Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sal Mnangagwa Zim-weermag in die bek ruk?

Daar is gerugte van tweespalt in Zimbabwe se top-leierskap oor die rol van die weermag. Sal pres. Emmerson Mnangagwa hom van die weermag probeer distansieer? vra Liesl Louw-Vaudran.

Die wenner? ’n Ondersteuner van Zimbabwe se pres. Emmerson Mnangagwa wys duidelik waar sy lojaliteit lê. Foto: Getty Images

Wie is die hoof van die weermag in Suid-Afrika?

Ek sou raai min mense kan sommer so uit die vuis uit reg antwoord. En dis ook goed so. Op baie ander plekke in die wêreld – van Venezuela tot Egipte – is die weermag kniediep by die politiek betrokke.

Die gebeure die laaste paar dae in Zimbabwe het ons weer herinner dat die weermag in ons buurland nie onderskat moet word nie.

Die verkiesings in Zimbabwe op Maandag 30 Julie was van die mees demokratiese wat die land se inwoners tot nog toe ervaar het.

Die eerste keer in ’n lang tyd kon internasionale waarnemers en buitelandse media vrylik rondbeweeg en enige vergrype tydens die verkiesing blootstel.

Ongelukkig vir Zimbabwe het die verkiesings toe nie sonder die weermag se ingryping verloop nie.

Die opposisie is toegelaat om landwyd verkiesingsveldtogte te hou, selfs op die platteland waar Zanu-PF nog altyd ’n houvas gehad het.

Benewens hierdie nuwe vryhede, was Mnangagwa se regering onder baie druk om vreedsame en demokratiese verkiesings te hou.

Internasionale beleggers en Zimbabwe se skuldeisers het in die afgelope paar maande aangedui dat hulle tot ná die verkiesing sal wag voordat hulle besluite oor enige volgende skuiwe neem.

Zimbabwe het dringend ’n nuwe geldinspuiting en afskaling van sy skuldlas nodig om die ekonomie weer op dreef te kry.

Maar, ongelukkig vir Zimbabwe, het die verkiesings toe nie sonder die weermag se ingryping verloop nie.

Mnangagwa het nie nog bloed in strate nodig

Stemdag het redelik goed verloop en dit lyk of die tellery min of meer regverdig was – al laat die meerderheid van 50,8% vir Mnangagwa baie wenkbroue lig. ’n Tweede ronde is só naelskraap voorkom.

Die relatief demokratiese proses is egter in die wiele gery deur die atmosfeer van vrees en intimidasie deur die weermag in die dae ná 30 Julie.

Benewens die hardhandige optrede in die strate van Harare op 1 Augustus, waarin ses mense gesterf het, het die weermag ook die afgelope paar dae klopjagte uitgevoer om moontlike opposisieprotes in die bek te ruk.

Die laaste ding wat Mnangagwa nou wil hê, is nog ’n protesoptog en nog bloed in die strate.

Sommige waarnemers bespiegel dat daar verdeeldheid tussen Mnangagwa en sy adjunkpresident en die voormalige hoof van die weermag, Constantino Chiwenga, is. Ja, almal in Zimbabwe ken sy naam.

Liesl Louw-Vaudran

Terwyl Mnangagwa bewus is van die skade wat weermagoptrede teen die opposisie kan aanrig, is Chiwenga glo ten gunste van die weermag se voortgesette rol om die regerende party aan bewind te hou.

Dit is moeilik om te sê of hierdie gerugte waar is. Mnangagwa behoort binnekort sy nuwe regering aan te kondig indien die MDC-alliansie nie die uitslag in die hof betwis nie.

As die nuwe regering minder oud-weermagmanne insluit, kan dit ’n aanduiding wees dat Mnangagwa hom van die weermag probeer distansieer. Tog is dit hulle wat hom in November verlede jaar aan die bewind gebring het.

Ervaring elders in Afrika het getoon dat ’n staatsgreep of ’n militêre ingryping in die politiek nooit ’n goeie ding is nie.

Teen die einde van 1999 het mense in die Ivoorkus byvoorbeeld feesgevier ná die staatsgreep wat oudpres. Henri Konan Bédié ontsetel het.

Kort daarna het die oud-weermaghoof en leier van die staatsgreep al sy beloftes van ’n demokrasie laat vaar en soos ’n ware diktator opgetree.

Dieselfde het gebeur in Guinea in 2008, in Niger in 2010 en Mali in 2012.

Daar is aanvanklik groot opwinding in die strate. Mense omhels die soldate en poseer vir selfies op die tenks.

Baie Zimbabwiërs is mismoedig en teleurgesteld oor die nadraai van die verkiesing. Min van hulle het Mnangagwa se oorwinning gevier.

Maar dit versuur baie gou.

Baie Zimbabwiërs is mismoedig en teleurgesteld oor die nadraai van die verkiesing. Min van hulle het Mnangagwa se oorwinning gevier.

Om weer mense se vertroue te wen sal Mnangagwa baie gou die ekonomie moet regruk. Hy sal ook diegene wat tydens die verkiesing skuldig was aan vergrype voor die hof moet sleep.

Anders sal die volgende vyf jaar bloot ’n voortsetting van die Mugabe-era wees.

* Louw-Vaudran is ’n konsultant by die Instituut vir Sekerheidstudies. Haar jongste boek is Superpower or Neocolonialist? South Africa in Africa.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.