Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SA vertrou nie regering se bestuur van Covid-19 nie

Moeite met goeie inhoud oor Covid-19 is nie genoeg as mense nie vertroue het in die party of die persoon wat die boodskap moet oordra nie, skryf Herman Wasserman en Dani Madrid-Morales.

Pres. Cyril Ramaphosa staan Suid-Afrika te woord op een van die land se 'familievergaderings'. Foto: Argief

Die publiek word oorweldig deur misleidende en vals inligting wat gedurende die Covid-19-pandemie versprei word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) het dié “infodemie”, wat tot wantroue in die gesondheidsowerhede kan lei en die openbare gesondheidsreaksie kan ondermyn, sterk veroordeel.

Nuwe navorsing wys dat Suid-Afrikaners meer geneig is om wetenskaplike bronne, soos dokters en die WGO, as hul eie regering te vertrou.

Mense weet dikwels nie meer watter inligting om te glo nie, en dit maak hulle kwesbaar vir waninligting.

Nuwe navorsing wys dat Suid-Afrikaners meer geneig is om wetenskaplike bronne, soos dokters en die WGO, as hul eie regering te vertrou – trouens, die meeste keur die regering se hantering van die pandemie af.

Die volgende bevindings spruit uit ’n aanlyn steekproef wat ons gedoen het om vas te stel waar mense hul inligting oor Covid-19 kry en watter bronne hulle die meeste vertrou. Ons het ook ’n klein eksperiment gedoen om mense se sienings oor entstowwe te toets. Albei is aanlyn gedoen, wat beteken dat slegs die sienings van Suid-Afrikaners met toegang tot die web verteenwoordig word.

... 61% van die respondente het gesê dat hulle die regering se hantering van die pandemie 'sterk' of 'ietwat' afkeur, terwyl net 21,1% gesê het dat hulle dit 'sterk goedkeur'.

Ons studie, wat met die ondersteuning van die WGO se Africa Infodemic Response Alliance gedoen is, het gewys dat Suid-Afrikaners meestal op “tradisionele” mediabronne staatmaak. Sowat 74% het gesê hulle het inligting oor Covid-19 deur mediaplatforms soos televisie, radio en koerante gekry.

Die uitslae toon dat Suid-Afrikaners se goedkeuring van die regering se reaksie op die pandemie afgeneem het sedert ons ’n jaar gelede ’n soortgelyke studie gedoen het. Die huidige steekproef toon die hoogste vlak van wantroue: 61% van die respondente het gesê dat hulle die regering se hantering van die pandemie “sterk” of “ietwat” afkeur, terwyl net 21,1% gesê het dat hulle dit “sterk goedkeur”.

Net omdat mense nie die regering en sy boodskappe vertrou nie, beteken nie dat hulle nie vertroue in die entstof teen Covid-19 het nie. Foto: Argief

Dit het ’n effek op die doeltreffendheid van die boodskappe wat daarop gemik is om inentings te bevorder. Indien mense ’n boodskap ten gunste van inentings ontvang van ’n afsender wat hulle afkeur, sal hulle minder geneig wees om die inhoud te vertrou of met ander te deel.

Die toenemende afname in die vertroue in die regering kan verband hou met die sukkelende entstofprogram in die land, wat ten tyde van die studie groot nuus was. Die program het ’n paar terugslae gehad en die regering is wyd gekritiseer omdat hy nie sy teikens behaal het nie. Die steekproef was ook in die tyd toe die land se minister van gesondheid, dr. Zweli Mkhize, hangende ’n ondersoek na bewerings van korrupsie, op spesiale verlof geplaas is.

Die navorsing

Ons studie het uit twee dele bestaan. Ons het eerstens ’n aanlyn steekproef gedoen, waarin 1 585 Suid-Afrikaanse sosialemedia-gebruikers gevra is watter media hulle volg, watter inligtingsbronne hulle die meeste vertrou en wat hul houding teenoor Covid-19 is. Ons het hulle ook gevra hoe hulle die regering se reaksie op die pandemie sal evalueer. Die tweede deel van die studie was ’n aanlyn eksperiment met 1 180 sosialemedia-gebruikers. Hiermee wou ons vasstel hoe doeltreffend boodskapstrategieë op sosiale media is om inentings te bevorder, en watter rol die afsender van die boodskap speel in hoe mense daarop reageer.

Die aanlyn steekproef toon dat mediese dokters en
Die aanlyn steekproef toon dat mediese dokters en die WGO die bronne van Covid-19-nuus is waarin mense die meeste vertroue het.

Die aanlyn steekproef het gewys dat mense mediese dokters en die WGO die meeste vertrou, gevolg deur radio en televisie.

Nuuswebtuistes, familielede en die Suid-Afrikaanse regering het in ’n mindere mate vertroue gewek, maar steeds meer as sosiale media, vriende, gemeenskapsleiers, bekende persone en geloofsleiers. Deelnemers wat vir die ANC of EFF stem, was meer geneig as ondersteuners van ander partye soos die DA om die regering se inligting te vertrou.

Mense is meer geneig om gevestigde mediabronne as byvoorbeeld lukrake sosiale-media-plasings te vertrou. Foto: Argief

Die meeste het egter gesê hulle raadpleeg eerder gevestigde nuusmedia en bronne soos televisie (85,6%), radio (79,2%) en koerante (aanlyn 58,3%, teenoor gedruk 73,4%) as wat hulle op sosiale media staatmaak. Die uitsondering was Facebook, wat deur baie mense gebruik word (85,1%), gevolg deur WhatsApp (67,5%).

Google was ook ’n gewilde platform om inligting te bekom (85,3%), maar ander sosialemedia-platforms soos TikTok (19,6%), Twitter (29,2%), Instagram (26,6%) en YouTube (45,6%) was minder gewild.

Mense verkies eerder gevestigde mediabronne soos t
Mense verkies gevestigde mediabronne soos televisie, radio en koerante om hulle oor Covid-19-gebeure in te lig bo sosiale media.

In die Facebook-eksperiment het deelnemers een van vier weergawes van ’n Facebook-plasing gesien wat ’n video insluit wat landsburgers aanmoedig om die inenting te kry.

Elk van die vier weergawes is só ontwerp dat dit lyk asof dit van verskillende Facebook-rekeninge afkomstig is. Twee van hierdie rekeninge was van politieke partye in Suid-Afrika (die ANC en die DA) en twee was institusionele rekeninge (WGO en die nasionale departement van gesondheid).

Al vier plasings het dieselfde video ingesluit, wat ontwerp is om soos ’n #ViralFact-boodskap te lyk, soortgelyk aan wat deur die WGO se Africa Infodemic Response Alliance versprei word. Die video het twee algemene kommunikasie-boodskapstrategieë gekombineer: humor en vrees.

Volgens die steekproef word die WGO as ’n betroubare bron van Covid-19-inligting bestempel. Foto: Reuters

Ons wou gebruikers se reaksies op dieselfde inligting van verskillende afsenders met mekaar vergelyk. Ons het spesifiek gekyk of verskillende afsenders sou veroorsaak dat mense minder of meer waarskynlik sou wees om die entstof te kry. Ons het ook gekyk of gebruikers meer of minder geneig is om plasings op sosiale media te deel, afhangend van waar af dit kom.

Ons het gevind dat mediagebruikers se voorneme om ingeënt te word, nie spesifiek omgeswaai het na aanleiding van die politieke party wat die plasing gedeel het nie. In alle gevalle het die voorneme om teen Covid-19 ingeënt te word hoog gebly, wat bevindings deur ander navorsers bevestig het.

Die studie bevestig ander wat ’n relatief hoë mate van entstofaanvaarding onder Suid-Afrikaners toon.

Maar wat die deel van plasings op sosiale media betref, was gebruikers minder geneig om ’n Facebook-plasing te deel as hulle dink dat dit van ’n ANC-rekening kom. Gebruikers wat onder die indruk was dat die plasings van die WGO, die gesondheidsdepartement of die DA kom, was beduidend meer geneig om dit te deel.

Die studie bevestig ander wat ’n relatief hoë mate van entstofaanvaarding onder Suid-Afrikaners toon. Dit dui ook daarop dat die inhoud van pro-inentingsboodskappe belangrik vir entstofaanvaarding is – asook die afsender daarvan.

Implikasies

Die sterk afkeur van die regering se hantering van die pandemie, asook die lae vlakke van vertroue in die ANC, moet ’n waarskuwing wees vir regeringswoordvoerders dat die skryf van oortuigende pro-entstofboodskappe nie genoeg is nie. ’n Gebrek aan vertroue in die afsender het ook ’n negatiewe invloed op mense se vertroue in die boodskap self, en die waarskynlikheid dat mense daardie boodskappe sal deel.

* Wasserman is ’n professor in mediastudies en direkteur van die sentrum vir film-en-mediastudies aan die Universiteit van Kaapstad. Madrid-Morales is ’n assistent-professor in joernalistiek aan die Jack J. Valenti-kommunikasieskool van die Universiteit van Houston. Hierdie artikel het eerste op The Conversation verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.