Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA se jonges vertrou demokrasie nie meer

Jong mense in Suid-Afrika is besig om hul vertroue in die demokrasie te verloor. En dit is ’n onrusbarende tendens, skryf Leila Patel en Lauren Graham.

Kiesers van die toekoms? Jong mense voor die verkiesing by ’n saamtrek in Alexandra wat deur pres. Cyril Ramaphosa toegespreek is. Foto: Felix Dlangamandla

Aan die vooraand van Suid-Afrika se sesde demokratiese verkiesing op 8 Mei vanjaar het duisende jong mense Twitter as ’n platform gebruik om te vertel waarom hulle nie gaan stem nie.

Hulle het die hutsmerk #IWantToVoteBut gebruik.

Hierdie onderwerp was gewild tydens die verkiesing en het insig gebied oor hoekom ’n groot groep jong mense verkies het om nie hul kruisies agter ’n spesifieke party se naam te trek nie.

In aanloop tot die verkiesing het meningspeilings en politieke kommentators reeds die invloed van jong kiesers (mense onder 29 het 21% van potensiële kiesers uitgemaak) beklemtoon, sowel as die dreigende moontlikheid dat hulle nie gaan stem nie.

Die onlangse verkiesing het ook sedert Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 die laagste stempersentasie gehad.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het ook bekend gemaak dat omtrent nege miljoen mense wat kan stem, hulle nie as kiesers geregistreer het nie. Ses miljoen van hulle was jong mense.

Wat nog meer kommerwekkend is, is dat minder as 20% van die kiesers wat die eerste keer kon stem (dié wat 18 geword het sedert die laaste nasionale verkiesing) as kiesers geregistreer is.

Die onlangse verkiesing het ook sedert Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing in 1994 die laagste stempersentasie gehad.

Wanneer jy kyk na die tendense van die laaste paar jaar, kan ’n mens ’n duidelike afname in die jeug se deelname aan verkiesings sien. Is dit ’n weerspieëling van die jeug se apatie, of gee hulle daarmee hul misnoeë te kenne oor Suid-Afrika se demokrasie, wat nie aan hul vereistes voldoen nie?

Die sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika van die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ’n studie, The 2019 Elections: Socio-economic performance and voter preferences, gedoen wat wys dat jong Suid-Afrikaners hul maatskaplik-ekonomiese welsyn belangriker as demokratiese regte ag.

’n Vrou loop tydens vanjaar se verkiesing verby ’n stemlokaal.Foto: Deaan Viviers

Om dit eenvoudig te stel, die meerderheid Suid-Afrikaanse jong mense dink dis belangriker dat die land aan hul behoeftes voldoen, eerder as wat hul stemreg het. Dit is ’n onrusbarende tendens wat daarop dui dat jong mense besig is om hul vertroue in die demokrasie te verloor.

Die bevindinge kom uit ’n steekproef wat in die vierde helfte van 2018 gedoen is. Die studie het gekyk hoe groot die invloed van die regering se prestasies – met betrekking tot dienslewering, maatskaplik-ekonomiese regte, die persepsie van korrupsie en staatsbestuur – op kiesersvoorkeure in die 2019-nasionale verkiesing is.

Die studie het uit 3 431 respondente (wat die meer as 38 miljoen kiesers verteenwoordig het) en die meerderheid van die jong mense tussen die ouderdom van 18 en 34 bestaan.

Vertrou jong mense nog die land se politici? Foto: Argief

Brood-en-botter-kwessies belangriker as stemreg

Die studie het bevind dat jong mense politieke partye en regeringsinstansies nog minder as ouer mense vertrou.

Terwyl alle potensiële kiesers meer waarde aan hul maatskaplik-ekonomiese welstand as stemreg geheg het, het jong mense veral nog meer besliste menings daaroor gehad.

Slegs 27% (minder as drie uit die tien van die respondente) glo dat demokratiese regte belangriker as brood-en-botter-kwessies is.

58% van Suid-Afrika se jeug ag hul basiese behoeftes (soos werkgeleenthede, ’n inkomste en behuising) belangriker as hul stemreg en toegang tot howe, vryheid van spraak en uitdrukking.

Slegs 27% (minder as drie uit die tien van die respondente) glo dat demokratiese regte belangriker as brood-en-botter-kwessies is.

Die oorblywende 15% kon nie besluit wat die belangrikste vir hulle is nie. Die respondente het ook aangedui dat hulle nie vertroue in die demokratiese proses het om na hul belange om te sien nie.

Dit is wel verstaanbaar dat maatskaplik-ekonomiese regte belangriker as demokratiese regte geag word, veral wanneer ’n mens die talle uitdagings wat jong mense moet trotseer in ag neem.

’n Kwarteeu nadat apartheid tot ’n einde gekom het, is Suid-Afrika steeds een van die ongelykste lande in die wêreld.

Die mees onlangse syfers toon 55,2% werkloosheid onder jong mense, amper dubbel die syfer van Suid-Afrika se totale werkloosheidsyfer (’n steeds skokkende 27,6%).

Jong mense stoei ook met die tekortkominge van die skoolstelsel, wat talle van hulle onvoorbereid op tersiêre onderwys laat of hulle nie toegang daartoe bied nie. Hulle ontvang ook nie entrepreneuriese opleiding nie.

Volgens ons navorsing oor jeugwerkloosheid is daar talle struikelblokke vir jong mense wat toegang tot werkgeleenthede soek.

Dit sluit in ’n wanverhouding tussen hul opleiding en kwalifikasies en die vaardighede wat die Suid-Afrikaanse regering tans benodig. Veral jong mense het nie die nodige vaardighede nie en dit kniehalter hulle wanneer hulle werk soek. Nog ’n probleem is dat dit besonder duur vir jong, werklose mense is om werk te soek.

Jong mense dink ’n oplossing vir werkloosheid is belangriker as stemreg. Foto ter illustrasie. Foto: Getty Images

Verlies aan vertroue

Die sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika het in 2015 ’n kwalitatiewe studie, Youth Transitions in South African Communities, gedoen. Die respondente was jong mense met ’n gemiddelde ouderdom van 17,5 jaar. Volgens die studie het jong Suid-Afrikaners wel omgegee oor die politiek en hul rol as landsburgers, maar hulle was oortuig daarvan dat die regering nie iets aan hul bekommernisse kan of wil doen nie.

Die jong mense wat aan die fokusgroepe deelgeneem het, was almal verbasend goed oor aktuele sake ingelig. Hulle het sterk menings gehad oor verskeie politieke kwessies – van vreemdelingehaat tot die regering se onvermoë om al sy landsburgers toegang tot basiese dienslewering te gee.

Hulle was ook besorg oor die probleme en uitdagings soos misdaad en werkloosheid binne hul gemeenskappe.

Jong mense meen selfs al stem hulle, sal dit nie daadwerklike verandering in hul lewens teweegbring nie.

Miskien is dit die bewustheid wat hul siening oor die formele politieke prosesse help vorm. Die verslag het ook bevind dat die meeste van die respondente aangedui het dat hulle nie wil stem nie.

Die fokusgroepe se antwoorde het almal een ding in gemeen gehad: Jong mense meen selfs al stem hulle, sal dit nie daadwerklike verandering in hul lewens teweegbring nie.

Al die respondente het gesê dat hulle oor die algemeen geen vertroue in politieke strukture en prosesse – soos verkiesings, optogte en om lid van ’n politieke party te wees – het nie. Hulle is diep sinies daaroor, wat ook daarop dui dat hulle nie politieke leiers vertrou nie.

Toe was hulle reeds bewus van hoe oudpres. Jacob Zuma se rampspoedige administrasie hulle gefaal het. Maar hulle het ook gemeen dat politieke leiers na hul stem vry, maar nie hul verkiesingsbeloftes nakom nie. Hulle het geglo dat politieke leiers selfsugtig is en nie vir die belange en welvaart van hul gemeenskappe omgee nie.

Baie van die respondente het ook aangedui dat hulle vervreem van Suid-Afrika se politieke leiers voel.

Dringende optrede is nodig

Suid-Afrika het grootskeepse, daadwerklike ingryping nodig om die jeugwerkloosheidsyfer en maatskaplike en ekonomiese uitsluiting te takel.

Bewese strategieë is nodig om die strukturele uitdagings van jeugwerkloosheid en ’n swak onderwysstelsel aan te pak.

Dit moet gehalte- en relevante onderwysstelsels insluit wat jong mense toerus vir ’n wêreld wat voortdurend verander.

Dit moet makliker wees om toegang te kry tot tegniese beroepsonderwys en arbeidsagentskappe en dienste wat hulle help om werk te vind.

Die strategieë is broodnodig om die marginalisering van jong mense te beveg en hul vertroue in die demokratiese proses te herstel.

Net dan sal Suid-Afrika ’n polities stabiele, regverdige en vreedsame samelewing wees.

* Patel is ’n professor in maatskaplike ontwikkelingstudies en Graham is ’n professor in die sentrum vir maatskaplike ontwikkeling in Afrika. Hulle is albei verbonde aan UJ. Die artikel het oorspronklik op The Conversation verskyn.

Meer oor:  Demokrasie  |  Werkloosheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.