Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Aktueel
SEB knou meeste in SA

Dis tyd om te erken dat ’n rasbehepte samelewing ons nêrens gaan bring nie, skryf Geordin Hill-Lewis.

Die DA se beleidshoof, Gwen Ngwenya, en die DA-LP Micheal Waters spreek in Februarie die media in Johannesburg toe. Foto: Felix Dlangamandla

In die gees van Die Bybel se beroep dat ons ons sondes moet bely, wil ek vandag graag ’n bekentenis doen: Ek het vir etlike jare lank gedink dat ons die idee van rasseklassifikasie sal moet aanvaar vir Suid-Afrika om vooruitgang te maak.

Maar vandag bely ek: Ek was verkeerd. Mea culpa! Die voortgesette gebruik van wetlik verskanste rasseklassifikasie is besig om ons samelewing te vergiftig.

Regstelling is nodig. Die nalatenskap van apartheid moet ongedaan gemaak word. Maar regstelling vereis nie dat ras gebruik moet word nie.

Die teenoorgestelde is eintlik waar: Die voortgesette verknogtheid aan rasseklassifikasie belemmer doeltreffende regstelling. Die DA se besluit om onomwonde ’n nierassige samelewing voor te staan, sal mettertyd beskou word as een van die dapperste morele en politieke dade van ons leeftyd.

Die nalatenskap van apartheid moet ongedaan gemaak word.

Jan de Lange het dus die kat aan die stert beet wanneer hy verlede week skryf dat die DA die bos miskyk. Inteendeel: Vir die eerste keer in jare sien ons die helder werklikheid vir wat dit is, en daarom begin die DA se proses van vernuwing nou vrugte baar.

Om hierdie waarheid raak te sien was vir my nie iets wat oornag gebeur het nie. Dit was ’n persoonlike reis en twee nasionale nuusberigte staan uit in my geheue as duidelike oomblikke waardeur hierdie denkproses vorentoe gedryf is.

Die eerste hiervan was ’n berig deur De Lange self, waarin hy onthul het dat Eskom van plan was om meer as duisend ervare wit ingenieurs in die pad te steek, net om te voldoen aan hul regstellende-aksie-rasteikens. Pravin Gordhan het later in die parlement erken dat hierdie plan waarskynlik nie ’n goeie idee was nie, en dat dit bygedra het tot Eskom se verval.

Selfs terwyl Suid-Afrika se ekonomie in duie gestort het weens ’n tekort aan elektrisiteit, was ras belangriker vir die regering as om die ligte aan te hou en die ekonomie te laat werk. As dit nie ’n voorbeeld is van hoe die ideologie van ras ons ekonomie knou nie, dan weet ek nie.

Vir my was dit so duidelik soos daglig, en dis so teleurstellend dat De Lange dit nie kan insien nie. Hy sal seker ook nie baie bly wees om te lees dat sy eie uitstekende joernalistieke vernuf my help oortuig het dat ras ons samelewing vergiftig nie.

Die tweede storie wat my help oortuig het, was die blootlegging van die “bemagtigingstransaksie” van die maatskappy “CPS”, wat ’n multimiljardrand-kontrak losgeslaan het om welsynstoelaes namens die regering aan armes uit te betaal. Die hoof van die maatskappy het later erken dat hy nog nooit sy “bemagtigingsvennoot” – ’n swart vrou van Langa in Kaapstad – ontmoet het nie, en dat die naam van sy vennoot deur die destydse minister van maatskaplike ontwikkeling, Bathabile Dlamini, aan hom “voorgestel” is.

Dit is verbysterend om te dink dat so ’n korrupte ooreenkoms gesluit kon word ten koste van die kwesbaarste lede van ons samelewing, en dit alles onder die dekmantel van “bemagtiging”.

Die tyd het aangebreek om eens en vir altyd weg te doen met hierdie stelsel. Die DA bied voortaan aan kiesers die geleentheid om daadwerklike regstelling moontlik te maak deur te fokus op armoedeverligting eerder as op die ANC se obsessie met rasseklassifikasie.

Nierassigheid is juis in die verlede tereg beskou as ’n progressiewe standpunt. Die ideaal van nie­rassigheid is verwoord deur mense soos Martin Luther King in sy kragtige “I Have a Dream”-toespraak, waar hy gepleit het dat sy kinders eendag beoordeel sou word op grond van hul karakter, en nie volgens die kleur van hul vel nie. Deesdae sou “ontleders” hom seker as ’n reaksionêre konserwatief beskou het!

In die 110 jaar sedert Uniewording het Suid-Afrika nog nooit ’n regering gehad wat daadwerklik geglo het aan die beginsels van ’n nierassige samelewing nie. Reeds vir meer as ’n eeu lank het ons land se wette mense as fundamenteel verskillend behandel op grond van hul velkleur.

Hierdie optrede en denkwyse het nog nooit enige iets  goeds tot gevolg gehad nie. Dit het mense net verdeel ten bate van ’n klein elite-groepie.

Die DA is vasbeslote om ’n nierassige Suid-Afrika te help bou – soos wat ons Grondwet inderdaad vereis.

  *Geordin Hill-Lewis is ’n DA-LP.

Meer oor:  Geordin Hill-Lewis  |  Da  |  Nierassigheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.