Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sal ander Duitse voorbeeld oor volksmoord volg?

Eindelik erken Duitsland dat die land vroeg in die 20ste eeu volksmoord in Duits-Suidwes-Afrika gepleeg het. Wat beteken dit vir die betrekkinge tussen Duitsland en Namibië en vir die Duitse politiek? Leopold Scholtz bekyk dié saak.

’n Herero-hoofman in 2019 by ’n gedenkteken vir die mense wat in die Duitse konsentrasiekamp by Swakopmund dood is. Foto: Getty Images

Dat Duitsland – of, om meer presies te wees, Adolf Hitler en die Nazi’s – tydens die Tweede Wêreldoorlog ’n gruwelike volksmoord op die Jode gepleeg het, is algemeen bekend. Dat ’n geskatte ses miljoen Jode kil en klinies en op ’n industriële skaal die dood ingejaag is, het die Duitsers al male sonder tal erken en daarvoor vergewing gevra.

Die begrip volksmoord is in 1948 deur die Verenigde Nasies gedefinieer as “dade gepleeg met die oogmerk om ’n nasionale, etniese, rasse- of godsdienstige groep as sodanig te vernietig”. Die Joodse volksmoord is sedertdien die handboekvoorbeeld daarvan, maar die feit dat die Duitsers ’n paar dekades vroeër ’n proeflopie in Duits-Suidwes-Afrika gehad het, is nie baie sterk in die mensdom se kollektiewe geheue gevestig nie.

Duitsland was laat in die Europese wedloop om kolonies in wat vandag die Derde Wêreld is. Veral Brittanje en Frankryk het die grootste deel van Afrika in die 19de eeu onderwerp, en Duitsland kon slegs Suidwes, die Kameroen en Tanzanië inpalm.

Dit was een van die redes waarom die Duitsers – volgens huidige standaarde – so buitensporig op verset teen hul oorheersing gereageer het. Veral twee groepe in Suidwes, die Herero’s en die Namas, het hulle nie by die Duitse oorheersing neergelê nie.

’n Gedenkteken in Swakopmund vir mense wat in die volksmoord in Namibië tussen 1904 en 1908 dood is. Foto: Getty Images

In Januarie 1904 het die Herero’s onder leiding van Samuel Herero in opstand gekom en meer as 100 Duitsers in die omgewing van Okahandja doodgemaak. In reaksie het die Duitsers, aangevoer deur genl. Lothar von Trotha, die opstandelinge in die woestyn ingedryf en van honger en dors laat omkom.

Trotha se bevel het gelui: “Elke Herero, met of sonder gewere, met of sonder vee, sal geskiet word.” Hy sou ook geen vroue of kinders spaar nie, “maar hulle terug na hul mense dryf of hulle skiet”.

Later in die jaar het die Namas van kaptein Hendrik Witbooi ook gerebelleer. Essensieel dieselfde het met hulle gebeur. Daarby is duisende mense doodgeskiet of opgehang.

Daarby het Duitse geleerdes in Suidwes 'navorsing' gedoen oor eugenetika.

Die oorlewendes is dikwels in konsentrasiekampe aangehou, waar hulle doelbewus uitgehonger is. Meer as die helfte is aan honger dood, of doodgewerk, en mediese eksperimente is op sommige uitgevoer.

Volgens historici het sowat 65 000 van die 80 000 Herero’s gesterf, net soos 10 000 van die 20 000 Namas. Dit was ’n voorloper vir wat in die Tweede Wêreldoorlog aan die Jode gedoen is.

Daarby het Duitse geleerdes in Suidwes “navorsing” gedoen oor eugenetika – die strewe om die mensdom deur selektiewe teelt te verbeter. Rassesuiwerheid het hierby ’n belangrike rol gespeel.

Erkenning van ‘onmeetlike lyding’

Heiko Maas, Duitsland se minister van buitelandse sake, toe hy verlede week erken het dat sy regering se voorgangers volksmoord gepleeg het. Foto: Getty Images

Die feite op sigself is al lank bekend. Maar dit was skaars in die openbare bewussyn aanwesig, nóg toe die gebied onder Suid-Afrikaanse heerskappy was (1915-1990) nóg ná die onafhanklikwording van Namibië.

Die rede hiervoor is deels dat die onafhanklike Namibië deur die sterkste etniese groep, die Ovambo’s, oorheers is, en hulle het geen besondere gevoelens oor die volksmoord op die Herero’s en Namas gehad nie.

Die Namibiese regering het die volksmoord eintlik pas in 2004 (met die 100-jarige herdenking van die moorde) as politieke feit “ontdek” toe hy agtergekom het dat hy die Duitsers se arms kon draai om “herstelbetalings” te verrig. Sedertdien het die twee regerings onderhandel oor presies hoe die saak gehanteer moes word.

Heiko Maas, Duitse minister van buitelandse sake, het verlede week formeel erken dat sy regering se voorgangers Völkermord (volksmoord) gepleeg het.

“As gebaar van erkenning van die onmeetlike lyding wat aan die slagoffers opgedring is, wil ons Namibië en die afstammelinge van die slagoffers ’n substansiële program ter waarde van €1,1 miljard vir die heropbou en ontwikkeling beloof,” sê hy.

Die Namibiërs eis ook dat Duitsland geld moet gee vir die onteiening van grond wat nog steeds besit word deur afstammelinge van die Duitse koloniste van destyds.

Later vanjaar sal die Duitse seremoniële staatshoof, pres. Frank-Walter Steinmeier, na Windhoek reis om amptelik in die Namibiese parlement om vergifnis te vra.

’n Kwessie wat nog nie opgelos is nie, is die vraag hoe die herstelbetaling regskundig bekyk moet word. Die Namibiërs wou hê dit moet onder die volkereg (die VN-besluit van 1948 oor volksmoord) val, terwyl die Duitsers dit as ’n “polities-morele verpligting” beskou.

Die implikasie van die Namibiese standpunt is dat hy ná dese nog meer geld kan eis, terwyl die Duitsers dit met dié bedrag – versprei oor ’n tydperk van 30 jaar, en bedoel vir ontwikkelingsprojekte in die woongebiede van die Herero’s en Namas – as afgehandel beskou. Die Duitsers voer ook aan dat die VN-besluit van 1948 nie met terugwerkende krag toepasbaar is nie, en dat dit dus nie as uitgangspunt vir die moorde van 1904 kan geld nie.

Die Namibiërs eis ook dat Duitsland geld moet gee vir die onteiening van grond wat nog steeds besit word deur afstammelinge van die Duitse koloniste van destyds en dat dit onder swart Namibiërs verdeel moet word. Duitsland beskou dít as ’n huishoudelike saak wat Namibië self kragtens sy eie wetgewing moet oplos.

Is Duitse erkenning ’n presedent?

Vroue vertoon in 2019 ’n plakkaat in ’n optog in Swakopmund wat dit duidelik maak dat volksmoord nie vergeet kan word nie. Foto: Getty Images

Natuurlik is die Duitse erkenning dat dit om volksmoord gaan, nie die laaste woord nie. Maas het daaroor gesê: “Ons doel was en is om ’n gemeenskaplike weg na egte versoening in die herinnering aan die slagoffers te vind. Die erkenning van skuld en ons versoek om vergifnis is ewenwel ’n belangrike stap om die misdade te verwerk en die toekoms gemeenskaplik te bepaal.”

Van sý kant het pres. Hage Geingob van Namibië deur sy woordvoerder gesê: “Die erkenning van die kant van Duitsland, dat ’n volksmoord gepleeg is, is die eerste stap in die regte rigting.” Met ander woorde, Namibië verlang meer as net dit.

Ook leiers van die Herero’s en Namas loop nie oor van geesdrif nie. Sommige van hul leiers het gekla dat hulle nie voldoende by die onderhandelinge tussen Windhoek en Berlyn betrek is nie, en dat die geld wat beloof is, nie werklik as “herstelbetalings” beskou kan word nie. Daarom was die Duitse aankondiging niks meer as propaganda nie, was hul mening.

Leopold Scholtz

In ’n gesamentlike verklaring het Vekuii Rukoro, leier van die Ovaherero- tradisionele owerheid, en Gaob Isaack, hoof van die Tradisionele Nama-leiersvereniging, gesê: “Duitsland se bilaterale ooreenkoms met Namibië is slegs die konstruk van ’n rassistiese houding aan die kant van Duitsland en neokoloniale onderdanigheid aan die kant van Namibië.”

Die Herero’s en Namas sien die onderskeid tussen hoe die Duitsers die volksmoord op die Jode en dié op hulle behandel het: Sedert 1952 het Duitsland €60 miljard of meer aan Joodse slagoffers uitbetaal. Wat die Herero’s en Namas kry, is in hul eie oë bloot kleingeld, is die gevoel.

Hoe ook al, kan die huidige Duitse erkenning en betaling in Namibië dalk dien as ’n prototipe vir ander gewese koloniale moondhede? Kan dit ’n presedent wees vir byvoorbeeld ’n Britse skulderkenning vir die konsentrasiekampe van die Anglo-Boereoorlog en betaling aan die huidige Afrikaners?

Die antwoord is duidelik nee. Nóg die Britte nóg die Franse nóg die Belge ly aan die skuldgevoel wat die Duitsers van die Nazi-nagmerrie oorgehou het.

Hoe ook al, die saak gaan nog ’n ruk lank aanhou. En baie emosies sal in die proses losgemaak word.

• Dr. Scholtz is ’n onafhanklike kommentator en historikus wat in Nederland woon. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Anglo-Boereoorlog  |  Duitsland  |  Brittanje  |  Frankryk  |  Namibië  |  Volksmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.