Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Salaam, boeta Bassa’

“Salaam, koerantman.”

“Salaam, boeta Bassa.”

Dit was min of meer altyd die aanknopingsgesprek tussen my en boeta Ismail Bassa in sy gebrakte Afrikaans. Hy was maar altyd net by die moskee of die masjiet soos ons dit in Malmesbury geken het. Sy jaart was altyd vol karre.

Die ingang na die moskee waar twee mense dood en verskeie ander beseer is. Foto: Jaco Marais

Wanneer ek smiddae werk toe ry, het ek hom menige maal gesien. Dan het ons vir mekaar gewuif. Ek en die man met die kenmerkende swart kofia.

En nou het Ismail Bassa ’n wrede dood gesterf. Doodgesteek binne-in die toevlugsoord van die Almagtige. Vermoor deur ’n vreemdeling wat juis herberg gegee is in die moskee.

Vanoggend in die vroeë oggendure toe my selfoon saggies brrrr-brrrr, was ek anders as ander tye, nogal bang om na die boodskap te kyk. Toe dit kort daarna vir ’n tweede keer brrrr-brrrr, het dit van my niggie gekom. Daar was ’n aanval by die moskee by jou, het die boodskap gelui.

Watter moskee? Die een twee straatblokke van my? Die een waar ek Vrydae-middae moet sukkel om verby te kom wanneer die karre die pad volstaan wanneer my Moslem-broers van Malmesbury gaan bid?

Kan nie wees nie.

Nie ons moskee in Vaaldorp soos my woonbuurt genoem word nie? Nie in die woonbuurt waar elkeen nog mekaar op die naam noem nie? En almal weet wie se kind of agterkleinkind jy is. Nie die woonbuurt waar geslagte aan mekaar verbind is nie? ’n Woonbuurt wat maar bestaan het uit die ou Groenpunters van Malmesbury. Groenpunt was die woonbuurt in die dorp voordat ’n hele gemeenskap ontwortel is weens die Groepsgebiedewet en verskuif is na Vaaldorp. Of die amptelike naam: Wesbank.

Groenpunters was maar nog altyd aan die naelstring met mekaar verbind. Dit was ’n buurt waar Moslems en Christene sy aan sy geleef het. Waar hulle oor en weer suiker by mekaar geleen het en in mekaar se vreugde én smart gedeel het. Daardie mededeelsaamheid en omgee kon selfs nie deur die Groepsgebiedewet gebreek word nie.

En nooit weer sal ek die “Salaam, koerantman” uit sy mond hoor nie.

My eerste oproep was na my oudste broer wat Moslem is en skuins oorkant die moskee woon. Ek kon hom nie in die hande kry nie. Ek was bekommerd, want Abduraagman (my broer) was nog altyd ’n onrustige siel.

En toe kom die boodskappe kort ná mekaar deur. Drie mense is gesteek deur ’n vreemdeling met ’n mes in die moskee. Wie sou dit wees? Was my broer een van dié wat gesteek is? Moord in die moskee? So kort voor die einde van Ramadaan?

By die moskee was daar ’n absolute verslaenheid. Moelana Abdul Khaliq Allie van die Moslem Juridiese Raad (MJC) en ’n seun van hierdie Vaaldorp-gemeenskap, het beginne huil. Ek het Abdul nog nooit so gebroke gesien nie. Hy was nog altyd die skrander een en die sterk een wat ’n gemeenskap bymekaar gehou het, hoewel hy nou ’n hoë posisie op die MJC beklee. ’n Groenpunter of ’n Vaaldorper wat stukkend is. En voordat ek my kon keer, biggel die trane ook uit my oë. Gedeelde smart.

Johann Maarman

Jy kyk na Bassa se seuns. Faizel, die een wat in sy gesig gesteek is, en luister na Saud, die ander broer, wat geen wraak in sy hart dra nie, maar die pyn lê duidelik in sy stem.

Verder straat-op lê die lyk van die moordenaar. Dit nogal tussen twee kerke. Met ’n polisiehond wat snuffel-snuffel naderskuif aan sy lyk.

Buite blaas die wind uit baie bekke. Dit vreet aan jou liggaam. En al waaraan jy kan dink, is: Ismail Bassa, die man met die swart kofia.

En nooit weer sal ek in gebrakte Afrikaans die “Salaam, koerantman” uit sy mond hoor nie.

  • Johann Maarman is eindredakteur van Die Burger en ’n inwoner van Malmesbury.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.