Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
'SA wás ryp vir revolusie en gevaar is nog nie verby'
’n Werkwinkel in die Johannesburgse middestad is een van die ondernemings wat in die onlangse onrus aan die brand gesteek is. Foto: Getty Images

Die onlangse onrus in die land het gewys dat Suid-Afrika inderdaad ryp is vir ’n revolusie en dat die gevaar beslis nog nie afgeweer is nie, skryf Pieter Labuschagne.

Pieter Labuschagne

Die chaos tydens die onlangse onrus en plundery het baie mense in die land geskok. Dit kon egter veel erger gewees het. Die plofbare, verslegtende sosio-ekonomiese situasie in die land het die ideale omstandighede vir ’n revolusie geskep.

Swak organisasie en gebrekkige koördinering het gehelp dat die onrus tot ’n revolusie van ’n lae graad, of eerder chaotiese wanorde, gelei het en net tot twee provinsies beperk was. Boonop was daar nie die politieke wil wat nodig is vir ’n revolusie om te slaag nie en daarom het die onrus in ’n chaos en grootskeepse plundery ontaard.

Dit is wel kommerwekkend dat gedeeltelike sukses met die sabotasie van hoofweë, selfoontorings en skole behaal is.

Dit is egter onduidelik of die aanhitsers wel revolusie beoog het of net destruktiewe sabotasie om die regering te dwing om oudpres. Jacob Zuma vry te laat.

Die gebrek aan sukses tydens die ontwrigting was hoofsaaklik te wyte aan die organiseerders se naïwiteit, asook die inligtingsgemeenskap se onvermoë om die sabotasie te voorsien.

Die regering se onvermoë tydens die chaos was tweeledig. Asof die afwesigheid van intelligensieverslae wat die gebeure kon voorsien nie erg genoeg was nie, is die situasie deur die onbeholpe onderbemande polisie, onder die leierskap van die minister van polisie, Bheki Cele, vererger. Hy en die polisie kon nie die situasie behoorlik takseer en betyds optree nie.

Die laat en gebrekkige ontplooiing van voldoende weermaglede het verder bygedra tot die regering se onvermoë om dit gou in die kiem te smoor.

Die destruktiewe vandalistiese gedrag waarin die gebeure ontaard het, beteken nie dat ’n volgende poging tot ’n revolusie sal misluk nie.

Die onlangse plundery in dele van die land het teenkanting by baie mense, soos dié vrou in Lavender Hill, ontlok. Foto: Getty Images

Redes vir ’n revolusie

Daar bestaan twee breë denkwyses of teorieë oor die ontstaan van revolusies: die Marxistiese en die nie-Marxistiese teorieë.

Die Marxistiese teorie plaas die klem op botsings tussen klasse, terwyl die nie-Marxistiese teorieë weer sterker op psigologiese faktore en persepsies fokus.

Die nie-Marxistiese teorieë bied veral ’n nuttige insig ten einde te verduidelik waarom Suid-Afrika ryp vir ’n revolusie was.

Volgens David Easton kan ’n politieke stelsel (regering) op lang termyn stabiel wees as sy uitsette (beleid, besluite en handelinge) in ewewig met die insette (eise en druk) van die samelewing is.

Die Tsaristiese regime in Rusland het in duie gestort omdat die politieke stelsel nie langer die breë spektrum van eise op verskeie vlakke kon hanteer nie.

Stabiliteit word verkry as die politieke stelsel (regering) in staat is om die landsburgers se sosio-ekonomiese omstandighede deur sy beleid, handelinge en praktiese stappe te verbeter of dit bevredigend kan hanteer.

Die verbeterde sosio-ekonomiese omstandighede oortref of voldoen aan die eise van die samelewing. As die beleid te kort skiet, maar die gaping is nie onhoudbaar groot nie, is daar nie druk op die stelsel nie.

Daar is dan ’n kalmerende balans tussen eise (insette) en uitsette.

’n Kritieke uitdaging ontstaan wanneer die eise meervoudig is en die politieke stelsel oorlaai word. Dit plaas die stelsel dan onder druk, want die politieke uitsette is nie meer in staat om die inset-eise te bevredig of te laat afneem nie. Die kapasiteit van die politieke stelsel word sodoende oorskry, met ’n verlies aan die kritieke ewewig.

Die Russiese revolusie van 1917 het die einde van die Tsaristiese regime beteken. Foto: Getty Images

Die politieke stelsel kan dan nie die kritieke drempel oorsteek wat noodsaaklik vir sy voortbestaan is nie.

Chalmers Johnson het in sy werk Revolutionary Change (1966) die problematiek van meervoudige insetdruk (disfunksie) op ’n politieke stelsel verduidelik. Dit kan die stelsel uiteindelik laat ineenstort.

Volgens Johnson het die Tsaristiese regime in Rusland in duie gestort omdat die politieke stelsel nie langer die breë spektrum van eise op verskeie vlakke kon hanteer nie.

Dit sluit in die vroeë industrialisering van Rusland, wat die posisie van die ryk besittersklas bedreig het. Die gevolge van die Eerste Wêreldoorlog met sy geweldige lewensverlies, destabilisering en die invloed op die mense se moreel was ’n verdere eis.

Wanneer die gaping tussen verwagting en die werklikheid onhoudbaar groot word, verhoog dit die moontlikheid vir ’n revolusie.

Rusland was ook nie in staat om soos ander lande in Europa die groei van ’n toenemend verstedelikte bevolking, wat beter opgevoed en polities meer gesofistikeerd was, te hanteer nie.

Dié regime kon nie die meervoudige inset-druk hanteer nie en dit het tot revolusie gelei.

Verskeie teoretici het voortgebou op Johnson se teorieë rondom die psigologiese faktore wat tot revolusie lei.

Ted Gurr het in Why Men Rebel die klem sterker op sosiale sielkunde geplaas en na relatiewe deprivasie as die grondliggende oorsaak vir die ontstaan van revolusies verwys.

Gurr se teorie was dat revolusies volg op die persepsie van relatiewe deprivasie wanneer ’n gaping ontstaan tussen verwagtinge en dit wat wel ontvang word (waarderealisering).

Wanneer die gaping tussen verwagting en die werklikheid onhoudbaar groot word, verhoog dit die moontlikheid vir ’n revolusie.

Bheki Cele, minister van polisie, kyk toe terwyl daar in die middestad van Durban op geplunderde goedere beslag gelê word. Foto: Getty Images

James Davies het in When Men Revolt and Why (1971) geskryf dat ’n plofbare situasie geskep word wanneer die bevolking ’n tydperk van sosio-ekonomiese verbetering ervaar wat deur snelle agteruitgang en verslegtende omstandighede gevolg word.

Dit skep dan ’n onhoudbare gaping wat tot revolusie kan lei.

Die twee lyne – dit wat verwag word en dit wat werklik verkry word – lyk soos die letter J en staan as Davies se J-kurwe bekend.

Die persepsie van welvaart en vooruitgang elders kan tot die ontevredenheid bydra. Ná 1980 in Oos-Europa was die ontevredenheid van die burgers in dié lande gegrond op die persepsie van welvaart en politieke vryheid van mense in Wes-Europa.

Die ontstaan van ’n gaping tussen verwagting en die realisering van eise, sal nie noodwendig tot ’n revolusie lei nie. Die situasie word egter meer kompleks as die gaping tussen die twee lyne oor ’n relatief kort tydperk onhoudbaar groot word.

Suid Afrika was ryp vir 'n revolusie

In Suid-Afrika kon die nuwe regering tydens ’n wittebroodstydperk en aanvanklike maatskaplike en sosio-ekonomiese verbetering ná 1994 die druk en eise van die samelewing hanteer. Die gaping tussen mense se verwagting en die realisering daarvan was nie onhoudbaar groot nie.

Dit is egter die meervoudige inset-druk met die verloop van tyd en veral in 2020-’21 wat die gaping onhoudbaar groot gemaak het. Dit het die politieke stelsel gevaarlik naby aan die kritieke drempel laat beweeg.

Een van die soldate wat onlangs in Soweto ná onluste en plundery ontplooi is. Foto: Getty Images

Kom ons kyk na die meervoudige drukfaktore wat die reeds bestaande verslegtende maatskaplike en sosio-ekonomiese situasie vererger het.

* Die effek van die Covid-19-pandemie het tot die mense van Suid-Afrika se hoë spanningsvlakke bygedra.

* Die Covid-19-bevelsraad se outokratiese optrede en die hardhandige optrede van die polisie het tot stille weerstand en afkeur gelei. Sommige maatreëls, soos die verbod op sigarette en selfs drank, is nie as logies beskou nie en het tot die spanning bygedra.

* Die gaping tussen ryk (hoofsaaklik wit mense) en arm (hoofsaaklik swart mense) vergroot steeds en word deur die hoë werkloosheidsyfer vererger. Die werkloosheidsyfer is baie hoog, met amper twee uit elke drie mense wat nie werk het nie.

Die mees onlangse verbod op drankverkope het daartoe gelei dat nog 10 000 mense hul werk verloor het.

Volgens berigte het die onlangse chaos 50 000 informele handelaars verhoed om sake te doen. Meer as 40 000 ondernemings is regstreeks geraak. Die totale skade in KwaZulu-Natal beloop na raming sowat R20 miljard.

As mense sukkel om kos in die hande te kry weens onder meer winkels wat geplunder is, sal dit tot die frustrasie en spanning bydra.

• Die vonke in die kruitvat was die inhegtenisneming van Zuma vir sy verontagsaming van ’n hofbevel. Die opstokers se onbeholpe en amper naïewe optrede het gelukkig gehelp dat die situasie nie erger geword het nie. Die vernietiging en plundering het baie mense afgeskrik wat dalk simpatie met hulle kon gehad het.

Die gevaar is nog nie afgeweer nie

Die opruiming van die skade en die feit dat die land na relatiewe kalmte teruggekeer het, is geen rede vir kloppe op die skouer nie.

Die situasie bly gevaarlik plofbaar en die hoogste prioriteit moet daaraan gegee word. Die regering moet dringend iets doen aan die gaping tussen ryk en arm, en die maatskaplike sosio-omstandighede van die swart bevolking verbeter.

Die plofbare situasie kan alleenlik deur ekonomiese groei, die skep van meer werkgeleenthede en die uitroei van korrupsie afgeweer word.

Op politieke vlak is dit ook belangrik dat ’n sterk middelgrond geskep word wat die radikale groep se groei kan beperk.

• Labuschagne is emeritus professor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 

Meer oor:  Weermag  |  Polisie  |  Jacob Zuma  |  Bheki Cele  |  Suid-Afrika  |  Rusland  |  Werkloosheid  |  Covid-19-Pandemie  |  Geweld  |  Plundery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.