Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Samesweringsteorieë en geraamtes in ons kas

’n Gebrek aan vertroue in leierskap en in die wetenskap – in sommige gevalle nie sonder rede nie – is deels vir die samesweringsteorieë en mense se teenstand teen entstowwe verantwoordelik, sê die toekomskundige dr. Njeri Mwagiru aan Murray La Vita.

Die toekomskundige dr. Njeri Mwagiru Foto: Verskaf

Vertroue in openbare instellings en stelsels moet herstel word as ons samesweringsteorieë wil stuit wat dreig om die regering se pogings te verongeluk om kudde-immuniteit teen Covid-19 teen die einde van 2021 in Suid-Afrika te bereik, sê Mwagiru.

Sy is aan die Sakeskool van die Universiteit Stellenbosch se Instituut vir Toekomsstudies verbonde.

“As toekomskundiges kyk ons na die omgewing om te probeer verstaan wat gebeur, wat die dinamika is en hoe daardie dinamika ontstaan. Ek wou die huidige samesweringsteorieë en die gewildheid daarvan van nader bekyk om te probeer verstaan wat daartoe aanleiding gee.

“In die bietjie navorsing wat ek vir die doeleindes van ’n verslag aan die Instituut vir Toekomsstudies gedoen het, het ’n gebrek aan vertroue in ons leierskap, ons instellings en in die wetenskap aan die lig gekom. Die gebrek aan vertroue in die wetenskap is nie heeltemal ongegrond nie, want ons weet daar was in die verlede in veral Afrika onetiese praktyke, spesifiek met betrekking tot die farmaseutiese bedryf en ook sekere wetenskaplike eksperimente.

“Dít moet ernstige aandag geniet as ons die kwessie van die vinnige verspreiding van samesweringsteorieë wil stuit.”

Navorsing dui daarop dat samesweringsteorieë ’n houvas kry in tye van onsekerheid wanneer groot en skielike veranderinge plaasvind.

Samesweringsteorieë floreer wanneer die sosiale kontrak broos is.

“Navorsing dui daarop dat samesweringsteorieë ’n houvas kry in tye van onsekerheid wanneer groot en skielike veranderinge plaasvind. Dít is beslis eienskappe van die huidige Covid-19-pandemie en die gepaardgaande inperkings en die voortgesette soeke na oplossings met betrekking tot die koers van infeksies en sterftes.

“Dan is daar die maatskaplike opset waarin die sosiale kontrak verbrokkel. Die afgelope jare het ons die staatskaping en die ondersoek daarna in Suid-Afrika. En daar is op sommige vlakke ’n agteruitgang in die bestuur van die land.

“Hierdie omstandighede lei tot vrae soos: Verteenwoordig leiers die belange van die publiek? Neem ons instellings besluite wat gerig is op mense se langtermynwelstand of is dit bloot ’n korttermynbenadering wat net op sekere groepe se belange gerig is?”

‘Instrument van vrees’

Ondersteuners van oudpres. Donald Trump op 6 Januarie met die bestorming van die kongresgebou in Washington. Foto: Reuters

Die verspreiding van disinformasie en vals narratiewe en ongetoetse “feite” is ontsettend gevaarlik.

“Dit is skadelik vir openbare en individuele welstand, en dit kan ook, soos ons gesien het in die geval van die besetting van die kongresgebou in Washington, ’n gevaarlike uitwerking op die vrede en orde in ’n samelewing hê.

“Samesweringsteorieë is ’n instrument van vrees wat op mense se angstighede en onsekerhede teer, en simplistiese antwoorde op komplekse vrae bied.

Die wêreld word op ’n simplistiese wyse in kragte van goed en kwaad verdeel.

“Weens laasgenoemde is hulle geneig om dualisties van aard te wees: Die wêreld word op ’n simplistiese wyse in kragte van goed en kwaad verdeel. Daarby is hulle geneig om swartskape of sondebokke te identifiseer en as die slegte of die goeie mense te beskryf.

“Dié tipe demonisering en apokaliptiese lens maak van hierdie soort narratiewe veral geneig om mense se vrese aan te wakker en uit te buit. En wanneer mense bang is en optree om te beskerm wat hulle glo bedreig word, sien ons die negatiewe en destruktiewe kapasiteit van samesweringsteorieë.”

‘Groter deursigtigheid’

Pres. Cyril Ramaphosa word op 17 Februarie in die Khayelitsha-distrikshospitaal in Kaapstad met die Johnson & Johnson-entstof ingeënt. Foto: GCIS

Om die talle samesweringsteorieë – soos kwessies oor klimaatsverandering en entstowwe – te stuit moet regerings, multinasionale korporasies en die sakewêreld sowel as wetenskaplikes, die media en opvoedingsinstellings mense se vertroue in hul stelsels herstel.

“Laat ek eerstens oor regerings en die farmaseutiese bedryf praat: Daar moet groter verantwoordbaarheid en deursigtigheid ten opsigte van hul bedrywighede, hul besluite en hul toewys van middele wees.

“Dit kan baie help indien hulle burgers, belanghebbendes en aandeelhouers op die hoogte hou van wat aangaan, en, waar moontlik, kan daar deelname in die besluitneming wees. Moenie net kundiges uit die regering of sakewêreld betrek nie, raadpleeg ook akademiese kundiges en mense uit die gemeenskap.

“Dit is veral belangrik met betrekking tot entstowwe omdat daar, weens die feit dat sulke groot winste ter sprake is, so baie vertroulikheidskwessies en geheimhouding daaroor is. Die vraag is of die modelle waarvolgens groot farmaseutiese maatskappye funksioneer, nie moet verander nie.

Waar inligting as vals blootgelê word, is dit werklik die media se verantwoordelikheid om dit nié te deel nie.

“Wat die media en opvoedingsinstellings betref, het veral die media die verantwoordelikheid om te verseker dat hulle nie vals of fopnuus verkondig nie, maar geverifieerde nuus aanbied en inligting deel waarvan die waarheid en egtheid bepaal kan word.

“Waar inligting as vals blootgelê word, is dit werklik die media se verantwoordelikheid om dit nié te deel nie, en indien hulle dit móét deel, dan aan te dui dat daar vrae daaroor hang.

“Opvoedingsinstellings moet seker maak dat hulle leerlinge en studente leer om krities en ontledend te dink sodat hulle – kinders sowel as volwassenes – die kaf van die koring kan skei. Dít is ook nodig om kop bo water te hou in die digitale sfeer waar ons met so ’n magdom inligting gekonfronteer word.

“Die ideaal is dat navorsing op ’n etiese wyse gedoen sal word, vrae gevra word en oplossings gevind word wat op bewyse gegrond is.”

‘Entstof elitisme’

Die klaarblyklike ongelyke toegang tot entstowwe is ’n kwessie waaroor baie debat gevoer word. Foto: Reuters

In toekomsstudies word samesweringsteorieë beskou as ’n teken of ’n aanduider van iets anders; iets diepers wat aan die gang is, sê Mwagiru.

“Buiten die sosiale kontrak wat onder druk is en die omstandighede wat met die pandemie gepaardgaan, is daar ook dinge wat in die verlede gebeur het; ’n historiese presedent.

“Die rede waarom so baie mense hulle met samesweringsteorieë kan vereenselwig, is omdat sulke teorieë wél iets oor hedendaagse en historiese gebeure te sê het.”

In Afrika is daar “goed gedokumenteerde historiese verbande tussen rassisme en wetenskap en onetiese gedrag deur ‘big pharma’ ”.

Sommige eienskappe van samesweringsteorieë het die potensiaal om waardevol te wees deurdat dit ons bedag maak op tekens van maatskaplike verval.

“Ondanks sekere vervolgings van farmaseutiese en mediese ondernemings in Afrika vir misdade en menseregtevergrype, is daar nie groot vertroue in die prosedures wat ingestel is om sulke vergrype te voorkom nie. Wat tot die lae vertroue bydra, is die swak regulering en bestuur wat dikwels voorkom,” sê sy.

Dus: Sommige eienskappe van samesweringsteorieë het die potensiaal om waardevol te wees deurdat dit ons bedag maak op tekens van maatskaplike verval soos grootskaalse korrupsie, oneerlikheid en vergrype, en ons “daaraan herinner dat stelsels ons in die verlede in die steek gelaat het en dit steeds doen”.

“Sommige akademici beskou samesweringsteorieë as ’n simptoom, eerder as ’n oorsaak, van maatskaplike wanfunksionering.

“Dit vestig ons aandag op die geraamtes in die kas – die slagoffers van swak of gebrekkige wetenskap, onetiese navorsing en die misbruik van mag teen die weerloosste mense onder ons; en op die feit dat ons dikwels, ondanks die feit dat ons hiervan bewus is, met gevoude hande sit,” sê Mwagiru.

‘Waardevolle waaksaamheid’

Samesweringsteorieë is gewoonlik gegrond op die bevraagtekening van en wantroue in die status quo en die motiewe van die magtiges onder ons.

Dié waaksaamheid ten opsigte van moontlike magsvergrype en korrupsie kan waardevol wees “indien dit op tekens van wanpraktyke eerder as op onbewese bewerings en dade gerig word”.

Kan die soort vurigheid wat deur samesweringsteorieë opgewek word nie ook gefokus word op bewese feite en gebeurtenisse nie?

Die energie, gedeelde visie, doel en kommunikasienetwerke van die gemeenskappe wat om samesweringsteorieë gebou word, kan ’n model wees waaruit ons kan leer “om gesprekke op dreef te kry oor die dominante strukture, stelsels en patrone van bevoorregting wat ongelykheid in stand hou”.

“Kan die soort vurigheid wat deur samesweringsteorieë opgewek word nie ook gefokus word op bewese feite en gebeurtenisse nie? Kan daar nie naas sameswerings wat gekant is teen inentings ’n ewe sterk narratief oor ‘entstof elitisme’ ontwikkel nie?

“Die klaarblyklike ongelyke toegang tot entstowwe is ’n kwessie waaroor baie debat gevoer word; dit is ’n belangrike debat aangesien dit dui op die voortgesette magspel ten koste van die weerloses,” sê Mwagiru.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.