Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Schucks, jou grap is teen die reëls

Wanneer is ‘blackface’ snaaks? Dit hang af wanneer jy vra, skryf Waldimar Pelser.

Leon Schuster Foto: Alon Skuy

Showmax het geen plig om flieks van Leon Schuster te wys nie. Hulle kan wys net wat hulle wil.

Schuster-entoesiaste het ook geen “reg” om juis op Showmax na Schuster se boertery te kyk nie — genoeg van dié videos is op YouTube te kry, waar ek die afgelope week nagte om gekyk het hoe Schuster, in blackface, met wit mense se vrese, vooroordele en rassisme spot.

In die 80s en vroeë 90s, toe ’n reghebbende wit minderheid die onbenulligste aspekte van swart mense se lewe met kleinlike dekrete beheer het, het Schuster se komieklike, kleurryke inkarnasies met ’n kort stokkie aan groot leeus se balle gekrap. Hy het die ondoenbare gedoen en die onsêbare gesê.

Vir dekades het swart en wit sáám daarvoor gelag.

Schuster sê ons is te obsessief oor kleur.

In 1989 (O Schucks, It’s Schuster!) waag Schuster dit as Abdul Raasbanja by ’n AWB-saamtrek in Boksburg, op Republiekdag, nogal. “Discrimanatory regulations in this country should once and for all be wiped out,” kraai die koddige Raasbanja oor sy megafoon, “so that me and my wife, Fatima, can move into Boksburg with my children. Maybe into a white area?”

Sulke politieke eise is met volslae ongeloof begroet.

Te midde van wit angs nie net oor lukrake swart grondgrype nie, maar ook die legitieme eise van swart mense wie se voorsate se grond afgevat is, slaan Schuster in ’n ander skets as swart man (sic) kamp op en steek ’n vuur aan op die setperk van die idilliese Wingate Park-buiteklub in Pretoria, waar hy die verstomde wit gholfspelers vertel sy oupa is onder ’n boom daar begrawe en dis sy grond, dié.

“My president said it is everybody’s land. How can you hit the ball here on my lawn?”

Sjoe, die lonte het kórt gebrand.

Dit was ontsettend snaaks. Schuster het vere gevoel vir taboes.

Goddank daarvoor.

Leon Schuster en Mary-Anne Barlow in ’n toneel uit Mama Jack.

Verlede week se besluit deur Showmax, die grootste stromingsdiens in die land, om ses van Schuster se flieks te verwyder, wys hoe duur dit skielik geword het om vir die verkeerde grap te lag en hoe vinnig die reëls verander, veral wanneer dit kom by ras.

Wat vandag “verkeerd” is, was gister nog cool. Humor word oornag haram.

“Ons het Leon Schuster se inhoud verwyder as ’n voorkomende maatreël, hangende ’n oorsig om te verseker dat daar geen ras-onsensitiewe materiaal is nie,” het Showmax se Richard Boorman gesê.

Vrese dat voorbeelde van die werklike en ook verbeelde ontering van swart mense deur iemand op sosiale media raakgesien sal word in ’n fliek of TV-reeks – maar ook in ’n boek, kurrikulum, skildery of selfs bordspeletjies – saai paniek in die nadraai van die dood van George Floyd en die snelle opgang van Black Lives Matter-politiek.

In Maart 2019 nog was Showmax kortasem oor dieselle Schuster se selle flieks. “Fantastiese nuus vir aanhangers van Leon Schuster – jy kan nou ses van die Suid-Afrikaanse poetsbakker se gewildste flieks op Showmax stroom!” het Showmax in ’n mediaverklaring gekoer. Een van dié flieks was hoeka Oh Schucks, It’s Schuster!, waarin Schuster Raasbanja met soveel flair speel.

“Herbesoek Schuster se grondverskuiwende, versteekte-kamera-slapstick-fliek en kyk hoe hy niksvermoedende Suid-Afrikaners in belaglike situasies inlok, kyk hoe hulle dit verloor en dan sy masker afhaal. Steeds ’n classic 30 jaar later!” Oor Mama Jack het Showmax gesê: “Terwyl hy voortvlugtig is, gebruik Jack sy invloedryke bande in grimeerkunskringe om hom as swart bediende te vermom en ’n werk in ’n voorstedelike huis te kry.”

Hahahahahahaha!

Leon Schuster en Alfred Ntombela in November 2013 by die première van Schuster se fliek Schucks! Your Country Needs You by die Zone @ Rosebank-flieksentrum in dié voorstad in Johannesburg. Foto: Lucky Nxumalo

’n Paar maande later, in September, het Showmax se sustermaatskappy DStv Schuster as “Suid-Afrika se gunstelinggrapgat” beskryf en in Januarie vanjaar het M-Net sy Schuster-rolprentfees bemark met die belofte dat dit die “klassieke Schuster-oomblikke insluit waarvoor jy jou gat af lag”. Talle van Schuster se “swart” karakters was in M-Net se lokprent vir die fliekfees te sien wat op 1 Februarie op M-Net Movie Zone begin het.

Op 15 April 2020 beskryf Showmax Schuster as ’n “loketfenomeen” in reklame vir sy fliek Frank & Fearless, waarin Khanyi Mbau sy medester was.

Op dieselfde dag noem die rolprent-legende Anant Singh Schuster seMr Bones een van die tien mees ikoniese Suid-Afrikaanse flieks.

“Ek het al Leon se flieks gekyk saam met gehore van alle etniese en rasgroepe, wat gekies het om mateloos vermaak te word langs mekaar in rolprentteaters,” het Singh die afgelope week aan Channel24 gesê. Hy was “verras” dat Schuster se flieks verwyder is, maar “besef die sensitiwiteit”.

Wat “snaaks” is, verander; dis oral en altyd só.

Ook Schuster se eie siening oor die gebruik van die potjie skoenpolitoer het verander.

Toe twee Tukkies hulle in 2014 soos swart huiswerkers vermom het, het Schuster in ’n radio-onderhoud gesê. “Vir my was dit twee meisies wat iemand ’n poets bak, min wetende dat hulle iemand aanstoot gaan gee.” Oor sy eie gebruik van blackface: “Ek kan nie die strate van Kaapstad of Johannesburg invaar en my poetse bak as Leon Schuster nie want dit sal eenvoudig nie werk nie. Ek moet óf gaan as ’n Hollander óf ’n Chinese ou, ’n bruin ou of ’n swart ou.”

Die reëls verander so vinnig want dis ingevoer.

En as dit aanstoot gee? “Ek gee nie daaroor om nie, want ek dink nie dis aanstootlik nie. Ander mense aanvaar dat ek dit doen en daar is geen gevoel by hulle wat sê ‘dit is rassisties’ nie.”

Die afgelope week het Schuster aan TimesLive gesê ons is “te obsessief oor kleur” en dat “mense hou van my flieks”.

“Ek het swart, wit, Chinese karakters. Ek hou daarvan om dit te doen. Ek sal nie ophou totdat die polisie my agter tralies sit nie.”

In Augustus 2018 het hy egter aan die Sunday Times se Leonie Wagner gesê: “Ek het bietjie spyt daaroor dat ek voordeel getrek het uit blackface. In die ou dae het dit niemand gepla nie. Maar ek sal dit nie nou doen nie; ek kán dit nie doen nie. Daar is geen akteur ter wêreld wat sal nie. Dis eenvoudig rassisties.”

As dit rassisties is, waarom lag so baie swart mense dan daarvoor?

Dit is wat die radio-aanbieder Joanne Joseph Maandag op Radio 702 wou weet by die buikspreker Conrad Koch, baas van die handpop Chester Missing.

Koch antwoord: “Baie swart mense heul met wit oppermagtigheid. Net omdat swart mense van iets hou, beteken nie dat hulle nie heul met wit oppermagtigheid nie. Anti-swart-rassisme is iets wat deur wit én swart mense gedra kan word.”

Schuster maak amok op die gholfbaan

Die witman sê swart mense wat vir Schuster lag, behoort hulle te skaam.

Chester het immers vroeg al sy les geleer en getransformeer. In 2010, Chester se eerste jaar, was hy “swart” of “bruin”. In Desember 2012 het Koch aan Daily Maverick se Greg Nicolson gesê: “Ek is ’n wit ou wat letterlik ’n swart ou gebruik om iewers te kom.”

So skerp (en snaaks!) was Missing se politieke analise dat hy in 2014 deur die nuusblad New African beskryf is as een van die jaar se invloedrykste “Afrikane”. Dit was kort nadat die progressiewe webblad Africa Is a Country gevra het: “Is Chester Missing blackface?”

Vandag is Chester so wit soos Koch, en sy oë babablou. Hy het seker begin besef die revolusie kom ook vir hóm.

                                                                                   ***

Showmax se “suiwering” van sy katalogus totdat geen pop of poep iemand krenk nie sal misluk omdat die reëls oor wat “onsensitief” is te vinnig en lukraak verander. Dit verander so vinnig want ons voer die reëls sonder meer in uit Amerika en Brittanje, waar ’n rasende kulturele revolusie onder die vaandel van Black Lives Matter woed. Almal is verdag.

Little Britain

Weens die gebruik van blackface is vier episodes van die komedie 30 Rock op aandrang van Tina Fey, skepper van die program, deur NBC onttrek. Vyf jaar gelede nog het Fey oor diegene wat kla oor grappe gesê: “Daar is ’n kultuur om apologieë te eis. Ek weier om deel daarvan te wees.”

Jimmy Fallon van The Tonight Show het jammer gesê omdat hy twee dekades gelede gemaak het of hy Chris Rock is (’n swart mede-grapgat) en die uitsaaier HBO het Gone With The Wind (1939) tydelik onttrek weens rassisme wat “toe verkeerd was en nou verkeerd is”. Dit word later weer – vergesel van akademiese kommentaar – uitgereik.

Ook programme waarin die polisie verheerlik word, word in die kielwater van Floyd se dood versuip. Dit sluit in Cops, wat ná 32 seisoene gekanselleer is omdat dit die skelms eerder as die polisie as booswigte uitbeeld, en die animasiereeks Paw Patrol, wat in die spervuur is omdat die Duitse herdershond Chase ’n “goeie” polisiehond speel terwyl die polisie mos sleg is.

So gaan dit aan: Lego het opgehou om 31 van sy produkte te bemark, waaronder polisiekantore en die honde-eenheid, en die Associated Press het aangekondig hy sal “black” voortaan met ’n hoofletter skryf wanneer dit na swart mense verwys.

In Brittanje, waarheen Black Lives Matter oorgespoel het, is die komedie Little Britain van Netflix gehaal weens uitbeeldings daarin van swart, gay, gestremde en Asiatiese karakters. ’n Episode van Fawlty Towers is verwyder van UKTV weens “rasbeledigings” en “ouderwetse taal”. Ook The League of Gentlemen het in die hek geduik.

In een van die duidelikste aanduidings van hoe vinnig die reëls oor ras en kultuur in die kunste verander, het die uitsaaier Sky ’n “snellerwaarskuwing” (wat lui die inhoud kan aanstoot gee) gekoppel aan die Disney-fliek Aladdin, waarin Will Smith speel: “Die fliek het ouderwetse houdings, taal en kulturele voorstellings wat vandag aanstoot kan gee.”

Die fliek is in 2019 gemaak.

En in Australië het ’n radiostasie in Sydney laas week hardop gewonder of skaak rassistiese ondertone het want wit word altyd eerste gespeel.

                                                                                ***

Blackface is vandag volgens baie mense – dalk ’n meerderheid – aanstootlik. Dit is moontlik dat baie swart mense lankal só dink – dit het bloot nie vir wit mense saak gemaak nie.

Hy pak die AWB as Abdul Raasbanja.

Terwyl “skoenpolitoer” op duisende verhoë en oor dekades heen gebruik is om swart mense te verkleineer en bespotlik te maak, is dit ook al gebruik om ons anders oor ongeregtigheid en ons eie vooroordele te laat nadink.

Of jou motief kwaadwillig of edel is, maak egter vir die revolusionêres niks saak nie. Jy’s ’n rassis en klaar.

Alle akteurs wat soms voorgee dat hulle is wie hulle nie is nie – met ander woorde alle akteurs – is op dun ys.

Dink aan Pieter-Dirk Uys se bruin Mev. Pietersen, sy NP-matriarg Evita Bezuidenhout en sy swart Winnie Mandela, of Marc Lottering se Aunty Merle.

Maar dis nie net akteurs wat moet pasop vir beskuldigings van rassisme of “kulturele toe­eiening” nie – ook wit skrywers wat hulle verbeel hulle kan die stories van ander groepe vertel, loop hulle in die politiek van verteenwoordiging vas.

Toe die (wit) Amerikaanse skrywer Jeanine Cummins se roman American Dirt, oor ’n Mexikaanse immigrant-ma, gekies is as een van Oprah se boekklub-sterre, het die skrywer Lauren Groff in The New York Times geskryf: “In literêre sirkels is daar ’n ernstige en legitieme sensitiwiteit vir mense wat skryf oor agtergronde wat nie hul eie is nie omdat dit, ten slegste, die boosheid van kolonialisme voortsit deur die stories van verdrukte mense te steel sodat dominante groepe daaruit profyt kan maak. Ek is verder angstig gemaak toe ek ontdek het Cummins is nóg Mexikaans nóg ’n immigrant.”

As Cummins nie wit was nie het ander reëls vir haar gegeld.

Soos Sonja Loots onlangs in Rapport opgemerk het: As ons net stories kon vertel van mense wat soos ons lyk en klink, het Elsa Joubert se Poppie Nongena nog in die uitgewer se laai gelê.

Meer oor:  Leon Schuster  |  Sensuur  |  Swart Gesig  |  Humor  |  Rassisme  |  Black Face  |  Rolprente  |  Showmax
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.