Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
‘Ek het ’n seuntjie sien val’

Terwyl die polisie op 16 Junie 1976 met hul gewere geskiet het, het die fotojoernalis Sam Nzima met sy kamera geskiet. Hier vertel* hy hoe hy daardie dag daardie ikoniese foto’s van ’n sterwende Hector Pieterson geneem het.

Sam Nzima, die fotojoernalis wat die ikoniese foto's van Hector Pieterson geneem het. Foto: Oris Mnisi

Op 16 Junie 1976 het ek as ’n fotojoernalis vir The World gewerk. The World was The Star se susterkoerant vir die Bantoes, die swart mense. Onthou, ons het toe “aparte ontwikkeling” gehad.

Ons het gehoor daar gaan die oggend van 16 Junie ’n vreedsame betoging in Soweto wees. Destyds was ’n betoging niks snaaks nie. Vir ons was dit ’n alledaagse ding, so ek het niks groots of belangriks verwag nie.

Ek was in daardie stadium 42 jaar oud en het saam met my vrou, Thelma, en twee van ons kinders in ’n munisipale vierslaapkamerhuis in Soweto gewoon.

’n Motor van die koerant het my 06:00 daardie oggend by die huis gaan haal, so ’n wit Kewertjie. Daar was drie van ons in die motor – ek, die drywer en die joernalis Sophie Tema.

Ons was nie gespanne nie, dit was vir ons net ’n gewone dag, net nog ’n betoging.

Ons het na Naledi High School gery en die skoliere daar gekry. Ek het swart-en-wit film en my Pentax-kamera by my gehad, wat ek in 1972 by ’n winkel in Eloffstraat, Johannesburg gekoop het.

Die skoliere het plakkate gehad waarop daar dinge gestaan het soos: “Afrikaans must be abolished” en “To hell with Afrikaans.”

Nog een wat ek onthou, het gesê: “We are being fed by the crumbs of education.” En dan was daar ook een wat gesê het: “We are being certificated but not educated.” Dis die plakkate wat ek onthou.

Hulle het die strate ingevaar om te betoog. Ek het saam met hulle gestap. Ons het kinders by van die ander skole gaan haal. Toe ons by Orlando West High kom, was die hek gesluit. Die kinders het die hek gebreek, by die skool ingegaan en die leerlinge in die skool gaan haal om by hul optog aan te sluit.

Die plek waar Hector Pieterson geskiet is, is vandag 'n gedenkmuseum in Soweto. Foto: Marida Fitzpatrick

In ’n stadium het ’n hoërskoolseun uit die rigting van Orlando-Oos na ons toe gehardloop en geskree: “Hey, majita! Amakgata sezwa zwakele! (Die polisie is hier!)”

Die volgende oomblik het ’n konvooi polisievoertuie vanuit die ooste aangery gekom. Hulle was in Kwela Kwela, soos ons die groot polisietrokke genoem het (kwela beteken “klim in”). Daar was sewe voertuie, ek het hulle getel.

Die polisieman wat in bevel was, ’n wit man, het uit een van die voertuie gespring en in Afrikaans vir die kinders gevra: “Wat maak julle kleintjies hierso?”

Die kinders het toe “Nkosi Sikeleli” (“God seën Afrika”) begin sing, ’n struggle-lied wat in daardie stadium verban was.

En terwyl die polisie met hul gewere geskiet het, het ek met my kamera geskiet.

Die polisieman het sy vuurwapen uitgepluk en een skoot op die skare gevuur. Dit was die teken aan die ander polisiemanne dat hulle moes skiet. Hy het ook vir hulle geskreeu: “Skiet!”

Almal het toe blindelings op die skare begin skiet. Ek weet nie hoeveel polisiemanne daar was nie, maar daar was meer as 20.

In daardie stadium het ek tussen die polisie en die skare kinders gestaan. Ek was omtrent 50 m van die polisie af. Toe die eerste skoot klap, het ek weggehardloop. Ek het geskrik, want ek het nie geweerskote verwag nie.

Maar toe hardloop ek terug. En terwyl die polisie met hul gewere geskiet het, het ek met my kamera geskiet.

Ek het ’n seuntjie sien val. ’n Ander kind het hom dadelik opgetel. Toe begin ek skiet, skiet, skiet. Ek het ’n reeks van ses foto’s geskiet.

Destyds het ons met swart-en-wit film geskiet. Jy moes neem, die film aanskuif, neem, aanskuif, neem, aanskuif. Dit was nie soos vandag wat jy net die knoppie kon inhou nie.

Bloed het uit die seuntjie se mond gestroom. Die koeël is by sy oor in en by sy mond uit.

Hulle het hom by die naaste motor probeer uitkry. Dit was ons persmotor, die wit Kewer. Hulle het hom ingelaai en ek onthou hoe hy hortend asemgehaal het.

Ons joernalis en drywer het met hom na die naaste kliniek gejaag. Ek het by die betoging gebly, nog foto’s geneem.

Die seuntjie is in die motor dood. Hy was 13 jaar oud. Ek het later gehoor sy naam was Hector Pieterson.

Die ikoniese Hector Pieterson-foto by die Hector Pieterson-museum in Soweto. Foto: Marida Fitzpatrick

Ek het die film met die foto’s van Hector in my sokkie weggesteek en aangehou foto’s neem.

In ’n stadium het die polisie van die toneel af gevlug. Hulle het in hul Kwela Kwela geklim en weggery.

Net een polisieman het gebly. Die kinders het al die vensters van sy voertuig gebreek en hom uitgesleep. Hulle het hom keelaf gesny asof hy ’n bok was en hom aan die brand gesteek. Dít alles het ek met my Pentax afgeneem.

Toe kom die polisie in massas terug. Met perde, honde, helikopters. Hulle het weer geskiet en traangas gegooi om die skare uitmekaar te dryf.

Ek het ’n band om my arm gedra waarop daar “Press” gestaan het, sodat hulle weet ek is nie deel van die skare nie. Maar hulle het my ook gegryp, my met knuppels geslaan en my kamera en al my films gevat. Alles behalwe een rolletjie film. Die een in my sokkie, die een met die foto’s van Hector Pieterson.

Toe die res van die skoolkinders hoor Hector is dood, het anargie uitgebreek. Hulle het ’n bottelstoor geplunder, dit aan die brand gesteek. Mense het met nat sakdoeke oor hul gesigte rondgehardloop om hulle teen die traangas te beskerm. Die polisie het aanhou skiet en aanhou traangas gooi. Dit was buite beheer.

Ek het die hele dag daar gebly. Soweto het gebrand, dit was oorlog. En dit het alles in ’n oogwink gebeur.

Kinders is dood vir jul vryheid. Moet dit nie misbruik nie. Moenie universiteite en biblioteke afbrand nie.

As ek nou daaraan terugdink, sien ek dit weer voor my. Dis ’n verskriklike herinnering. Dit vreet aan my senuwees, ná al hierdie jare.

Uiteindelik is ek terug kantoor toe en ’n tegnikus het die film ontwikkel. Daar was ’n debat in die kantoor oor of ons die foto’s van Hector moes gebruik.

Sommige het gesê dit sal ’n burgeroorlog laat uitbreek. Maar uiteindelik het die hoofredaksie saamgestem die foto móés in.

The World het ’n spesiale uitgawe oor die optog laat druk, met my foto’s in. Die volgende dag, 17 Junie, was daardie foto in al die Britse koerante, die 18de in die Amerikaanse koerante.

Die foto het iets verander.

Daarna moes ek vlug. Die polisie het my gesoek. Ek het die joernalistiek verlaat en in Lilydale, Mpumalanga, gaan bly, waar ek nou steeds woon, naby die Krugerwildtuin.

Hulle het my uiteindelik daar gekry en my vir ’n jaar en sewe maande onder huisarres geplaas.

Vandag is ek 82 jaar oud. Ek het ’n klein onderneming hier, ’n drankwinkel, en dis hoe ek ’n bestaan maak. Ek neem steeds foto’s – van troues en samekomste en so aan, niks nuusfotografie nie, sommer net vir my eie versameling.

Vir vandag se jeug wil ek sê: Kinders is dood vir jul vryheid. Moet dit nie misbruik nie. Moenie universiteite en biblioteke afbrand nie. Gebruik dit om te leer, moenie ontwikkeling vernietig nie. Gebruik jul vryheid, benut dit, moet dit nie vernietig nie. Kinders is dood daarvoor.

* Soos vertel aan Marida Fitzpatrick.

Meer oor:  Soweto
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.