Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Satan op huisbesoek

Die opspraakwekkende Krugersdorpse afspraakmoorde met ondertone van Satanisme herinner sterk aan die bisarre ‘satanic panic’ van die 1980’s en ’90’s, skryf André le Roux.

Satan op huisbesoek

Dit was ’n dwase, bisarre tyd.

Satan was op huisbesoek in Suid-Afrika.

Êrens, iewers in ’n ondergrondse kamer, staan versluierde figure in dowwe lig rondom ’n altaar. Die lig kom van flikkerende swart kerse, party gemaak van mensvet. Daar is pentagramme teen die mure, swart kruise en ander duiwelse simbole. Op die altaar lê ’n jong meisie in ’n wit gewaad. Sy is deur al die mans in die kamer verkrag. Gesiene mans soos politici en sakemanne met geheime Satanistiese lewens. Hoëpriesters en Prinse van die Duisternis. Nou offer hulle die meisie op met ’n mes deur haar keel.

Net verlede week, elders in die stad of op die platteland, is ’n baba geoffer. Dit gebeur tot twee keer per week. Babas word “geteel” vir Satan en swanger tieners word aangemoedig om hul babas by geboorte aan Satan te gee.

Êrens, iewers.

Jong mense, die Goths en “Alternatiewes”, in opstand teen gesag en konvensies van hul ouers en die Kerk, het swart klere gedra, hul naels swart geverf, swart kerse aangesteek en glasie-glasie gespeel. Dan noem hulle hulself Sataniste en verkoop hul siel aan die duiwel.

Duiwelaanbidders. Grafskenders.

Dit was die middel-1980’s, 1990’s. Suid-Afrika was in die duistere greep van wat bekend was as Satan-paniek, ook genoem morele paniek.

Falkof haal ’n Satanjagter aan wat verdere gevare uitgewys het: Die Sterre Voorspel, toordokters, kettingbriewe, hipnose, kleurterapie, homeopatie, refleksologie, akupunktuur, dagga, alkohol, LSD, slaappille. Flieks soos The Exorcist, Rosemary’s Baby en The Omen, vanselfsprekend verbied deur die sensuurraad. Boeke soos Richard Bach se Jonathan Livingston Seagull en Anton LaVey se standaardwerk The Satanic Bible wat in 1969 in Amerika verskyn het. Byna vanselfsprekend was pornografie en homoseksualiteit, spesifiek “lesbiërs”, ook op die gevaarlysie. Nes masturbasie, buitehuwelikse seks, seksuele fantasieë, maar ook “negatiewe emosies.

Almal was op hol.

Die “satanic panic” het in die 1980’s in Amerika begin met aansprake van wydverspreide sogenaamde “Satanic ritual abuse” (SRA). Party mense is onskuldig tronk toe gestuur. Dit het ’n hoogtepunt bereik in die vroeë 1990’s en toe begin taan namate Amerikaanse sielkundiges, navorsers en die polisie die hele ding begin bevraagteken het.

Maar in Suid-Afrika was die paniek nog in volle swang. Dit was ’n epidemie wat gou die openbare verbeelding aangegryp het. Satanistiese simbole het hul verskyning gemaak op kinders se skooltasse, potloodboksies en aantekeningboeke. Die kinders is daarteen gewaarsku. Tydskrifte, koerante en Die Kerkbode het daarteen geskryf. Predikante het daarteen gepreek. Politici het daarvan kennis geneem in die parlement.

Satanisme is werklik en dis hiér. Wee jou die Broederskap van die Ram met sy gewaande 200 000 lede, wat destyds 10% van die wit bevolking sou wees.

Oral in Evangeliese kerke is duiwels uitgedryf, soms met noodlottige gevolge. Al hoe meer kinders het begin getuig hoe hulle van Satanisme verlos is toe hulle tot bekering gekom het, die stryd tussen boos en goed.

Sulke Sataniste wat “reggekom het” (“recovered”), was nooit self by rituele betrokke nie, maar hulle kon presies vertel wat gebeur het. Of hulle was self die slagoffers met ’n fantastiese storie om te vertel. Daar was orgies, massaverkragtings, bestialiteit en bloed. Die polisie het Satanistiese lêplekke oopgekrap met gruwelike detail van skedels en mensvetkerse.

Satan was daarop uit om die bestaande orde, die beskawing soos ons dit geken het en Christelike waardes omver te werp. Hy’t oral geskuil. Tienerswangerskappe en dwelms was sy skuld.

Ook heavy metal-popmusiek en die Voëlvry-rockbeweging, wat op universiteitskampusse verbied is, was duidelike bewys van Satan se musieksmaak.

Een van die mees bisarre bewyse van Satanisme was dat heavy metal-groepe Satanistiese boodskappe in hul opnames ingeglip het. Jy hoor dit as jy die plaat agteruit speel, “backmasking”, en die boodskappe moedig die jeug aan om selfmoord te pleeg. Dit het reeds in 1969 begin met The Beatles se liedjies “Rain” en “Revolution 9”.

Wag, dis heeltemal moontlik om boodskappe te hoor waar daar nie is nie.

Die verskynsel het ’n fênsie naam: pareidolie, wat Wikipedia definieer as “ ’n sielkundige fenomeen waarin die brein op ’n stimulus reageer, gewoonlik ’n beeld of klank, deur ’n bekende patroon waar te neem waar daar nie een is nie. Op dieselfde manier sien ons gesigte in wolke, rotse of op Mars. En dis presies waar die man in die maan vandaan kom.” Dis deel van ’n ander mite genaamd subliminale boodskappe, wat onbewustelik gehoor word.

Waarvan niks sin maak nie: Waarom sal kunstenaars die mense wat hul musiek koop, aanmoedig om selfmoord te pleeg? Christenjeuggroepe in Amerika het inderdaad plate verbrand uit protes.

Satan was in die mistieke, in enigiets Oosters. Oosterse ornamente, selfs Persiese tapyte. Om nie te praat van Boeddhisme en Hindoeïsme nie. Dis afgodery.

“Raak ontslae van Persiese tapyte en Boeddha-beeldjies,” het John Gardiner, ’n voormalige tydskrifredakteur, en sy vrou, Helen, geskryf in Satanism: The Seduction of South Africa’s Youth. “Dit nooi net Satan by jou huis in.”

                                                                      ***

En joga. Satan wag net totdat jy joga doen of mediteer en sodra jy stil word, gryp hy jou siel.

“Is karate en joga van die duiwel?” het Huisgenoot plegtig gevra in die uitgawe van 10 Julie 1986. En ’n professor van Stellenbosch (F.J.M. Potgieter) het in Die Kerkbode koeng foe bygevoeg. As jy koeng foe beoefen, stel jy jouself oop vir Satan.

Die Gardiners, aangehaal in die Johannesburgse mediakenner Nicky Falkof se boek Satanism and Family Murder in Late Apartheid South Africa: Imagining the End of Whiteness, het vertel van “Sarah” wat ’n aborsie ondergaan het en toe die fetus moes eet. Satanisme het geen perke geken nie.

Falkof haal ’n Satanjagter aan wat verdere gevare uitgewys het: Die Sterre Voorspel, toordokters, kettingbriewe, hipnose, kleurterapie, homeopatie, refleksologie, akupunktuur, dagga, alkohol, LSD, slaappille. Flieks soos The Exorcist, Rosemary’s Baby en The Omen, vanselfsprekend verbied deur die sensuurraad. Boeke soos Richard Bach se Jonathan Livingston Seagull en Anton LaVey se standaardwerk The Satanic Bible, wat in 1969 in Amerika verskyn het.

Byna vanselfsprekend was pornografie en homoseksualiteit, spesifiek “lesbiërs”, ook op die gevaarlysie. Nes masturbasie, buitehuwelikse seks, seksuele fantasieë, maar ook “negatiewe emosies”.

Alles met die komplimente van Satan.

Die destydse Transvaalse Onderwysdepartement het ondersoek ingestel en ook ’n paar waarskuwingstekens bygevoeg: “Ekstreme rebelsheid, ’n geneigdheid om swart te dra, ’n belangstelling in seks en dwelms, en ’n smaak vir heavy metal-musiek.”

Dus: doodgewone, normale adolessente.

Die destydse minister van gesondheid, dr. Rina Venter, het dié tekens beaam en ’n “aversie teenoor Christenskap” bygelas. Die polisie se eie webwerf het 41 tekens uitgewys, waaronder “geslagsverwarring”, fantasiespeletjies, Gotiese modes en ’n belangstelling in rekenaars(!).

Ja, hy onthou Satanisme, het ’n jong man aan Falkof gesê, sy beste vriendin op skool was ’n Satanis. Of sy’t probeer om een te wees.

“Mense het na ons skool gekom en praatjies gelewer oor Satanisme. Sy het dan geluister na wat Sataniste doen en dan’t sy dieselfde gaan doen. Nou nie die moord en seks nie, maar die ander dinge. Sy’t haar arms gesny en met haar bloed goeters op mure geskryf. Al die Sataniste in ons skool het hard probeer om mense te laat glo hulle is sleg.”

Vir hulle was die Sataniste in die skool net ’n grap, maar daar was ’n negatiewe nadraai vir sommige kinders: Hulle is gestigmatiseer en uitgeskuif. Party is selfs doodgemaak, maar die voorvalle kon nie met Satanisme verbind word nie.

“Julle speel met vuur, met die duiwel self. Satanisme is ’n misdaad teen die mensdom!” het Adriaan Vlok, die destydse minister van wet en orde, uitgeroep. Satan was deel van die kommunistiese aanslag. Kommuniste is immers die Antichris. Kommunisme, dwelms en Satanisme, daardie drie.

Die SAUK is daarvan beskuldig dat hy Satanisme bevorder met programme soos Ghostbusters, Superman en Teenage Mutant Ninja Turtles. Dié beskuldiging het van ’n swart studenteorganisasie in Soweto gekom.

Satan het die townships bereik.

Bloemfontein het die eer gekry as die Satanistiese hoofstad van Suid-Afrika, die eerste een van etlike daaropvolgende “hoofstede” soos Oos-Londen, Durban, Johannesburg en die Oos-Rand.

Maar die polisie was reg vir Satan.

Een van die bekendste Satanjagters was Kobus Jonker, bekend as Donker Jonker of God se Speurder, ’n polisieman en wedergeborene aan die hoof van die polisie se Okkulteverwante Misdaadeenheid, die “cult cops”. Dié eenheid is in 1992 gestig om Satanistiese rituele-misdrywe te ondersoek.

Jonker het in etlike hofsake as deskundige getuie vir regters verduidelik hoe Satanisme nou eintlik werk. In die saak teen Angelique Orsö (16) en Lawrence van Blerk (17), wat haar ma in 1992 in Milnerton buite Kaapstad met ’n braaipan doodgeslaan het, het die regter inderdaad – verstommend – “aanvaar dat mense deur duiwels besete kan wees”, maar hy was nie oortuig dat dit hier die geval was nie.

Jonker het daarop aanspraak gemaak dat hy 19 moorde, ses verkragtings en vier roofsake in die vyf jaar voor 1994 positief met Satanisme verbind het. Hy het glo 500 sake ondersoek en 114 mense in hegtenis geneem. Sonder om te sê hoeveel hiervan in die hof beland het of op watter aanklagte. In Bloemfontein het hy ’n kers ontdek wat van mensvet gemaak is, maar hy’t erken hy’t nie die liggaam gekry nie.

“Ek glo die duiwel bestaan,” het hy in die polisietydskrif Servamus geskryf, “want ek het dinge sien gebeur. Ek het ’n vrou gesien wat reg in my teenwoordigheid aangeval is deur ’n demoniese wese.”

Dit was nie ’n geïsoleerde geval nie, hy’t dit herhaaldelik gesien. Daar was die 11-jarige meisietjie in KwaZulu-Natal, het hy in 2010 aan die aanlyn tydskrif Vice vertel. Terwyl ’n pastoor vir die meisietjie gebid het, het verskillende stemme by haar keel uitgekom en bloed het by haar borste uitgespuit. ’n Rukkie later het ’n string miere skielik by haar tepels uitgeloop.

“Miere?”

“Ja, miere. Toe hou dit skielik op, maar toe klim daar ’n klein waterskilpadjie by haar naeltjie uit.”

’n Klein waterskilpadjie?

Jonker erken hy sou dit ook nie geglo het as hy dit nie self gesien het nie.

Hy’t nie geskroom om in sy studeerkamer te poseer vir ’n foto met ’n afgeslagte kat wat hy aan die nekvel soos ’n trofee omhoog hou nie. Hy’t vertel hoe een van Eugène Terre’Blanche se lyfwagte (hy was ’n Satanis, die lyfwag) aan hom vertel het wat hulle met katte doen, swart katte.

“Hulle bind stokke tussen die kat se bene vas sodat dit nie kan beweeg nie, sit die kat op ’n altaar en dan . . .”

Bestialiteit. In Port Elizabeth het daar eenkeer meer as 60 katte in een buurt weggeraak, het hy vertel.

Nog meer bisar was Jonker se aanspraak dat hy eenkeer die tokkelossie gesien het

Dit was in Venda, het hy aan Vice vertel, op die plaas van ’n welgestelde familie waar die tokkelossie elke nag ’n jong meisie verkrag het. Daar was geen plaasdiere nie. Buite die plaashuis het uitgebrande klere oral op die grond gelê, want elke keer as die meisie haar klere wil aantrek, slaan dit aan die brand.

Jonker het ingegaan en begin bid vir die meisie wat op ’n bed gesit en ’n lemoen geëet het.

Hy vertel: “Ná sowat 20 minute het ’n deur langs my oopgegaan en ’n klein mannetjie, soos ’n dwerg, het na my toe gehardloop. Hy was ’n ou swart man en het oormatig gesweet, al was dit ’n koue dag.

“Ek het gesê: ‘Wat maak jy hier? Kan ek jou help?’ En hy’t in ’n growwe stem gesê: ‘Ek wil haar help.’

“Ek het vir hom gesê hy moet loop, want ons is besig. Hy’t gegrom en geloop. Niemand op die plaas het geweet wie die kort mannetjie was nie en niemand het hom sedertdien weer gesien nie.”

Dié tokkelossie was ’n fisieke mens, verduidelik Jonker, nie ’n spook of gees nie. Hierna het die nagtelike verkragtings opgehou en die plaasdiere het teruggekom.

                                                                           ***

Dinge kan erger raak.

Pasop vir 30 April, die belangrikste datum op die Satanistiese kalender, het Jonker gewaarsku. Dis Walpurgisnag wanneer menslike offerandes wêreldwyd gebring word, gewoonlik babas en kinders, deurboor met seremoniële dolke.

Dit “verklaar” die onverklaarbare verdwyning van kinders. Ouers is gewaarsku om nie hul kinders alleen skool toe te laat loop nie. Ouers in Port Elizabeth, Oos-Londen, Durban, Bellville en elders in die Wes-Kaap het hul kinders uit die skool gehou.

Dis hier waar die naam van die land se bekendste pedofiel ook opgeduik het: Gert van Rooyen was ’n Satanis wat skoolmeisies ontvoer het vir Satanistiese rituele, volgens sy seun Flippie. Dit verklaar die verdwyning van die meisies en hoekom hulle nooit gevind is nie. Maar geen bewyse is hiervoor gevind nie en Flippie, wat reeds in die tronk was weens moord, is ’n verdere vonnis opgelê vir meineed.

Daar was net een probleem met al hierdie Satanistiese aansprake: Dit het nie gebeur nie. Wêreldwyd kon nog nooit enige bewyse daarvan gevind word nie. (Sien, dit bewys net hoe goed hierdie duiwels is, hulle laat geen spoor na nie, babas word huidjie en muidjie opgeëet!) Dis ’n kenmerk van Satanistiese moorde dat dit nooit lyke oplewer nie. En waar daar lyke is, is dit bloot moord onder die vaandel van Satanisme ter verdediging en versagtende omstandighede, wat howe gewoonlik nie aanvaar nie.

Met die verminking van Michael van Eck (23) se lyk in die begraafplaas op Welkom in 2011 het Maartens van der Merwe (24) en Chané van Heerden (20) dit kennelik te ver gevoer, psigopaties onder die dekmantel van demone.

Werklike Sataniste is nooit gesien, gehoor of in hegtenis geneem nie. Al wat sigbaar was, was naïewe, opstandige kinders van ’n subkultuur in swart klere.

“Satanisme was ’n morele paniek rondom ’n bedreiging so fantasties dat geen bewyse van die bestaan daarvan ooit aangeteken is nie,” skryf Falkof.

Toe, teen die 1990’s, het die duiwel teruggegaan van waar hy gekom het. Dit was die einde van die bisarre dwaasheid in Suid-Afrika. Almal was verniet so op hol.

En adolessente kon weer adolessente wees.

                                                                               ***

Maar dit was nie die einde van Satan nie. Eintlik was hy nooit weg nie.

Hy staan deesdae in die hooggeregshof in Johannesburg tereg op aanklagte van afspraakmoord en geldgierigheid.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.