Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA se geweld is ANC se geweld
Herman Mashaba van die DA – die nuwe burgemeester van Johannesburg. Foto: felix dlangamandla

Die geleidelike magsverlies van die ANC verminder die kanse vir politieke geweld in die toekoms, redeneer Piet Croucamp.

Dit is meer as twee weke ná die 2016- munisipale verkiesing en die meeste plaaslike ­rade het reeds hul eerste sittings gehad.

In verskeie metropolitaanse ­rade is regerings saamgestel deur partye wat slegs ’n gewone meerderheid in daardie rade gekry het en in verskeie gevalle moes die DA staatmaak op kleiner partye om die volstrekte meerderheid te verkry wat aan die party die getal raadslede gegee het om uiteindelik die burgemeester van hul keuse te verkies.

Op enkele uitsonderings na was daar ’n mate van sigbare ontsteltenis onder die ANC-lede wat druipstert die uitvoerende bestuur moes prysgee, maar merendeels het die proses van magsoorname betreklik bestendig verloop.

Prof. Hermann Giliomee en wyle dr. Van Zyl Slabbert het al in die vroeë 1990’s gewaarsku dat die werklike toets vir die vestiging van ’n demokrasie kom wanneer mag deur ’n bevrydingsparty afgestaan moet word, veral wanneer die staatsbestel en die staatskas oorhandig moet word aan ’n historiese mededinger. Die vraag is eerstens of die heersende bestel bereid sal wees om die mag bedeesd af te staan en tweedens of die lojaliste van die bevrydingsbeweging die uitslag sal aanvaar.

Hoekom word ’n DA-burgemeester in Tshwane aanvaar, maar Didiza het twee dae van verwoesting, geweld en brandstigting gebring?

Daar was nog altyd konsensus dat indien so ’n proses wel uiteindelik ’n werklikheid in Suid-Afrika word, dit verkieslik stelselmatig en evolusionêr moet gebeur, eerder as dat die magshebbers nog een dag met hul tentakels diep gewortel in die masjinerie van die staat en die samelewing sit en die volgende dag totaal verwyderd van enige invloed of mag eindig.

Die feit dat die ANC se politieke regime dus op die vlak van munisipale regering weggekalwe word, versag die werklikheid

van kwynende legitimiteit vir die ­party.

Die Wes-Kaap, waar Marius Fransman en sy voorgangers met ’n eentonige maar voorspelbare ritme die bevrydingshegemonie verkwansel het vir politieke lensies, het uiteraard die tafel voorberei vir die dramatiese verlies aan politieke bestuur in die groot metropole van Gauteng.

Gwede Mantashe se woorde dat die ANC bereid is om die opposisiebanke in die metrorade te vul, is soveel van ’n vingerwysing na Jacob Zuma as wat dit ’n ideologiese besef is dat die tradisionele steunbasis van die party op 3 Augustus ’n boodskap uitgestuur het wat die party nie durf in twyfel trek nie. Die oppervlakkige argument wat enkele apparatsjiks in Luthulihuis aanvoer dat nasionale en provinsiale verkiesings noodwendig ’n beduidender persentasie uitgebragte stemme oplewer en dat die ANC te danke daaraan verlore steun en aansien sal terugwin in 2019, is gevaarlike romantiek wat steeds wys dat die party die bevolking se 2016-boodskap met onverskilligheid bejeën.

Eweneens kan die ras-skeptici wat so graag wou glo dat swart Suid-Afrikaners in alle omstandighede vir die ANC sal stem, nou ook op hul neuse kyk. Dit het ’n revolusie vir die Nasionale Party se sikofante geneem om tot hulle sinne te kom. Nou het swart Suid-Afrikaners weer hul politieke wrewel in die wyse waarop die land bestuur word, gewys – maar hierdie keer op demokratiese wyse by die stembus.

Ek was nog altyd van mening dat dit ’n baie groot fout sou wees om te dink dat mense wat besluit om nie te stem nie, niks te sê het nie. In hierdie verkiesing het diegene wat nie gaan stem het nie, ’n groter uitwerking op die ­regerende party gehad as ­enige opposisieparty.

Die DA het – landwyd gesproke – met slegs twee persentasiepunte gegroei en die EFF het swakker gedoen as wat ons almal verwag het.

Die ANC is egter nie besig om te wroeg oor die groei van die steun aan die opposisie nie. In Luthulihuis word daar eerder druk bespiegel hoe om die oorverdowende stem van die wegblyers terwille te wees. Die wegblystem het stilstuipe, nie apatie nie; en daar is duidelike tekens dat die ANC die boodskap op ’n baie Kaapse manier gekry het.

Om terug te kom by die argument wat betref magsoorname: ’n Interessante vraag is waarom Giliomee en Slabbert se voorspellings van geweld en verwoesting aan die buitewyke van die metropole nie bewaarheid is nie.

Ek het al self op dié blaaie geargumenteer dat die regerende party se politieke kliënte in die opportunistiese domein van tenderpreneurs nie sonder slag of stoot die verwydering van die meester-patronate sal aanvaar nie. Veral nie indien die uitslag in die groot stede met begrotings van miljarde rande nie verteenwoordiging deur ’n volstrekte meerderheid insluit nie.

Indien die huidige maatskaplike kalmte en bestendigheid dus in die afsienbare toekoms voortduur, is die vraag: Wat het dan in Tshwane gebeur met die bekendmaking van Thoko Didiza se kandidatuur? Hoekom word ’n DA-burgemeester sonder meer aanvaar, maar Didiza se teenwoor-digheid het twee dae van verwoesting, geweld en brandstigting gebring? Die antwoord is dalk nie so voor die hand liggend nie, maar die feit dat die meeste van die politieke geweld die afgelope dekade binne die ANC plaasgevind het – en nie tussen politieke partye nie – behoort deel van die antwoord te wees.

Die meer as 100 politieke moorde van die afgelope 20 jaar word grootliks voor die deur van onderlinge geskille binne die ANC gelê. Dit vertel ons dalk iets van die teenstrydighede binne die bevrydingstryd eerder as van die gehalte van ons demokrasie.

Die ANC het ’n redelike kans om weer die verkiesing van 2019 te wen, maar dit sal net wees indien die redes vir onderlinge geweld aangepak kan word, wat dit ook al mag wees.

As Gwede Mantashe egter die naïewe politieke mistasting maak om te dink die ANC sal gered word deur mense aan te ry na die stembus, maak hy ’n moerse fout.

Die mense het gespreek, selfs toe hulle geswyg het.

) Dr. Piet Croucamp is ’n onafhanklike politieke kommentator.

Meer oor:  Piet Croucamp  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.