Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA se nasionale sport: plundery

Ons het dié week die utopie gesien wat die ANC al jare vir ons beloof. En dit is geen paradys nie, skryf Gareth van Onselen.

Wat oorbly: ’n Pakhuis en vragmotor Woensdag in Durban nadat dit geplunder is. Foto: Reuters

In 2002, tydens die ANC se algemene konferensie in Stellenbosch, het die party sy “Network Lounge” onthul. ’n Plek waar die grootkoppe van semistaatsondernemings en staatsdepartemente in aanraking kon kom met die private sektor en gemeenskaplikheid en respek vir mekaar kon veins weg van die ekonomiese slagveld. En sommer ook ’n ANC-leerbaadjie as aandenking koop.

In latere berigte is onthul dat ondernemings tot R5 miljoen vir ’n leunstoel in dié sitkamer moes betaal. En hoe vinnig het baie van hulle nie gehoes nie! Die party, die staat en die private sektor was nog nooit nader aan mekaar nie. Die resultaat was ’n orgie van oorvloed en weelde met sigare en cognac in ’n lugversorgde salon uitsluitlik vir hierdie baie, baie belangrike persone. Dit terwyl die voetsoldate elders moes swoeg onder die juk van die een of ander eindelose en anachronistiese toespraak oor die aard van die revolusie.

Op die laaste dag van die konferensie is die salon egter onverwags gesluit. Daar is berig dat “honderde afgevaardigdes” ’n bietjie oproerig geword het oor die moontlikheid om hul hande te lê op wat oorgebly het van die gratis korporatiewe geskenke wat daar uitgedeel is. Met die minder belangrikes wat hulself gulsig gehelp het aan die parafernalia van die baie belangrikes het die projek ’n stille dood gesterf.

                                                                                    ***

Die afgelope dekade was die Suid-Afrikaanse staat nog altyd meer pretensie as werklikheid. Die afgelope week is die illusie heeltemal verpletter, nadat KwaZulu-Natal teruggekeer het na basiese eiebelang met die gepaardgaande ongebonde misdadigheid en geweld.

Dae lank was daar geen regering nie en die provinsie, sy stede en dorpe tot op die grond vernietig. Die regering is nou besig om die skyn van ’n funksionerende staat te herstel. Of hulle selfs dit kan doen, sal ons moet sien.

Die gebeure het ook die krag van die patriotiese gom onthul wat, volgens baie, die land nog altyd bymekaargehou het. Dié is in ’n oomblik uitmekaargepluk – net soos alles anders. Die idee van ’n “nuwe daeraad” nou net ’n verflenterde hoop rommel. Ook die idee van ’n nuwe daeraad was net pretensie, net leë woorde, soos soveel ander van hierdie regering se beleid.

En ons grootste swakpunt is ons nasionale uitvoerende gesag.

Byna elke deel van die staat het die afgelope week misluk. Pres. Cyril Ramaphosa, stadig en stokkerig, het oorweldig en onseker van homself gelyk. In 2012, toe gewelddadige protes in Marikana toegeneem het, het hy vir “gepaste optrede” gevra. Alhoewel hy deur ’n latere kommissie van ondersoek van blaam onthef is, rus die slagting van 34 mynwerkers ongetwyfeld steeds swaar op sy gewete. Sy versuim om die afgelope week die weermag onmiddellik en op volle sterkte te ontplooi, is miskien ’n bewys van sy huiwering. Of miskien nie.

Wat ook al die rede is, het die plundering net in die vakuum toegeneem.

Die polisie, sleg toegerus en sonder die nodige kundigheid of ondervinding, is tot swape gemaak of was net blote waarnemers van chaos. En boonop leierloos. Die nasionale polisiekommissaris – ’n man wat eens gesê het hy is “gesalf vir die posisie voor hy aangestel is”, is steeds soek. Sy rol oorgeneem deur ’n minister wat buiten die groot gebaar en die seremonie min beteken. Die weermag, lyk dit, maak meer staat op teenwoordigheid as enige beduidende plan.

                                                                                  ***

Die ANC se ewige meerderheid het gelei tot swakheid, nie mag nie. En dit is oral. Dis ’n soort eufemisme vir ’n ongebreidelde verwaarlosing wat opsigself krimineel is in sy omvang en diepte. Ons instellings is uitgehol. En hulle word gelei deur uitgeholde mense.

En ons grootste swakpunt is ons nasionale uitvoerende gesag, ’n toonbeeld van pretensie; ’n versameling van die onbevoegdes en die onsamehangendes; mense toebedeeld met geweldige mag om met ons demokrasie te speel en op bedrieglike wyse voor te gee hulle het gesag – moreel of andersins – terwyl hulle oor geen beskik nie.

Om te regeer is ’n taak te kompleks vir die ANC. Of, ten minste, vir hierdie ANC, ’n organisasie wat op ’n ander manier geplunder is – stadig, maar stelselmatig, oor ’n lang tydperk, van dinge soos wysheid, vaardigheid, kundigheid en versiendheid.

Dit is nie net die fisieke staat – ons paaie, spoorweë, water- en elektrisiteitsinfrastruktuur – wat uitgehol is nie, maar ook die staat se senuweestelsel is onherstelbaar beskadig. Ons intelligensiedienste, waarop die staat steun om die nasionale hartklop te meet, is nie net korrup en onbevoeg nie, maar so verstrengel in die ANC se interne politiek dat hulle die vermoë verloor het om dit wat in nasionale belang is, te identifiseer. Wat die afgelope week se gebeure betref, lyk dit of daar net twee opsies is: Óf die intelligensiedienste het misluk óf hulle was aandadig.

Om te regeer is ’n taak te kompleks vir die ANC.

En wat die openbare debat betref, lyk dit meer na ’n retoriese asblik as ’n Sokratiese forum. Dis deurtrek van revolusionêre praatjies. Die alliansie, wat altyd in die taal van die revolusie praat, het gehelp om ’n pseudo-revolusionêre ingesteldheid onder baie Suid-Afrikaners te bevorder.

Die afgelope week het die revolusie toe gekom, maar die ANC het niks gehad om te sê nie, want, anders as wat hulle beplan het, was die party aan die ontvangkant.

En wat daardie ander “revolusionêre” party, die EFF, betref – hulle wat altyd besig is om teen die “stelsel” uit te vaar en oënskynlik in die werklike revolusie geïnvesteer is. Ook hul praatjies was net vertoon. Nou was die oomblik. Maar ook Julius Malema en sy party is agtergelaat, flappend in die wind terwyl hulle nie kon munt slaan uit ’n tydsgees wat vinnig sonder enige beheer gewoed het nie.

                                                                                 ***

Daar is baie wat voorgee om die ware “stem van die nasie” en volgende troonopvolger te wees. Maar as hierdie die ware stem van die mense was, wou niemand dit as hul eie opeis nie.

Dat die pandemonium hoegenaamd onder beheer gebring is, is ’n aanduiding dat die sosiale kontrak steeds hou – alhoewel dit aan ’n baie dun draadjie hang.

Ironies genoeg was dit – soos talle kere tevore – een van die geleenthede waar apartheid die ANC gered het. Dis te danke aan apartheid se stedelike beplanners dat Suid-Afrika geen Tahrir-plein het waar die massas kan bymekaar kom in tye van nasionale ontevredenheid nie. In elke metro is die armes, werkloses en die werkersklas oor groot gebiede versprei. Fabrieke en nywerheidsgebiede, gedryf deur die historiese behoefte vir goedkoop arbeid, is ook oor ’n wye gebied versprei.

En ons het winkelsentrums, soveel winkelsentrums. Klein eilandjies van ekonomiese aktiwiteit, dikwels midde-in gebiede van groot gebrek. As die afgelope week hoegenaamd polities geïnspireerd was, sou mense saamgekom het met baniere en plakkate. Maar dit was ’n ekonomiese en opportunistiese opstand en Suid-Afrika se stedelike geografie het duidelike teikens gestel.

Dit is die werklikhede van stedelike beplanning. Dinge waaroor die ANC geen insig het nie en ook nie die vermoë het om dit te verander nie. Johannesburg, byvoorbeeld, het twee stedelike kerns. Die ou en sterwende een in Hillbrow en die nuwe en ontluikende in Sandton. Tussen die twee lê honderd mikro-stedelike sentrums van Fourways tot Rosebank. Dié uitleg het Johannesburg waarskynlik van die ergste van die plundering gered.

In Durban, daarenteen, is miljoene mense in ’n nou soom langs die kus ingeprop – vasgedruk tussen die see en die platorand. En daarom het die hele provinsie ’n toneel vir die verwoesting geword.

Die ANC se onvermoë om ons stedelike omgewing te omvorm op ’n manier wat hierdie skrille kontraste verwater, het die gevoel stelselmatig vererger dat die lewe net oorkant die pad baie beter of baie slegter is, afhangende van watter kant van die pad jy staan. Volgens statistieke is die ongelykheid in die land nou erger as aan die einde van apartheid. Die rekordgetal werkloses, die grootte van die staat se loonrekening en staatskuld onderstreep net die feit. Ten minste het die ANC die afgelope dekade iéts bereik.

                                                                                    ***

Dit is nie net die onsigbare grense wat ongelykheid definieer nie, maar ook die baie sigbare grense wat reg en verkeerd definieer, wat olie is op die vuur van die algemene gegriefdheid.

Dit is nie onbeduidend dat inwoners van Zandspruit naby Roodepoort in die weke voor die plundering agt lede van die gemeenskap wat van verskillende misdade beskuldig word, gevang, kaal uitgetrek en lewend verbrand het nie.

Die voorval is nou vergete, ’n teken van die omvang van ons pyn. Maar dit plaas die plundering wel in ’n breër, baie meer skrikwekkende konteks. Net soos die ANC is daar nog baie ruimte vir verdere verval en as ’n samelewing eksperimenteer ons toenemend met rou anargie in sy gewelddadigste vorm.

In KwaZulu-Natal is die toetsstene vir hierdie soort moorddadige impuls baie en uiteenlopend – met etniese spanning, xenofobie en anti-Indiese sentiment onder hulle. Dit kon alles soveel erger gewees het. En dit sê baie.

Die ware, nie-amptelike gom waarop die ANC nog altyd vertrou het om mense aan hul kant te hou is rassesolidariteit en die belofte van verandering. Dié gom was eens inderdaad baie sterk. Maar vandeesweek, toe dinge begin uitmekaar val, het die foutlyne vir die eerste keer op ’n klasse- eerder as ’n rassegrondslag gebreek. Die middelklas, ’n idee wat die ANC in gelyke mate verafsku en ignoreer, het in KZN saamgestaan om hul eiendom en hul gemeenskappe te beskerm. Private eiendom. Nou dít is ’n interessante idee.

                                                                                ***

Die enigste politieke konsep wat meer alomteenwoordig is as ras in Suid-Afrika, is nasionalisering. Dit is waarskynlik die ANC se enigste beleid. Die details daarvan bestaan net in die toepassing daarvan – wat beteken daar is ietsie vir almal en alles.

Die minister van finansies is lief om te sê “gee aan die keiser wat die keiser toekom . . .” Die afgelope week was Jan Alleman die keiser en aan hom het alles toegekom. Die ANC het oorbodig geraak. Want as die regering net vir homself steel, kan daar ook nie op die regering staatgemaak word om die genasionaliseerde eiendom te herverdeel nie. Wat ons dus hier gesien het was nasionalisering deur die mense vir die mense en sonder die ANC. Die mense het goed geleer.

                                                                                ***

As daar enige hoop in die hopeloosheid te vinde is, is dit ’n middelklas wat in staat is om in gemeenskaplike belang saam te staan en as groep te identifiseer, selfs al was dit per ongeluk. En dit is in die middelklas – en om dit groter te maak en te koester – wat Suid-Afrika se toekoms lê.

Die middelklas het egter geen politieke tuiste nie. Geen party identifiseer hom uitdruklik as die kampvegter vir die middelklas nie. Dit is die onsigbare neweproduk van ons nuwe demokrasie, ’n ongewenste afleiding, onversoenbaar met die revolusie. En alles, van belasting tot dienslewering, is ontwerp om hulle te vervreem en te ondermyn.

Dinge is nou anders. Uit die slagting is daar tekens van solidariteit. Of dit deur opposisiepartye gebruik kan word op ’n manier wat mense saambind, sal ons nog moet sien. Die minste daarvan sou wees om hulle te oorreed om in Suid-Afrika te bly. Die middelklas is moontlik die enigste ware konsekwente ding in die land. Die ruggraat van ons belastingbasis. En hulle was nog nooit meer kwaad en ontnugter deur die ANC nie. Die land sal saam met die middelklas oorleef of sterf.

                                                                                ***

Ideologies gesproke is die revolusie in daardie sin van die woord verby. Dit sal waarskynlik min verskil aan die ANC maak – hulle is immers ’n party wat steeds in die 1930’s vasgevang sit en nie in staat om selfondersoek te doen of aanpassings te maak nie.

Maar vir diegene wat meer in kontak is met die moderniteit, is dit nou die enigste manier om vooruit te beweeg. Ons moet ’n middelklas-samelewing skep. En dit vereis nie ’n revolusie nie, maar ’n groeiende ekonomie, en ’n beleid wat nodig is om dit te doen.

Die probleem is egter ’n politieke party sonder die nodige vaardighede of leierskap, in beheer van ’n regering wat hy nie kan stuur of beheer nie, ingebed in die taal van morele gesag en pseudo-revolusionêre beleid wat onverenigbaar is met ’n moderne grondwetlike bestel, ’n wêreldekonomie en die eise van demokrasie.

Die pretensie van beheer is al wat die ANC het. Om iets anders te erken, sou wees om mislukking te erken. Maar sy lae selfbeeld, verbloem deur grootheidswaan en arrogansie, sal nooit so ’n bekentenis gedoog nie. Die ANC het hom nou al soveel keer opnuut verbind aan die revolusie dat dit nie meer ’n opsie is om dit nou te laat vaar nie.

Dit is die ding van revolusies. In teenstelling met werklike regering, bly dit onveranderlik. Dit kan nooit bespoedig word nie. En as die spiraal eers afwaarts is, sal dit altyd afwaarts bly – altyd vergesel van die belofte dat utopie net om die volgende draai is.

Die afgelope week het ons gesien wat om die volgende draai is. En dit is geen paradys nie. Die woesteny wat daar op ons wag sal jy in geen ANC-manifes vind nie. Wat jy wel in hul manifes sal vind, is die gereedskap wat jy nodig het om die vernietiging wat ons die afgelope week in KwaZulu-Natal gesien het, op nasionale skaal teweeg te bring.

En ons het ook gesien dat die staat net ’n idee is, nie ’n werklikheid nie. En dat die ANC, die revolusionêre middelman, oorbodig is. Wet en die orde sal deur die mense bepaal word.

Ná afloop van die ANC se algemene konferensie in 2002 het ’n stadige, maar bestendige afname in die dissipline binne die party begin. In die aanloop tot Polokwane in 2007 het die media daagliks berig oor takvergaderings wat in chaos en geweld eindig met stoele wat deur die lug vlieg. Gedurende die 2010’s het politieke sluipmoorde ANC-politiek begin kenmerk, veral in KwaZulu-Natal namate die interne faksies meer fundamentalisties geraak het. Ook op nasionale vlak het dinge uitmekaar begin val namate korrupsie geprofessionaliseer is en staatsbates kaal gesteel is van sowel kundigheid as geld.

Dit alles het oor ’n dekade of wat afgespeel, maar gesien deur ’n historiese lens was dit ’n oogwink, ’n waansinnige jaagtog na selfverryking. Die staat was ’n winkelsentrum en ook dit is tot op die grond afgebrand. Jy kon dit van ’n myl ver sien.

Die mense neem al vir lank hul leiding van die ANC. Plundery en vandalisme, hoewel nie op hierdie skaal nie, is ’n nasionale tydverdryf. Ons verbrand reg deur die jaar treine en vragmotors, klinieke en selfs skole. Maar tot dusver het ons ’n mate van selfbeheersing toegepas.

Nou begin dit vaart kry en dinge gebeur soveel vinniger. ’n Verdwynende staat en ’n ontwikkelende samelewing, wat tree vir tree met mekaar in pas bly in hul agteruitgang.

Die afgelope week was dit die mense se beurt om die dwarslat ’n bietjie laer te stel.

Hulle het nie teleurgestel nie.

Meer oor:  Gauteng  |  Kwa-Zulu Natal  |  Anc  |  Protes  |  Plundery  |  Winkelsentrums  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.