Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sal Cyril, Tito se ekonomiese vlieër in die lug bly?

Is tesourie se ekonomiese groeiplan ’n vlieër wat namens pres. Cyril Ramaphosa opgestuur word om die openbare mening te toets? vra Theuns Eloff.

Tito Mboweni, minister van finansies, se plan vir ekonomiese groei maak opslae. Foto: Argief

Die Sentrum vir Ontwikkeling en Onderneming (CDE), het op 28 Augustus ’n verslag uitgereik met die naam "Running out of Road: South Africa's public finances and what is to be done."

Hul gevolgtrekking is dat daar geen versnelde ekonomiese groei sal wees as Suid-Afrika nie sy fiskale krisis oorkom nie. Die teenoorgestelde is egter ook waar: as ons groei nie aan die gang kom nie, sal ons nie die fiskale krisis kan baasraak nie.

Suid-Afrika het ’n onversetlike groeistrategie nodig, wat streng toegepas moet word. Ann Bernstein, hoof van die CDE, waarsku dat dit nie lyk asof die regering en die regerende party ten volle besef hoe diepgaande die vereiste veranderings is nie en die leierskap wat dit van die president sal verg om dit reg te kry nie.

’n Dag vroeër het Tito Mboweni, die minister van finansies, bekend gemaak ’n dokument is op die tesourie se webwerf geplaas waarop enigiemand tot 15 September kan kommentaar lewer. Die naam van dié plan is "Ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en mededingendheid - op pad na 'n ekonomiese strategie vir Suid-Afrika." 

Sonder dat dit gesinkroniseer is, begin die plan breedweg doen waarvoor die CDE pleit.

‘Aaklige drieling’ die groot vyand

Ekonomiese groei moet Suid-Afrika se ontstellende hoë werkloosheidsyfer verlaag. Foto: Argief

Die vertrekpunt van die plan is dat die kombinasie van lae groei en stygende werkloosheid beteken dat Suid-Afrika se ekonomiese kurwe nie volhoubaar is nie. Die regering moet dus ’n reeks “groei-hervormings” in werking stel wat ekonomiese transformasie bevorder, inklusiewe groei ondersteun en ’n ekonomie skep wat internasionaal mededingend sal wees.

Die interessante feit is dat in die detail van die plan daar ook strategieë voorgestel word wat die staatskas (die fiskus) sal versterk en skuldvlakke sal afbring. Een hiervan is om Eskom-kragstasies aan private maatskappye te verkoop.

Mboweni se plan stel ’n 'deugsame' drieling voor: ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en internasionale mededingendheid.

Alle Suid-Afrikaners wat ’n bietjie insig in die politieke ekonomie het, weet dat naas staatskaping en korrupsie die “aaklige drieling” van armoede, ongelykheid en werkloosheid die land se grootste probleem is.

Mboweni se plan stel ’n “deugsame” drieling voor: ekonomiese transformasie, inklusiewe groei en internasionale mededingendheid. Hierdie drie is aanvullend tot mekaar en sal ’n “deugsame spiraal” vorm.

Sedert hy president geword het, lê pres. Cyril Ramaphosa baie klem op die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) wat die basis van alle regeringsbeleide en -planne moet wees.

Om dit te kan laat waar word, kan ’n mens dink dat die president aan elke minister kon gesê het: “Gee my ’n vyfjaarplan gegrond op die beginsels van die NOP.”

Sy minister van finansies (wat hy ondanks Mboweni se aanvanklike teësinnigheid teruggebring het kabinet toe) het dit nou gedoen.

Is dit eintlik Ramaphosa se plan?

Sit pres. Cyril Ramaphosa agter die tesourie se veelbesproke ekonomiese plan? Foto: Argief

Maar is dit net Mboweni en sy departement se plan?

Oudpres. Nelson Mandela het baie keer ’n ANC-jeugleier gebruik om ’n vlieër op te stuur; iets in die openbaar te toets wat Mandela as gevolg van die aanvegbaarheid daarvan nie self wou doen nie.

Is die ekonomiese plan miskien Ramaphosa se eie wat Mboweni nou vir die eerste keer lug gee?

Die plan begin om ses fundamentele boublokke van volhoubare groei te noem.

Al sal sommige meen dat die plan ’n groter invloed sou gehad het as die president dit self aangekondig het, kan ’n mens ten minste aanvaar dat die president in die breë geweet het wat in sy vertroude minister van finansies se plan gaan staan.

Die plan begin om ses fundamentele boublokke van volhoubare groei te noem, en identifiseer daarna ’n reeks spesifieke en gedetailleerde hervormings om ekonomiese groei te bevorder. Die boustene is:

* die verbetering van onderwysuitkomste;

* werk- en opleidingsgeleenthede vir die jeug;

* volhoubare stede en inklusiewe vervoerstelsels;

* strategieë om die vaardigheidstekort in die ekonomie te verbeter;

* die skep van ekonomiese instellings en ’n bekwame staat, en

* stabiele makro-ekonomiese beleid (as voorvereiste vir volhoubare ekonomiese groei).

Die plan het vyf groeitemas waarbinne daar telkens spesifieke strategieë voorgestel word.

Die eerste hiervan is die modernisering van “netwerk-industrieë” soos vervoer, energie, water en telekommunikasie. Dit kan mededingendheid en inklusiewe groei bevorder. Dit is in hierdie afdeling waar hervormings by Eskom genoem word, asook die oopstel van die breëband-spektrum in telekommunikasie, die oopstel van Transnet se spoor- en hawestelsel en belegging in waterinfrastruktuur.

Spesifieke aandag word gewy aan die belangrikheid van toepaslike finansiering, toegang tot plaaslike en internasionale markte, voldoende landbouversekering en hulp aan opkomende boere.

Die tweede tema is groter mededingendheid, wat ’n hefboom vir inklusiewe groei en ekonomiese transformasie kan wees deur die groei van klein firmas te bevorder en nuwe deelnemers in die mark te kry. Hier word veral op die vermindering van burokratiese rompslomp (“red tape”) gefokus, insluitend rassetransformasie.

Die derde groeitema is arbeidsintensiewe ekonomiese groei, wat noodsaaklik is om onaanvaarbaar hoë vlakke van werkloosheid te verminder. Die plan fokus veral op landbou en verwys goedkeurend na die pro-aktiewe rol van landbou om meer swart landbouers te help vestig. Spesifieke aandag word gewy aan die belangrikheid van toepaslike finansiering, toegang tot plaaslike en internasionale markte, voldoende landbouversekering en hulp aan opkomende boere.

Wat toerisme betref, word daar melding gemaak van ’n makliker visa-regime en veiligheid van toeriste.

Die vierde groeitema is ’n gefokusde en buigsame industriële en handelsbeleid om mededingendheid en langdurige groei te bevorder. Hier word klem gelê op “veredeling” (“beneficiation”) van grondstowwe en uitvoere.

Die laaste groeitema is die optimale gebruik van internasionale en streekswaardekettings deur die verbetering van uitvoere en uitvoermededingendheid.

Die plan bepaal ten slotte die voordele wat op kort termyn (ná twee jaar), mediumtermyn (ná vier jaar) en lang termyn (vanaf die sewende jaar) behaal kan word. Dit sluit meer as 1 miljoen werkgeleenthede en ekonomiese groei van tot 3% per jaar in.

Goot rol vir private sektor

Die tesourie se ekonomiese program fokus sterk op landbou.Foto: Johan van Wyk

Wat is die betekenis van die Mboweni-groeiplan?

Nie alles wat voorgestel word is nuut nie, maar dit is die eerste keer dat soveel ekonomiese hervormings van so ’n ingrypende aard in een dokument saamgevat word.

Dit is tweedens ’n beleidstuk met praktiese voorstelle wat direk op die NOP gegrond is, waarskynlik ’n eerste van sy soort – en ’n voorbeeld wat ander ministeries gerus kan volg.

Alhoewel 'privatisering' nêrens in die dokument voorkom nie, word 'private sektor' meer as 40 keer gebruik

Die plan tref ’n fyn balans tussen ekonomiese transformasie (maar nie op grond van ras nie), inklusiewe groei en internasionale mededingendheid. Trouens, die woord “ras” kom nêrens in die dokument voor nie, iets wat verwelkom moet word. Die woord “swart” kom net twee keer voor: een keer waar swart ekonomiese bemagtiging as ’n remblok vir klein sake beskryf word en een keer in die sin van swart nywerheidsleiers.

Alhoewel “privatisering” nêrens in die dokument voorkom nie, word “private sektor” meer as 40 keer gebruik – meestal met klem op die kundigheid, ervaring en deelname van dié sektor aan die strategieë wat die plan voorstel.

Dit is duidelik dat die plan ’n groot rol vir die private sektor in groeihervormings voorsien, in vennootskap met die staat, en soms ook op terreine wat voorheen slegs of grootliks deur die staat hanteer is (soos elektrisiteitsvoorsiening en telekommunikasie-infrastruktuur).

Theuns Eloff

Die klem om dit vir klein en medium ondernemings makliker te maak om te groei, is ’n groot plus en iets wat sal kan slaag, veral omdat die vakbonde nie ’n ledebelang het nie en dit nie kan teenstaan nie.

As besighede met ’n omset van minder as R50 miljoen byvoorbeeld van rassetransformasie en ander regulasies vrygestel kan word, kan hierdie sektor ’n enjin van groei in die Suid-Afrikaanse ekonomie word.

Daar is ook (ten regte) ’n sterk fokus op landbou, en veral omdat dit kan help met arbeidsintensiewe groei en help om werkloosheid te verminder.

Dit is veral betekenisvol dat die plan ’n sydelingse opmerking oor grondhervorming maak. Die uitdaging met die belangrike proses van grondhervorming lê in hoe dit aangepak word en watter model toegepas word. Om onsekerheid te voorkom, moet dit gedoen word op ’n deursigtige, konsultatiewe manier en binne ’n breë raamwerk wat kan verseker dat faktore wat kritiek is vir voortgaande belegging in landbou en voedselsekerheid (soos veiligheid van private eiendomsreg) deurgaans gerespekteer word.

Dit is oorwoë woorde, wat ’n sterk sein uitstuur dat ten minste die tesourie nie voorstaanders van ’n onverskillige verandering aan art. 25 van die Grondwet is nie.

Gaan vlieër in lug bly

Of dit Ramaphosa se vlieër is wat deur Mboweni opgestuur word, of Mboweni se eie vlieër, bly die vraag: gaan dit vlieg?

Kritiek en instemming het reeds begin instroom. Kritiek het veral van die vakbonde gekom, wat te verwagte meestal oor Eskom en die rol van die private sektor gekla het.

Die groeiplan is ’n duidelike teken dat die hervormingsgesindes in die ANC daadwerklik die inisiatief in ekonomiese groeihervormings wil neem.

Nadat die kommentaartyd op 15 September gesluit het en die finale plan vroeg in die nuwe jaar aan die kabinet en dalk aan die parlement voorgelê word, sal die antwoord of dit kan vlieg, duidelik word.

Die groeiplan is ’n duidelike teken dat die hervormingsgesindes in die ANC daadwerklik die inisiatief in ekonomiese groeihervormings wil neem. Al sal puriste sê dat dit nou alles of niks is nie, is die politieke werklikheid dat sekere dele sal vlieg en ander nie.

Dit is die aard van die politiek en die lot van ’n verdeelde ANC. Hoe Ramaphosa dit in die komende maande gaan hanteer, sal bepaal word deur hoeveel dele van hierdie mooi vlieër gaan vlieg.

* Dr. Eloff is voorsitter van die adviesraad van die FW de Klerk-stigting. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.