Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sal regering aan sy nuwe mag probeer vasklou?

Sal die regering afstand kan doen van die nuwe mag wat hy homself in die bestryding van die Covid-19-pandemie toegeëien het? vra Pieter Labuschagne.

Polisiebeamptes op patrollie in Ivory Park. Daar was sedert die begin van die staat van inperking heelparty klagtes oor die polisie en weermag se optrede. Foto: Deaan Vivier

In die stryd om die geweldige impak en verspreiding van die Covid-19-virussiekte teen te werk, het baie vrae oor die toekoms ontstaan.

Die grootste probleem en uitdaging is aanduidings dat die mensdom nog maande of selfs dalk nog jare lank met dié ongewenste “indringer” sal moet saamleef.

In Suid-Afrika is op politieke vlak die bykomende kommer oor die wyse waarop die drastiese bestrydingsmaatreëls van die regering en die nasionale Covid-19-bevelsraad die land se politieke dinamika gewysig het.

Die neiging tot oorheersing het baie waarnemers bekommerd gelaat.

Daar word dikwels verwys na die “nuwe normaal” om aan te dui watter impak die verandering op ons lewens het. Dit impliseer ook dat die meeste mense besef dat hul lewens nie gou weer sal wees soos wat dit voor Covid-19 was nie.

Die sosio-ekonomiese impak van Covid-19 sal duidelik nog lank gevoel en gehanteer moet word. Die kritieke vraag is hoe die regering in die komende maande gaan optree en sy ideologiese beskouings en beleid op sy burgers gaan uitoefen.

Gedurende vlak 4 en vlak 5 van die staat van inperking het die landsburgers sterk gesentraliseerde regeringsdwang ondervind. Die neiging tot oorheersing het baie waarnemers bekommerd gelaat – was dit dalk ’n voorskou van die nuwe regeerpatroon en ideologiese beskouing in die tydperk ná Covid?

Meer gesentraliseerd, kontrolerend en dwingend?

Rye mense wat tou staan vir kospakkies het al ’n algemene gesig in Suid-Afrika geword. Foto: Deaan Vivier

Op Saterdag 16 Mei wag ek dat die deure van ’n groot afdelingswinkel in Moreletapark, Pretoria, oopmaak sodat ek my noodsaaklike inkopies kan doen.

Die ink op die papier van regter Hans Fabricius se uitspraak vroeër daardie week, waarin hy Bheki Cele, minister van polisie, en Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, hewig gekritiseer het, was letterlik nog letterlik nie droog nie. (Hy het albei oor die “instorm-en-slaan-taktiek” en die hardhandige afdwing van die inperkingsmaatreëls gekritiseer.)

Die volgende oomblik was daar die oorverdowende geluid van sirenes en voertuie wat in Rubenstein-rylaan in Moreletapark opjaag. Ek het sewe voertuie, twee motors met loeiende sirenes en vragmotors vol soldate of polisiebeamptes in kamoefleerdrag getel wat opgewonde gejuig en geskreeu het.

Gedurende die eerste fase van die nasionale staat van inperking het min mense die noodsaaklikheid van die inperking gekritiseer.

Iemand by die winkel het droogweg opgemerk dat 'n persoon êrens seker ná die toegelate tyd met sy hond gaan stap het. Iemand anders vra weer waar is Robert Mugabe se ampsmotors dan – hierdie soort konvooie was gewoonlik dié ontslape oudpresident van Zimbabwe se styl.

Sulke opmerkings is nie juis gedurende die eerste fase van die nasionale staat van inperking gehoor nie. Tóé het een gemene deler duidelik geblyk: Min mense het die noodsaaklikheid van die inperking gekritiseer.

Daar was wel ’n paar gemeenskaplike punte van kritiek waaroor die meeste mense saamgestem het:

* baie van die inperkingsmaatreëls was irrasioneel en onnodig;

* die polisie en die weermag het die reeds negatiewe gevoel teenoor hulle in die breë gemeenskap net verder versterk; en

* die regering, en veral die nasionale bevelsraad, het onnodig manipulerend en ondeursigtig opgetree.

Die nood van behoeftiges in Suid-Afrika tydens die Covid-19-pandemie blyk duidelik uit dié lugfoto wat op 2 Mei in die Olievenhoutbos-township by Midrand geneem is. Foto: AP

Die mees problematiese en kommerwekkende aspek is dat die regering se Machiavelliaanse onderrok in dié tyd uitgehang het.

Die persepsie is geskep dat die lede van die bevelsraad in die afdwingende omstandighede floreer en hul magsposisie geniet.

Niccolò Machiavelli (1469-1527) het in sy bekende boek, Die Prins, juis daarop gewys dat die prins se optrede die teenoorgestelde van geloof, vriendskap, menslikheid en godsdiens moet wees as hy die integriteit van die staat wil behou.

Die prins wat dit nie doen nie, maak homself kwesbaar en swak. Is dit dalk die geval met die regeerders in Suid-Afrika?

Is die vrees om kwesbaar te lyk verbloem deur onnodig sterk te probeer wees?

Is dit moontlik dat die Celes en die Mapisa-Nqakulas in die ANC-regering, met steun van die radikales in die party, agter die skerms die geleentheid aangegryp het om groter beheer oor die burgery uit te oefen?

Waarom het pres. Cyril Ramaphosa hulle nie tot orde geroep nie? Waarom was daar nie strenger beheer oor die ysterhand van die regering nie en is die polisie en weermag nie beter gemonitor nie?

Is die vrees om kwesbaar te lyk verbloem deur onnodig sterk te probeer wees?

Die bekommernis is dat die nuwe outokratiese regeringstyl en -patroon wat gevestig is, dalk nie so maklik verbreek sal word nie.

Brittanje ná die Tweede Wêreldoorlog

Clement Attlee se Arbeidersparty het in 1945 in Brittanje aan bewind gekom toe die land ná die verwoesting van die Tweede Wêreldoorlog letterlik en figuurlik in ekonomiese puin was. Foto: Getty Images

In dié geval is dit interessant om na die situasie in 1945 in Brittanje ná die Tweede Wêreldoorlog te kyk. Die doel met so ’n vergelyking is om die langdurige politieke en ekonomiese impak van ’n veranderde regeringstyl te verstaan. Dit vind plaas wanneer ’n krisis of ramp die politieke dinamika van ’n land heeltemal in ’n ander rigting kan stuur.

Die verskil tussen die impak van ’n lewensgevaarlike virus soos ons nou met die Covid-19-pandemie sien en die Tweede Wêreldoorlog is duidelik.

In albei gevalle, in Brittanje én Suid-Afrika, het (en sal) die impak egter ’n vergelykbare politieke en ekonomiese impak hê.

Brittanje was ná die verwoestende impak van die Tweede Wêreldoorlog (1939-1945) tegnies bankrot. Die land se ekonomie was ingestel op wapenvervaardiging en nie algemene produksie nie, die infrastruktuur was verwoes en sy stede in die suide was grootliks in puin.

Die terugkerende soldate het min vooruitsigte vir werk gehad en daar was ’n hoë werkloosheidsyfer. Te midde van een van die ergste winters in die land se geskiedenis was voedsel en steenkool skaars.

Daar is besef dat drastiese optrede nodig is en dat die regering baie meer sentraliserend en sosialisties sou moes optree.

Die Arbeidersparty onder leiding van Clement Attlee het die algemene verkiesing in 1945 gewen.

Winston Churchill, die oorlogtydse premier wat in dié verkiesing verslaan is, het Attlee as iemand beskou wat nie werklik die sosio-ekonomiese probleme in die land sou kon hanteer nie. Hy het hom trouens as “ ’n skaap in skaapklere” bestempel.

Attlee en die Arbeidersparty-regering het die geweldige sosio-ekonomiese uitdagings, veral gesondheid en die nood van die ouer mense, as prioriteite gesien. Daar is besef dat drastiese optrede nodig is en dat die regering baie meer sentraliserend en sosialisties sou moes optree.

In die Beveridge-verslag is heelparty aanbevelings gemaak om die drastiese nood te verlig. Die verslag was veral op die advies van die twee ekonome, William Beveridge en John Keynes, gegrond wat die balans tussen die vraag (demand) en die uitset beklemtoon het.

Winston Churchill was Brittanje se besielende leier tydens die Tweede Wêreldoorlog, maar dit het nie verhoed dat sy party die verkiesing in 1945 verloor het nie. Foto: Getty Images

Die regering het besef dit beteken sterk inmenging in die ekonomie en die aanvaarding van sterk sosialistiese uitgangspunte om die ekonomiese probleme op te los.

Die sosio-ekonomiese nood in Brittanje het die regering ongetwyfeld drasties in ’n sterk sosialistiese rigting en die skepping van ’n sosialistiese welsynstaat geswaai.

Te midde van die swak ekonomiese opbrengs het die regering dus alle groot ondernemings, soos die steenkoolmyne, genasionaliseer en sterk regulerend opgetree. Die regering het ’n nuwe algemene nasionale gesondheidskema geskep en probeer om gratis mediese en ander hulpskemas op die been te bring.

Die regering het ook verskeie vorme van versekering, ouderdomspensioen, swangerskaptoelaes, begrafnistoelaes, pensioene vir weduwees en persoonlike en werkbeseringsvergoeding ingestel.

In die 1970’s, veral onder Margaret Thatcher as eerste minister, is die sosialistiese greep in Brittanje tot ’n groot mate gebreek en het die ekonomiese groei verbeter.

Ondanks sy goeie bedoelings is die regering hewig gekritiseer, veral oor die nasionalisering van groot ondernemings en die onvermoë om ekonomiese groei te skep.

Die ekonoom Ralph Miliband het die Arbeidersparty se sosialistiese opvattings baie gekritiseer, veral omdat dit nie ekonomiese groei kon skep nie.

In 1951 moes die voordele van die nasionale gesondheidskemas afgeskaal word omdat dit eenvoudig te duur geword het. Die welsynstaat was sonder substantiewe ekonomiese groei dus grootliks gedoem.

In die 1970’s, veral onder Margaret Thatcher as eerste minister, is die sosialistiese greep in Brittanje tot ’n groot mate gebreek en het die ekonomiese groei verbeter.

Hoe lyk Suid-Afrika se pad vorentoe?

Pieter Labuschagne

’n Ekonomiese inkrimping van 10% of selfs meer word ná Covid-19 in Suid-Afrika verwag. Daar sal boonop ’n groot aantal nuwe werkloses (die voorspelling is een miljoen) wees.

In kort, die regering sal toenemend ’n groter beherende rol in die ekonomie moet speel om armoede te verlig en iets aan die sosio-ekonomiese nood in die land te doen.

Die voorgestelde plan vir nasionale gesondheidsversekering, wat voor die uitbreek van Covid-19 hewig gekritiseer is, sal sekerlik nou ’n werklikheid word. Die regering het reeds probeer om behoeftiges, die mense wat die swaarste deur die Covid-19-krisis getref is, met ’n reeks ekstra toelaes te hulp te snel.

Daar kan dus aanvaar word dat die skepping van ’n sosialistiese welsynstaat of ’n nanny-staat ’n realistiese moontlikheid is in die tydperk wat op die Covid-19-pandemie sal volg.

Indien iemand een keer die opwinding van mag oor ander ervaar het, is dit dikwels moeilik om demokraties die horlosie weer terug te draai.

Op die oppervlak beskou was die meer dwingende intrede van die regering moreel korrek en verhewe bo kritiek. Die vrees is egter dat die kortstondige en sterk manipulerende sosialistiese vertoning van die regering – veral die bevelsraad wat duidelik tydens die inperking floreer het – sal voortduur.

In die paar maande waarin die land se burgery in die duister gehou is, onrealistiese beperkings moes verduur en onnodig ingeperk was, het die hardhandige optrede duidelik kommer gewek.

Indien iemand een keer die opwinding van mag oor ander ervaar het, is dit dikwels moeilik om demokraties die horlosie weer terug te draai. Lord Acton het nie verniet gesê nie: “Power corrupts and absolute power corrupts abolutely.”

* Labuschagne is emeritusprofessor in politieke wetenskap aan Unisa. Die menings van skrywers is hul eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.