuniteit van 60% van die bevolking sal verseker.

Ons glo die derde opsie is die enigste praktiese een vir Suid-Afrika en dat die besonderhede van die inwerkingstelling daarvan belangrik is.

’n Gesondheidstrategie gegrond op ’n verlengde algemene inperking is ekonomies nie volhoubaar nie. Dit is ook skadelik vir die openbare gesondheid. Ons het eerder ’n samehangende gesondheid- en ekonomiese strategie nodig wat sommige ekonomiese bedrywighede toelaat terwyl die verspreiding van die virus beperk word.

Dit vereis ’n aantal gesondheid- en ekonomiese maatreëls wat op ’n gekoördineerde wyse in werking gestel word.

Om suksesvol te wees, moet die skaal van toetsing minstens gelykstaande wees aan dié van Suid-Korea (17 322 toetse per dag in Suid-Afrika, uiteindelik 1 uit elke 150 mense). Ten beste moet dit gelykstaande wees aan die getal toetse in Duitsland (36 399 toetse per dag in Suid-Afrika).

Om infeksies te beperk, moet die land eerstens die vermoë hê om massa toetse en doeltreffende kontak-opsporing voor die einde van April te doen. Dit moet gepaardgaan met ’n omvattende benadering tot sosiale distansiëring.

Infeksies sal nie verminder word as net individue met simptome getoets word nie omdat daar ’n hoë virale voorkoms van Covid-19 in boonste lugweë is in pre-simptomatiese gevalle en mense wat geen simptome toon nie.

Om suksesvol te wees, moet die skaal van toetsing minstens gelykstaande wees aan dié van Suid-Korea (17 322 toetse per dag in Suid-Afrika, uiteindelik 1 uit elke 150 mense). Ten beste moet dit gelykstaande wees aan die getal toetse in Duitsland (36 399 toetse per dag in Suid-Afrika).

Die uitslae van toetse moet individue met infeksies binne 12 tot ’n maksimum van 24 uur kan identifiseer.

Dit moet gevolg word deur onmiddellike isolering en kontak-opsporing. Die isolering van mense wat die virus onder lede het en die kwarantyn van kontakte moet vir minstens 14 dae duur. Dit kan tuis gebeur as dit moontlik is of in spesiale isolasie- en kwarantyn-geriewe.

Die jaarlikse koste van 17 000 toetse per dag is nagenoeg R5 miljard per jaar. Daar sal dalk ’n bykomende koste van R4 miljard wees vir kontak-opsporing en kwarantyn.

Dié koste vergelyk gunstig met dié van die algemene inperking (R24 miljard).

Tweedens moet ekonomiese bedrywighede toegelaat word op ’n manier wat ooreenstem met die voorkoming van die onbeheerste verspreiding van die virus.

Binne die beperkinge van die gesondheidstrategie wat hier bo uitgespel word, is ’n ekonomiese strategie nodig wat gegrond is op risiko-ontleding en wat ekonomiese en gesondheidsbelange balanseer.

Besluite oor die differensiële ontsluiting van die ekonomie moet geneem word in ooreenstemming met die kriteria wat in ’n onlangse navorsingstuk deur Duitse navorsers voorgestel is.

Dit sluit byvoorbeeld in die eerste plek sektore in waar daar ’n lae risiko van infeksie (hoogs geoutomatiseerde fabrieke) en minder kwesbare mense (kindersorg-instansies) is. Dit kan ook gebiede insluit met laer persentasies van infeksies en waar die potensiaal vir die verspreiding van Covid-19 minder is.

Dié besluite sal uiteraard gegrond moet word op ’n deeglike bepaling van faktore soos die strukture en samestelling van huishoudings en openbare vervoer.

Om dit te doen, sal die land uitstekende data nodig hê oor die aard en ligging van enige gemeenskapsuitbrekings van die virus. Sulke data sal saamgestel kan word deur massa-toetsing en akkurate inligting oor die vermoë van sekere sektore van die ekonomie wat weer veilig en in ooreenstemming met gesondheidsprotokolle in bedryf gestel kan word.

Die gesondheid- en ekonomiese strategie met dus op ’n dinamiese manier in werking gestel word met die inagneming van die nuutste bewyse.

* Dié artikel is geskryf deur Shabir Madhi, professor in vaksienologie en direkteur van die MRC Respiratoriese en Meningeale Patogeniese navorsingseenheid aan die Universiteit van die Witwatersrand, Alex van den Heever, mede-professor in die skool vir regeringskunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, David Francis, adjunk-direkteur van die Southern Centre vir ongelykheidstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand, Imraan Valodia, dekaan van die fakulteit handelsreg en bestuur en hoof van die Southern Centre vir ongelykheidstudies aan die Universiteit van die Witwatersrand, Martin Veller, dekaan van die fakulteit gesondheidsdienste aan die Universiteit van die Witwatersrand, en Michael Sachs, mede-professor in ekonomie aan die Universiteit van die Witwatersrand. Cas Coovadia, ’n lid van die raad van die Universiteit van die Witwatersrand, het ook bygedra tot besprekings wat tot die artikel gelei het.

* Dié artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

conversation


MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.