Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sal die ANC die volgende verkiesing wen?

Sal die ANC weer wen as ’n algemene verkiesing binne die volgende drie maande gehou word? Pieter Labuschagne probeer dié vraag beantwoord deur die Lichtman-metode te gebruik.

Korrupsie met Covid-19-tenders het die ANC se beeld skade berokken. Foto: Gallo Images

Baie mense bespiegel dat die ANC dalk sy meerderheid in die parlement kan verloor met ’n volgende verkiesing vanweë die verslegtende ekonomiese en maatskaplike toestande sowel as die negatiewe gevolge van die inperkingsmaatreëls.

Waarnemers voorspel boonop voortdurend ’n skeuring in die ANC, maar nog niks konkreets het gebeur nie. Die ANC kan sekerlik al soos Mark Twain verklaar dat “die berigte oor my dood hoogs oordrewe was”.

Baie mense wonder natuurlik of dit moontlik is om die uitslag van ’n verkiesing vooraf te bepaal.

Die bekendste metode wat gebruik word om verkiesingsuitslae te voorspel, is ’n verteenwoordigende steekproef wat só gedoen word om die maksimum geldigheid en betroubaarheid te verseker.

Die steekproef word dan op die groter samelewing geprojekteer om ’n uitslag te voorspel.

Die groot wisseling in die voorspellings van verskillende steekproewe het egter al gewys hoe onbetroubaar dié metode kan wees.

Die Lichtman-metode het my laat wonder of dit met sekere aanpassings ook op verkiesings in Suid-Afrika van toepassing gemaak kan word?

Leopold Scholtz het onlangs op Netwerk24 ’n interessante artikel geskryf oor ’n teoretiese model wat uit 13 “sleutels” bestaan en deur prof. Allan Lichtman, ’n historikus van die American University in Washington, gebruik word om die uitslag van die Amerikaanse presidentsverkiesing te voorspel.

Die kandidaat wat ja kan antwoord op die meeste van dié sleutels, sal volgens Lichtman wen.

Hy gebruik dié metode al sedert 1984 en was nog nie een keer verkeerd nie.

Dit behels meer as net meningsopnames en sluit inligting oor die uitslae van vorige verkiesings en ander veranderlikes in.

Lichtman vra 13 vrae wat met ’n ja of nee beantwoord moet word. Die vrae is versigtig uitgekies ten einde die bes moontlike uitkoms te verseker.

Lichtman-metode in SA?

Mense luister verlede Sondag na pres. Cyril Ramaphosa se boodskap. Hy bly steeds een van die ANC se grootste bates. Foto: Gallo Images

Die Lichtman-metode het my laat wonder of dit met sekere aanpassings ook op verkiesings in Suid-Afrika van toepassing gemaak kan word?

Die groot probleem is uiteraard dat die Amerikaanse presidentsverkiesing oor individue en nie primêr oor ’n party gaan nie.

’n Mens sal noodgedwonge enkele vrae moet aanpas as jy die Lichtman-metode op ’n algemene verkiesing in Suid-Afrika van toepassing wil maak.

Met enkele vrae het ek die huidige politieke- en sosio-ekonomies knelpunte in die land in berekening gebring.

Ek is ten volle bewus van die gebreke van dié deels objektiewe, deels subjektiewe oefening.

Ondanks moontlike gebreke bied die Lichtman-metode ’n baie interessante nuwe insig in die politiek en die moontlike uitslag van ’n hipotetiese verkiesing.

Bheki Cele, minister van polisie, was een van die regeringslede wie se idees oor die toepassing van inperkingsmaatreëls nie baie gewild was nie. Foto: Gallo Images

Hier is die 13 aangepaste vrae:

• Het die ANC sy magsposisie behou in die laaste munisipale verkiesing en ander tussenverkiesings ná verlede jaar se algemene verkiesing?

Antwoord: Ja

• Is dit ’n kenmerk in Suid-Afrika se politieke geskiedenis dat die regerende party die toneel vir dekades oorheers in wat eintlik ’n de facto eenpartystaat is en dat opposisiepartye dit bykans onmoontlik vind om die regerende party te onttroon?

Die antwoord kan net ja wees. Die Nasionale Party het vir langer as 40 jaar regeer en die ANC oorheers al sedert 1994.

Antwoord: Ja.

Kan die regerende party daarop aanspraak maak dat die ekonomie in die laaste paar maande verbeter het met ’n versnelde ekonomiese groeikoers en lae vlakke van korrupsie?

Die antwoord is natuurlik nee, want die ekonomie gaan die kreeftegang met buitelandse skuld wat toeneem en ’n pap groeikoers – die verslegtende ekonomiese toestande was reeds voor die Covid-19-pandemie teenwoordig.

Antwoord: Nee.

Is die ekonomiese vooruitsigte vir die land op medium- en lang termyn rooskleurig?

Die medium- en langtermyngroeikoers en vooruitsigte is swak met ekonome wat buitelandse skuld van 100% in vooruitsig stel, ’n 8%-inkrimping van die bruto binnelandse produk (BBP) en ’n ekonomiese groeikoers laer as 1%.

Antwoord: Nee.

Onlangse onrus in Kayamandi buite Stellenbosch was die uitsondering eerder as die reël tydens die staat van inperking. Foto: Gallo Images

Het die ANC die se hantering van die pandemie só hanteer dat hy op meer steun en stemme kan staatmaak?

Daar was positiewe elemente, maar die diktatoriale houding van die regering en die onnodige hardkoppigheid van die nasionale Covid-19-bevelsraad, veral wat die verkoop van tabakprodukte betref, het die ANC heelwat kritiek op die hals gehaal.

Antwoord: Nee.

Het die regerende party grootliks daarin geslaag om die maatskaplike stabiliteit in die land binne beheerbare vlakke te hou?

Hoewel daar beperkte maatskaplike onstabiliteit was, was daar nie ’n toename in diensleweringsbetogings nie – eerder ’n effense afname.

Antwoord: Ja.

Het die regerende party se steunbasis relatief stabiel gebly sonder dat hy baie steun ingeboet het en het die opposisiepartye se substantiewe steun gegroei of gedaal?

Hoewel die ANC se steun in die laaste algemene verkiesing ’n daling van 4,6% getoon het, het dié party nog steeds ’n stewige buffer tussen hom en opposisiepartye met steun van 57,2%. Die amptelike opposisie kon nie sy steun in dié verkiesing bo 30% lig nie.

Antwoord: Ja.

Het die president en leier van die regerende party beduidende beleidsveranderinge te weeg gebring of realistiese verwagting geskep dat dit gaan gebeur?

Die ANC se voorneme om grootskaalse grondhervorming toe te pas het heelwat steun, veral in landelike gebiede wat nog altyd sy tradisionele steunbasis was.

Antwoord: Ja.

Was die ANC-lede by grootskaalse korrupsie en ander skandale in die land betrokke wat direk aan die regerende party gekoppel kan word? Het die ANC regering drasties teen oortreders opgetree?

Die antwoord is nee – beloftes om teen korrupsie op te tree het bloot retoriek gebly.

Antwoord: Nee.

Is die leier van die regerende party charismaties met steun oor rasgrense heen?

Pres. Cyril Ramaphosa is die een leier in die land wat steun oor partypolitieke grense heen geniet. Geen opposisieleier kan daarop aanspraak maak nie.

Antwoord: Ja.

Vertoon die regerende party sterk solidariteit met ’n lae risiko vir ’n skeuring?

Daar is wesenlike tekens dat die ANC se solidariteit en kohesie bedreig word. Ramaphosa sukkel om die faksies bymekaar te hou, maar die meeste lede weet dat ’n skeuring tot die einde van die ANC sal lei. Hoewel die interne verdeling nie tot ’n onmiddellike skeuring sal lei nie, moet dit as ’n negatiewe faktor beskou word.

Antwoord: Nee.

Pieter Labuschagne

Het die ANC se geografiese steunbasis gedurende die afgelope paar maande relatief stabiel gebly?

Die regerende party se steun was nog altyd in die landelike gebiede en die groot tradisionele swart woongebiede, soos Soweto, gesetel. Daar is min tekens dat die DA as die sterkste opposisieparty noemenswaardige steun in dié gebiede kry.

Antwoord: Ja.

Is die grootste opposisiepartye se steun tot ’n spesifieke klas of rassegroepe beperk?

Die ANC is ’n amorfe party, wat van kommuniste tot kapitaliste insluit en tot kiesers oor ’n breë spektrum en oor rassegrense spreek. Die DA se steun is hoofsaaklik beperk tot die bruin en krimpende wit gemeenskappe met die EFF wat min blanke en beperkte bruin steun het.

Antwoord: Ja.

Die Ja-stemme het dus ’n meerderheid van agt teenoor die vyf van die Nee-stemme.

Die ANC sal dus ingevolge die aangepaste Lichtman-metode weer wen, al is dit met ’n kleiner meerderheid, as ’n verkiesing binne die volgende drie maande uitgeroep word.

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

Meer oor:  Da  |  Anc  |  Eff  |  Pieter Labuschagne  |  Cyril Ramaphosa  |  Verkiesing  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.