Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Saru gelei deur ’n spul amateurs

Foto:

Hy ondersteun eerder #SaruMustFall as #AllisterMustFall, sê die oud-Bokkaptein Wynand Claassen aan Hanlie Retief.

Is julle ou Bokke nie net ’n klomp klakouse wat uit ’n ander era kom nie? Is julle nog relevant? Natuurlik is ons nog relevant. Ek vra eerder: Hierdie klomp administrateurs, hierdie klomp amateurs, is húlle relevant? Ten minste was ons in die loopgrawe.


Maar julle kla net en doen niks?
Dit klink dalk soos kla, maar die ondersteuners is net so dik soos ons daarvoor dat alles altyd onder die mat gevee word.

 
En wat doen die kantlynklaers?
Ek is ­betrokke op voetsoolvlak by Tuksrugby, Divan (Serfontein) help by skole. Maar baie oudspelers wat ’n bydrae wil maak, word geblokkeer. By die Blou Bulle is die oudspelersvereniging twee jaar gelede uit hul grondwet geskryf. Hulle’s bang die oudspelers gaan oorneem.


Hoeveel van verlede week se fiasko was Allister Coetzee se skuld?
Jy kan nie Allister alleen blameer nie. Hoewel ons laasjaar gesê het Heyneke moet vervang word, is die probleem veel dieper as net afrigting. Jong talent word in ’n patroon van veilige stampkarrugby gedruk en dan verdwyn hulle. Daar word van almal verwag om veilige rugby te speel, hulle begin óór die man hardloop, anders as die All Blacks, wat eerder die gapings soek. Elke Suid-Afrikaanse span speel só en dís waarmee die Bokafrigter moet werk.


Is daar uitsonderings?
Die Leeus en Cheetahs. Die Leeus het een ná die ander Nieu-Seelandspan geklop met hul All Black-soort rugby, maar dan land van die Leeus in die Bokspan en ewe skielik is hulle in ’n patroon wat hulle nie ken nie.


As dit nie Coetzee se skuld is nie, wie s’n is dit?
Eerstens moet die SA Rugbyunie (Saru) pa staan vir sy kortsigtige swak besluite, soos die aanstelling van onervare hulpafrigters nog voordat hulle Allister aangestel het. Jy stel tog jou hoofafrigter eerste aan en dan kies hy sy hulpe!


Soos Mzwandile Stick?
Hy’s een wat nie daar hoort nie. Jean Roux en Johan van Graan ook nie. Roux was ’n goeie voorspelerafrigter in klubrugby, nou moet hy skielik op nasionale vlak verdediging ­afrig. Wie het hom aangestel? Was dit

’n konneksie by SA Rugby?


So, wie moet kom help?
Buitelanders. Vir kruisbestuiwing. ’n Eddie Jones, en sommer by elke provinsie, sodat die plaaslike ouens onder hom kan werk en hom ­ondersteun.


En die oorsese Bokke?
Los hulle. Jy kan nie jou brood aan albei kante botter nie.

 
Het jy hoop op die rugby-indaba?
Hang af wie daar gaan wees. Brendan Venter, ’n hoogs aanvaarbare afrigter met ’n visie, lei dit, maar Saru se soustreinryers en die provinsiale besture wat net hul salarisse beskerm? Nee wat.


Wat sou jy vir hulle sê?
Praatjies gaan dinge nie regmaak nie. Dié wat nie ’n bydrae lewer nie, moet opsy staan vir mense met ’n passie. Ons afrigters het meestal geen internasionale ondervinding nie. John Mitchell is weg, John Plumtree ook. Dok Craven het 40 jaar gelede al gesê ons afrigtingstrukture is drie jaar agter Wallis s’n. Dis nog steeds so. Dis hoekom Nieu-Seeland so goed is – hulle doen die ­basiese dinge reg.


En die provinsies?
Daar is hopeloos te veel van hulle. Maar al daai ouens kry ­salarisse, het ’n stem in Suid-Afrikaanse rugby, het dus hul eie agendas. Ons rugby word gelei deur ’n klomp amateurs. Rigtingloos. Net twee provinsies staan uit: Die Leeus en die Cheetahs.

Hul topstrukture en afrigting is puik. Die Cheetahs se Franco Smith het die Shimlas binne ’n jaar die Varsitybeker laat wen – en kyk waar’s die Cheetahs vandag. In Nieu-Seeland word oudspelers betrek, oudkapteins word top­administrateurs of uniepresidente. Hier word hulle geïgnoreer.

Meer oor:  Wynand Claassen  |  Saru  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.