Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
Schweizer-Reneke: Versoening is ’n lang proses

Wéét wit mense hoekom dit ons swart landgenote seermaak om so ’n foto te sien soos die een wat na ouers by die Laerskool Schweizer-Reneke gestuur is? Kan ons uit ons ervaringswêreld stap en probeer verstaan? vra Elmien du Plessis.

Elmien du Plessis, medeprofessor in die regte aan die Universiteit van Noordwes. Foto: Murray Louw

Eendag op pad na ’n sokkertoernooi neem die gemeenskapspolisiëringsforum (GPS) ons kortpad deur ’n deel van Soweto. My kinders staar stil by die venster uit en ná ’n ruk vra my seun (toe sewe): “Mamma, is die mense wat hier bly arm?”

“Ja,” antwoord ek.

Hy sit stil, aarsel en toe vra hy: “Mamma, hoekom is al die mense wat hier bly swart?”

’n Week voor dit was daar ’n groot gesprek by my ander kind se skool oor of ’n mens oor ras moet praat of nie. Dit was die gewone dans tussen “kinders sien nie kleur nie” en “kinders sien kleur”.

Terwyl die Schweizer-Reneke storie breek, het ek my oordeel voorbehou in afwagting op ’n meer volledige storie.

Eers ’n foto van wit en swart kinders apart. Dan een van die kinders gemeng. ’n Verduideliking oor taal. ’n Gefluister dat daar al voorheen rasseprobleme was. ’n Versekering dat dié ’n uitsonderlike geval is.

Wat is die waarheid in elk geval en wie se weergawe van wat gebeur het, moet geglo word?

In ’n postwaarheid-samelewing waar nuus in 140 karakters inpas en stories teen ’n onmoontlike spoed gelaai moet word, moet ’n mens soms verward deur die momente wat elektronies vasgevang word worstel om ’n storie chronologies aanmekaar te ryg.

Geen tyd vir konstruktiewe vrae vra of ’n dieper gesprek om ’n tafel nie.

En as die narratief met die eerste twiet bepaal word, moet ’n mens kophou om nie meegesleur te raak nie. Wat is die waarheid in elk geval en wie se weergawe van wat gebeur het, moet geglo word?

Ouers neem hul kinders huis toe terwyl betogers die hekke van die Laerskool Schweizer-Reneke onbegaanbaar maak. Foto: Kamogelo Senna

‘Ons is nie rassisties nie’

In daardie opsig is dit nie die voorval self nie, maar die reaksie op die voorval wat die fokus is van dié stuk. Ons reaksies op die voorval spreek boekdele oor presies hóé verwyderd ons ervarings is.

Daarin lê ons probleem, maar ook ons oplossing.

My vriendin Phillipa skryf op Facebook sy hoop regtig dat dié voorval gesien kan word as ’n geleentheid vir versoening en transformasie, maar dat versoening ’n stadige proses is. As ’n reaksie nie soos daadwerklike aksie lyk nie, kan partye in ’n verkiesingsjaar kiesers verloor wat honger is vir ’n party wat daadwerklike aksie oor veral kwessies soos ras kan wys.

Tog bring voorvalle soos hierdie een onderliggende, ontluikende kwessies skielik na die oppervlak. Dit vereis dat ons op ’n sinvolle manier daaraan moet aandag gee.

Ek volg die berigte noukeurig. Op Netwerk24 sê ’n pa: “Ek moet vanaand vir my vyfjarige kind ’n deel van ons land se geskiedenis verduidelik wat ek nog nie gereed is om te doen nie.”

Om skielik iets te móét doen wat jy nie wil nie, omdat die emosies wat daarmee gepaard gaan dalk seer maak, dalk ongemak veroorsaak – of dalk omdat die pa self nie weet wat om daarmee te maak nie.

Uit die berig is dit duidelik dat die kind op ’n plaas grootword en gereeld met die plaaskinders speel. Ek wonder of die plaaskinders ook na dieselfde skool gaan en of die (wit) kind elke dag verby die plaaslike “swart skool” alleen in ’n “wit” bakkie skool toe ry.

Ek verbeel my dat dié gr. R-onderwyseres gaaf en vriendelik is. Sy het waarskynlik skool gegaan in ’n Afrikaanse skool, het daarna aan ’n Afrikaanse universiteit onderwys studeer en woon nou in Schweizer-Reineke waar sy in Afrikaans skool gee.

Op News24 sê ’n ma sy wil die dorp “skoon” hê, sy weet hoe swart mense funksioneer. Die Sowetan haal ’n ander ouer aan wat sê indien swart ouers nie gelukkig is met die skool nie, hulle die kinders na township-skole moet stuur. Want swart mense plaas nie hul kinders eerste soos wit mense nie, sê die ouer. Ons is nie rassisties nie, dit gaan nie oor rassisme nie, word dan bygevoeg.

Ons is baie dinge ingeboender op skool, maar een ding wat ons nié geleer is nie, is hoe om sinvol en verantwoordelik met iets so kompleks soos apartheid en die nalatenskap daarvan om te gaan. Dit sonder om in ’n hoop skuldgevoelens verstrik te raak en sonder om met heldhaftige meerderwaardigheid voort te donder.

En wat om te dóén om dit reg te stel.

Die reaksies op die voorval is ’n bewys daarvan.

In my gedagtes skryf ek die storie. Ek verbeel my dat dié gr. R-onderwyseres gaaf en vriendelik is. Sy het waarskynlik skool gegaan in ’n Afrikaanse skool, het daarna aan ’n Afrikaanse universiteit onderwys studeer en woon nou in Schweizer-Reineke waar sy in Afrikaans skool gee.

Ek kan my voorstel dat sy elke kind in haar klas met die nodige liefdevolle respek hanteer, ongeag enige diep gesetelde vooroordele wat sy, soos ons almal, mag koester.

Ek maak natuurlik aannames in dié verbeeldingsvlug oor ’n onderwyseres-as-simbool.

Intussen is sy op sosiale media se dorpsplein op die brandstapel gesit en verbrand, terwyl die skare met stille verligting dat dit nie húlle is nie, toekyk hoe sy verbrand word. Ander verlustig hulle in die verwoesting van ’n mens wat waarskynlik nog nie heeltemal tot verhaal gekom het oor wat die afgelope 72 uur gebeur het nie.

Ons sal nie weet nie, want ons het nog nie háár storie gehoor nie. Dit sal haar ’n ruk neem om tot verhaal te kom. Ek hoop nie sy verhard nie.

’n Advertensiebord buite die Laerskool Schweizer-Reneke.Foto: Deaan Vivier

’n Kind het 100 tale

Maar die probleem is veel groter as ’n onderwyseres-as-simbool.

’n Onderwyseres wat gekies het om die gewraakte foto – eerder as die tweede foto (ses minute later geneem) wat wys “hier is ons almal nou saam” – te stuur.

Weet sy dat die pedagoog Loris Malaguzzi sê dat ’n kind 100 tale het en dat die woordetaal nie ’n versperring is vir kinders om mekaar te vind nie?

Dan spring my gedagtes na die ma van die swart kind. Ping, kom die boodskap op haar foon. Sy let dadelik die segregasie op wat die onderwyseres gemis het.

Die ander ouers is dankbaar dat hulle bloedjies gelukkig is. Nog ’n ouer kontak die skoolhoof wat salig onbewus is van dié foto.

Wat sê dit oor ons as Suid-Afrikaners se onvermoë om op die mikrovlak ongemaklike gesprekke met mekaar te hê, met die nodige respek vir ander se menswaardigheid?

Die feit dat die gesprek nie op die groep self gevoer is nie, vertel ook ’n storie. Was daar ruimte op die groep vir so ’n gesprek? Of is daar ’n vrees, geldig of nie, gegrond op vooropgestelde verwagtinge van die reaksie wat so ’n vraag sal uitlok?

Wat sê dit oor ons as Suid-Afrikaners se onvermoë om op die mikrovlak ongemaklike gesprekke met mekaar te hê, met die nodige respek vir ander se menswaardigheid?

Stories wys ons ons het elkeen ’n juffrou, ’n skoolhoof, ’n ma van die swart kind in ons. Ek is seker as die juffrou haar storie vertel, as die ma van die swart kind haar storie vertel, dat daar baie is waarmee ons onsself kan vereenselwig.

Wéét wit mense hoekom dit ons swart landgenote seermaak om so ’n prent te sien? Watter gevoelens maak dit wakker? Kan ons uit ons ervaringswêreld stap en probeer verstaan?

Ek kan dit slegs doen as ek na die stories van ander luister, met ’n oor wat nie oordeel nie.

Wat van die kinders waarvan ons niks gehoor het nie?

Ek lees vanoggend ’n studie waar ’n MRI-skandering gewys het dat die oomblik wanneer ’n storieverteller ’n storie vertel en die ontvanger die storie hoor, dieselfde areas in die brein aktiwiteit toon.

Ons het net ons eie neuroses op ons kinders geprojekteer, waar ons gewys het dat ons konflik oplos deur ’n individu-as-simbool op sosiale media te kruisig.

Ek het gedink as die enigste rede hoekom ons mekaar se stories aanhoor is vir ’n oomblik van eendersheid en sinchronisasie, dit dalk vatplek skep om mekaar te vind. Dit kan ’n begin wees van ’n besef dat daar meer is wat ons verenig as wat ons verdeel.

Ek wonder ook oor die stories van die kinders waarvan ons niks gehoor het nie. Ons het net ons eie neuroses op ons kinders geprojekteer, waar ons gewys het dat ons konflik oplos deur ’n individu-as-simbool op sosiale media te kruisig. Deur met koeëlvaste baadjies en gewere by die skool op te daag, deur te toi-toi, deur name te noem, te ontken, deur weg te sku van ongemaklikhede.

Ek het daardie dag in die motor vir my kinders ’n ouderdomsgepaste geskiedenisles gegee met die nodige oordadige gebruik van eiendomsreg-teorieë net om hulle te treiter.

Ek het ook besef dat die kinders nie eendag gaan burgers wees van die land nie, hulle is rééds burgers. Rééds deelnemers. As ouer moet ek hulle die nodige gereedskap gee om verantwoordelike burgers te wees, wat beter doen as wat my generasie en die generasie voor my gedoen het.

Kinders sien wel kleur. En dit is oukei. Ons lyk tog verskillend – dit is nie die kwessie nie. Die probleem kom in wanneer ons op grond van ons verskille mekaar verskillend hanteer en verskille gebruik om te diskrimineer.

Kinders sien dinge raak. Hulle kyk op na ons, hulle leer van ons. Wat ons dink en wat ons doen. En ons moet beter doen. Al beteken dit dat ons soms dinge moet doen waarvoor ons nog nie reg is nie.

Dit vereis van ons dat ons gevalle soos dié as unieke waarskuwings moet sien dat iets ons aandag verlang. En dat ons die aanspreek daarvan nie los vir kragdadige politici om verkiesingspunte in te win nie. Ons is meer as dit.

Versoening is ’n lang proses, waarvan die eerste stap selfrefleksie en selfaanvaarding is. Die volgende stap is luister sonder oordeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.