Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘SA moet nou vrede in wêreld help bewaar’

’n Versteurde wêreldorde stel hoë eise aan Suid-Afrika as lid van die VN se Veiligheidsraad, skryf Sithembile Mbete.

Pres. Cyril Ramaphosa en António Guterres, sekretaris-generaal van die VN. Foto: GCIS

Suid-Afrika is nou in sy derde termyn as verkose lid van die Verenigde Nasies (VN) se Veiligheidsraad. Die land se optrede in sy vorige twee termyne het onder skoot gekom, veral weens sy omstrede stemrekord.

In sy eerste termyn is Suid-Afrika daarvan beskuldig dat hy skurkstate steun toe hy teen resolusies gestem het waarin menseregtevergrype in Mianmar, Zimbabwe en Soedan verdoem is. In sy tweede termyn is hy daarvan beskuldig dat hy gestem het vir ’n regimeverandering in Libië wat deur die Weste gesteun word.

Ondanks dié kritiek het die Afrika-Unie (AU) Suid-Afrika se kandidatuur drie keer gesteun en het dit twee derdes van die stemme in die VN se Algemene Vergadering gekry.

Dít wys die wêreld beskou die land as ’n konstruktiewe bydraer tot ’n organisasie wie se taak dit is om oor internasionale vrede en veiligheid te waak. Om ’n lid van die Veiligheidsraad te wees is ’n belangrike verantwoordelikheid, want die veiligheidsraad is die magtigste instansie binne die VN.

Die Veiligheidsraad se hoofverantwoordelikheid is om internasionale vrede en veiligheid in stand te hou.

Die VN, wat in 1945 tot stand gekom het, het 193 lidlande. Sy magte is in sy manifes vervat wat vir ses instansies binne die organisasie voorsiening maak. Die Algemene Vergadering is die hoofforum vir beraadslaging en die formulering van beleid. Alle lidlande is daarin verteenwoordig en dit vergader elke September in New York vir die sessie van die Algemene Vergadering.

Op sy beurt is die Veiligheidsraad se hoofverantwoordelikheid om internasionale vrede en veiligheid in stand te hou. Sy besluite is op alle lede bindend en dit kan die gebruik van geweld kan magtig in diens van internasionale vrede en veiligheid. Dít maak dit waarskynlik die magtigste internasionale forum ter wêreld.

Die lidmaatskap van die Veiligheidsraad reflekteer die wêreldwye magsdinamika soos dit teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog daar uitgesien het. Dit het 15 lede – vyf permanente lede en tien wat deur die Algemene Raad verkies word vir roterende termyne van twee jaar elk. Elke lid het een stem in die raad. Maar die heeltydse lede – die VSA, Brittanje, Frankryk, Rusland en China – het die mag om besluite te veto. Dít maak die permanente lede van die Veiligheidsraad – wat as die P5 bekend staan – die regerende elite van die VN.

Die dag-tot-dag bedrywighede van die VN word deur die Sekretariaat behartig wat deur die sekretaris-generaal – tans António Guterres – gelei word. Hy is die de facto uitvoerende hoof van die VN.

Wat is op die spel?

Suid-Afrika se herverkiesing tot die Veiligheidsraad het die hoop laat opvlam dat die land se buitelandse beleid met pres. Cyril Ramaphosa as president sal terugkeer na dié van Nelson Mandela en dat daar ’n sterker verbintenis tot menseregte sal wees. Daardie beleid mag bewonderenswaardig wees, maar die feit bly staan die wêreld het dramaties verander sedert die einde van die Mandela-presidentskap in 1999.

Die Suid-Afrikaanse regering moet sy benadering tot die Veiligheidsraad wysig om aan te pas by die eise van ’n veranderende wêreldorde. Dít word geïllustreer deur gebeure wat bygedra het tot die afname in die statuur van demokrasie en wat debatte oor wêreldwye menseregte ondermyn het.

Die veranderinge in wêreldwye magsdinamika is duidelik te sien in die verdeeldheid in die Veiligheidsraad.

Dít sluit in die presidentskap van Donald Trump wat daartoe gelei het dat die VSA sy rol as waarborger van die liberale internasionale wêreldorde so te sê prysgegee het.

Daarby is China besig om hom as die nuwe supermoontheid in te grawe terwyl Wladimir Poetin se Rusland groot magswedywering weer op die internasionale agenda geplaas het.

Die veranderinge in wêreldwye magsdinamika is duidelik te sien in die verdeeldheid in die Veiligheidsraad. Die aantal konsensus-resolusies wat in 2018 aanvaar is, het afgeneem terwyl die gebruik van die veto toegeneem het. Dit lyk asof dié patroon in 2019 voortduur. Vroeër vanjaar het twee konsepresolusies oor die toestand in Venezuela deur die mat geval en tot dusver is ses resolusies sonder konsensus aanvaar.

Minder konsensus

Pres. Donald Trump van Amerika. Foto: Argief

Dít is noemenswaardig, want in die 20 jaar sedert die einde van die Koue Oorlog was die neiging in die Veiligheidsraad een van konsensusbesluite. Diegene wat resolusies opgestel en gesteun het, het probeer om breë konsensus vir die konsepresolusie te kry voordat hulle dit ter tafel gelê het vir bespreking. Konsensusbesluite het die Veiligheidsraad se legitimiteit versterk omdat die vyf permanente lede saam met die ander lede gewerk het eerder as om hul strukturele mag te gebruik om hul perspektiewe of belange op te dwing.

Die toenemende gebruik van die veto en die onvermoë om konsensusbesluite te neem weerspieël die terugkeer van wedywering tussen supermoonthede. ’n Verdeeldheid in die raad heers sedert Navo se ingrepe in Libië in 2011 en blyk ook uit die voortslepende dooiepunt in pogings om werk te maak van die oorlog in Sirië.

Maar spanning tussen die permanent lede bied ’n geleentheid aan die tien nie-permanente verkose lede om groter invloed oor die raad se bedrywighede uit te oefen.

Hoogtepunt vir SA

Dr. Naledi Pandor, minister van internasionale betrekkinge en samewerking. Foto: Leánne Stander

Die hoogtepunt van Suid-Afrika se lidmaatskap van die Veiligheidsraad sal in Oktober wees wanneer hy die roterende presidentskap van die raad oorneem. Lede gebruik gewoonlik hul presidentskap om onderwerpe aan te bied wat nie amptelik deel van die raad se agenda is nie, of om kwessies wat andersins afgeskeep sou word op die agenda te hou.

Jerry Matjila, Suid-Afrika se permanente verteenwoordiger, is al drie jaar lank in dié amp en het goeie betrekkinge met sy eweknieë opgebou. Dit lyk asof hy daarin slaag om ’n balans te handhaaf tussen Suid-Afrika se belange en interaksie tussen bondgenote van die wêreldwye noorde en die wêreldwye suide.

Soos in sy vorige twee termyne is Suid-Afrika se fokus in hierdie termyn weer die handhawing van vrede en veiligheid in Afrika. Dít is vroeër vanjaar uitgedaag toe die uitslae van die verkiesing in die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) betwis is.

Westerse lede van die Veiligheidsraad, veral België en Frankryk, het sonder sukses Suid-Afrika se steun probeer kry vir hul poging om ’n sterk standpunt in te neem teen enige moontlike bedrog met die uitslae. Suid-Afrika het geweier en hom geskaar by die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap wat ten gunste was van die vorming van ’n regering in die DRK op grond van die uitslae wat deur die verkiesingsowerhede vrygestel is.

China en Rusland het Suid-Afrika se siening gedeel dat dit ’n interne kwessie, een van soewereiniteit, is waarby die Veiligheidsraad hom nie moet inmeng nie.

Felix Tshisekedi is toe op 24 Januarie as president beëdig en deur die Veiligheidsraad as legitieme staatshoof erken.

Grootste omstredenheid

Pres. Wladimir Poetin van Rusland. Foto: Bloomberg

Buiten uitdagings in Afrika was die grootste omstredenheid van Suid-Afrika se lidmaatskap tot dusver die stemming oor twee opponerende konsepresolusies – een wat deur Rusland voorgestel is en die ander deur Amerika – oor die politieke situasie in Venezuela. Suid-Afrika het teen die Amerikaans-gesteunde konsepresolusie gestem waarin die verkiesing in Mei verlede jaar van Nicolás Maduro tot president bevraagteken is. Die resolusie het nie geslaag nie weens veto’s deur China en Rusland.

Suid-Afrika se stemming oor die kwessie was in pas met sy verklaarde buitelandse beleid. Die SA regering is al lankal gekant teen internasionale ingryping in regimeveranderinge buiten in baie spesifieke omstandighede.

Die debakel oor sy stem vir resolusie 1973 in Maart 2011 waarin militêre ingryping in Libië goedgekeur is, het ’n wrang nasmaak gelaat wat steeds talm.

Tot dusver het Suid-Afrika hom in sy lidmaatskap van die Veiligheidsraad gehandhaaf deur versigtige en berekende besluite te neem. Die aanstelling van dr. Naledi Pandor as minister van internasionale betrekkinge en samewerking is goeie nuus vir die res van die land se termyn. Sy is ’n gesoute politikus met die nodige gravitas om te sorg dat Suid-Afrika se buitelandse beleid weer ernstig opgeneem sal word. Daarby het Ramaphosa vertroue in haar en dít is belangrik, want dit verleen aan haar departement die gesag om moeilike besluite in die Veiligheidsraad te neem.

* Mbete is ’n dosent aan die Universiteit van Pretoria. Dié artikel het aanvanklik op The Conversation verskyn.

the conversation
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.