Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Sarel van der Walt: Nee, Wayde, dankie vir jóú!
Drie jaar gelede hy al gesien dié atleet gaan nog ‘n top-atleet word nie, skryf Sarel van der Walt. 

Wayde van Niekerk nadat hy die wêreldrekord vir die 400 m in Rio de Janeiro, Brasilië, gebreek het. Foto: Ian Walton / Getty Images

“Hou hierdie mannetjie dop. Sy naam is Wayde van Niekerk. Ek sê jou nou, hier kom ’n grote.”

Dié woorde van die atlete-agent Peet van Zyl so ’n paar jaar gelede aan my, het weer in my kop opgekom toe ek Maandagoggend oor en oor na Wayde van Niekerk se skitter-vertoning op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro, Brasilië, kyk.

Vandat ek Van Niekerk drie jaar gelede op ’n Varsity-atletiekbyeenkoms op die baan van die Universiteit van Johannesburg in Kovsie-kleure sien hardloop het, het ek gesien Peet hét ’n wenner beet.

Stadig maar seker het Van Niekerk al hoe beter geword en ek het al hoe meer oor hom geskryf.

Die atletiekwêreld het eers behoorlik van hom begin kennis neem toe hy verlede jaar op ’n Diamantliga-byeenkoms in Parys, Frankryk, die Suid-Afrikaanse rekord in die 200 m tot 19.94 s verbeter het.

Die res van die wêreld – en dit sluit baie duisende Suid-Afrikaners is – het die eerste keer van hom gehoor toe hy verlede jaar op die Wêreldkampioenskap in Beijing die goue medalje in die 400 m gewen het.

Daardie wedloop is beskryf as die beste 400 m-wedloop nóg, omdat dit die eerste keer in die geskiedenis was dat die eerste drie atlete in dieselfde wedloop tye van vinniger as 44 s aangeteken het. Van Niekerk het gewen met 43.48 s, LaShawn Merritt was tweede met 43.65 s en die Olimpiese kampioen Kirani James derde met 43.78 s.

Maandagoggend het dié drie weer die geskiedenisboeke herskryf.

Van Niekerk was weer die wenner met sy asembenemende wêreldrekord van 43.03 s.

James, van die eiland Granada, was dié keer tweede met 43.76 en Merritt van die VSA derde met 43.85 s.

Sarel van der Walt.

Die eiland Trinidad se Machel Cedenio (44.01 s) het met ’n honderdste van ’n sekonde die droomgrens van 44 s misgeloop.

Besonderse nederigheid

Wat my van die begin af van Van Niekerk opgeval het, is dat hy nie terughou nie en elke keer sy allerbeste gee.

Soos verlede jaar toe hy ná die wedloop op ’n draagbaar van die baan gedra is.

En kyk hoe sat hy weer Maandagoggend was ná sy epiese vertoning.

Die 24-jarige Bloemfonteiner se nederigheid is ook iets besonders.

Wanneer ek aan Van Niekerk dink, dink ek ook altyd aan sy 74-jarige gryskop-afrigter Ans Botha, of te wel “tannie Ans” soos sy in die atletiekwêreld bekend is.

Ek het nog nie met haar kontak gehad sedert Van Niekerk se spogvertoning nie, maar ek kan tannie Ans hoor sê: “Man, ek is so bly vir die kind. Hy werk só hard!”

Tannie Ans en Peet van Zyl verdien ook ’n klop op die skouer. Hulle beplan sy oefenprogram in die fynste besonderhede.

Sy hele oefenprogram vanjaar het net een doel gehad: Die goue medalje op die Olimpiese Spele.

Tannie Ans ken Van Niekerk so goed dat wanneer hy vir oefeninge opdaag, sy hom net een kyk gee en weet of sy hom daardie dag hárd kan laat oefen of eerder nie.

Ek sal ook altyd onthou ek het vroeër vanjaar in die Pilditch-stadion in Pretoria langs Peet gesit toe sy selfoon lui en hy antwoord: “Hallo, tannie Ans . . . Wát?! 9.98!”

Dit was enkele oomblikke nadat Van Niekerk in Bloemfontein die eerste atleet in die geskiedenis geword het wat die 100 m in vinniger as 10 s kon hardloop, die 200 m in vinniger as 20 s (19.94) en die 400 m vinniger as 44 s.

Toe die Jamaikaan Usain Bolt ná sy oorwinning in die 100 m vir ’n televisiespan gevra het om hom net gou te verskoon sodat hy Van Niekerk eers kon gelukwens, het dit my nie verbaas nie.

Van Niekerk en Akani Simbine (wat terloops vyfde in die 100 m was met 9.94 s) het saam met Bolt en dié se oefengroep in Jamaika gaan oefen. Tannie Ans en Peet is saam.

Daar is dus ’n baie nou band tussen Van Niekerk en Bolt, wat ná daardie oefenkamp vertel het hoe beïndruk hy met die Vrystater se vaart is.

Maandagoggend het die wêreld dié vaart gesien.

‘Daai mannetjie’

Ek weet nie of Van Niekerk moontlik op die oorblywende Diamantliga-byeenkomste in Europa sal probeer om deur die 43 s-grens te breek nie, maar my voorspelling is dat hy Anaso Jobodwana se Suid-Afrikaanse rekord van 19.87 s in die 200 m kan oortref. Dis nou te sê as Jobodwana dié rekord nie vandeesweek in Rio nóg vinniger maak nie.

Ek is ’n bietjie skaam om dit te vertel, maar omtrent elke keer wat ek met die Wêreldkampioen, en nou ook Olimpiese kampioen en wêreldrekordhouer, praat, sê hy vir my: “Dankie vir alles wat jy vir atletiek doen.”

Nee, Wayde, ek en Suid-Afrikaanse atletiek sê vir jóú dankie.

Jy het die wêreld binne net 43.03 s opnuut van Suid-Afrikaanse atletiek laat kennis neem.

En Peet, ek wag vir jou oproep uit Rio. Ek weet jou eerste woorde sal wees: “Wat sê jy nou van daai mannetjie?”

* Sarel van der Walt het as atletiekskrywer oor onder meer twee Olimpiese Spele en drie Wêreldkampioenskappe verslag gedoen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.